En daar is ’n boek met die titel Orkane en tornado’s. Hy slaan die voorblad oop, binne is ’n stempel waarna hy lank staar en in die sirkelformasie staan Busbiblioteek van die Provinsiale Diens.
Hy sit kaallyf, met die losieshuishanddoek om sy onderlyf gedraai, sonder ’n draad skoon klere tot sy beskikking. Die klere is nie syne nie. Dis wat gebeur as jy Woensdae met Vrydae omruil, het hy teenoor Alwyn gebieg. As jy selfs net ’n paar sekondes jou aandag laat dwaal.
Dit moet gebeur het toe hy die vetkoek gekoop het. Op daardie oomblik het hy vergeet om Woensdag en Vrydag uitmekaar te hou. Dís toe hy die verkeerde koffer gegryp het, die een wat reg sou gewees het as dit die Vrydagtrein was, wat in die ander rigting loop. Dirkie se gedagtes teister hom. Sy pa sal woedend wees hieroor.
Hy tel een van die somersrokke op en hou dit teen sy vel. Dis diep-oranje en hy kyk na die voue, hoe dit oor die waai van sy arm hang. Hy ruik parfuum aan die hals, vat aan die frilletjiesmoue. Daarna tel hy een van die broekies op, sysag, net die bonnet-gedeelte is bietjie harder. Die klere lê naderhand gestrooi oor die vloer.
Verbeel hy hom? sy staan voor hom, die treinmeisie, met haar glimlag en swart krulle. Sý tel ’n lêer op, vou dit oop, kyk na die foto. “Sommer so, in my kamer, boetie,” het hy aan Alwyn vertel.
En sy kon hom ook duidelik voor háár sien, net soos op die trein, soos dikwels ook net voordat sy aan die slaap raak. Sy het altyd gewonder wie hy is. Aldus die dagboek se inskrywing op 6.6.1973.
Toe sien hy die skimmure met hul skynsel, die vlakke wat skyn. “Hy het gepraat van skynmure, hoewel ek twyfel of hy die dubbelbetekenis verstaan het,” was Alwyn se woorde.
Die skimmerige mure het sommer so skuins en halfdeursigtig deur die losieshuis se mure gestaan. Hy het ’n deur wat nie daar was nie, reg langs hom hoor toeklap, het Alwyn aan my oorvertel.
Dirkie sien in die spieël die meisie langs hom op die spiëeltafelbankie kom sit, hoor haar sug. Daar is ’n vae skynprent van Jesus teen die skynmuur na regs van hom.
By die spieëltafel draai sy die syspieëls terwyl sy haar hare droogvryf, en hy sien die rye eindelose gesigte van homself. In die bodemlose silwer dieptes.
“Ek het nog nooit so baie Dirkies gesien nie, boet, nooit nie.”
Maria het haar na hom gedraai, haar hand uitgesteek en gevat-vat aan die beeld van hom. Dit was hý, die een op die foto uit die lêer met die naam Dirkie Verwey, sê haar inskrywing. Ek het die mansmensbeeld diep in sy oë gekyk. Hy was al hoe minder silwerig en deurskynend totdat hy soos ’n mens van vlees en bloed was.
Vir iemand wat die weë van God ken, is min dinge vreemd.
Sy kyk weer na die vloer, haar kledingstukke wat rondlê. Sy staan van die spieëlbankie op en raap alles met sekel-arms bymekaar. Dit het gevoel of ek hom opgedink het, maar dat hy op sy eie beweeg.
Waarom gebeur dié dinge met haar? Is dit ’n uitreik van ander, volgens God se opdrag? Ja, sy dink dit is die rede, en die gedagte gee haar vrede. Daar is niks wat sy graagter wil doen as om God se opdragte uit te voer nie.
Sy loop na haar lessenaartjie in die hoek voor die venster wat oor die stofplein uitkyk en sit die foto van Dirkie, wat sy so per ongeluk gekry het, in die boonste laai weg. Sy haal iets uit ’n ander laai. Dan gaan sy na hom by die spieëltafel en sê: “Dis nou joune.”
Hy neem die geraamde swart-en-wit A5-grootte foto van haar. Toe is daar die geklop aan die deur.
“’n Oomblikkie asseblief!” roep Maria.
In ’n bevlieging trek sy die enkel rosie uit die dunsteelvaas op die spieëltafel, die vader moes dit seker daar kom sit het, en sy loop na Dirkie en hou dit na hom uit. Hy neem dit.
“Alles reg hierbinne?” vra die bekommerde stem van vader Appel. “Jy is laat vir ete!”
Die vader het ’n gemompel aan die binnekant gehoor: Maria se stem, maar ook ’n ander een! Hy stoot die deur geluidloos oop: só staan dit in sy daaglikse rekords.
Wat hy sien, laat hom bleek van die skok, dieselfde kleur as sy sybaarde, het Maria geskryf.
By die spieëltafel sit ’n man met kaal bolyf. Ek het nog nooit my hemelkind se kamer so deurmekaar gesien nie. Maria in haar kamerjas en hare wat drup.
Sy het so flussies gestort en bemerk die vader nog nie. Sy hou met een hand die kamerjaslapelle teen haar hals vas terwyl sy hurk. Dit lyk vir die vader of sy haar naaktheid met die deemoed van ’n eedgebaar toedruk. Sy kyk af, is besig om onderklere op te tel. Dan kom sy te vinnig orent, steek arms uit vir balans, en die lapelle waaier oop. Opeens staan sy poedelnaak voor vader Appel. Intens verleë trek sy die kleed toe en steek die hand met die bondeltjie private sierade agter haar rug weg.
“Ek is so jammer, Vader!”
Vader Appel slaan die toneel geskok gade, nie oor haar oomblik se naaktheid nie, maar oor die man wat daar sit. Sy hand is nog op die deurknop. Vir etlike sekondes staan hulle so.
“Ek wag vir jou in die eetsaal.” Die deur gaan ekstra saggies toe. Maria hoor hoe sy voetstappe in die gang sagter word en wegkwyn.
Hy het nooit weer na die voorval verwys nie. Nooit gevra oor die onbekende man nie. Die skoonstes word die meeste versoek.
Of was dit sy jaloesie? ’n Hersenskim gebore uit oorbeskerming? Uiteindelik was dít vir hom die waarskynlikste verklaring …
Hy en Maria het later van tyd weer saam gelag. Tussen hulle was die onbekende man vergete. Maar die vrede was ’n illusie.
Toe vader Appel die deur toegemaak het, voel dit nie vir Maria of sy haar sinne herwin nie. Sy merk op dat Dirkie verdwyn het waar hy voor haar spieëltafel gesit het. Sy ruik aan haar vingers in ’n desperate gebaar, in die hoop dat iets van hom daaraan sou kleef.
Want die sluimering praat met die sluimering. Dit steek tasters uit. Die sluimering is ’n veelvuldig vertakkende leefvorm. Só staan dit in vader Appel se rekords vol mymerings. Soos hy dit met die genade van God begin insien het.
VOETNOTE
1.Volgens Die verhaal van ons spoorweë (H.P. Slink, Solidariteit-Uitgewers, Pretoria, 2010), is daar geen historiese rekord van ’n sylyn wat aangesluit het by die spoorlyn na Upington nie. Laasgenoemde is die naasklinkendste pleknaam aan Verdomp se “Uping”.
Daar is wel verwysings na haalbaarheidstudies oor die beplande bou van so ’n lyn, naas die foto van ’n boukundige skaalmodel gemaak uit papier, hout en karton wat ’n kleindorpse stasie uitbeeld, met ’n manlike en vroulike figuurtjie en tassies op ’n perron. Die skaalmodelfoto toon dat beplanning gevorderd moes gewees het. Besonder toevallig is die naam op die skaalmodelstasietjie se piepklein naambordjie: Lyksovlakte. Maar die byskrif sê dat dié naam fiktief is.
2.Orkane en tornado’s (Van Schaik, 1969) is die vertaling van Into the Storm (J.S. Rowan, Vantage Press, Londen, 1960). Dit het in die reeks Vreemde natuurverskynsels verskyn.
12
BOOTJIES OP ’N EINDELOSE KANAAL
Teen middagete het mevrou Katzenjammer, die eienares van die losieshuis, besluit sy gaan die pa bel. Hý betaal vir die seun se verblyf en hý moet nou kom help. Die jong Verwey moes twaalfuur al uit gewees het, nou sit hy in haar losieskamer en verseg om te beweeg.
“In sy onderklere. Hy glo hy het nie klere gehad om na die afspraak aan te trek nie. Die afspraak was tienuur. ”
“Niks om aan te trek nie?” kom Boer se ongelowige stem deur die kabel. “Sy ma het sy tas self gepak.”
“Hy sê daar is net rokke in,” lig mevrou Katzenjammer Boer in. Sy het die besoekersboek na ’n klant aan die ander kant van die toonbank gestoot en haar oë gerol om te wys hy is belangriker vir haar as die telefoonoproep.
“Rokke?”