In hierdie dae het die Kerk in Rome sy teenkanting teen die land se beleid uitgespreek. Maar die plaaslike Katolieke Kerk het nie die mosie gesteun nie. Die Pous woon nie in Suid-Afrika en weet nie wat hier aangaan nie, was die opvatting. Vader Appel het nie sy Kerk in Suid-Afrika se beskerming geniet nie.
En dit het hom baie duur te staan gekom. Iets wat my bring by die teëspoedige seëning. Die vader was baie trots op die teëspoedige seëning.
15
DIE TEËSPOEDIGE SEËNING
Dis veral oom Willempie wat my gehelp het om tyd te verstaan as iets wat alles “eigentlik op een hoop saam is en glad nie so agter mekaar loop soos dolosse nie”.
En dis veral hy wat my oor Reent, die veldvrou, ingelig het, sy wat in meer as een tyd gelyktydig kon lewe.
Al die groot momente, geboorte en dood, het tog met tyd te doen, met oorsaak en gevolg. Maar daar is dinge wat verhewe is bo oorsaak en gevolg. En vergifnis is een van daardie dinge.
* * *
Dit was dieselfde dag, daar in die veld, dat die vader besluit het om sy hemeldogter van die Visioen te vertel.
“Dis tyd dat ek jou vertel van die teëspoedige seëning, my kind,” het vader Appel gesê. “Teëspoed en seën.” Daar waar hulle saam onder die sambreel se kap gesit en tee drink het. “… Weet jy dat dié twee dinge soms dieselfde is?”
“Ek dink so, Vader,” het Maria geantwoord.
Alles het begin by presbiter Pierre. Hy was die een aan wie God die visioen gegee het.
Presbiter Pierre se visioen was oor die heilige vader van Rome, die grootvader, wat onverwags besoek bring aan sy kudde aan die suidpunt van Afrika. Die kudde het nog nooit in daardie stadium die grootvader ontmoet nie, want Suid-Afrika was vir die grootvader ’n sondige land.
“Ek onthou die presbiter,” sê Maria. “Hy het lekker afval gemaak.”
Die vader en Maria het oplaas besluit om van hul plekkie langs die rivier op te staan en aanstaltes terug abdy toe te maak. Vandag was die dag dat hy haar die geseënde visioen sal wys.
Die heilige vader vlieg oor Afrika in sy vliegtuig. Hy is op pad om ons te seën. Só staan die eerste sinne in blou balpuntpen in die Visioen. Op my eie besoek aan die sendingstasie het ek toestemming gekry om ook die gekoesterde boekie met die visioen in oop te slaan. Die inskrywing was gedateer 5 Desember 1961. Die visioen was in Frans, en haastig neergeskryf. Die presbiter skryf daar dat hy God se oogblik self in Afrikaans vertaal het. Die vertaling verskyn net onder die visioen.
Maria en die vader staan in die vergadersaaltjie van die abdy, op die eerste verdieping. Hy het pas die kladboek, in lap toegedraai, uit die toesluitglasboekrak gaan haal en op die tafel neergesit. Hy vou die goud-en-purper fluweellap oop en lig die swart hardebandjie met die rooi kleeflintruggie daaruit.
Die stinkhouttafel is so lank soos twee snoekertafels, Laaste-Avondmaal-grootte. Bo die tafel brand ’n gloeilamp onder ’n vlak koepelskermpie aan die punt van ’n lang koord wat afhang uit die hoë plafon. Appel lees gebukkend in die ligkring. Daar is nog laatlig van buite, maar nie genoeg nie. Maria staan styf langs hom.
Hy waarsku vooraf: “Onthou, God is wreed. Dis deel van sy majesteit. ’n Vulkaniese uitbarsting of ’n aardbewing is vir God ’n liefderike veeg. Sy wreedheid is baie teer …”
Hy kyk na Maria met gekonsentreerde mededoë. Nié die soort wat persoonlik van aard is nie, maar wat bedoel is vir elke mens, sonder onderskeid. Die universele lamp van God, soos die vader dit in sy joernaal stel.
Ons abdy het lank gebid dat die vader van Rome ons kom besoek. Eendag gaan ons baie skielik hoor hy kom. En dan gaan ons ter elfder ure verneem die grootvader gaan ons oorslaan! Ons sal hom in die verte sien, maar hy sal vertrek sonder om ons te seën. Só lui die begin van die visioen.
Dit lyk of die abdyvader wil huil, hy byt trane terug. Hy gaan voort om uit die Visioenboek te lees: ’n Vliegtuig vlieg ’n storm binne … Die stralertjie stamp op die wind en val rond tussen reënwolkmure. Die pouslike gevolg is vreesbevange. Twee loop gebukkend, opdraand soos teen ’n leer op tot waar die vader voor in die vlieënde skuit sit. Die grootvader se geloof is rotsvas, hy is verdiep in sy boek. Die sekretaris fluister vir hom iets. Dan ys die verteenwoordiger van die heiliges op aarde. Hy maak sy gespe los. Die weerlig verlig die halfdonker kajuit. Die grootvader sê die vliegtuig mag nie weens onweer in sondige Suid-Afrika land nie. Hy ontbied die kaptein. Ons gaan Lesotho toe, beveel die grootvader.
Maria kyk pleitend na Appel. “Maar hou die heilige vader nie van ons nie?” Haar blouswart wenkbroue kruip na mekaar.
Buite die abdy dreun die droë donderweer. Geen reën. Wolke in die vertes. Die gloeilamp swaai liggies aan sy koord en flakker soos flitsweerlig.
“Nie sonder onderskeid nie,” antwoord vader Appel.
Hy lees: Die vlugkaptein se assistent sê nee, Vader, ons móét land. Die heilige vader staan met sy groot liggaam soos Petrus in die paadjie en hy slaan met sy vuiste in ’n sitplek se rugkussing soos ’n bokser wat na benede oefen.
Maria het vasgenael geluister, haar amandelbruin oë aandagtig soos krieke.
Die blye tyding dat die pous die land aangedoen het, het soos ’n veldbrand versprei. ’n Skaretjie het hom op die lughawe ingewag. Maar hy het geweier om voete op ons bodem te sit.
Presbiter Pierre het gesien hoe ’n karweiplatform vir die pous aangery word sodat die allerheilige daarop kan klim en met ’n karretjie gesleep kan word na ’n motorstoet sonder dat hy aan die grond van Suid-Afrika hoef te raak. Die grootvader se gesig hang, soos ’n sak vol klippe. Die begenadigde stoet het hom toe na Lesotho gebring.
“Vergewe my hierdie vervloekte toekomsseëning,” sluit die presbiter sy triestige visioen af.
“Die pous gaan eendag weier om ons te seën?” vra-sê Maria.
“Ons weet nie wanneer nie, maar die kerk sal ween,” het vader Appel haar voorgevoel, en die Visioen, beaam.
Waar ek, Hermanus Verdomp, nou skryf is dit einde 1986, dertien jaar later. Dié visioen het waar geword. Pous Johannes Paulus ii het onlangs besoek aan state in Afrika gebring en Suid-Afrika opsetlik oorgeslaan uit protes teen apartheid. Maar weens ’n storm moes die pous op Jan Smuts Lughawe vertoef.
* * *
“Ken jy die verskriklikste eienskap van God?” het die vader Maria ’n rukkie later gevra. Die Visioenboek was nog oop voor hulle.
“Nee, Vader. God is mos altyd goed.” Die twyfel het vlak in haar stem gelê oor wat sy so pas gehoor het.
“Dis dat Hy álmal vergewe,” sê die vader.
“Maar dit is omdat ons Hemelse Vader so goed is?” doen Maria aan die hand.
“Weet jy wat is die verskriklikste waarheid?”
“Die verdoemenis, Vader!” sê Maria sonder huiwering.
“Nee, kind. Die geen-verdoemenis.”
“Vader?”
“Daar is géén hel nie. Al die dade teen ons kudde … dit gaan nié in die ewigheid gestraf word nie.”
“Maar dit moet tog, Vader?” Sy het soms ’n gelate onskuld uitgestraal en haarself by die vader toegelaat om jonger as haar twee-en-twintig lewensjare te wees. Maar dit was die laaste van haar onskuld, dié. Die tyd dat die vader by háár sou leer was op hande.
“Mits hulle om vergifnis bid?” doen Maria weer aan die hand.
Die vader kry ’n veraf blik asof hy dinge opweeg. Hy wat Zacharia Appel is laai die skaalbakke weer soos voorheen, maar die balans bly dieselfde.
“Selfs