Skag. Jaco Wolmarans. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Wolmarans
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624089490
Скачать книгу
probleem nie, sê die instrukteurs. Die maatskappy bestaan indien iemand dit wil nagaan.

      Buitendien, as iemand vra, kan jy sê jou vrek van ’n baas wou geld spaar en het jou op die skip laat terugkom om seker te maak niemand besteel hom nie. Dit sal seker kan werk, gee Jos toe.

      Hy moet die dekverhaal vier-en-twintig uur per dag leef, het hulle benadruk. Dis nie ’n rolletjie in ’n uur lange verhoogstuk nie. Hy het net een kans om die opposisie te oortuig. Wat beteken hy moet elke keer behoorlik reageer in ’n situasie wat sy verhaal sal toets.

      Die ondervraers het notas van sy antwoorde gemaak, later daarna teruggekeer en dit teen hom probeer gebruik, verdraai, halwe waarhede met die werklike verhaal vermeng. Sy antwoorde het bly klop, glad en geloofwaardig.

      Almal hier is naamloos. Hy het die instrukteurs summier Nommer Een en Nommer Twee gedoop, maar hulle het hom geïgnoreer en onverstoord aangegaan met die opleiding, die wegsteek van dokumente en wapens, slotwerk, beveiliging van sy woonarea, hoe om observasie en agtervolging raak te sien, metodes van vyandelike inligtinginsameling te herken. Dag na dag, sonder ophou, tot dit gevoel het sy kop wou bars.

      Tog was dit ontvlugting na die episode met Lida Struwig. Dit het die vertwyfeling oor homself in sy bewussyn teruggestoot.

      Toe, ’n verandering van pas: operasionele beplanning. Sketse en planne, opsies en veranderlikes. Dis ’n terrein wat hy verstaan – hoe om ’n aanval en ontsnaproetes te beplan. In hierdie geval, egter, hoe om ’n aanval op see af te weer.

      Beetge kom sit hand by met dié deel van die opleiding en beplanning. Hy stap laatmiddag in met verskeie rolle papier onder die arm, wat hy op die eetkamertafel ooprol. Planne van ’n vragskip, gedetailleerde sketse van ’n skeepsruim, en lugfoto’s van ’n hawe.

      Die skip, sien Jos op die plan, is die Vesta. ’n Mediumgroot vragskip van bykans vyfhonderd ton, net oor die dertig meter lank. ’n Groot vragruim voor die superstruktuur, wat die brug, kajuite en gemeenskaplike kwartiere huisves. Daar is ’n foto aangeheg, wat Jos begin bestudeer vir haak- en opklimplek.

      “Ons het die Vesta al tevore gebruik,” sê Beetge toe hy Jos die foto sien bestudeer. “Ons ken die kaptein, en ons het met hom gereël dat jy die skeepsradio kan gebruik vir jou verslae.”

      “Wat is die watervrye hoogte?”

      “Die wat?” Beetge frons.

      “Die watervrye hoogte – hoe hoog is die dek bo die waterlyn onder vol vrag? Dis belangrik om te weet as jy die boot gaan aanval. Of jy met toue kan aanhaak of ’n leer nodig het.”

      “Ek weet nie. Maar dit behoort min of meer te wees soos dit in daardie foto lyk. Dis geneem toe dit uit ’n hawe vertrek het. Seker vol gelaai.”

      Op die foto is die dek twee, drie meter bokant die waterlyn, skat Jos, gemeet teen die hoogte van ’n man wat op die boeg staan en na die kamera staar. Dit maak nadering en aan boord gaan op see hopeloos te maklik – ’n tou met ’n staalhaak sou genoeg wees.

      Hy gaan deur die uitleg van die skip self, waar die kaptein se kajuit is, die kortste pad van die dek na die brug om beheer van die vaartuig oor te neem. Die ligging van die bemanning se kajuite, hoe lank dit hulle sal neem om te reageer indien daar ’n aanval is.

      Hy soek vir ’n alternatiewe toegang tot die brug. Dit lyk nie goed nie. Geen ander opsies ingeval die brug reeds oorgeneem is en ontset moet word nie. Daar’s net een trap op na die brug, en dit sou jou reguit in ’n vuurgeveg laat vasloop wat ’n enkele aanvaller van bo af kon beheer.

      “Die boot vervoer normaalweg vrag uit Europa,” sê Beetge. “Gewoonlik hou die kaptein bloot die land in sig aan sy bakboordkant. Vir veiligheid. Al teen die Wes-Afrikaanse kus af, en om die Kaap tot by Mosambiek. Ons gaan hom presies dieselfde roete laat volg. Alles doodgewoon om nie aandag te trek nie, en oor die algemeen ’n bra vervelige trip. Tot hy hier naby die ewenaar kom.”

      Nommer Twee staan nader, rol ’n kaart van Afrika oop en tik op ’n area naby Gabon. Hy neem oor: “Hier kan jy begin probleme verwag. Dis waar al die olievelde lê, en die plek is vrot van skepe vol olie wat wag om afgelaai te word. Sitting ducks. Dis hoekom dit wemel van seerowers. En patrolliebote wat die skepe deursoek vir seerowers. Ons kan nie een van die twee bekostig nie. Nie met daai vrag nie.”

      “Seerowery?” frons Jos. “Ek dag dit gebeur net aan die ooskus? Somalië?”

      “Hier ook,” sê Nommer Twee. “En sommer gereeld ook. Tipies Nigeriërs wat die hoogsee invaar en oornag skepe aanval. Hulle stroop meestal die vrag. Partykeer loop die passasiers ook deur. Vir losprys.”

      “Dis hoogs georganiseerd,” las Beetge by. “Hou jou oë oop vir wat lyk soos gewone vissersbote. Vyf, ses mense aan boord. Hulle kom teenaan, haak lere aan en skiet enige militêre personeel. Dan laat tree hulle die bemanning aan en hou hulle in die koelkamers terwyl hulle stroop.

      “Julle vaar wyd verby, natuurlik, maar ek wil niks waag nie. Die manne opereer wel op die oop see. Twintig myl is nie te ver vir hulle nie. So jy sal moet wakker wees.”

      13

      Krygkor-hoofkantoor,

      Erasmuskloof, Pretoria

      8 Desember 1987

      Doktor Johan du Toit is wêrelde verwyder van die leidende kernwetenskaplike wat ’n mens na aanleiding van sy CV sou verwag. Die fisikus en hoof van Krygkor se kernontwikkelingsprogram is ’n saggesproke, plat-op-die-aarde Namakwalander wat nie onnodige formaliteit kan verdra nie.

      Dis hoekom hy so opsien teen kolonel Jan Beetge se besoeke. Die man se koue beleefdheid ontsenu hom. Terwyl hy wag, vroetel hy met die dokumente op sy lessenaar, teken en liasseer vorms.

      Du Toit staan op agter sy lessenaar toe Beetge en Tonie du Plessis by sy kantoor instap. Beetge groet, stel Du Plessis aan die wetenskaplike voor as Krygkor se liaison in Parys. Du Toit trek liggies aan sy das, die wurgketting van sy korporatiewe bestaan.

      Hoewel doktor Du Toit en Tonie du Plessis vir dieselfde instansie werk, is dit hul eerste ontmoeting. Ook Tonie se eerste blootstelling aan die binnewerke van die kernprogram. Die geheimhouding is die gevolg van die noodsaaklike kompartementalisering van inligting binne Krygkor.

      “Hoe vorder julle?” Beetge mors nie tyd nie. Hy bly ook staan, ignoreer die stoel wat die doktor hom aanbied. Tonie staan terug.

      “Nee wat, sommer voor die wind, kolonel. Ons kán darem ’n draaibank werk.” Die sarkasme is uit voor hy homself kan keer.

      “Sal ons gaan kyk?” Beetge wys vir hom om voor te loop. Die fisikus maak so, gryp op pad uit sy wit laboratoriumjas agter die deur. Hulle volg hom gangaf.

      Die gebou is op die oog af niksseggend, net nog ’n vleuel van die hoofgebou, met ’n onopvallende sekuriteitsingang waar Tonie en kolonel Beetge hul besoekerskaarte moet wys en inteken. Elkeen word met ’n besoekerskaart en wit jas uitgereik.

      Doktor Du Toit lei die groepie deur ’n stel toegangsbeheerde deure waarby elkeen sy kaart moet deurtrek. Voor hulle is ’n groot staaldeur met ’n sleutelbord. Du Toit tik ’n kode in en ’n blink hysbak se deure trek geruisloos oop.

      Twee verdiepings ondertoe onthul die staaldeure ’n ruim, goed geventileerde werkarea met verskeie glasafskortings. Personeel in wit jasse is oral oor ingewikkelde masjiene gebuk: klein draaibanke, freesmasjiene, handskoenkaste en chemiese toestelle. Tonie staar verwonderd. Van buite af sou hy dit nooit kon raai nie.

      “Hel!” sê hy sag.

      “Dis ons workshop vir die navorsingsreaktor,” sê Du Toit. “Radio-isotope vir kernmedisyne. Maar kom, dis nie waarheen ons op pad is nie.”

      Hy tree terug in die hysbak en pons ’n verdere stel kodes in. Die deure gaan toe, en ’n verdere verdieping ondertoe stap hulle uit in ’n soortgelyke werkarea: hierdie keer met selfs meer gesofistikeerde toerusting agter glasafskortings, en ’n bedrywige span tegnici waarvan party gesteurd opkyk toe die groepie binnestap.

      Sommige