Skag. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089490
Скачать книгу
’n gelukskoot. ’n Man wat die volgende oggend met dieselfde rugsak by die ambassade uitgestap en ’n trein gehaal het na die noorde van Duitsland. Na Rostock. Daar ’n taxi gehaal na ’n hawepakhuis, en het ’n uur later sonder die rugsak uitgekom.

      Hulle het ’n Berlyn-gestasioneerde Navy Seal-span oornag by die pakhuis laat inbreek. Daar was oral kratte, maar die span kon niks deursoek nie omdat die plek gekrioel het van nagskofwerkers.

      “Hulle het wel toegang gekry tot ’n verlate kantoor op die boonste verdieping. Daar was skedules en vragbriewe, en hulle het dié deursoek vir enige verbintenis met die Suid-Afrikaners.”

      “Slim. En?

      “Bingo. ’n Paar van die kratte gaan Walvisbaai toe op ’n skip wat nou in die hawe lê. Die Vesta. Ek dink ons het die transport gekry. Dit moet die wapens wees. Ons moet nou net seker maak.”

      “Hoe? As daar ’n nagskof is, gaan die Seals mos nooit inkom nie.”

      Hy knik, steek ’n sigaret aan en blaas ’n bol rook in die ruimte tussen hulle. Hughes wieg terug in sy stoel, sy skoensool op ’n uitgetrekte lessenaarlaai.

      “Gelukkig is die Duitsers baie deeglik. Ons het ’n skeepsmanifes vir die Vesta by die hawe-owerhede aangevra. Alles is daarin. Details oor die vrag, die bemanning, alles. En een passasier. ’n Suid-Afrikaner, ene Jos Viviers.”

      “’n Passasier op ’n vragskip?”

      “Presies. Dis ongewoon. Die Boere gaan daai vrag mooi oppas. Ek wil weet hoekom. Hoekom die transaksie deur die KGB gesanksioneer is. En ek wil weet wat in die rugsak was. Iets sê vir my dis meer waardevol as die wapens. En ek sal jou sê hoekom.”

      Hy druk die kwartgerookte sigaret dood en leun vorentoe.

      Hughes vertel haar van ’n bron wat hulle al ’n paar jaar kultiveer. ’n Jong homoseksueel, voorheen ’n tegnikus by die Suid-Afrikaners se Wetenskaplike Navorsingsraad. Die plaaslike CIA het hom in ’n delikate situasie betrap en toe oorreed om met hulle saam te werk. Hulle het hom aangemoedig om by Krygkor aansoek te doen om hom nader aan die land se kernprogram te kry.

      “Hy het uiteindelik daarin geslaag nadat hy ons al jare lank net waardelose gemors voer. Dié week het hy iets raakgeboor. Sy base het hom aangesê om alles eenkant te skuif en ’n staalsilinder te bou om binne ’n duiktenk te pas. Hy weet nie waarvoor nie.”

      “’n Duiktenk? Wat het dit met die wapens te doen?”

      Hughes sê vir haar om in die dossier te kyk na die Vesta se skeepsmanifes. Sy maak dit oop, lees vinnig die gegewens oor die vraginhoud.

      “A! Duiktoerusting!”

      “Presies. Dit moet daarmee verband hou.” Wat meer is, sê hy, die skubatoerusting word verskeep vir die Suid-Afrikaner, Viviers. Daar’s geen twyfel nie.

      Die CIA het niemand met daardie naam op rekord nie. Maar hy het die Berlynse span opdrag gegee om aan te bly in Rostock en almal wat aan boord gaan, te fotografeer. Hy wag nou dat die foto’s ontwikkel en na hom geteleks word.

      Dinge gebeur hopeloos te stadig na sy sin, sê hy. Hulle moet bevestig wat in die kratte is, en hy wil weet wat in die rugsak was. Hy het die Seals op bystand daarvoor. Hulle sal die pakhuis weer probeer deursoek, hopelik voor die vrag op die Vesta gelaai word. En as dit die wapens is, gaan die Seals moet plan maak. Die goed neutraliseer.

      De Longhi kyk hom geskok aan. Op Duitse grondgebied? Dis mos hopeloos te gevaarlik?

      “Toegegee, maar ek sien nie ’n ander plan nie. As die Vesta eers geseil het, is dit te laat. En dis hoekom ek jou eintlik laat kom het. ’n Plan B. Ons het iemand op daai skip nodig, Marcia. Ingeval ons nie by die pakhuis regkom nie. Iemand moet in die Vesta se vragruim kom en seker maak. Dan die missiele se kontrolestelsels vernietig. Ook hierdie Viviers dophou. Kry vir ons iemand, maak seker hy’s wawyd wakker. En gee hom ’n satellietfoon.”

      “Goed. Maar ek dink ons moet ’n vrou gebruik.”

      “Hoekom? En wie?”

      “Ashley Ramirez. Van Teeninligting.”

      “Ken haar nie.”

      “Jonk, maar baie skerp. En met sulke kort kennisgewing het ons nie tyd om ’n dekverhaal te bou nie. Ramirez het klaar een. Sy was ’n universiteitstudent. Ons hou haar ingeskryf by Miami State. Sy’s ’n bona fide-student, sy kan met haar eie paspoort reis. Hulle kan maar navraag doen. Dis die beste wat ons in so min tyd kan doen.”

      “Here, Marcia, moet haar net nie in die moeilikheid kry nie. Sy gaan vrou-alleen op ’n skip vol mans wees!”

      “Ontspan, Allan. Ashley Ramirez kan na haarself omsien.”

      * * *

      Alexander Golodkowski groet Jean Bertrand hartlik. Hy’s altyd bly om sy ou vriend te sien, en waardeer dat hy al die pad Oos-Berlyn toe gekom het.

      Die ideologiese verskille tussen hom, die sosialis, en Jean, die aartskapitalis, pla hom nie in die minste nie. Vir geld staan hy gemaklik wydsbeen oor ’n krummelende Berlynse Muur.

      Maar vandag praat hulle nie geld nie. Hy kry terugvoer oor ’n delikate operasie wat die wapenhandelaar se dienste vereis het.

      “Kom sit, Jean. Ek hoop nie die reis was te veeleisend nie?” Hy weet Bertrand beweeg deesdae so min moontlik buite Parys.

      Bertrand skud sy kop, ’n trek van pyn op sy gesig. Dis die been, sê hy. Gee hom hel op die lang reise.

      Hy gaan sit swaar aan die ander kant van die donker lessenaar. “Alex, ek raak te oud hiervoor. En jy het my in ’n geweldig moeilike situasie geplaas. Ek hou daarvan om opsies te hê, jy weet dit. Dié ding kan lelik in my gesig opblaas.”

      “Kom nou, Jean! Is dit nie maar hoe die lewe is nie? Sonder opsies? Jou keuse is nooit tussen twee volmaakte situasies nie, eerder twee minder volmaakte alternatiewe. En jy het dit soos gewoonlik foutloos uitgevoer. Vertel my – wat was jou indrukke in Berlyn?”

      “Net soos jy voorspel het. Ons het ontmoet, die transaksie gedoen, en ek het hom instruksies gegee oor waar hy die sak moes optel. Hy is reguit soontoe.”

      “Sy gedrag?”

      “Hy’t nie onnodig senuweeagtig of vreemd opgetree nie. Ek glo nie hulle vermoed iets nie.”

      “Ja, dit wil voorkom of hulle die aas gevat het. My mense sê hy het dit onder die brug gaan optel en teruggeneem na sy ambassade toe. Die CIA het hom gevolg. Nou hoop ons net hulle volg dit verder.”

      “Dan is my werk hier klaar, reg?” Jean Bertrand sug moeg. Parys, en rus, roep.

      “Is ons werk ooit klaar in dié besigheid, my vriend?”

      17

      Rostock-hawe, Duitsland

      13 Desember 1987

      Dis vriesend, maar Jos kies ’n buitetafel by ’n straatrestaurant oorkant die Warnow-kaai. Hy kon net nie aan boord bly nie. Hy het beweegruimte gesoek. En hy wil afkoel.

      Die lug is grys en mistroostig, laas nag se ligte sneeu in reëlmatige hopies langs die straat gevee. Dit irriteer hom, besef hy. Dis so … bleddie ordelik, vergeleke met sy eie lewe.

      Dit spook by hom. Die foto’s van Lida, bewusteloos op die vloer. Hy het homself probeer oortuig die voorval was bloot ’n nuttige toevalligheid om hom in sy spoor te laat trap. Maar nee, daar’s niks toevalligs aan kolonel Beetge nie.

      Die sadistiese detail van haar opgeswelde gesig en die hoek waarteen die foto geneem is, reg van bo, die amper vulgêre magsposisie wat dit verbeeld het, wys waaroor dit gaan. Beheer oor hom, oor die situasie. Wat beteken dat Beetge dit moes gereël het. Berekend en koelbloedig.

      Dit was ’n halfuur voor sy vlug. Hy kon niks daaromtrent doen nie. Beetge het dit gebruik, die situasie met teatrale vernuf laat uitspeel. Die groot hond wat pis op die kleintjie. Want dis die hiërargie