Aan die een kant was haar tersluikse vertrek uit Kaapstad dus ’n onafhanklikheidsverklaring, wat haar onverwags ’n vreugde gegee het. Aan die ander kant dag sy dat sy die waarheid in China gaan ontdek. Wat sy nie voorsien het nie, was die verskrikking van keuse. Van die ou Yogi Berra-gesegde: As jy by ’n vurk in die pad kom, neem dit.
Wat beteken dit? Dat daar nooit werklik ’n keuse is nie?
Dat die vurk jou lot is, en nie een van die twee bene van die vurk nie?
Want hoe kies jy tussen twee vaderlande? Een vaderland, jou pa. Ja, vir haar: die pa as vaderland, so inkorrek, so patriargaal as wat dit is. En tog, in haar geval, wáár.
Jou gewroegte, oorwerkte, deurdrenkte pa.
Pa met kant nog wal.
En die tweede vaderland, die ánder been van die onmoontlike en wrede vurk, was die republiek wat meer as twintig jaar ná wat bevryding genoem is nog wag om gebore te word.
Die republiek, nes haar pa, kapot gewroeg. Oorwerk en deurdrenk. ’n Onmoontlike ding om oor te regeer. Haar pa se woorde.
“Só ’n geskiedenis,” sê hy altyd.
Vat dit net, wil sy dan sê. Vat die republiek. Vát die land!
Gryp.
Grondgryp!
Want: die republiek, een groot wit titelakte.
En, wat haar betref, een groot gangsterstaat. ’n Kleptokrasie, met die diepstaat wat te papbroekig is om in een fel gebaar die grond terug te gryp en dus met allerlei krimi-uitlopers eerder afskep. Die handel in fopware, van Adidas-skoene tot sigarette, polisielede wat met bendes konkel. Kaderontplooiing. Munisipaliteite wat tot kitsbanke vir ANC-families verval, die tendersirkus …
Hoe kan jy ’n Afrikaan wees as jou voete staan en jou voete loop op grond waarvan die titelakte meer as twintig jaar ná sogenaamde bevryding steeds spierwit is? En is dit wat die republiek wil wees: die wêreldleier in staatsboewery?
Ja, China sou haar te staan bring voor die wrede vurk met twee bene: die een been was die belofte van ’n voorspoedige republiek in Afrika. Die ander been van die vurk: haar liewe, liewe intrigedronk pa.
Vir haar, sy enigste dogter (“My enigste kínd!” roep hy dikwels sentimenteel uit), is hy steeds die geur van die seemis daardie oggend lank gelede toe die veerboot stadig van Calais na Dover skuif en sy, ’n klein dogtertjie, op sy skoot sit. Teen die wind in waar hulle heel voor op die boeg op ’n stoel sit terwyl die bries met hulle serpe speel: “Kyk, kyk, Thuli, the white cliffs of Dover.”
Eers later, toe sy ouer word, het sy besef daar’s ’n snykant aan daardie frase. The white cliffs of Dover. En dat daar ’n snykant was, al die jare, aan baie van sy skynbaar terloopse opmerkings.
’n Man met vele bodems.
’n Man wat nou, tesame met als wat hy opgebou het sedert sy dae as bokwagtertjie aan die rand van ’n verflenterde township in die Oos-Kaap, ’n man wat nou bedreig word deur sy eie.
Sy enigste.
Sy geliefde dogter.
’n Man wat ver gekom het en sy pad boontoe moes oopknoei. Maar daardie dag, tydens die oorgang oor die Engelse Kanaal, was sy te klein om dit als te weet. Sy’t net na die spierwit land wat nader skuif gesit en kyk en veilig gevoel in die arms van haar pa. Hy’t die kniekombers wat hy vir haar saamgebring het uit die motor wat in die boot se buik was onder haar ken vasgehou. Knus en beskermd.
Want was hy nie (so het sy altyd gedink) onmoontlik om te verraai nie? Hy was die geur van sy serp: diepsweet en sigaretrook, whisky en redenasies. Hoop en wanhoop.
Maar hoop, het sy kleintyd in Londen al geleer, is intrige. Daar was ’n voorwaarde. As jy die hoop wáár wil maak. As jy die hoop wil realiseer. Moet jy knoei.
En dít wou sy afskud. Sy wou kom daar waar hoop hóóp is. Na China, na Shanghai, het sy gekom, op reis na hoop.
Suiwer hoop. Hoop sonder voorwaardes.
Moet jy eers jou ouers vermoor voordat jy daardie hoop kan kry?
Dít was haar vraag toe die vliegtuig by Shanghai indaal en sy besef: jy is ’n sluipmoordenaar, Thuli.
Teikens is geverf op jou pa se bors, op jou ma se rug.
Watter hoop kan daar wees vir iemand soos jy?
Daardie geurige ANC-serp was sy lieflingserp. Dit was om sy nek geknoop die dag toe Mandela uit die gevangenis stap. Bleek en broos het die bandiet gelyk op wie die hele wêreld wag. Tuis het haar pa dikwels die VHS-band herspeel (sentiment oor die Struggle-dae, het haar ma verduidelik) en haar gewys: “Kyk, Thuli – daardie dag het Mandela ’n onsekere beroemdheid aan hom gehad. Sy vuis was talmend in die lug, sy lang lyf te maer en ingeperk in ’n stigtelike kerkpak.” (Dit was voor die tyd van die hemde.)
Inderdaad: ontuis het Mandela daardie dag die gesigsveld van die TV-kameras ingestap, die kerkpak te konvensioneel vir hom, die ikoon.
Hy’t uitgeput gelyk. ’n Man wat opstaan uit die siekbed van gevangenskap. Kyk mooi: niks van die latere robuuste Mandela nie. Só broos.
Winnie, op haar plek aan sy hand, in die oë van die wêreld opnuut ’n bruid. (Onthou, dit was vóór als voor die Waarheid-en-versoeningskommissie en die hofsake uitgekom het en voordat, later, die vuilspel van die veiligheidspolisie én die sokkerklub op die lappe gekom het).
Winnie, stigtelik en ingehoue langs hom. Geen teken aan die buitewêreld van hoe hul twee geeste – Nelson en Winnie s’n – op daardie oomblik aan ’t stoei was juis met mekáár nie.
Net die ingewydes, van wie haar pa een was, het geweet.
En dan sien hulle op die VHS-opname: Haar pa, jonk nog, bloedjonk en gretig, effe skuins agter die leiers op die stadsaalbalkon op die Parade in Kaapstad, toe Mandela die volk die eerste keer toegespreek het. Met Cyril Ramaphosa, die kroonprins (ja, onthou, dit was vóór) wat die mikrofoon vir Mandela vashou.
Ja, haar pa was vir haar die geur van die kos uit die Indiërwinkel nadat hulle van Dover na die Britse hoofstad is waar haar pa by die ANC se Londen-missie moes aansluit. Hy was die geur wat uit die winkel opgedryf het van straatvlak na haar slaapkamervenster vlak onder die dakpanne van Kensington – masala en naan en hoendertikka, wierook en lemoene en stomende ryspotte. En verontwaardiging.
Want wat sy ook van die Indiër-gesin met hul restaurant onthou, was hul verontwaardiging oor die swaarkry van die gesinnetjie bannelinge uit Afrika wat in die dak van hul restaurant moet woon.
Die drie bakkies lamstikka en rys wat soms opgestuur is wanneer die Britse koerante die een of ander oor die Suid-Afrikaanse regime gepubliseer het.
Dis wat haar pa vir haar was en is – geur.
Die geur van die instemming en meelewing van die Indiër-gesin onder, die geur van kommer en boodskappers en onverwagte reise. Vreemde mense wat skielik in hul kombuisie met die lae plafon staan, hul reënjasse wat drup en hul sambrele wat na skrik en misreën en sigaretrook ruik. Haar pa was die geur van onverwagte stasies en agtervolgings en perronne en skielik op die bus spring en by die volgende halte onverwags haar hand gryp en uitspring en dan die winkel in en skielik, by die lekkergoedtoonbank, die sjokolade as troos. Die duiseligheid van suiker bo-op skrik.
Dit was ’n geur wat haar lewe omgeef, en sy sukkel tot vandag toe steeds om die verleiding van daardie Londense troossuiker af te skud. Fees Must Fall het haar ses kilogram laat optel. Spanning en suikerontspanning.
Al