Die slimmerds het hulself voorgestel. Mevrou Hakskeen, altyd met reguitmaakrollers teen die kopvel, was aanvanklik baie agterdogtig. Huismense van verskillende ouderdomme het bly staar en skamerig soos kokkerotte geskarrel.
Mevrou Hakskeen het die brakke moes stilkry, soos met my besoek ook. Hulle het haar gemoed aangevoel. Die een slimmerd het haar danig verseker hulle is nie daar om haar dogter soos ’n sirkusapie te begluur nie. Nee, hulle bedoelinge is suiwer. Die ma het vir “die verheefdes” bostee gemaak en hulle ’n ruk laat sit. Die oom, so sien ek hom, het homself soos ’n stuk afwesigheid in ’n hoek geplak, soos tydens my besoeke.
“Ek het vir die menere gesê hulle kom op die regte tyd, sy is in hierdie dae weer só, ons kan netnou ingaan, sy slaap nou eers,” het Hanties die besoek geskets.
Die misvloer was hier en daar bedek met twee of drie deurgeskaafde weefmatjies. Ek het gesien die meubelmentjies was uiters verweer. Die trots van die kamer was die sideboard, die houtvoorkoms asof dit met verf aangebring was en weer afgevryf het. Bo-op: ’n ou staanklok sonder tyd en ’n blou-en-wit Philips-transistorradio.
In die huis was dit skemer, hoewel reeds elfuur in die oggend. Buite het ’n triesterige laat-April lig soos fynmeel oor die werf gesif en twee sussies het mekaar by die hoenderhok gesoen.
Die kind het in ’n beswyming op ’n dubbelbed in die enigste slaapkamer gesit, gesig met kleigrimering bedek. Sy het net Queen’s English gepraat.
Ek het voor die skryf van hierdie roman, nie so lank gelede nie, in 1983, voordat ek die Lyksovlakte verlaat het, die notaboekie van die taalkundiges waarin hul besoek gedokumenteer staan in die Carnegie-biblioteek van die Universiteit van die Vrystaat gaan besigtig. Die volgende beskrywings is deels daarop gegrond.
“Who are you?” het die een taalkundige die meisie gevra terwyl hy stof wat uit die rietdak neersif van sy baadjielapelle en skouers afvee en sy ander hand oor sy mond hou teen die hoendermisreuk wat van buite inwaai. Die strooismense het in die woonvertrek fluister-fluister saamgebondel. Die twee dogtertjies en ’n seuntjie.
“Lady Anne Cartwright,” het Maria haarself voorgestel. “Pleased to meet you.” Sy het die rugkant van haar hand uitgehou om gesoen te word. Die verheefdes het huiwerig gesoen.
“I have never been to Africa before. We have been here for the entire quarter,” het Maria voortgegaan. Sy was geneig om uitdrukkingloos te kyk. Maar in die oomblikke wat sy gepraat het, het haar gesig skielik opgehelder.
“My husband, Lord Cartwright, does trade in India. He assisted in the search for Doctor Livingstone, you know. And he is a personal friend of Sir Richard Burtons.”
Maria het haar uitdrukkingloosheid onderbreek om haar oë ergerlik te knipper. “The flies here are impossible. They are worse than the savages. [ … ] Except for my bearers, whom we call John and Samuel. They answered to their European names from the very first day. The next day the priest christened them.” Sy het met ’n grinnik bygevoeg in genieting van haar eie humor: “They’re rather like eunuchs. Sans arbor vitae.” Ek moes die betekenis gaan naslaan: “sonder die lewe van die boord”.
Ek haal aan uit die aantekeninge wat die taalkundiges gemaak het, in hul telegramstyl: “een hand om denkbeeldige handvatsel geklem/ bene uitgestrek/ rug teen muur/ waai met ander hand kamstige waaiertjie voor die gesig”.
Sy was geïrriteerd toe sy sien die taalkundiges verwonder hulle. “Why, it is a parasol. Oh, this? A folding fan, of course. From Japan. I can see you are rabble.”
Sy het gefrons en stip op die ander handjie afgekyk, haar beswyming amper verlaat. Enkele volsinne: “Mens kon sweer sy sien vir ’n oomblik lank haar vingers klem om niks nie. Maar die innerlike gety sleur haar weer mee.”
Op geen tydstip het sy die navorsers of haar ma, wat toe nog in die kamer was, in die oë gekyk nie, altyd skuins verby. “I am a lady, you know. And here in Africa I don’t feel like one. I want to return.” Die kind se stem was klaerig gemoduleer en gedrae ver verby haar jare.
’n Interessante moment was toe die een taalkundige ná ’n halfuur vra: “Lady Cartwright, where in Africa are you?”
“In Cairo, you [ … ] sod! How might you not know the name of a place you’re in? I dare say you’d get kidnapped by the Arabs.” Sy het hom boos aangegluur. “Go back to Fleet Street and learn to get robbed first!”
“Ons was vir haar joernaliste!” en “kon nie die Engelse kragwoord volg nie (sien ellips)”, staan dit in die aantekeninge.
’n Artikel oor die Lady Anne Cartwright-verskynsel het in Die Lantern van April 1966 (jaargang 13, nommer 2), in die seksie Kultuurraaisels verskyn. Die geleerdes het nie ver gekom met hul vrae oor die tale gepratery nie. “Lady Cartwright” het dit nie nodig gevind om te dink oor haar Victoriaanse Engels nie. Sy wou weet waarom die koerantmanne se eie Engels nie so suiwer is nie.
Die navorsers het hul notas met geskiedkundige bronne vergelyk. Maria Hakskeen het ’n verbasende kennis oor die negentiende-eeuse Engeland getoon. Sy het die “drawing room” van haar “tuiste in Londen” met oorgawe beskryf, vol heimwee na die “fox-hunt paintings” van ene Mister Horace Asher.
Die Kerkbode van 15 Oktober 1965 het die verskynsel toegeskryf aan die Bose en verdoem as ’n “vervalle nabootsing van die Heilige Gees”.
Die navorsers het dokumentasie van altesaam vier besoeke aan Die Lantern vrygestel. Die ander tale uit die kind se mond was vyftiende-eeuse Portugees, ’n suidelike Oud-Nederlandse dialek, “waarskynlik ’n dialek van die Indiese vasteland”, en “iets soos Venda-taal”.
Waar op dees aarde het daardie stemme in die kind vandaan gekom? Waar eindig ’n indiwidu en begin ander mense? Hierdie verskynsel was die begin van my groot vraagstuk.
11
DIE UITGESTREKTE MAGNEETVELDE
“Vader!” het Maria uitgeroep toe sy van die trein afklim. Sy het na die priester op die perron gehardloop en haar arms om sy nek geslaan.
Ek herkonstrueer nou daardie dag, 30 Mei 1973, van die treinrit waarop Maria en Dirkie saam was, nog voordat die motel op die Verweys se plaas deur talle gesien is.
My ondersoek is aangevuur deur ’n portretfoto van die volwasse Maria wat in dieselfde jaar geheimsinniglik in Dirkie se besit aangetref is, waarvoor daar steeds geen verklaring is nie. Die twee was wel op dieselfde trein, maar dis onwaarskynlik dat hulle toe of ooit in hul lewens ’n woord met mekaar gewissel het.
Ek het op een van die verbysterendste persoonlike geskiedenisse afgekom. En my bron was Maria Hakskeen se dagboek. Self het ek haar slegs as ’n strooiskind ontmoet en die storie van hoe ek die dagboek bekom het, vertel ek later. Ek het ook ’n tweede bron geraadpleeg, die joernaal van haar weldoener, vader Appel, in bewaring op die sendingstasie waar hulle vroeër gewoon het. Die bronne vul mekaar goed aan.
Die Ampersand-verbinding was ’n sylyn van die spoorlyn na die groot dorp Uping. Dit is later in 1982 gesluit. Dit was in hierdie tyd meestal dienspligtiges in die passasiersgedeelte van die trein na Uping, waar daar ’n weermagopleidingskamp was. Heelparty swart mense het by die weermag aangesluit, en sowel die nieblanke as die wa vir blankes was oor langnaweke volgepak met manne in uniform. Soos vandag, in 1985, het lede van al die rasse meegedoen aan die bolwerk van die staat. Verskeie graantrokke was aangehaak.
Die laatmiddeljarige vader Appel is in sy kerklike habyt geklee en die soldate wat op die perron verby hom loop maak aanmerkings hieroor. Ook oor die bruin meisie wat so styf teen hom loop.
Maria en die vader verlaat Uping in sy Volksie en hulle ry oor die Oranjerivier se betonbrug met sy stutboë soos God se wenkbroue, in die vader se beskrywing. Ver benede kolk die olyfgroen waters van die vergetelheid. Die vader het lankal van sy Chevvie ontslae geraak omdat dit alom begeertes wakker gemaak het wat niks met die skoonheid van die ewigheid te doen het nie.
Dit is ’n