Boer het swaar asemgehaal. “Die nikswerd!” Hy het die vroumens belowe hy sal sy seun in die loop van die laatnamiddag kom oplaai.
Mevrou Katzenjammer het die gehoorbuis op sy mik neergesit en haar kop van die ongelowigheid geskud dat haar gebleikte pruik effe na links geskuif het. ’n Hand vol flonkerende ringe skuif die gebalsemde dos weer haaks.
Dis die vreemdste ding in al die jare van haar losieshuis, vertel sy die klant wat geduldig staan en wag. “Teken net daar,” sê sy oorvriendelik.
Ek kon my dit indink: hoe sy in ’n poeierwalm vorentoe steun. Haar gesette buuste agter die krakerige pienk-en-wit blommetjiespatroonrok, wat soos hase op die toonbank plaasneem. Die klant wat haastig teken, sleutels vra.
“Ek kan dit nie glo nie!” Mevrou Katzenjammer wat verontskuldigend agter die gas aan praat terwyl hy met die gang af loop, die gas wat ongeërg is.
“Meneer Verdomp, ek kón dit nié gló nie!”
Wat my opgeval het van die vrou die dag toe ek ’n onderhoud met haar in haar losieshuis op Uping gaan voer het, agt jaar daarna, was die steeds verontwaardigde kinderlike uitdrukking van haar groot kohl-omringde bruin kykers.
Ek het in die kamer gaan staan waar ek nou weet die wêrelde oorvleuel het. ’n Doodgewone losieshuiskamer.
Die gang had ’n verweerde loper met ’n toneel van bootjies op ’n kanaal, glo gondels genoem. ’n Identiese bootjie was dit, in verslete gryswit en purper, wat oor en oor op die loper vaar, tot aan die einde van die gang. En so was dit seker ook toe Dirkie hier was.
“Kamer 4, links!” het sy agter ’n gas aan geroep. “Herretjie, nou moes gaste nog net die malle in sy ondergewaad teëgekom het, meneer. Ek was bang hulle dink die mens is ’n Hindoe of iets, dit sou die einde van my besigheid gewees het, meneer Verdomp.”
“Rokke? Is hy besete?” het Boer sy vrou gevra.
“Ek kom saam.” Ans het met vinnige treë na buite geloop, oor die gruis, om haar man in te haal wat reeds halfpad motor toe was.
“Dis nie vir jou om saam te kom nie.”
“Dit is.”
“Jy wil net nie hê ek moet hom bliksem nie.”
“My pa was erg ontstoke, ontspoor eintlik,” het Alwyn vertel. Sy het langs hom in die Mercedes geklim, en basta.
“Ry versigtig!”
“Ek het hom die bakkie belet en sy salaris gesny. Wat moet ek nóg doen?”
Die kar het die grondpad soos ’n pyl gevat, gery tot by die aansluiting. Aan die linkerkant was die veld waar die motel omtrent ’n jaar en sewe maande later gesien sou word. Die veld draai negentig grade in die truspieël toe die kar by die hoofpad indraai.
Die Verweys het vinnig gery. Te vinnig, het Ans aan Alwyn gesê. Deur die Lykso, deur die Ampersand. Verby die hemelstrooise, die lywige versamelvoëlneste wat gras drup aan die hoë maste. Op pad drink Boer ses biere uit ’n kartonboks op die agtersitplek uit. Hulle kom aan.
Mevrou Katzenjammer was agter haar toonbank. Waar ek haar ook aangetref het. Tydloos, soos die bepruiktes maar is. Sy beduie waar. Dirkie het steeds in sy onderklere gesit. Op die bed was sy geriffelde bruin koffer.
Die deksel was toegeslaan. Ans het sy naam gesê, maar geen antwoord gekry nie. Haar oë het vol trane geskiet. Sy het verbete na die koffer geloop en die gespes oopgeklik. Binne was Dirkie se klere, net soos sy dit gepak het, of soos hy dit presies so teruggepak het. Sy riffel haar vingers deur, voel die harde ding, die legkaartboks onder die klere. Sedert kindertyd was Dirkie en die boks onafskeidbaar.
Boer loer ook in die tas. “Waar is die rokke?” Sy stem het amper van ingehoue woede gebreek. Teleurstelling? Miskien ook van die drank. “Wáár is die rókke?”
Dirkie het niks gesê nie.
Die telefoontjie op die bedtafeltjie wat met ontvangs verbind is, het skril gelui. Ans tel op, dis die Katzenjammer-vroumens wat vra moenie skree nie.
Dit was die eerste van Dirkie se “volslae episodes”, soos sy ma dit teenoor Alwyn genoem het, waarin hy gevries het, lateraan permanent so gebly het. Hy het soos ’n standbeeld daar gesit.
“Wat is hierdie? Dít het ek nooit ingepak nie.” Ans het verwys na die bloedrooi roos, dagoud gepluk, tussen die klere. En daar was ’n foto van ’n kleurlingvrou. “Waar kry hy dít?”
“Dis … ’n meid,” het Boer verslae gesê.
“O, maar sy is pragtig!” Ans koer behoorlik ondanks haar ontsteltenis. “Miskien ’n oorsese een. Ten minste vergeet hy van Anna.” Haar geforseerde glimlag probeer iets aan Boer sê oor die silwer randjie van wolke. Hieroor, oor Anna minstens, was sy en haar man dit eens.
“Hy moet alle tewe los. En méide is teen die wet.” Boer wou die foto by sy vrou afneem, maar sy trek dit weg en hou dit styf teen haar bors. “Jý los dit!”
Nie sy of Boer het die vrou op die foto geken nie. Agterop was ’n datum van twee jaar vroeër, 1971, en die naam Pofadder geskryf. Hulle het mevrou Katzenjammer daaroor uitgevra, ook die losieshuisbediendes. Niemand het die fotovrou geken of herken nie. Maar almal het uitroepe oor haar voorkoms gemaak.
“Briedjiet Baardou,” het die een nog kwytgeraak.
Toe Ans die kofferdeksel toemaak vir die huis-toe-ry-slag, kon sy haar trane nie langer bedwing nie. Haar seun was een stap verder van haar af. Verder van die normaliteit. Verder die niet in.
“Boer, iets is verkeerd met hom,” het sy buite hoorafstand van haar seun gefluister.
“Here, vrou, kom jy dit nou eers agter?”
“Meer as gewoonlik, Boer.”
Haar man het sy arms onder Dirkie se oksels gaan insteek. “Staan! Jy mors my treingeld.” Hy het Dirkie staangemaak asof hy ’n winkelpop is. Maar stadig het Dirkie weer gaan sit, te futloos vir sy bene.
Sy oë het begin lewe kry, angstig, onbegrypend, wantrouig, sy ken het opgelig. Ans het by hom gaan kniel, langs die spieëltafelstoeltjie waarop hy op sy boude neergesak het. Sy het haar kop teen hom gedruk en gehuil terwyl Boer ’n sigaret in die tuin gaan opsteek het. Hy het langs ’n roosbedding gestaan en aftik.
Rooi rose, soos die een wat sy in Dirkie se tas gekry het … Pluk haar seun vir homself rose?
“Ons het vir jou nuwe klere gebring,” jok Ans tussen haar snikke deur vir Dirkie. “Mansklere, nie rokke nie.” Sy het hom help aantrek.
Boer het ’n bybetaling gaan maak. Dis toe dat die waansinnige vermoede haar bekruip het. Sy het doelgerig opgestaan en onder Dirkie se goed gaan krap, die kartonlêer oopgeslaan. Die foto van hom was weg! Sy was sprakeloos. Eers later by die huis vertel sy Boer hiervan, die portretgrootte foto wat die vindingryke Engelsman van Dirkie geneem het.
Op pad kar toe, terwyl hy stram teen sy ouers aangeleun het, het Ans iets uit haar seun se mond hoor kom. Was hy besig om sy sinne te herwin?
“Het jy gehoor, Boer? Nou net!”
“Ek het niks gehoor nie. Klim asseblief in.”
Die woord wat sy gehoor het, was “Maria.”
Ans het met gemengde gevoelens geglimlag. En met die wegtrek die roos by die karvenster uitgegooi. Dit was voor die besef van wat hierdie Maria werklik nog gaan inhou haar getref het.
13
STRELITZIAS UIT DIE VULGAAT
En toe kry ek die geleentheid om ’n onderhoud te voer met een van die navorsers wat Maria Hakskeen se taalverhuising, soos hy dit genoem het, bestudeer het. Op 5 Augustus 1985. Die man wil nie sy identiteit bekend hê nie.
Dit was die tweede laaste ding wat ek gedoen het voor ek die Lyksovlakte verlaat het. My koerant het nie