Tweedens, geraas. Jy het stilte nodig. Die kreatiewe geheue het ’n uitwisknoppie soos ’n rekenaar. ’n Telefoon of bybie in die middel van ’n komposisie laat jou gedagtes verlore gaan en veroorsaak onnodige frustrasie. Sommige komponiste soos Irving Berlin kon op busse skryf. Ek kan nie.
’n Liedjieskrywer moet van soveel soorte musiek moontlik weet. Luister na ander se werk, ontleed dit, kyk na die binnewerk. Ondersoek die akkoordprogressies, probeer variante daarvan, maar moenie liedjies volgens akkoorde skryf nie. Akkoorde vul net melodie aan, nie andersom nie. ’n Goeie liedjie kan deur ’n mamma vir ’n baba geneurie word, maar ook deur ’n simfonieorkes gespeel word.
Hoe skryf ek ’n liedjie? Ek weet nie. Ek gaan sit net en skryf.
Iets wat my in die laat 1970’s heeltemal onkant betrap het, was die Afrikanerdom se drakoniese sensuur. Dis nogal ’n ding om te verwerk as jou songs verbied word, dat jy nie meer mag skryf wat jy wil nie. Daai tyd was enige godsdiens, enige handelsnaam, enige politieke kontroversie op die sensors se lys. En seks. So jy moes óm dit skryf. Dan raak jy maar ’n meester van subtiliteit en dubbelsinnighede, jou politieke boodskap raak ondergronds. “Waterblommetjies” was so, “Hanoverstraat”, “Jantjie” in ’n mate onbewustelik so, “Antjie Somers”, “Atlantis”.
“Atlantis” is verbied, maar om die een of ander rede het “Mpanzaville” wat ek vir Laurika oor die 1976-betogings geskryf het, deurgeglip. James Mpanza was een van die stadsvaders van Soweto en daar was ’n voorstel dat Soweto se naam moet verander na Mpanza. Ek het toe die simboliese beeld gebruik van die honger krokodil wat doodgemaak moet word, met dié dat PW Botha se bynaam Die Groot Krokodil was. Die SAUK het sy eie sensuurstelsel gehad. Later het die game so ontaard, ek het woorde begin gebruik wat hulle nie sou verstaan nie, soos “gentoe” in my sewende album, City/Stad. Die Gentoo was ’n skip wat ’n klomp prostitute in die Kaap kom aflaai het om die mans te bedien. Op Houtbaai se hawe staan in die sement uitgekrap: jou ma is ’n gentoe.
My liedjie “Boude” het natuurlik ook nie die paal gehaal nie, al was dit ’n stokou Maleierliedjie. Ek het die liedjie “Anna Jordaan” by Chris Swanepoel, oudredakteur van Die Wynboer en Gilbeys se skakelhoof, gehoor: “Ou Anna Jordaan jou kaalkop korhaan. By Suurbraak het Anna vir sewe man gestaan, en Anna se ma het so baie gehuil toe stuur sy vir Anna na die Barrydale. En miesies Morkel het deur die sleutelgat geloer en toe sien sy vir Anna met sewe manne koekeloer.”
Godsdiens was ’n doodsonde vir die sensuurraad, tog is Kris Kristofferson se “Why me Lord” nie verbied nie. Vir die liedjie “My Life’s in Good Hands” wat ek vir Gene Rockwell geskryf het, het ek catch phrases uit die Metodistesangbundel gebruik. Chris Kritzinger kry toe die plan om dit ’n subtitel te gee, “Jesus Sweet Jesus”, net om heeltemal veilig te speel, soos belt én braces. En daar word dit ’n toptientreffer vir Gene. Liedjies wat jy só fabriseer is vir ’n spesifieke mark, dis in opdrag, dis nie rêrig jy nie, dis werk wat jy maar net doen.
Een van die direkteure van RPM, die verwerker en meestermusikant Dan Hill, het na die song geluister en toe vra hy: “But are you a Christian, Gene?” En Gene sê: “Of course I’m a fucking Christian, it is a hit song. Let’s go and record it.”
Gene se regte naam was Gert Smit, soos Dennis East ’n Oosthuizen is en Lance James ’n Liebenberg. Gene het in sy jong dae in my oom Bert Goosen se garage in Durban se Bluff geoefen. Hierdie country-ouens, hulle kry ’n hoed en cowboy-klere en dan kondig hulle die song aan: “Here’s a little thing I picked up in Nashville,” dan kyk hulle agtertoe na die band en vra in Afrikaans: “In watter key is hierdie song, boys?”
Gene het eenkeer sy tantième-tjek by Chris Kritzinger se Transistor-kantoor gaan haal, hom met sy karfoon gebel, ’n bietjie gechat en toe gegroet met “God bless you, you fuckin’ cunt”.
Ek het resensies begin skryf nadat Rocco Erasmus my vertel het van ’n nuwe Afrikaanse koerant wat ’n musiekresensent soek. Rocco het by St Stithians skoolgehou en hy het ook vir Antjie se ma genoem dat daar ’n Afrikaanspos by St Stithians Preparatory oopgaan. Hy was ’n legendariese omroeper by die ou Radio Hoëveld, seductive oor die radio: the doctor of love. Ek vat toe ’n kans en bel Beeld, die nuwe Afrikaanse koerant. Die kunsredakteur, George Boshoff, het my ge-interview. In die hysbak van hul kantore in Doornfontein het George my vertel hulle wil nie net Die Tranvaler toemaak nie, maar ook The Rand Daily Mail. Hulle het dit reggekry. Sommer Die Vaderland en in Pretoria Hoofstad en Oggendblad ook.
Toe ek weer sien, check ek die Albert Hammond-konsert uit in ’n goeie seat waar ek vroeër in Braamfontein by die Civic by die deur agter die backstage na Marlene Dietrich moes luister en redelik goed kon hoor en jy kry die vibe for free. Maar nou was dit in style.
My resensieskrywery het van 1974 rond tot so 1980 aangegaan. Die goeie ding hiervan is dat jy die bedryf leer ken, hoe dit werk, jy is pelle met die musiekjoernaliste, kunstenaars en hul managers, jy leer om met hulle te werk. Die dag toe ek self liedjies begin maak, het ek klaar geweet hoe dinge werk, anders as die meeste ander sangers. Soos: Jy moet mooi hallo sê vir die kamera-crew en die beeldmenger want daai mens wat daar sit is baie magtig; die sangers wat daar opdaag met hul manager; vir die ou wat dink hy kan video’s maak nadat hy dit een keer gedoen het en dan vir die crew sê wat hulle moet doen. FC Hamman het met dié soort beterweterigheid baie vyande gemaak.
My weeklikse musiekrubriek vir Beeld is later afgewissel met die kunsjoernalis en uitgewer en deesdae ook romanskrywer Kerneels Breytenbach, wat ’n goeie vriend geword het. Kerneels het my bekend gestel aan Van Morrison, en ek hom aan Mickey Newbury – ons het tot vandag toe ’n baie lekker musiek-interaksie. Met resensies luister jy na alles, van skeppende kunstenaars tot kommersiële snert. Wat jy soek, is die emosie wat die liedjie aanwakker wanneer jy daarna luister. Oorspronklikheid het altyd iets daarmee te doen, maar soms kan ’n ou cliché in ’n vars baadjie aangebied word. Ná George Boshoff was Jeanne Coetzer die kunsredakteur, en sy het my vinnig oor die vingers geraps wanneer my resensies té metafories raak. Jeanne is Hermien Dommisse se dogter.
Hermien was ’n regte prima donna wat in Beeld-artikels haar eie naam tussen dié van ander groot geeste ingesluit het. Ek en die basghitaarspeler Schalk Joubert het Jeanne in 2007 in België raakgeloop, spierwitgrys en getroud met ’n Franse balletdanser. Dit het gelyk of sy gelukkig is.
’n Resensent het ’n redelik magtige posisie, die PR’s lek almal jou gat en neem jou uit vir ete. Jy ontmoet ook internasionale sterre soos Suzi Quattro en Robin Trower wat vir Procel Harem gespeel het – die band met die hit “A Whiter Shade of Pale”; Sailor, Steeleye Span en Dave Brubeck en sy seuns toe hulle hier op toer was, Olivia Newton-John en Kristofferson se eksvrou Rita Coolidge wat op Roger Waters se Amused to Death sing. Ek het ’n foto waar Rita met haar kop op my skouer pose, soos artists mos nou maar maak. Toe ek later in die Kaap ’n onderhoud met Kris Kristofferson doen, kon ek nie help om te vra of hy en Rita weer sal saamsing nie. Toe skree sy huidige vrou van agter uit die kleedkamer: “He’s got a wife, you know!”
Ek moes ’n onderhoud voer met Olivia Newton-John wat destyds ’n nommer een hit gehad het met die Dylan-song “If not for you”, en later met die fliek Grease. Sy was nogal wulps en het dadelik ’n pass gemaak, al was haar boyfriend met ’n gebreekte been in die kamer langsaan. Later het ek by die resensent van die Sunday Times gehoor dat sy dieselfde gedoen het tydens hul onderhoud. Die tydskrif NME het eenkeer die opskrif “Olivia Newton Nutcracker” gebruik.
My onderhoud met Chris de Burgh in die Landrost Hotel in Johannesburg was die begin van ’n lang vriendskap. Chris is ’n nederige, cool ou wat altyd op die verhoog op sy tone gestaan het om die hoë note by te kom.
Ek en Chris is die middag van die onderhoud amper uit die Landrost Hotel se restaurant gegooi omdat ons jeans gedra het, maar toe swaai Chris suite 2080 se sleutel voor die kelner se neus en skielik was ons weer welkom. Ons het seker tot vyfuur die middag daar gekuier, en Chris kom toe die aand oor na ’n partytjie by ons huis. Baie van my persvriende was daar – Ronelle Loots van Die Transvaler, Jakkie Groenewald van Die Vaderland en Muff