Ma het lank ná my eers by die huis gekom van haar werksfunksie en ek het, toe sy die volgende dag vra, vertel van die oorweldigende weelde van die huis. Niks oor my oneervolle vertrek nie. Ook nie oor my eerste soen nie. Die soen wat my lank laat wakker lê het, laat wonder het wat Pappa sou gesê het. En hoekom ek nie meer opgewonde is nie. Gaan ek ooit in my lewe myself toelaat om lief te wees vir iemand? Gaan die vrees om daardie persoon te verloor sterker wees as die moontlikheid van geluk?
Ons praat nog, ek en Rob, ons bly vriende, maar ek het nie eers vir hom gesê ek verjaar vandag nie.
Ek is agtien. Niemand by die skool weet nie. Niemand wens my geluk nie. Dit is maar net nog ’n dag. Maar ook nie. Vroegoggend het ’n grysblou veertjie op die paadjie voor my gelê en heeldag het die las van my gedagtes, my onthou, my hartseer op my skouers gelê, totdat ek skaars my tas kon optel om huis toe te loop.
Nou sit ek hier by die gedekte tafel en wag vir Ma. Sy is laat. Vanoggend net ná ses het sy my skouer geskud. “Wakker word, Elfie, ek wil net geluk sê voor ek gaan. Ek moet vroeg by die winkel wees. Ek bring jou geskenk vanaand. Bye, ek bel vanmiddag.”
So anders as Pappa wat my altyd wakker gesing het. Hy het van verjaardae gehou. Ballonne opgeblaas en vir Mamma gevra om ’n spesiale koek te bak. Moeite gedoen. Presente weggesteek. Rympies op papiertjies geskryf sodat dit ’n skattejag geword het.
Eerste wenk: KYK IN DIE LAAI, DAAR WAAR JY VIR MY TOTSIENS WAAI.
In die laai onder die sitkamervenster nog ’n papiertjie: LIG DIE DEKSEL OP EN KYK WAT KOOK IN DIE POT.
In die kastrol is die briefie waarop staan: NOU WORD JY WARM, LIG OP JOU ARM. En daar op die rak bokant die stoof steek ’n pakkie in rooi geskenkpapier uit.
Gille van plesier, hy wat uit sy maag lag. “Só moet ’n verjaardag mos wees,” sou hy elke keer sê. “Mens moet lag, sodat jy heeljaar vrolik kan wees. Jy mag nooit huil of kwaad word op jou verjaardag nie.”
Pappa.
Trane dam op agter my oë. Heeldag al. Saam met die gewig wat my wil smoor. Maar ek mag nie vandag huil nie.
Ma het laatmiddag gebel, uitasem geklink. “Ek gaan bietjie laat wees, ek bring sommer vir ons ’n wegneemete.” Ek verjaar, Ma, kan jy nie maar vandag liewer vroeër terugkom nie?
Haar wange is bloedrooi toe sy teen skemer instap, haar oë onnatuurlik blink. “Skuus, Elfie, ek moes wag dat Sam jou geskenk klaarmaak. Kyk, ek hoop jy hou daarvan.”
Uit die SC Jewellers-boksie kom ’n dun silwer ketting met ’n plaatjie in die middel waarop ER 18 gegraveer is. Dis mooi. Ek ruik iets vreemds aan haar toe sy dit om my nek vasmaak. Iets soos naskeermiddel. Ma?
Ek moet iets sê, maar my tong is te dik in my mond en ek weet ek gaan huil as ek praat.
“Hou jy daarvan?”
Ek knik my kop op en af, weet my oë swem in trane.
“Kom ons eet, ek is nogal honger.” Sy maak die houer oop en dadelik ruik ek dit.
“Ma weet ek eet nie vis nie.”
“Ag, die hoenderplek was al toe, en die viswinkel langsaan het so lekker geruik. Kom nou, dis heerlik.”
Ma weet ek eet nie vis nie. Die woede is witwarm in my. My hele lyf bewe.
“Ma wéét ek eet nie vis nie. Sal nooit vis eet nie. Ma weet hoekom, maar Ma respekteer my nie!”
“Elfie—”
“Nee, Ma, ek het Veda geword. Elfie bestaan nie meer nie. En dis nog net hierdie jaar wat ek hier bly. Ek het werk gekry smiddae by Linden Bazaar en as ek matriek het, sal ek weggaan en hoef Ma nooit weer na my te kyk en te weet wat Ma verloor het nie. Ek gaan kamer toe.”
Voor ek die deur toeslaan, hoor ek hoe sy sê: “En dit oor vis?”
Sy kom groet nie voor sy die volgende oggend werk toe gaan nie. Kom terug met hoender. Sê niks oor die vorige aand nie. Asof dit nie gebeur het nie. Vertel van haar dag, vra uit oor myne. Ek dek die tafel af, was die borde, maak my skooltoebroodjies en bly wonder oor hoe mense kan praat sonder om enigiets van werklike betekenis te sê.
Ek werk twee middae ’n week en Saterdagoggende in Linden Bazaar, spaar die meeste van my salaris getrou in my Poskantoorspaarboekie en vra net vir Ma vir die nodigste skoolbenodighede.
“Jy sit heelaand met jou neus in jou boeke, jy het niks van jou matriekjaar nie. Ek hoor daar is ’n matriekkamp. Ek sal die geld gee as jy wil gaan.”
“Nee dankie, Ma. Ek moet sorg dat ek ’n goeie matriek kry.”
Dis net wanneer ek my verdiep in my boeke wat die gewig wat my wil platdruk effens skiet gee.
DRIE
IN DIE TWEEDE KWARTAAL IN MATRIEK kom ek ná lang pouse in die kleedkamer af op Saskia Swart wat gebukkend oor die wasbak staan en opgooi.
Ek staan tot my verbasing nader. “Hierso, vat van die papierhanddoeke. Wag, ek help jou.”
Met maskarabesmeerde oë en ’n wit kring om haar mond kyk sy uiteindelik op.
“Dankie, Veda. Jy is mos Veda, nè? Jis, ek voel verskriklik.”
Sjoe. Het die wildste girl in die skool nou net vir my, koekerige Veda, op my naam genoem? Saskia spoel die wasbak uit, was haar gesig en hande en vee haar hare uit haar gesig. Wat sou haar oorspronklike haarkleur wees? Haar wynrooi hare het swart én blonde wortels. En sy het ’n tatoe op haar pols. ’n Tatoe! In swart ink staan daar LOVE and HATE – hoe weird is dit?
Sy gaan sit op ’n toiletdeksel, haar hande op haar knieë, blaas haar asem stadig uit en kyk my met groot oë aan.
“Ek kan nie teruggaan klas toe nie. Ek voel te sleg en siekeboeg toe gaan ek nie, ou juffrou Grobler gaan my weer aankyk asof ek iets is wat die kat ingesleep het. En huis toe kan ek nie gaan nie. Hy’s nog daar.”
Wie is hy? Ek wil vra, maar sy praat weer.
“Hoor hier, jy bly mos hier naby in Lindenhof? Het jy ’n sleutel? Kan ek asseblief vir ’n rukkie daar gaan chill? Asseblief man, Veda.”
Sy ken nie net my naam nie, sy weet waar ek bly, dink ek verstom.
“Jy bedoel jy wil die sleutel vat? Alleen soontoe gaan? Nee, jis, ek kan dit nie doen nie, sorry, Saskia.”
“Kom saam, toe? Daar’s nog net twee periodes oor. En dis Vrydag. Niemand worry oor Vrydag nie. Gaan haal jou tas, dan glip ons by die klein hekkie uit. Ek het dit al baie gedoen. Toe Veda, ek vra mooi.”
“Oukei,” plof my asem uit. Soet Veda verdwyn in ’n oogwink en ek loop terug klas toe, waar ek my tas optel en iets mompel oor kantoor toe gaan. Juffrou Roux knik, kyk nie eers op nie. Met my rug styfgetrek, oortuig ek gaan enige oomblik teruggeroep word, stap ek kleedkamer toe.
“Waar’s jou tas?”
“Dit bly net hier, ek gaan dit nie nodig kry nie. Jis, dankie ou Veda – jy’s great.” Daar is weer kleur in Saskia se gesig en sy lag vir my verskrikte oë. “Kom,” sê sy en vat my hand en sluip soos Peter Sellers wat Inspector Clouseau speel uit die kleedkamer, rug teen die muur, haar oë op skrefies getrek, ’n vinger voor haar mond.
Toe ’n onderwyser aankom, los sy my hand, trek haarself regop en draai met ’n frons na my toe. “So, hoe het jy vraag sewe in geskiedenis benader?” Sy kyk op. “Haai, middag, meneer.”
Die onnie groet en stap verby.
“Benader!” giggel ek. Dis aansteeklik en ons moet aan die muur vashou soos ons lag.
Ek hou van haar, dink ek verbaas.
Sy kies kortpad agter meneer Fleischauer se houtwerkklas verby en ons loop gebukkend verby die vensters tot by die paadjie. Toe ons deur die hekkie is, bars sy weer uit van die lag. “Ek wens jy kan jou gesig sien. Jy’t nog nooit