“Stoot julle kissies terug,” sê Saartjie kwaai.
Die seuns gehoorsaam kastig gedwee.
“So ja. Sit nou.”
Apie en Bennie maak so. Die sonstrale deur die venstertjie val skerp op hul gesigte.
Die meisies kom sit op die kissies in die skaduwee. Hulle vou hul arms en staar stip na die twee seuns.
Daar is ’n doodse stilte in die waenhuis. Niemand praat nie. Twintig starende oë is stip op Bennie en Apie gerig.
’n Minuut gaan verby – twee, drie, vier, vyf minute. Bennie verander ongemaklik van posisie en dan Apie ook. Hy mompel vir sy maat: “Hulle dink seker hulle’s snaaks.”
Bennie gee net ’n verleë laggie. Hy hou niks van die starende oë nie.
Dit gaan nou al tien minute lank so aan. Bennie vee die sweet op sy voorkop met sy hand af. Apie staar ingedagte na sy skoenpunt wat al ingeduik is van al die klippe wat hy so gedurig skop.
Hy skuif weer op sy kissie rond en brom vir Bennie: “As hulle tot môre toe soos houtpoppe hier wil sit, is dit orraait met my. Dan sit ons ook!” Hy vou sy arms en kyk reguit na die meisies.
Saartjie staar stip na die seuns, maar sy is vies. Dit lyk nie of hierdie bangmakery, hierdie gestaar wat kastig so aan hul senuwees moes knaag, enige uitwerking op die twee het nie. Apie, en nou selfs Bennie ook, kyk astrant na hulle toe terug.
Saartjie besluit dit is vervelig om net so te sit. Dit is nou tyd vir aksie.
“Weet julle hoekom laat ons julle so stil sit?” vra sy.
Wanneer Saartjie begin praat, verslap die meisies se gespanne houding. Hulle is almal al vies vir dié sittery – veral aangesien dit blykbaar geen uitwerking op Apie en Bennie het nie.
“Nee, hoekom?” vra Apie. Hy is ook nou bly die stilte is verbreek. As hy moet eerlik wees, het die affêre so effens op hom begin werk.
“Omdat ons julle kans wou gee om na te dink oor julle sondes.”
Apie kyk na Bennie. Bennie kyk na Apie.
“Het jy sondes, Ben, ou pen?” vra Apie.
“Nie waarvan ek weet nie, Aap, ou skaap,” antwoord Bennie. “Het jy?”
“Nee, nie waarvan ek weet nie.”
Die twee seuns lag onnatuurlik hard.
Saartjie byt op haar onderlip. Daar is ’n frons op haar voorkop. Sy het gedink die twee sou teen hierdie tyd al baie bang wees – maar hulle bly astrant!
“Toemaar,” sê sy, “julle simpel gelag sal netnou in ’n gehuil verander.”
“Wie gaan huil?” vra Apie met ’n onskuldige gesig.
“Ons sal sien.”
Die meisies gluur kwaai na die twee wat so totaal op hul gemak daar sit.
“Gister,” sê Saartjie en haar stem is kil, “het julle mos gedink julle is baie snaaks. Jy het my gepootjie, Apie, en jy, Bennie, het my gestamp dat ek val – baie hard val – en ek …”
“Het jy miskien seergekry?” val Apie haar in die rede. Hy maak ’n sisgeluid deur die opening voor in sy mond.
“Dis nie nou ter sprake nie,” sê Saartjie uit die hoogte. “Julle twee het baie ander meisies ook al gestamp en gepootjie. En dis julle wat altyd die lang gras daar op die voetpaadjie van die bushalte af aan mekaar vasbind sodat ons hoërskoolkinders struikel en val as ons kortpad vat. En verder is julle lief daarvoor om onskuldige meisies se fietsbande af te blaas. Dis mos vir julle ’n groot grap, nè?”
Apie en Bennie besluit dit is miskien beter om nie op hierdie aantygings te antwoord nie. Dis mos alles waar. Hulle sit maar net met onskuldige gesigte na Saartjie en kyk.
“Ons meisies,” sê Saartjie en wys met haar vinger na die ander, “het besluit om julle ’n kans te gee. Julle moet belowe om ’n paar goed te doen – en julle beloftes natuurlik na te kom ook – dan sal ons julle laat gaan. Dan sal ons julle nie verder straf nie, want dit was seker al straf genoeg om op so ’n heerlike middag in ’n waenhuis toegesluit te wees en niks te kan doen nie?”
Apie en Bennie kyk na mekaar en hulle glimlag. Hulle het die sirkusspelery hier nogal geniet.
Saartjie kyk fronsend na die ander meisies. Hulle kyk na haar en skud hul koppe. Hulle kan dit nie verstaan nie. Die twee outjies lyk glad nie bang nie. Hulle moes teen hierdie tyd al gesmeek het vir genade, maar hulle sit ewe luilekker daar en lag!
“As ons nie die goete wil doen wat julle wil hê ons moet doen nie, wat gaan julle dan doen?” vra Apie. Hy dink daaraan dat hulle die “goete” ernstig sal moet oorweeg as hulle dalk op twee kissies moet klim of as die meisies tou gebruik wat langer is as dié wat daar in die hoek lê.
“Dan, Apie en Bennie,” sê Saartjie saaklik, “gaan ons julle vasmaak en toesluit – vir ewig! ’n Verhoor is duidelik nie nodig nie, want julle het skuld erken.”
Die meisies is teleurgesteld. Saartjie se dramatiese woorde het glad nie die uitwerking op die seuns wat hulle gedink het dit sal hê nie. Die twee lyk nie eers bang nie, al bespreek hulle die saak darem fluisterend.
Skielik sê Apie: “Orraait, laat ons hoor wat is die goete wat ons moet belowe!”
Saartjie raak al hoe ongemakliker. Sy kan hierdie houding van hulle glad nie verstaan nie. Sy moet die leiding neem en dit voel nou amper vir haar asof Apie besig is om dit te doen. Maar sowaar – as die twee nie instem met alles wat sy vra nie, gaan hulle vasgemaak en toegesluit word. Sy het gehoop die vasmakery gaan nie nodig wees nie, maar sy begin haar nou vir die seuns vervies. Hulle soek mos vir moeilikheid!
“Luister mooi!” sê Saartjie kwaai. “Julle stamp, stoot of pootjie nooit weer enige meisie nie! Julle knoop nooit weer daardie gras daar op die voetpaadjie nie! Julle blaas nooit weer ’n meisie se fietsbande af nie! En wanneer julle een van ons op straat raakloop, staan julle beleefd eenkant en doodstil. Julle knik vriendelik en glimlag en stap eers weer verder wanneer ons verby is.”
Dit is al die “goete” wat Saartjie met die ander meisies bespreek het, maar omdat die seuns so astrant is, voeg sy nou ook by: “En daardie waterpistooltjie wat jy het, Apie, vat ek as buit omdat jy my al twee keer daarmee geskiet het. Jy moet dit vir my gee.”
Apie verroer nie ’n ooglid nie en Saartjie sluit af met: “Nou ja, dis alles wat julle moet belowe om te doen. As julle weier, word julle vasgemaak!”
Saartjie was glad nie so streng en ferm soos wat sy van plan was om te wees nie. Terwyl sy gepraat het, het sy die hele tyd gesien haar woorde maak nie enige indruk nie en gewonder hoekom. Die twee astrante knapies sit net daar en glimlag.
“Nou toe, wat sê julle?” vra sy ongeduldig.
“Mag ons eers gou oor die goete praat?” wil Apie weet.
“Julle het net een minuut!”
Apie en Bennie sit en fluister.
Saartjie kyk na Anna en Lina. Hulle frons. Hulle kan dit ook nie kleinkry nie. Hulle het nog nooit vir Apie en Bennie so dapper gesien nie.
Apie verduidelik vir Bennie dat hulle Saartjie se aanbod natuurlik moet verwerp. As hulle op die nippertjie sien die meisies gaan langer toue gebruik of hulle moet op twee kissie staan, kan hulle gou vra vir nog ’n kans om oor die saak na te dink.
“Weet jy wat, Saartjie?” sê Apie ná sy fluistergesprek met Bennie.
“Wat?”
“Julle spul,” en Apie wys met sy hand oor al die meisies se koppe, “moet simpel wees as julle dink ons gaan belowe