Naweke was ons gesin gereeld op druk-deur-dagbreek-toe partytjies by my oom Lood van Aardt se plaas naby die Lace-diamantmyn op die Viljoenskroonpad. Die grootmense het langarm op die misvloer geskoffel, op oom Chris Blignaut se musiek, en ek en die ander kinders het buite op die gras rondgehardloop met musiek en lig wat deur die oop deure stroom.
My oom Lood het die Van Aardt-humorsin gehad. My nefie Casper het een keer vir middagete aangesit en daar was ’n beesmiskoek op sy bord. “Jy praat heeldag daarvan, ek het gedog jy sal dit graag wou eet ook,” het oom Lood doodluiters gesê. Casper het daarna minder gevloek.
Die rokery het begin toe my pel André de Villiers in standerd sewe agter die Vrystaat-stadion sê probeer bietjie. Nooit, antwoord ek. Maar ons almal vat ’n pull aan die Lexington en ek het dekades lank nooit weer ophou pull nie.
In daai selfde jaar, 1960, het ek rock ’n roll ontdek. Dis waar die eintlike moeilikheid begin het. Vir ’n pond en ’n sjieling het ek my eerste drie rock-plate gekoop, by die Kroonstad Saloon in die hoofstraat. Naby die duikweg was ’n kafee met ’n jukebox. Jerry Lee Lewis se “Great Balls of Fire” was op die speellys. En “Red River Rock”. My ouers was Bloemfontein toe vir ’n konferensie en toe hulle terugkom was die gort gaar, want ek het die plate op my pa se platespeler gespeel. Hy was woedend, asof rock ’n roll die ding sou besmet. Ek het ’n moerse pak slae gekry. En ja, dan doen jy maar dinge in die geheim.
In standerd nege, in die dae toe Cliff Richard nog rebels was – voordat hy sweetie pie gedraai het saam met Norrie Paramor en sy duisende viole en hulle nog regte rockers was – vra my pa my: “Wat is die aantrekkingskrag, Anton?”
“O, dis die ghitare en die boodskap, Pa, dis rock ’n roll.”
LM-radio was die klankbaan van my tienerjare. Op LM het ek Mickie Most se covers van die Buddy Holly-songs gehoor, die Rolling Stones. Ek het Sondagaande onder die kombers met die radio teen my oor skelm na die hit parade geluister. David Davies se stem: “Greeeeeeeetings …” Bob Dylan, Led Zeppelin en daai tipe goed het ek eers later op kollege ontdek, maar LM het my lewe vir altyd verander.
Aan die einde van elke kwartaal kon ons plate saamneem sangklas toe. Die sangjuffrou was so oud soos die berge, sy het ook vir my pa skoolgehou. Ek het Conway Twitty se “Mona Lisa” gekies. “Mona Lisa” is deur Nat King Cole opgeneem, ’n pragtige ballade. Conway Twitty se opname begin mooi besadig en dan bars alle hel los as die tromme en ghitaar bykom en dis serious rock ’n roll. Op daai oomblik het die sangjuffrou die plaat van die platespeler afgehaal en voor die hele klas stukkend gegooi. Wat maar net wys ek het in die regte rigting begin luister.
Dit alles het my in direkte konflik met my pa gebring. Die man was die hoof van die huis. My pa was chauvinisties en patriargaal. Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê jy moet doen. Haal jou hande uit jou broeksakke as jy met my praat, mannetjie.
My ma, jis, sy was die sagste mens wat ek geken het. Sy het in Suidwes (Namibië) op die plaas Okakanja Ranch buite Okahandja grootgeword. My oupa Lodewyk van Aardt was ’n lid van die wetgewende vergadering en hy en regter Henry Fagan het glo die eerste Afrikaanse prokureursfirma in Suidwes gehad. Oupa en Ouma het Port Elizabeth toe getrek. Ná Ouma se dood het Oupa met Shady, ’n weduwee en sy jeugliefde, getrou. Die kinders was baie gekant daarteen en Oupa het hulle toe onterf. My ma het vertel Ouma het altyd gesê as sy haar kop neerlê sal Oupa reguit teruggaan na dié jeugliefde. ’n Dag voor sy dood het Oupa, in sy hospitaalbed ná ’n hartaanval, vir ’n prokureursvriend gesê hy het ’n fout gemaak en wil sy testament terug verander. Die vriend het gesê “ag nee wat, Lood, jy gaan nog lank lewe”. Die volgende dag, met Shady alleen by hom, het Oupa gesterf. Sy was ook alleen by haar vorige man toe dié gesterf het. Die familie het toe ’n bevel gekry om beide mans se grafte te laat opgrawe vir forensiese ondersoeke, maar geen gemene spel kon bewys word nie. Daar was lastersake en ’n hooggeregshofsaak met ’n uiteindelike skikking, maar vir my ouers was dit ’n finansiële ramp. My pa moes teruggaan poskantoor toe en my ma moes jare lank in die winkel op Kroonstad op die koue sementvloer werk.
Ouma was ’n produk van die afrondingskool in Wellington en die musiekkonservatorium in Stellenbosch, met ’n lisensiaat in viool, tjello en klavier. In die week was die plaasopstal vol Bach, Beethoven en Rachmaninoff met haar viool en die Steinway-vleuelklavier. Sondae was dit jazz, dit was immers die roaring thirties. Sy het later as professor in musiek in Stellenbosch waargeneem. Sy en Oupa het die eerste kar in Okahandja besit. Ek wens ek het haar geken. Ouma Van Aardt het tydens ’n asma-aanval versmoor. My ma het vertel dat sy kort voor haar dood op die vleuelklavier gespeel het totdat haar vingers gebloei het, desperaat om asem te kry.
My ma, Marie, uitgespreek Marí, was hul enigste dogter en sy was ’n klein tomboy op die plaas. My ma was alles waarvoor ek ooit kon vra. My song, “Marí van Okakanjaberg”, gaan oor haar:
O Marí, Marí, mooiste Marí van Okakanjaberg.
Marí met die ooswind in haar hare
Waar gaan jy heen as jou berg verdwyn
En ’n wolk voor jou son verskyn?
Die Van Aardts se Monty Python-humorsin was ewe wakker in my ma. Eenkeer vra ’n voornemende huishulp vir my ma of ons ’n stofsuier, poleerder en wasmasjien het en noem nog ’n hele rits goeters. Toe sê my ma vir haar ja, ons het, maar kan jy klavier speel, want ons soek eintlik ’n veelsydige pianis.
My pa se familie was weer ’n ander klomp. Oupa Goosen was ’n pastoor in die Volle Evangeliekerk en hy het van die kansel af die mense berispe wat so bôl speel op die Sabbatdag. Ouma Goosen was ’n nasaat van oudpresident MT Steyn. Hulle het in een van daai sandsteenhuise in Stasiestraat, Kroonstad, gebly waar Ouma, ’n beteuterde vroutjie, een aand ’n inbreker met haar kombuismes verjaag het.
My pa het net standerd agt gehad, want hulle was arm en hy kon nie verder gaan leer nie. My ma het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. My pa gaan werk toe maar in die poskantoor en word later ’n boekhouer. As jong man is hy Suidwes toe verplaas. Toe stap Marie van Aardt van Okahandja op ’n dag by die poskantoor in en hierdie aantreklike ou bedien haar …
Die hele dorp het oor dié romanse geskinder en gesê Anthonie Goosen sien klaar die rooi Afrikanerbeeste oor die vlaktes van my oupa se plaas aanstap. Hy en Oupa Van Aardt het dadelik gekliek en ure omgepraat. Maar dinge was effe gekompliseerd, want hy was verloof aan ’n blonde Duitse girl, en my ma klim toe maar liewer op die trein Swakopmund toe. My pa verbreek die verlowing, jaag treinstasie toe, hardloop agter die trein aan wat besig was om uit die stasie te stoom en skree vir haar waar sy by die venster uitleun: “Marie, ek het jou lief! Sal jy met my trou?”
My pa het drie kortverhale onder die skuilnaam Anton geskryf en dit is in die destydse Brandwag en Naweek gepubliseer.
Hulle het in Swakopmund op die lang jetty verloof geraak. Haar trourok was baie funky – blou met ’n V en C daarop geborduur, V vir my ma se nooiensvan Van Aardt, en C vir my pa se tweede naam, Christoffel. Ek het nog hul liefdesbriewe, en dis vreksnaaks, jy kan nie glo dis mense wat jy actually geken het nie, nog minder jou ouers. Sulke soetsappige stuff soos “my groot bruinoog-pop”.
So, die romanse was daar, ek weet net nie wanneer dit opgedroog het nie. Hulle het baie baklei en sy het baie gehuil. Dan dreig sy met ’n egskeiding, maar dit kos net soveel, en jy praat nie meer met my nie, en hy antwoord, oukei, praat, laat ek hoor. Wat nie juis encouraging is nie, is dit?
Wanneer die diaken kom huisbesoek doen, het my pa deur die kamervenster geklim en sy Louis L’Amour-boek onder die appelboom gaan lees. L’Amour en Zane Grey wat 120 bladsye vat om te vertel hoe blink die water is. My pa was hierdie teenstellings – die stoere nasionalis wat Engelse cowboyboeke gelees het en mooi mondfluitjie kon speel.
My ma was vasgevang by hierdie Calvinistiese man wat ’n ateïs was en het haar heil en berusting in Oupa Goosen se Volle Evangeliekerk gevind. Sy het finaal uit die NG Kerk padgegee nadat ’n ouderling op huisbesoek klaarblyklik meer wellus vir haar as bid in gedagte gehad het. Sy het my en my broer, Ben, geroep en ons in die sitkamer by haar en die man van die kerk laat