Pa en seun het in stilte met die grondpad na hul tuisdorp teruggery. Met die seldsame foto in hul besit.
“Ai, is my pa nie vir jou ’n ondankbare een gewees nie?” het Alwyn my kant toe gevra. Hy was simpatiek oor die pa, soos oor ’n familielid wat nie behoorlik kan loop nie.
Terug op die dorp het Boer haastig ’n portefeulje vir sy seun saamgestel. Belangstellings (versin), hoogste kwalifikasies (min), familiesiektes (geen). Bereid om enige plek te werk. Sommer so op sy knie ingevul in die dorp se teekamer waar hulle ingestap het vir koffie.
“Jy sal in ’n losieshuis bly,” het ek Boer hoor praat toe pa en seun voor Die Weekpos-drukkery verby geloop het.
Ek is vlugtig na buite, net betyds om die twee om die hoek te sien wegraak. Onder die skuinsdak op die sypaadjie, hande in die sakke het ek gestaan. Ek het straataf en straatop gekyk en dit het vir my opeens gevoel of die dorp se laaste twee inwoners buiten ek self om daardie hoek verdwyn het. Dis mos wat Anna ook sê hoe sy gevoel het toe sy Dirkie nie meer kon sien nie. Sy het alleen gevoel.
Was dit ’n voorbode? Selfs tydens die dorp se hoogbloei was dit of die plek net nie bestaan nie. Daar was ’n eensame plakkaat aan ’n paal vasgebind wat ’n komende konsert deur Die Sangvoëls aankondig, vier blonde skoongesiggies uit die hartland. Hulle het onverpoos getoer en hul konserte gebruik om die sinvolheid van apartheid en die Woord te verkondig.
Toe lui die klok by die skool. Pouse, rondom die warmword-uur. Boer het sy seun voor die groot oop houtdeure van die stasieportaal afgelaai. Sy afskeidswoorde was: “Bly weg van die vroumense. Daai dinge is nie vir vertraagdes nie.”
Die arme Dirkie was reeds erg hartseer oor die reëling oor Anna. “Ai, ai, Verdomp, hartelose woorde,” was Alwyn se kommentaar.
* * *
En daar hoor Dirkie toe die trein is ’n halfuur laat.
Op die perron het twee oorslaaptassies gestaan, identiese bruin hardebakbokskoffers. Onderskeidelik, is mos die verfynde woord daarvoor.
Die een tas het voor die perronbankie vir nieblankes gestaan, die ander een in die identiese posisie voor die bankie vir blankes. Die twee bankies was ’n entjie uitmekaar soos die wet voorskryf.
Toe Joubertjie, die muggiewolk-agter-vetterige-glas, oor die krakerige luidspreker aankondig die trein is vertraag, het die enigste twee wagtendes so te sê gelyktydig omgedraai om na die ronde horlosie teen die perronmuur te kyk.
Hulle het nie met mekaar gepraat nie. Daar was die kleurskeidslyn.
Een van hulle was die onderwyseres Maria Hakskeen, wat ná ’n week se kuier by haar ouers in die lokasie nou op pad terug was Oranjerivier toe. Sy het voortdurend een voet opgelig om ’n jeuk aan die ander kuit met die loshangende sandaal te vrywe. Elke keer as sy haar voet lig, het die verplasing haar netjiese kurwes beklemtoon. Van tyd tot tyd het sy liggies aan die wieg gegaan, deuntjie in die kop, arms oorkruis en effens agteroor geleun van lewensgenot.
Jare later vra ek toe die kaartjieverkoper: “Onthou jy hoe sy gelyk het, haar klere?”
“Man, dit was jarre terug, en jou vragies maak my kop seer. Ek het by my kantoor uitgekom vir ’n skelm kykie na die vroumensgoed. Ek onthou die bloedrooi sandale, plakkies seker. En fyn enkels, nie ’n polisieperd s’n nie. Pikswart gekrulde hare tot naby die skouers. Maar sy was beslis nie-blank, volgens my oog. Hulle maak daai kroese mos reguit met ysters.”
Maria was twee-en-twintig, een jaar ouer as Dirkie.
Die kaartjieverkoper het swaar asemgehaal en sy buik met albei hande reggeskuif terwyl hy agteroor leun in sy stoel om met my te praat. “Sy het ’n losgeknoopte trui gedra, dowwe liggroen, lokasiegroen sou ek sê.”
“Watse groen?”
“Sukkelgroen, man. Moet ek myself óórverduidelik?”
Op ’n sorgelose skuifelhardlopie is Maria na die linkerkantse uiteinde van die perron, na die toilet vir haar soort toegewys. Die linkerperron was regoor die agterste wa, die nieblankeswa, wanneer die trein stilhou. Dis nou te sê, op Woensdae. Op Vrydae, vir die terugreis, was die nieblankeswa aan die trein se voorkant pleks van agter. “Die owerheid het hard gewerk om dié wa in daardie rigting óók aan die gatkant te kry,” het Joubertjie vertel. “Maar dit het op die ou einde nie gewerk nie.”
Die aankomende lokomotief het skril gefluit. ’n Pikswart balie, een van die laastes, uitgeskuif na hierdie sylyn, onder haastige wit pluimpies aan die aankom. Aan die kant van die twee treinwaens het gestaan: Ampersand. Alle Stasies. Die kondukteur het afgestap, ongeduldig sy hande ’n paar keer saamgeklap en plekname afgerammel.
Die twee afwagtendes het gespaander vir die trein. Dirkie met sy rukkerige bewegings en Maria. Sy met haar skuifelhardlopie weens die los sandale. In die harwar het elk ’n tas opgeraap en hul verskillende trapstelle bestyg. Die twee waens se deure was reg langs mekaar.
“Daar het groot fout gekom,” het Joubertjie vertel.
Eers toe die trein in beweging kom, moes die kondukteur kom beduie het hulle moet van waens verander.
Toe Dirkie met sy tas in die hand gebukkend aan die wa se agterkant deurstap en sy kop aan die ander kant opkrink, kyk hy vas in die ondeurdringbare pikswart oë van hierdie vreemdeling wat Maria was. Daardie oomblik was ’n ewigheid. Sy was aan die wag om ook deur te loop, en is toe eendvoete oor die skuiwende konsertinavloertjie tussen die waens.
Soos twee kamele wat deur die oog van ’n naald glip, het sy in haar dagboek geskryf. Bybelse metafore kom oral in haar dagboek voor.
Daardie verbinding tussen die waens was meer as dit. Dit was ’n verbinding tussen twee mense wat mekaar in ’n ander bestaan gevind het. Sulke bestane kan nie vanuit hierdie lewe gesien word nie.
* * *
“Ek is jammer om te hoor oor jou … vriendin, die een met die baie hare,” was Joubertjie se groetwoorde toe ek sy voordeur agter my toemaak. Hy was nou al bejaard en die stasie het al toegemaak. “Ek hoop sy word weer gesond. Die stories loop.”
10
DIE STEMME VAN ’N KIND
1963
Die moeilikste aspek van my storie is dat dit oor gebeurtenisse handel in ’n geskiedenis wat nie in die normale sin van die woord bestaan het nie.
Meer as elf jaar voor die motel op Boer Verwey se plaas verskyn het, en ’n dekade voor die episode in die kerk wat presies gebeur het soos wat Anna dit gedroom het, het ’n ander gebeurtenis op die Lyksovlakte kenners dronkgeslaan.
Die sentrale persoon hierin was einste Maria Hakskeen. Sy was toe ’n jong meisietjie. Dis hier, by die jonge Maria, waar ek die oorsprong van my storie gaan haal. Die geheimsinnige verbintenis tussen haar en Dirkie Verwey sou later ’n ondersoek van passie vir my word soos geen ander in my loopbaan nie.
Ek was werksaam by Die Volksnuus in die wetgewende setel Bloemstad, relatief groen in die bedryf, en was verheug toe die koerant my gekies het om die storie te gaan dek. Dit was my kennismaking met die Lyksovlakte, waar ek later gaan woon het toe Die Pers my aangestel het om hul streekskoerantjie daar te begin.
Ter sprake: ’n sekere herfsdag. ’n Twaalfjarige kleurlingmeisie het gedurende die dag beeste in die veld opgepas. Toe die trop teen skemeraand sonder die kind terugkeer, het die ma en ’n oom na haar gaan soek.
Dis die oom wat haar aan die ander kant van ’n steil helling aangetref het, twee kilometer van hul stroois af. Die kind het oënskynlik geval en haar beseer. Die helling was nie baie hoog nie, maar sy moes met haar kop teen ’n klip geval het. Sy is in ’n verwarde toestand met ’n verstuite enkel en met bloed aan een van haar slape gevind.
’n Verdwaalde koei het verontrus naby die toneel bly bulk. “Daar was ’n bosluisvoël op die koei se rug, dié het so gemaak-maak met die vlerke, die meneer weet mos, maar hy het maar somaar bly sit soos ’n wimper wat lui