Adriana retireer dadelik. “Sy’s bang vir my kappie. Hou dit vir my, Bellie.”
Die asems word ingeruk toe sy haar gekneusde gesig ontbloot, maar sy het net oë vir die merrie. Sy vat die toom by Arend en streel vir Aandster oor die neusbrug tot by die wit stervormige vlek op haar voorkop terwyl sy in die oopgesperde neusvleuels blaas. Geleidelik verdwyn die wildheid uit die merrie se oë en bedaar die trilling van spiere. Toe runnik Aandster saggies en begin aan Adriana se gesig knibbel, strelend oor die geelpers oogbank.
“Dankie, Pappa,” sê sy en sien deur die traannewels hoe haar ma wegrem toe haar pa sy arm om haar sit.
“Ons kan tog nie ’n kind wat só met ’n perd kan werk in ’n dorp laat vergaan nie,” pleit hy. “Dis vir ons almal se beswil dat ons noordwaarts gaan. ’n Nuwe lewe gaan bou, sonder die beklemming van gister se spoke om ons. Op my lewe belowe ek dat ek julle veilig daar sal bring.”
Adriana maak asof sy hulle nie sien of hoor nie en lei Aandster stal toe om haar te gaan roskam.
Januarie en Februarie 1877 skiet verby in die warboel van klaarmaak vir die trek. Vye, druiwe, kwepers, perskes en appelkose moet gedroog en in meelsakkies gepak word; beskuit en soetkoekies moet gebak word, seep moet gekook en biltong en droëwors moet gemaak word. Wanneer haar ma bevele gee, gehoorsaam Adriana in stilte. Praat met haar ma, sal sy nie maklik weer nie.
Ook teenoor haar pa bly sy afsydig totdat hy eendag nooi: “Kom saam ranteveld toe om koedoes te skiet. Ons moet uitvind of Aandster gewoond is aan geweerskote.”
Aandster gedra haar soos ’n gesoute jagperd en Adriana trek twee koedoes plat.
“Met Pronk en Aandster gaan ons twee Damaraland se jagveld verower. Dalk kry ons nog ’n olifant onder skoot,” lag haar pa.
Vir die eerste keer bruis opgewondenheid oor die trek deur Adriana. In Damaraland sal sy weer veilig voel, die vrees wat sedert die nag in die tuin aan haar knaag, kan afskud.
Die toeloop van veekopers hou haar pa besig.
Adriana voel soos ’n vasgekeerde dier toe oom Lodewyk en Wikus eendag by die varkhok opdaag terwyl sy daar doenig is. “Wat soek julle hier?” gaan sy tot aanval oor.
“Jou pa het die varke vir my gegee,” sê Wikus. “Ek wou hulle koop, maar hy wil niks daarvan weet nie. My pa moet my help om hulle by die huis te kry.”
Adriana wil eers oor die muur klim om weg te kom, maar besef dan dat sy haar rok sal moet optel en voel oom Lodewyk se oë op haar brand. Haar hande bewe so dat Wikus moet help om die hek oop te kry. Sy kry haar pa by die kalwerhok. “Hoe kan Pa my varke weggee sonder om my eers daarvan te sê?”
“Hy sal goed na hulle kyk, dit weet jy tog.”
Adriana wil nog verder stry, maar haar pa kreun asof hy maagpyn het. “Agge nee, tog nie al weer ons prediker nie.”
Gustav kom op ’n drafstap aan en swaai ’n boekie in die lug. “Het jy gelees professor Postma skryf in Die Kerkbode daar is niks mee verkeerd om te trek nie? Mits jy daarmee jou lot verbeter en jou kroos bevoordeel.”
“Nee, maar nou sal jy seker ophou om vir my te preek.”
“Wel, Jakobus, die enigste manier om jou kroos te bevoordeel is om Kaapkolonie, eintlik Boland, toe te trek waar ten minste ordentlike onderwysgeriewe is. Heilie is so ’n skrander kind, sy kan ’n onderwyseres word.”
“Gustav, as jy wil stront praat, loop doen dit voor jou skoolkinders. Jy hou ons uit die werk en ons wil einde Februarie by die Krokodilrivier wees,” vererg haar pa hom.
Adriana kyk geskok na haar pa, maar proes agter haar hand toe sy die uitdrukking op Gustav se gesig sien. Miskien kry hy nou die boodskap dat hy sy neus uit hulle sake moet hou. Al die ander los haar uit, dis net hy wat gedurig met haar kom foeter. Kamstig om te kyk of haar gesig mooi genees. Hy vermoed duidelik nie dat daar vir hom oor die “ongeluk” gejok is nie en was hoogs ontsteld oor haar pa vir haar ’n wilde merrie gekoop het.
Maar Gustav druk deur. “Daar’s nog tyd om te besin. Onthou net, probleme is soos ’n mens se skaduwee. Dit volg jou net waar jy gaan.”
“Ons hardloop g’n weg nie. Ons trek na ’n beter lewe in die land van melk en heuning.”
“Ai, Jakobus, ek het gedink jy is ’n verstandige man. So ’n plek bestaan net in jou drome.”
Hoeveel haar ma te doen het met Gustav se vrugtelose pogings om haar pa van die trekkery te laat afsien, kan Adriana net raai. Die bitter trek om haar ma se mond versag darem effens toe haar pa aankondig dat hulle Potchefstroom toe gaan om die laaste inkopies te doen. Hulle gaan vooruit in die kapkar, terwyl Kierie en Arend agterna kom met die wa om die aankope te laai.
Op Potchefstroom aangekom, dring haar pa daarop aan dat sy saam na die wapenhandelaar toe gaan terwyl haar ma met ’n handsak vol ponde na die negosiewinkel toe is.
Haar pa haal dadelik die Martini-Henry-geweer van die rak af. “So dis nou die Martiens-Hendrik waarvan almal so praat.” Hy maak die slot ’n paar keer oop en toe voor hy die metaaldoppatrone bekyk wat die handelaar op die toonbank neersit. “Die Martiens-Hendrik is vir my dogter,” beduie hy na Adriana. “My beste skut kan darem nie op die trekpad gaan sonder haar eie geweer nie,” slaan hy Adriana se asem weg. “Gee vir my twee kiste van sy patrone en ook ’n kis papierdoppatrone vir my Wessel-Riekert.”
“Neef is seker nie van hierdie wêreld nie, want ek het lanklaas gehoor dat iemand ’n Westley Richards só noem. Bly maar ’n handige geweer, nè, met dié dat mens hom ook van voor kan laai met loodballetjies en kruit as die patrone op is.”
“Dis hoekom dit die regte geweer vir die trekpad is. Ons is op pad Damaraland toe. Dan soek ek nog honderd stawe lood en so dertig vyfpondsakkies kruit.”
Die handelaar fluit verbaas en kyk agterdogtig na haar pa. “Wil jy iewers gaan oorlog maak, of is jy een van Hendrik van Zyl se jagters?”
“Nie een van die twee nie. Dis ruilmiddels om bees te koop. Jan Greyling, ons trekleier, sê met ’n stuk lood kan jy vir jou ’n bees in daardie geweste koop. Lood, kruit en doekgoed is al wat hulle soek.”
Die handelaar glimlag breed toe hy met goue muntstukke betaal word. Hy gee ’n jagmes met ’n skede op die koop toe.
Hulle vind maklik die goudsmid waarheen die handelaar hulle verwys. “Dis eintlik hoekom ek jou ma alleen negosiewinkel toe laat gaan het. Ek wil vir haar iets spesiaals koop, maar weet nie mooi wat nie.”
Die goue hangertjie met die hartjie wat kan oopmaak, is die geskenk wat haar ma se hart na die trekpad sal oopsluit, verseker Adriana hom. “Voor Pa dit vir haar gee, sal ek ’n haarlokkie van elkeen van ons daarin sit.”
Terwyl Adriana deur die halfleë huis loop om te sien of alles wat moet saam op die stoep uitgedra is, onthou sy weer haar ma se vreugde oor die hangertjie. Pa se oop hand met die ponde sodat rolle materiaal, linte, kant, knope, borduurgare en breiwol gekoop kon word, het ook gehelp om haar ma se hart te versag.
“Genade, ons sal mos nooit al dié goed op twee waens kry nie,” hoor sy haar pa op die stoep sê en haas haar na buite voor daar weer ’n stryery ontstaan.
“Maar Pa, ons het saam besluit wat moet gaan en wat moet bly. Kyk maar self, net die huisgoed op my lysie is hier op die stoep.”
Arend en Kierie het die pakwa met behulp van die kleingoed teenaan die stoep getrek om die laaiproses te vergemaklik. Dié wa met kleiner wiele en ’n ligter raamwerk was ’n geskenk van ouma Juliana om haar ma se bruidskat hierheen te vervoer. Die tent bedek net die agterste kwart van die wa. Rondom die rand van die platbak is blomme uitgekerf en in helder kleure geverf, daarom noem almal dit die blomwa. Noudat die wa en die huisgoed teenoor mekaar staan, is dit duidelik dat die lys hersien sal moet word.
“Los wat julle wil, solank my serafyn net gelaai word. Ons moet darem op die trekpad musiek kan maak,” stem haar ma uiteindelik in nadat sy ’n paar minute lank die goed