Ek en Antjie het ’n jaar of twee in Hillbrow gebly. Dit was toe Hillbrow nog die middelpunt van die wêreld was. Ons woonstel was in Pretoriastraat en alles was binne loopafstand; wanneer jy uit die woonstel stap, het ’n kontinentale gevoel jou ingewag. Sondagoggende het ons koffie gedrink of ontbyt geëet by Café Wien of Café Paris en dan sit die ooms in die son en speel backgammon of lees Sondagkoerante.
Ek en Erika Boersma, sy was later Lundi, het in dié tyd begin saam sing. Sy was pas klaar met skool en het so ’n rokerige stem gehad, diep en donker. Die musiekskrywers wat Groep Twee bekend gemaak het, Anton de Waal en Louis Combrinck, het ons raakgesien en ek en Erika het ’n vierjaarkontrak met hulle geteken. Ek en sy is op my Vespa, met haar agterop en die ghitaar op haar rug, al die pad van haar huis in Alberton na die EMI-ateljees in Presidentstraat in die Johannesburgse middestad vir die opnames. Ons eerste solusseweplaat met “Manina” is op 30 Oktober 1967 uitgereik.
Die gewilde radiotannie Esmé Euvrard was getroud met ’n Portugees en het baie van “Manina” gehou. Toe speel sy dit op 27 November 1967 op haar Springbokradioprogram. Dit was ’n belangrike datum: die eerste keer dat ek op radio was.
Ná “Manina” het ek en Erika nog ’n single by EMI uitgereik, “Sweet Looking Lorraine”, as ’n folky duo couple genaamd Anton en Michéle, om Erika Frans te laat oorkom. Daar is ’n Engelse langspeler met dié twee songs daarop gemaak, maar dis nooit uitgereik nie.
Erika het in die 1970’s saam met Johnny Boshoff gewerk en saam met Dizzy Gillespie gesing, die briljante Amerikaanse jazz-trompetspeler. Dizzy het haar een aand ná die gig onder die grand piano beter leer ken, het sy vir my keyboardspeler vertel.
In 2016, met my sewentigsteverjaardag-konsert by die RSG-kunstefees, het sy “Ferreirakamp” in haar husky stem gesing. Sy bly nou in ’n ouetehuis in die Strand en ry ’n ou oranje Merc. Partykeer ry sy die vyf minute af strand toe, gaan parkeer daar en luister ’n bietjie musiek. Die ander inwoners is baie jaloers op haar oor haar kar.
In 1972 is my eerste album, die Anton sing-effort, uitgereik met ’n klomp inheemse liedjies en vier vertalings. Ek is in so ’n pienk hemp op die cover. Dis nie iets wat ek graag onthou nie, en vir my is Boy van die suburbs eintlik my eerste album, want dit was die deurbraak, die ander het verdwyn in ’n see van vergetelheid.
Ses jaar nadat ek en Antjie getroud is, is Maríza gebore. Sy was ’n hele paar weke in die broeikas omdat sy vroeg gebore is. Dit was weird om huis toe te kom en daar is niks om vir die moeite te wys nie. Ek was ’n pa en dit was wonderlik. Haar doopnaam is Isabelle-Marí, ’n samestelling van die twee oumas se name. My ma het haar nooit geken nie.
Met haar doop was ons bietjie in ’n fix, want ek is nie NG of enigiets nie, so ek mag nie saam met die moeder voor staan by die doop nie. Die predikant wat ons getrou het, Hannes Cronjé, was baie funky, hy was van Fontainebleau, waar ons toe gewoon het. Hy het gereken dis mos nou nie eintlik ’n probleem nie. Glo jy? Ja, sê ek. En hy sê: “Dan neem ons jou ook sommer terselfdertyd as lidmaat aan.” Hannes het ’n ou sportmotor herbou. Hy het vertel hoe hy op huisbesoek by een van sy blouboordjielidmate ’n glas water gevra het. Net toe hy die glas by sy mond bring, trek die kind los met ’n “daar gaat hy!”.
Ná Alberton het ek in 1970 die Afrikaanse pos by die privaatskool St Stithians Preparatory School gekry. Die kinders het Afrikaans gehaat, want my voorganger, Ken Resnick wat vir Transvaal haker gespeel het, het hulle geslaan. Hulle het die handboeke se titel verander van Vlot Afrikaans na Vrot Afrikaans. Dit was my missie om Afrikaans vir hulle lekker te maak, en ek het dit reggekry deur baie onkonvensioneel klas te gee. Van speltoetse het ek krieketwedstryde gemaak. Die een helfte van die klas kolf en die ander helfte boul. Ons het ’n Shakespearean clearing in die bos by St Stithians gemaak, ’n paar boomstompe nader gerol om op te sit, en dan het die kinders hul eie toneelstukkies met kostuums en al in groepies daar gaan opvoer. Eendag roep die hoof my in en vertel dat die kinders in sy Engels-klasse aan die einde van die periodes baie onrustig raak. Toe vra hy hulle daaroor. “Oh, its Afrikaans next sir!”
Daardie oomblik het ek geweet ek wen.
Ons het ’n band, die St Stithians Minstrels, begin met ’n T-Box bass en ’n klomp ghitare en dan sing ons in Afrikaans. Drie weke na ek daar begin het, was Afrikaans die gewildste vak op skool.
Ek het sokker afgerig en my vorige skool, Alberton English Medium Primary, se span genooi om teen St Stithians te kom speel. Die St Stithians-snobs het agterna gesê dis goed en wel, maar dit moet dalk nie weer gebeur nie want die enigste ding wat Alberton en Sandton gemeen het, is die laaste drie letters van hul name.
Toe kry ek hierdie idee in my kop om ’n toneelstuk te skryf wat die hele skool betrek. Ek wou dit ’n Kaapse storie maak en Jantjie, wat my leer rook en ghitaar speel het, en Katryn, my tweede ma, word my hoofkarakters. Vir navorsing het ek Adam Small se boek oor Distrik Ses nader getrek.
Ek het Adam Small eers in 2016 ontmoet, met die bekendstelling van die volgende jaar se Woordfeesprogram op ’n spoggerige landgoed buite Stellenbosch. Ek, Churchil Naudé en Schalk Joubert het ’n rap-weergawe van Boy van die suburbs gedoen. Dit was ’n baie deftige affêre met gratis rooiwyn en uitgelese geselskap.
Iemand het ’n klein, deftige, regop man aan ons kom voorstel. Ek en Adam Small, wat ook vereer is, het die eerste keer blad geskud. Vir my was dit asof ’n kring voltooi is, want voor Adam Small het ek ook die hande kon vashou van Dirk Opperman, Uys Krige, Chris Barnard en Breyten Breytenbach. In my hand was my ghitaar en voor my was Adam Small. Ek is so bly oor dié ontmoeting, want hy is kort daarna dood.
Ek is nie seker of ek in 1972 eerste Kitaar my kruis of Kanna hy kô hys toe aangeskaf het nie, dalk was dit gelyktydig.
Die Sestigers het destyds ’n diep indruk op my gemaak, en hul politieke bewussyn het op my afgeskuur. Adam Small se Kaapse taal het ’n nuwe faset oopgeskop en sy filosofiese en politieke verset deur middel van satire het ’n duidelike rigting vir my aangedui.
Jare later met die Lappiesland-album het Small weer sy verskyning in die lirieke gemaak: “Kom laat ons sing, laat die hele Lappiesland saamsing” en op ’n Vis innie bos, met dié verwysing: “Adam Small sê ons pad se naam is Broadway.”
Antjie en ek is spesiaal Kaap toe waar ons die Bo-Kaap van bo tot onder platgestap het. Hanoverstraat, Loaderstraat, die Seven Steps. Deur my ma het ons by ID du Plessis uitgekom. Hy was haar universiteitsdosent en ’n kenner van die Maleierkultuur, ’n wonderlike omie. Ons is saam met hom na die kultuurhistoriese museum. Hy was ’n ensiklopedie van kennis en het my aangeraai om nie van die varkvelle wat oor die ghoematromme getrek is te skryf nie, dit sou met die Moslems se halaal-voorskrifte bots.
Met Tweede Nuwejaar was ons in Adderleystraat toe die klopse verbykom. Dit was net uitbundigheid en musiek en vrolikheid en ek het myself heeltemal daarin verloor. Dis in daardie vakansie wat my fiksasie met die Kaap begin het.
Terug in Johannesburg het ek Jantjie gaan sit en skryf, op die trappe van ons eerste huis by 11de Straat 1 in Greymont. Ons het amper ’n goeie adres gehad, een van die Northcliff-uitbreidings was net oorkant die straat. Ek het gereeld op die Northcliff-koppie gaan sit en ghitaar speel.
Jantjie ontwikkel toe in so ’n lekker surrealistiese musiekblyspel oor twee vissermanne, Jantjie en Apools. Hul boot sink in ’n storm en hulle word deur seerowers gered. Só ontmoet hulle kaptein LeBouche, ’n seerower uit 1720, en hulle ontdek kaptein Blackbeard se skat, en kom net betyds terug vir die Kaapse klopse waar die twee troepe, die Cape Town Jazziness en die Kanaaldorp Follies, teen mekaar meeding. Tradisionele ghoemaliedjies soos “Die blikkie se boom is uit,” “Hoor hoe lekker slaan die ghoema” en “Dan trek die boer sy baadjie aan, dan is die boer tevrede” kon kleur gee aan die blyspel, met die belangrikste song my eie “Jantjie”.
Jantjie, kom huis toe,
Katryntjie wag op jou.
Jantjie, kom huis toe,
die Kaap is leeg sonder jou.
my ghantang van die Onder-Kaap,
as die mammies op hul hakke loop,