Maar dit was te laat, die idee was reeds verwek. Ek het my daardie Saterdagmiddag laat beswanger deur die storie van Sus Niemand. Al het ek op daardie stadium nog nie geweet dis hoe die meisie sal heet nie. Ek het nie gekies om oor Sus te skryf nie, Sus het my gekies.
En in my sou die verhaal soos ’n kind groei. Ek sou dit in my dra, maande lank. Uiteindelik stuk-stuk daaraan geboorte gee. Pynlik en onwillig. My miserabele pennevrug. Want as ’n storie eers by my gevat het, het ek geweet, het ek nie meer ’n keuse nie, dan moet dit tot wasdom kom. Dit moet uit soos ’n kind, al maak dit my vrek.
Dis tog waarvoor ek gevra het, vir ’n storie. Was ek maar net meer spesifiek en minder onverskillig met my gebede. Want inderdaad, die Here het ’n rare sin vir humor.
Sus
Die volgende dag het Sus haar eerste vollengtekleurprent saam met haar niggies in die Capitol-teater gaan kyk, in technicolor, soos haar niggies verduidelik het. Ella het komplimentêre kaartjies gekry omdat sy vakansies by die bioskoop gewerk het. Hulle het Moby Dick met Gregory Peck en Orson Welles gaan sien. Eers moes hulle “God save the Queen” sing, nogal staande. Maar haar niggies het nie saamgesing nie. Hulle het kougom gekou en nou en dan ’n borrel geblaas.
Van die prent kon Sus nie veel verstaan nie, maar sy was nogtans bang vir Captain Ahab met sy been wat van ’n walviskakebeen gemaak is. Wat God uitgedaag het, en tot elke prys wou wraak neem op die wit walvis wat hom sy been gekos het. Toe die walvisvangers hulle harpoene in die walvisse gooi, het Sus se maag gekramp en die kind in haar eenkant toe gepluk, veral toe die see rooi word van walvisbloed.
Die mans het die dik walvisvelle uitgekook vir lampolie. Dit was hulle plig teenoor God en die mensdom, so het hulle gesê. Sus het gewonder of God regtig wou hê dat hierdie diere, so groot en mooi soos kerke, lampolie moes word. Sy het baie stil langs haar niggies gesit en aan die kind as ’n walvissie gedink wat in haar vrugwater swem. In die donker van die teater kon sy sweer sy sien die bult van ’n vinnetjie onder haar rok. Sy was verlig toe Moby Dick die walvisjagters se skip verpletter.
Sus en haar niggies het op die bus teruggery huis toe. Ella en Inge het weerskante van haar gesit en haar hande vasgehou. “Ons is bly jy’t kom kuier, Sus,” het hulle gesê, hulle koppe op haar skouers.
“Wat is pienk en verkreukel en lê op die bodem van die see?” het Ella skielik gevra, sy kon skaars haar lag hou.
Sus het haar kop geskud.
“Moby’s dick!” het Ella geskree. Sy en Inge het dubbeld gevou van die lag, maar Sus het nie geweet wat ’n dick is nie. Vir haar was dit net ’n naam. Toe hulle dit proesend aan haar verduidelik, het sy gebloos en gewens alle tottermans wil pienk en verskrompel op die seebodem gaan lê. Toe sy dit vir haar niggies sê, het hulle so hard gelag dat ’n ou tannie met ’n groen pildooshoedjie kwaai omgekyk het.
“Dink net,” het Ella gesê, “dan het inkvisse altyd iets om aan te peusel, hermietkrappe ’n rekbare woning en slakke nuwe maats.” Inge en Ella het gehuil van die lag. “Uiteindelik het peesters ’n edeler doel!”
Die tannie met die hoedjie het heeltemal in haar sitplek omgedraai. “Kring van die spotters,” het sy gesis. “Julle kan julle skaam …” Eers toe die kondukteur hulle kaartjies kom knip, het hulle bedaar.
Ella het gesê sy wil eendag ’n filmmaker word, of ’n radioomroeper. Sy het vertel dat sy al by die SAUK se klanknabootsingateljee in Johannesburg was, waar hulle klanke vir radioverhale opneem. Sound effects, het sy dit genoem.
“Was jy al in Johannesburg?” het Sus gevra, sy kon haar ore nie glo nie.
“Ag, al baie.” Ella het die busklokkie gelui. Hulle het op die hoek van Proesstraat afgeklim, in Bosmanstraat afgedraai. “Die klank van weerlig word met sinkplate nageboots, ’n naaimasjienenjin moet klink soos ’n vliegtuig en klapperdoppe word gebruik om die galop van perdepote na te maak,” het sy beduie.
“En julle sal my nie glo nie, die geluid van die wind én ’n grassnyer word met ’n eierklitser gedoen!” Ella en Inge wou hulle al weer slap lag.
Hulle het sigarette by ’n kafee gekoop en agter die slaghuis gaan rook. Sus kon die bloederige reuk van karkasse en gestolde vet ruik. “Ciggy?” het Ella gevra. Sus het haar kop geskud. “Wat gaan jy eendag word as jy groot is, Sus?”
Jessica, ek gaan Jessica word, wou sy antwoord, maar sy het haar skouers opgetrek. “Ek weet nie.”
“Ek gaan ’n sirkusnooientjie word,” het Inge dromerig gesê, rook het uit haar neus en mond gekom. “Dan skiet hulle my uit ’n kanon: ‘Kapow!’ ‘Ladies and gentlemen, the human bullet!’ Of ek doen toertjies op ’n ponie, of swaai aan my bene, hoog bokant die mense se koppe, dan sien almal my broekie …”
’n Man in ’n roomkleurige Morris het naby hulle stilgehou en sy venster afgedraai. Sy elmboog het uitgehang, sy wange harig en kuif olierig. “Looking for a ride, ladies?”
“Get lost, grandpa!” het Ella gegil en haar sigaret tot in die straat geskiet. “Orige ou man.”
Sus kon nie verstaan hoekom Ella en Inge nie saam met die man wou ry nie, hy was dan so gemanierd. Hulle het bymekaar ingehaak, vinnig geloop en gesing: “I got a woman with plenty of money, she’s got the money and I got the ho-honey …” Sus het haar niggies bewonder wat so goed kon Engels praat.
Inge het ’n iris langs die pad gepluk, die klewerige pers blare oopgedruk en daaraan geruik. “Ella het ’n kêrel,” het sy vermakerig gesê, stuifmeel op haar neus. Ella het rooi geword. “Sy naam is Blertsie, nè, El?”
“Sy naam is Bertie en hy’s g’n my kêrel nie.” Ella het die blom by Inge gegryp en die vlesige blare afgeruk. “Hy kuier by Pa, nie by my nie.”
“Blertsie is ’n square en hy lyk soos Tromp van Diggelen,” het Inge aanhou koggel.
Ella het die vernielde iris oor haar skouer gesmyt. “Sjarrap, Inge …”
“Ék sal my nie deur ’n square laat vry nie, mý boytjie sal ’n ducktail wees …”
Sus het saam met Inge gelag, al het sy nie mooi geweet wat ’n square of ’n ducktail is nie.
“Ma sal jou vrekmaak as jy met ’n gomgat by die huis aankom, Inge!” het Ella geskree. Die twee susters het resies gehardloop tot by hulle huis, en skaterend in die kweek voor die tuinhekkie geval.
Esmeralda
Benjamin het sy leë koffiebeker op die kombuistafel neergesit. “Twee van die geraamtes het ’n afwyking,” het hy uit die koerant voorgelees. “Een het net ’n gat waar die neusopeninge moes wees en die ander skelet het misvormde armpies.”
Bloedskande, het ek gedink, het ek gewéét. Dis die enigste rede waarom ’n vrou iets so verskrikliks sou doen.
Ek het agter Benjamin gaan staan, hy het die koerant omgeblaai. Toe sien ek dit. Die foto van die kind wat hulle in die moeras ontdek het. ’n Dogtertjie. My keel het toegetrek. Die kind was amper ongeskonde, asof sy maar die vorige dag in die vlei laat sak is. Daar het geelbruin lap aan haar lyfie gekleef, wat die oorblyfsels van ’n rokkie en broekie moes wees. In haar rooi hare was ’n lint. Sy het ’n slakneusie, lang wimpers en ’n hartvormige popmondjie gehad. Om haar enkel was ’n forensiese etiket. Aan haar voete, leerskoene met bandjies oor die voetbrug.
“Haar hare was blykbaar blond, nie rooi nie. Dis die grondwater wat haar hare so gevlek het,” het Benjamin gesê. “Die tannien van ontbindende plantmateriaal, boombas en blare.”
Ek het gesukkel om asem te kry en een van die kombuisvensters oopgemaak.
“Watse siek bliksem sou eers ’n kind aantrek en dan verdrink?” het Benjamin gevra. Hy het na my gekyk.
Ek het weggekyk en my kop geskud. Gesien hoe hadidas buite soos aasvoëls op die grasperk neersak. Hoe is dit moontlik dat die lykie ná vyftig jaar nie ontbind het nie? Dat selfs die vel, selfs die naels