Skag. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089490
Скачать книгу
tyd op sy hande, tree daardie gedagtes weer op die voorgrond. Selfkennis bring geen troos nie. Miskien moet hy ’n kans waag en Lida bel, terwyl hy wag.

      Vir die soveelste keer staan hy op en strek hom uit, sy hande agter sy kop. Hy swaai sy bolyf stadig van links na regs. Terselfdertyd flits sy oë deur die ruimte, van mens tot mens. Hy oefen sy nuutontwikkelde teenobservasie-tegnieke, bespied die vertrek om te sien of iemand skielik wegkyk, oogkontak vermy of uit plek lyk.

      Hy het homself só geposisioneer dat hy ’n wye gesigsveld het. Hy’t die saal nou al drie keer deurgekyk, elke keer onder die dekmantel van bene rek. Sover kon hy niks verdags sien nie. As iemand hom dophou, is die persoon ’n ekspert.

      Jos weet reeds waar al die publieke telefone is. Een links, naby die uitgang van die vertreksaal. Een skuins oorkant, by die boekwinkel. Een by die toilette. Dis die een wat hy teiken.

      Hy vat sy rugsakkie, maar los met opset die koerant op sy sitplek. Begin lui oorstap na die boekwinkel, maar stop na ’n paar treë asof hy onthou van die koerant, en swaai om. Kyk vinnig vir oë op hom. Niks. Hy gaan kry die koerant en stap aan na die boekwinkel.

      Binne beweeg hy om ’n rak sodat hy na buite kan kyk, tel ’n tydskrif op en bestudeer die buiteblad. Hy kyk nie op nie, skandeer net vir beweging aan die rand van sy gesigsveld. As iemand hom hierheen gevolg het, sou die persoon vasgesteek of weggedraai het. Die abrupte beweging sou dit verklap.

      Hy sit die tydskrif terug op die rak en slenter uit na die toilette toe, draai sy kop stadig van links na regs sodat hy uit die hoeke van sy oë enige tekens van agtervolging kan gewaar. Niks.

      Hy stoot die toilet se deur oop en stap in, stoot dit toe, maar hou dit op ’n skrefie oop. Loer deur die skrefie. Geen beweging nie. Hy wag twee minute, tot hy seker is, en glip uit na die eerste tiekieboks op regterhand.

      Hy ken Lida se direkte kantoornommer uit sy kop. Met die eerste lui tel haar ontvangsdame op. Dêmmit, dit was nou onnodig! Hoe minder mense weet, hoe beter.

      Jos herstel gou. Kan hy met doktor Struwig praat?

      Doktor Struwig is ongelukkig in die hospitaal. Kan sy dalk help?

      Hospitaal? Jos herstel gou.

      Hy wou net sy maandelikse afspraak aanskuif, hy is uitstedig, lieg hy glad. Is daar fout? Is sy siek?

      “Met wie praat ek?”

      “Fourie. Sersant Fourie.”

      “Sersant, ek’s jammer, ek het slegte nuus. Ons weet nie wanneer sy gaan terug wees nie. Sy is aangeval. In haar huis, net so oor ’n week gelede.”

      “Sy’s wát?”

      “Ek’s jammer, sersant. Sy’s in 2 Mil-hospitaal in Wynberg … Sersant?”

      ’n Groot hand verwyder die gehoorbuis uit Jos se greep en sit dit kalm terug op die mik. Jos ruk geskok om, sy rug teen die tiekieboks. Voor hom staan kolonel Jan Beetge, sy gesig ’n donderwolk.

      “Fourie, het ons jou absoluut niks geleer hierdie week nie?”

      Sy oë deurboor Jos s’n. Dan, sonder om weg te kyk, steek die kolonel sy hand in sy baadjiesak en hou iets na hom uit.

      Jos kyk af. Twee foto’s. Lida Struwig op die vloer, haar gesig opgeswel en bebloed. En ’n grinterige beeld van iemand in ’n sweetpak wat deur ’n melkhoutheining beur. Dis onmiskenbaar hy.

      16

      Afrika-direktoraat, CIA-hoofkantoor,

      Langley, Virginia

      12 Desember 1987

      Direkteur Allan Hughes lees die telekse ’n tweede keer, net om seker te maak. Hy sit die papiere in ’n legger en skakel dan ’n interne nommer. “Marcia, het jy ’n oomblik?”

      Twee minute later loer Marcia de Longhi, sy adjunk en die operasionele direkteur vir Afrika-sake, om sy kantoor se glasdeur. Sy kyk afwagtend na hom. Hy wuif haar na ’n stoel.

      “Dit lyk vir my ons het iets bruikbaars gekry van ons Suid-Afrikaanse bronne. Die Boere is weer aan die smokkel. Kyk hier.” Hy skuif die legger oor na haar. Sy tel dit op en slaan dit oop, onmiddellik verdiep in die inhoud.

      Marcia de Longhi is lank en donker, oorspronklik van Italiaanse afkoms. Haar grys baadjiepak het ’n paar kreukels, sien hy. Waarskynlik nog ’n nag op kantoor deurgebring om intyds met haar agente elders te kan kommunikeer.

      Hughes weet sy het feitlik geen lewe buite haar werk nie. Dis hoekom hy haar so gereeld belas met delikate operasies. Detail is haar kos.

      Sy kyk op. “Wapens?”

      Hy sê een van sy bronne het ’n baie onwaarskynlike wapentransaksie gerapporteer: een tussen ’n Suid-Afrikaanse koper en oudlede van Oos-Duitsland se geheime diens, die Stasi.

      “SA-9 missiele vir die Gaskin,” voeg hy by.

      “Maar dis ’n Russiese lugafweerstelsel, Allan? Die Suid-Afrikaners gebruik dit tog nie?”

      “Ek vermoed dis vir Unita in Angola.”

      “Maar Unita gebruik ook nie Gaskins nie?” De Longhi frons, snap nou die implikasies: “Tensy hulle lanseerders in die hande gekry het. Miskien by die Kubane afgevat het. En die Suid-Afrikaners nou die ammunisie verskaf.”

      “Presies wat ek gedink het. Dit klink nie goed nie. Ons gaan daardie vrag moet probeer stop.”

      Marcia de Longhi kyk hom skerp aan. Hulle verskil fundamenteel oor die verlenging van die konflik in Angola, een wat die Verenigde Nasies al maande lank sonder sukses probeer bemiddel. En die CIA se gekonkel – Hughes s’n – help nie, herinner sy hom gereeld.

      “Dit kom van bo af, Marcia. Die baas is onder druk van sy partyborge.”

      Hy is net die boodskapper. Die president het sekere beloftes gemaak oor toegang tot olievelde en diamantmyne in Angola se rykste provinsies sodra die konflik beëindig word. Hoe gouer hoe beter. Dit beteken aktiewe optrede teen enige Suid-Afrikaanse steun aan Unita in sy oorlog teen die MPLA.

      Maar dit destabiliseer die streek, het Marcia geargumenteer. Versteur jy die magsbalans, kan dinge enige kant toe val. Help Unita eerder om te keer dat die olieryke streke in MPLA-hande val, as jy langtermyn-sakebelange wil verseker. Só kan hulle tog op ’n afstand betrokke bly en Westerse invloed uitoefen om ’n vreedsame skikking te bereik.

      Sy kon Hughes nog nooit oortuig nie. Dit was die president se agenda en hulle moes maar daarmee saamleef.

      “Waar kom die intel vandaan?”

      “Van daai glibberige Fransman wat ons laas jaar in Marokko gevolg het. Onthou jy? Jean Bertrand? Hy het een van ons bronne hier in Miami gekontak en sy kliënte uitverkoop. Net so.” Hy klap sy vingers. “Onbegryplik.”

      Marcia frons. Dit verbaas haar nie. Sy het al Bertrand se legger onder oë gehad. Maar iets strook nie.

      “Hoekom sou hy?”

      Hughes sê hy weet nie. “Beslis nie vir geld nie. Ons het hom niks betaal nie en hy het die inligting vrywillig aangebied. Dit kan ’n persoonlike ding wees. Wraak, miskien. Wat ék wil weet, is waarom die Oos-Duitsers toegelaat sou word om wapens aan die opposisie te verkoop? Niks gebeur daar sonder die KGB se goedkeuring nie.”

      “H’m, dit is vreemd. Weet ons wanneer die wapens geskuif word?”

      “Bertrand het nie gesê nie. Maar ons het hom onder oë gehou. Hy’s gister weer Berlyn toe, waar hy iemand ontmoet het. Ons ken nie die man nie. Kort ontmoeting. Die twee is daarna uitmekaar, en omdat ons span nie geweet het wie die ander man is nie, is hulle agter hom aan. Gelukkig vir ons. Hy’t nie geweet hy word gevolg nie en is reguit na ’n brug in die stad. Trek toe ’n rugsak uit ’n dead drop, en vat weer die pad. Reguit na die Suid-Afrikaanse ambassade!”

      “’n Suid-Afrikaner? Wat’s in die sak? Weet ons?”

      Hughes skud sy kop.