14
EDEN SE LUISLANGE
Julie 1973, eerste weke
Daar is geskiedenisse agter die geskiedenisse.
Is gedagtes óók ’n manier van gebeur? Is blote moontlikhede ’n vorm van gebeur? Veral as dit ’n groter invloed op lewens uitoefen as die sogenaamde werklikheid? My besoek aan die taalkundige was die eindpunt van ’n lang ondersoek wat gehelp het om my te gee wat ek nou weet.
Hoe is dit dat sekere mense dinge kan onthou wat niemand rondom hulle ooit gesien gebeur het nie? Gebeur daardie dinge in ’n soort geestelike wêreld?
Ek het baie tyd vir daardie stowwerige ou nasie, die gelowiges. Sommiges, in elk geval, die éintlike gelowiges, sal ek maar sê. Ten minste neem hulle nie hierdie lewe te ernstig op nie. Hulle gryp weliswaar dinge uit die lug, maar die alternatief is om met jou neus teen die grond te loop.
Wat met Maria en Dirkie Verwey gebeur het, twee mense wat mekaar glad nie op die aardse manier geken het nie, was ’n voorskou tot nog meer verbluffende dinge verderaan in my storie. Ek dink die maatskaplike versteurings is wat gemaak het dat hierdie ánder lewens tussen die krake begin wys.
En nou moet die leser ’n rukkie saam met my op die sendingstasie van Maria en vader Appel vertoef. Nie die minste nie omdat dit hul joernale is wat my uiteindelik die lont raak laat ruik het.
* * *
Ek kan dit voor my geestesoog sien. Vader Appel wat oor sy boude stryk en sy kantsome vasknyp voordat hy gaan sit. Dié manier van hom kan aan ’n dame s’n herinner.
“Jy word al hoe allener deesdae,” sê vader Appel vir Maria, en hy skink vir hulle nog tee in die weerkaatsende staalbekers wat hy saamgebring het. “Vertel my waarom.”
Die hemelkoepel bokant hulle was ligblou en wolkloos eensaam. Soms het ’n donkiekar in die verte teen die heuwel uit gekruie. Aan die oorkant van die droë loop, hier voor hulle, troon ’n muur van rotsblokke. En tussen die gruisklip groei Boesman-gifboom, aggenysmelkbos en kokerboom.
Maria het teen ’n rots gesitleun met haar lenige onderbene gekruis. Onder die oopgespreide staansambreel wat sy saamgepiekel het. Die steel is nie ingegrawe nie, want die grond is te hard. Die sambreelkap leun teen die rots agter hulle.
Die sandspiere van hierdie syloot van die Gariep kronkel stil soos riviere op Mars, soos Eden se luislange, omdat hulle vrede het, staan dit in die vader se rekords.
Hy het ’n teeflessie en ook toebroodjies saamgebring. Stomende warm tee, vir die afkoel. Die goeie God beplan mos op hierdie manier, só teenstrydig.
“Dankie, Vader.”
Die priester had ’n skerp oog vir die gemoedsomwentelinge van sy hartskind. Dis tog vir hóm wat die Here gebruik het om haar van die tongesatan te verlos. Maar deesdae het Maria weer baie versomberd geraak. Die vader het gedink: haar kleintydse versoekings kom gooi weer skaduwee.
Dit was ’n paar jaar gelede toe ek toestemming van die kerk gekry het om die private joernaal van vader Appel in die bibliotekie op Pella te gaan nalees. Daar was Duitse woorde tussen die Afrikaans wat ek nie verstaan het nie. Versomberd en skaduwee was dikwels daar.
Vir lang tye het Maria langs die droë lope in die omgewing gaan sit. In skynbare meditasie, het vader Appel geskryf. Sy woordspelings het my nie ontglip nie.
Waar die sytakke van die Oranje in gebed versand. Ek kon my dié dag sy beskrywing so goed voorstel, daar waar ek in die bibliotekie gesit en lees het. Dit was net so ’n dag buite, met die glans van die Ampersand wat baie skerp opslaan.
“Die padkamp het die stukwerkers afgedank, Vader. Dis my mense,” het Maria hom vertel. “En die koöperasie maak ook ’n verlies.”
Die vader weet van hierdie probleme. Maar hy het ook geweet dis nie al wat haar pla nie. Daar is ook iets anders, ’n ánder rede waarom sy die stilte opsoek, nie net kommer oor haar mense nie. En hy was reg. Hy het haar aangeraai om oor die onsêbare dinge ’n dagboek te hou. Dis ook hoe die Bybel ontstaan het.
Die waarheid was: Maria het haar hart verloor aan die besoeker in haar kamer. Hy kom gereeld na haar in visioene wat so werklik soos die wêreld is. Hy ontmoet haar wanneer sy ontspanne is. As sy op die naat van haar rug lê of vroegaand in die stort. Sy knyp haar oë toe, lig haar gesig op na die spuitende tuit. Die lafenis. Maar dis nie in hierdie rivierlewe dat sy hom sien nie.
As hulle saam is, is dit ook nie hier langs die Gariep of op die Lyksovlakte nie. Dis maar net die skyn. Met hierdie dinge durf sy nie die priester ontstel nie. Maar eendag sal sy hom vertel. Dat sy al hoe meer weg sal wees. Hoewel haar liggaam nog hier sal wees.
Die dag is reeds warm. ’n Saterdag. Die priester ruik Maria se seep. Sý ruik die speseryerigheid van sy sybaarde. Die geure talm.
“Oom Willempie is al een wat geld maak,” borduur Maria voort. “Die mense soek net doepa as dit moeilik gaan.”
Vader Appel spreek nie ’n mening uit oor die oompie nie.
Maria weet van die tyd toe die vader ’n Bybel op die ou Griekwa se rondaweltrappies gelos het met ’n toegelakte koevert binne. In die koevert was ’n seëning van die pous wat die vader al die pad van die Vatikaanstad gebring het.
Dis nou nommers wat kan praat hieriese, was die bossiedokter se kommentaar oor die Latynse gedoente. Dit kom met die presbieter saam, van oorkant die water. Hy wat blink soos ’n krismisvark. Só het oom Willempie gepraat toe hy my die koevert gewys het. Die ene warie meisiekjent warie tale gepraat het lat ophou so praat het solat almal nou net een taal kan staan praat. Hy het die koevert op ’n afstand gehou en dit deur skreefoë beloer. Diese tale was mos ons vare senne gewees, het hy aan die kring jong manne wat om hom gesit het, vertel.
Dit was oom Willempie, die toordokter, wat persoonlik eenkeer aan my gesê het sowel diere as mense kan hul vorm na willekeur verander as hulle net weet watter veldblaar om te eet. Sulke idees kon nie vir die vader aanvaarbaar gewees het nie.
“Selfs die kristalsop raak deesdae op,” het Maria haar draad hervat. Net Ma Els het die resep van die kristalsop geken.
Die sop was ’n silwer inhoud, dunner as die ligste en dunste uiesop, en sonder ’n spikkel troebelgeid. Die beterweteriges het gesê dis niks anders as damwater nie, maar dit maak vol omdat die mense dínk dit is sop.
Vader Appel kantel haar kop vertroostend met sy hand tot teenaan sy skouer. Dis sy antwoord aan haar. “Nou, met die pad se dinge het my broers al weer nie werk nie, Vader. Hulle raak van voor af vir Liddell kwaad oorlat hy hulle van die plaas afgegooi het.”
“Vergelding is geen antwoord nie,” merk vader Appel op.
“My oupa en ouma het daardie plaas bewerk. Hulle is daar in die grond in,” sê Maria.
“Dis die realiteit wat so maak,” herhaal sy aan die vader Liddell se destydse verduideliking oor die wegsturings.
Sy onthou hoe haar mense van die plaas vort is, meubelmentjies op ’n donkiemobiel vasgebind. Die gesin het die myle na die lokasie op die Lyksovlakte langs die donkies geloop om ’n nuwe heenkome daar te vind.
“Dis nie ’n bose geaardheid, die een van Liddell nie. Dis net dat ons nie eintlik vir hom bestaan nie. Ons lewe in ’n spookwêreld vir al wat die wittes kan omgee,” sê Maria.
Daarna was net die permanente werkers oor, die padwerkers, die wittes. Werk was eerste vir hulle bedoel. Die res van die mensdom is vyfde wiele, en basta. Natuurlik het die Oliekrisis saamgespeel.
Daar was trane in die lokasie. Behalwe vir die klein kliniek wat skeef gehang het op stelte, was daar min horisontale hulp. “Die sondaar is die struktuur,” het vader Appel verduidelik.
Hoor