Waar onthou begin. Connie Luyt. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Connie Luyt
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9781485904625
Скачать книгу
tel die seep in die badkamer op, ruik daaraan, smeer van Ma se handeroom aan, haal melk uit die yskas en drink sommer uit die bottel. Met haar wilde hare, die tydsame manier waarop sy haar heupe swaai en haar behoedsame donker oë lyk sy soos ’n eksotiese luiperd wat losgelaat is.

      “Ek laaik hierdie plek van julle, Veda. Kom ons gaan sit buite, ek moet nou eers ’n smoke vat.”

      ’n Rilling van opwinding én ontsteltenis gly teen my rug af. Wat sal Ma sê as sy rook ruik? Ek trek die skuifdeur toe, maar Saskia het skaars die sigaret doodgedruk toe sy opstaan en die deur weer oopstoot. “Het jy iets om te eet? Ek is hol van hongerte.” Sy kyk die boeke op die boekrak deur terwyl ek toebroodjies maak, sit die televisie aan en weer af, tel die telefoon op en draai die tou om haar vinger voor sy dit neersit. ’n Anderste, onrustige element het saam met haar ingekom. Die woonstel ruik nou na rook, na reukwater of dalk reukweerder, na sweet en ’n soet, poeieragtige geur en ek weet nie mooi hoe om te maak nie.

      Toe sy die broodjie in het, gaan lê sy op my bed en slaap binne sekondes vas.

      —

      “Saskia, word wakker, dis vieruur. My ma gaan nou-nou hier wees. Hoe kom jy by jou huis?”

      Sy sit regop, gaap met haar arms bo haar kop en skud haar hare reg. “Ek bel gou vir Bertus, my broer. Gaan maak vir ons bietjie tee, toe, Vedatjie?”

      Haar broer, Bertus, se donker hare is lank in sy nek, sy kuif vorentoe gekam. Hy loer met lui oë en ’n skewe glimlag onder sy hare deur na my terwyl hy rook uit die hoek van sy mond blaas. Hy hou sy sigaret tussen sy middel- en ringvinger vas, leun teen die deurkosyn. Sy stem is diep en hees.

      “Ha-loe, jou sexy dingetjie. Wat is jóú naam, h’m?”

      “Los haar uit, Bertus, kan jy nie sien hoe bloos sy nie? Kom, ons moet gaan. Bye, Veda, dankie vir als.”

      En toe is sy weg. Al wat oorbly is ’n sweempie van haar reukwater en ’n halwe beker koue tee. En ’n onvergenoegdheid wat ek nie begryp nie. Ek wil tog nie soos sy wees nie? Maar ek wil ook nie meer soos ék wees nie.

      Ek sien haar nie die volgende week by die skool nie. Ek wonder oor die “hy” wat by haar huis was, oor Bertus se halfmas oë, oor waar hulle woon en of sy al van my vergeet het.

      Toe ek Vrydag ná skool by die woonstel kom, sit sy langbeen teen ons voordeur, sigaret in die hand.

      “Jis-jis! Hallo, Veda, hoe’s dinge?”

      “Saskia! Hoe het jy hier gekom? Het Bertus jou gebring?”

      “Nee, ek het saam met ’n klomp hier by Linden Hotel gekuier, toe word ek moeg vir hulle en kom kyk of jy hier is. Gaan jy vir my koffie maak? Of wag, is hier dalk iets sterkers in die huis?”

      “Sterkers?”

      “Brandy of iets, selfs ’n bier sal doen.”

      Wat?

      “Toemaar, Vedatjie, ek maak net ’n grap … relax. Jis, maar jy is uptight. Live a little!”

      Haar asem ruik snaaks en haar oë is donker, die pupille groot en swart.

      “Is jy oukei, Saskia?”

      Sy glimlag. “Kom ons drink koffie.”

      Ons sit op die draadstoele op die stoep. Dis bewolk. ’n Triestige windjie dwarrel die vroeë herfsblare oor die sementpaadjie. Saskia leun met haar kop teen die muur, haar ooglede halfmas, haar mond slap. Sy lyk vir my baie ouer as wat sy is.

      Sy trap haar sigaret onder haar skoen dood asof dit ’n giftige insek is en vou haar arms oor haar bors. Sy kyk my stip aan.

      “Is jy gelukkig, Veda?”

      Sjoe.

      Ek trek my skouers op. “Ek weet nie juis nie – hoekom vra jy?”

      “Ek haat my ouers.” Sy sê dit doodluiters, asof sy oor die weer praat. “My ma het my en Bertus sommer net gedrop. Drie jaar gelede. Asof ons niks van haar is nie. Weggehardloop van haar job om my op te pas.”

      “Jis, dis erg. Waar is sy nou?”

      “Iewers by die see in die Oos-Kaap, sê Bertus. In ’n soort inrigting. Hy het haar een keer gaan sien, maar ek wil niks van haar weet nie.”

      “Hoekom is sy dan weg?”

      “Oor my pa. Sy’t gesê sy kry nie asem nie. Sy lieg, man, sy wou net nie weet wat aangaan nie. My pa … my pa is moeilik. Hy is óf nooit hier nie, alewig oorsee, óf hy drink te veel whisky en dan weet hy nie wat hy doen nie. Vandat my ma weg is, is hy gelukkig omtrent nooit hier nie. Minstens het ons altyd geld, hy’t genoeg daarvan.”

      “Bertus?”

      “Hy’s veronderstel om op varsity te wees, maar hy … ag, jy sal nie verstaan nie, soet ou Vedatjie.”

      ’n Witwarm woede broei onder my wit skoolhemp. Die hitte styg op in my nek en oor my gesig. My hande klem om die stoel se armleunings.

      “Wat weet jy van my, Saskia? Niks! Jy weet nie eers ek het ook my pa drie jaar gelede verloor nie. En my ma kan my nie vergewe nie, want as dit nie vir my was nie, het my pa nog gelewe. Ek cope anders as jy. Ek het nie geld om te rook en te drink nie. So, ek is kamstig ‘soet’, want ek probeer so min as moontlik golwe maak, hier en in die skool.”

      Ek blaas my asem met ’n plofgeluid uit. “So, moenie weer sê ek sal nie verstaan nie. Ek verstaan maar te goed hoe dit voel om als te verloor, hoe dit is om verwerp te word. Ek verstaan hoekom jy en Bertus kwaad is.”

      “Sorry, man.” Sy skuif vorentoe op haar stoel en vat my hande in hare. “Ek gaan jou pêl word, Veda. You and me against the world. Ek skat ons het albei iemand nodig om ons deur die lewe te help.”

      Ek voel weer daai rilling van opwinding én vrees teen my rug afloop. Wil ek deel word van Saskia se lewe? Van daardie dag toe ek so waaghalsig te ver voor op die rotse gestaan het, is die dag toe ek saam met Saskia gebunk het, die roekeloosste ding wat ek nog gedoen het. Dit was my styl om onder die radar te bly, so onopsigtelik as moontlik te wees.

      Saskia se traak-my-nie-agtigheid maak haar onderwysers woedend en sy’s min of meer altyd in die moeilikheid. Sy rook en drink en vloek en steur haar aan niemand se opinie nie. Sy is opwindend, vreesaanjaend, en Ma sal vir seker nie ons vriendskap goedkeur nie.

      Die woede teenoor Ma wat maar altyd onder die oppervlak broei, stoot op en ’n opwindende rebelsheid laat my antwoord, “Oukei, Saskia, kom ons word pêlle.”

      Dit is die begin.

      Sy kom nou dikwels saam met my huis toe ná skool. Terwyl ek kos maak, dwaal sy deur die woonstel, spuit van Ma se reukwater aan, draai my pienk serp om haar kop in ’n tulband, breek dooie blare van die viooltjies op die vensterbank af en neurie oor en oor “I will survive”. “My temaliedjie,” reken sy.

      Sy besluit ek het ’n make-over nodig en maak al my rompe korter, leer my om grimering aan te sit, tease my dik rooi hare in ’n wolk om my kop.

      Ma frons oor my voorkoms. “Jy beter daai hare uitkam – so kan jy nie skool toe gaan nie.” Sy snuif-snuif. “Het jy van my reukwater aangespuit? En ek ruik rook, wie het hier gerook?”

      “Dis seker Bertus, Saskia se broer wat haar kom haal het,” lieg ek. Ma se oë rus net te lank op my en ek draai weg, trek my te kort rompie af.

      “Waar bly hierdie Saskia?”

      “Randburg, Ma.”

      “Ek wil haar graag ontmoet, nooi haar Saterdagmiddag oor.”

      That’ll be the day, Ma. “Hulle gaan weg vir die naweek,” lieg ek weer.

      Voel ek sleg? Ek weet nie. Als is nou anders. Toe ek klein was, was dinge so duidelik – reg of verkeerd, gaaf of gemeen, goed of sleg, soet of stout – maar nou het die grense dof en my oortuigings wasig geword. Saskia is stout, gemeen by tye, soms sleg, maar sy is die eerlikste mens met die grootste hart wat ek ken.