Saartjie Omnibus 4. Bettie Naudé. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Bettie Naudé
Издательство: Ingram
Серия: Saartjie Omnibus
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170383
Скачать книгу
kom uiteindelik tot ’n besluit en Apie skree: “Ons klim nie uit nie. Ons belowe niks. As julle soos ’n klomp pampoene daar wil staan, moet julle maar. Dis lekker koel hier in die water.”

      “Kom ons sit, mense,” sê Saartjie laggend vir haar vriendinne. “Hulle sal vinnig van plan verander. Hulle kan nie eers behoorlik swem met ons hier nie!”

      Saartjie is heeltemal reg. Terwyl die meisies daar sit, moet die seuns watertrap sodat net hul koppe bo die water uitsteek.

      Dis nie lank nie, of dit begin ook koel word, want ’n groot wolk skuif voor die son in. Die meisies kan sien die seuns sit weer koppe bymekaar en dan skree Apie: “Kan julle my hoor?”

      “Natuurlik!” skree Saartjie terug. “Ons is nie doof nie!”

      “Hoekom wil julle met ons praat?” wil Apie weet.

      “Julle weet goed!” skree Saartjie terug. “Dink maar net aan gister!”

      Apie en Bennie hoef dit nie eers te doen nie. Hulle weet goed die meisies is daar om met hulle af te reken omdat hulle Saartjie laat val het – en ook oor al die ander dinge wat hulle al aangevang het. Hulle sien juis vir Mathilda ook daar. Sy weet seker dit was hulle wat nou die dag haar fiets se bande afgeblaas het.

      Bennie erken aan Apie dat hy nie meer baie langer kan watertrap nie. Dit voel vir hom of hy enige oomblik ’n kramp gaan kry en die meisies sit so gemaklik daar op die wal asof hulle nooit gaan padgee nie.

      Die seuns besluit om die stryd gewonne te gee. Apie het voorgestel dat hulle eers woord hou en dan probeer ontsnap …

      “Orraait!” skree Apie.

      “Orraait wat?” wil Saartjie weet.

      “Gee ons klere en gaan wag by die wilgerboom. Ons sal julle daar kry.”

      “Belowe jy?”

      “Ek belowe, ja.” Apie probeer om selfs in die water ’n kruis oor sy hart te maak.

      “En jy, Bennie?” skree Saartjie.

      “Ek belowe ook,” skree Bennie en hy klink skoon uitasem.

      Saartjie hardloop met die klere by die wal af en gooi dit op die gras neer. Apie en Bennie trap water en beweeg nog verder van die wal af weg.

      Die meisies loop laggend na die wilgerboom toe. Lina dink hulle moet die seuns dadelik omsingel wanneer hulle opdaag.

      “Ja-nee,” sê Saartjie. “Ek ken vir Apie. Hy is ’n klein kansvatter. Hy sal woord hou en hiernatoe kom, maar sodra ons ’n paar woorde gepraat het, sal hy voel hy het sy belofte nagekom en dan sal hulle probeer weghardloop.”

      Terwyl die meisies wag, bind hulle hul sakdoeke aan mekaar vas en Saartjie besluit watter vyf van hulle vir Bennie moet pak en watter vyf vir Apie. Hulle sal die seuns se hande met die sakdoeke vasbind en die twee dan soos krygsgevangenes voor hulle uitjaag tot by die ou waenhuis op Anna-hulle se werf.

      Apie en Bennie klouter mismoedig teen die wal uit.

      “Ek sê vir jou, Ben, ou pen,” sê Apie nou al die soveelste maal, “hulle gaan ons vasbind … en seker ophang!”

      “Dit help nie om dit vir my te sê sonder om te sê wat ek daaraan moet doen nie!” brom Bennie. “Hulle sou ons in elk geval uitgelos het as jy nie gister vir Saartjie gepootjie het nie!”

      “En wat van jou? Jy’t haar omgestamp!” snou Apie sy maat vererg toe.

      “Dit help nie ons baklei nie,” sê Bennie. “Hulle sal ons darem seker nie regtig vasmaak nie.”

      Maar die seuns is glad nie so seker hiervan nie. As ’n spul bloeddorstige meisiekinders met griewe en verwyte bymekaar is, is hulle tot enigiets in staat. Apie en Bennie voel baie ongemaklik.

      Die twee besluit hulle sal eers vir die meisies vra wat hulle wil hê en dan laat spaander, want dan het hulle mos woord gehou. As die meisies hulle agterna sit en probeer vang, sal hulle vir die vale slaan en skop!

      Die meisies staan reg toe die twee stadig en agterdogtig naderkom. Saartjie hou die sakdoektou gereed agter haar rug.

      Niemand praat ’n woord nie. Apie en Bennie staan voor Saartjie. Albei se vuiste is gebal. Die meisies sprei effens uit en vorm ’n sirkel om hulle. Die seuns se oë is groot. Hulle is maar net twee en daar is tien meisies – almal groter as hulle.

      “Nou ja, hier is ons. Wat wil julle hê?” vra Apie.

      Die seuns dink nog hulle gaan ’n paar woordjies wissel en dan padgee, toe vang Saartjie hulle onverhoeds en skree: “Gryp hulle!”

      Die twee is in ’n kits op die grond en hul hande word styf vasgebind. Hulle word hierna ook aan mekaar vasgemaak voor hulle nog kans kry om te skop of te skree.

      “Toe-toe, mannetjies, stap aan!” sê Saartjie en gee hulle ’n stamp. “Vandag is die dag van afrekening.”

      Apie en Bennie loop gedwee. Wat anders kan hulle doen? Die meisies is net agter hulle.

      Hulle weet hulle gaan nou boet vir hul sondes, tensy hulle vinnig ’n plan maak!

      5

      Apie en Bennie se straf

      Die groep kinders stap deur die veld en hou al met die agterstrate langs sodat niemand hulle moet sien nie. Apie en Bennie moet nou tussen die meisies loop sodat ’n verbyganger nie dalk kan sien hulle is vasgebind nie.

      Sonder dat enigiemand hulle gewaar of onraad merk, kom die meisies uiteindelik met hul twee gevangenes by die verlate ou waenhuis aan.

      “So ja, julle word hier toegesluit tot ons besluit wat om met julle te doen,” sê Saartjie. Hulle knoop die tou om die seuns se hande los en stamp hulle by die waenhuis in.

      Die deur word vinnig toegemaak en Anna sluit dit met die groot ou sleutel wat sy ná ete uit hul motorhuis gaan haal het.

      “Sal hulle nie kan ontsnap nie?” wil Gail weet.

      “Dis onmoontlik,” verseker Anna haar laggend. “Hulle is so vas soos in ’n tronk.”

      Anna vertel hoe sy gou ná skool gaan kyk het dat alles in orde is. Daar is genoeg kissies vir al die meisies om op te sit wanneer hulle die twee seuns so gaan aanstaar. Sy het ook seker gemaak die toue is lank genoeg om hulle behoorlik vas te maak.

      “Dit sal hulle goed sag maak,” sê Saartjie, “om nou so alleen daar in die waenhuis te sit en wonder wat met hulle gaan gebeur.”

      “As ons vyfuur kom om hulle op te hang, sal hulle al so mak soos lammetjies wees,” voeg Anna grinnikend by.

      Die meisies kan skaars wag. Dan gaan die pret eers regtig begin!

      Saartjie, Anna, Lina en Gail gaan trek gou tennisklere aan en kry hul rakette. Met die woorde: “Tot vyfuur dan!” gaan die groepie uitmekaar.

      Apie en Bennie sit mismoedig op twee kissies. Hulle het al probeer uitkom, maar vinnig gesien daar is geen hoop om te ontsnap nie. Die waenhuis is regtig soos ’n tronk. Die deur is van dik hout gemaak en daar is net een venstertjie hoog teen die muur – met tralies voor!

      “Ek wonder hoekom het Anna se pa hierdie ding gebou?” vra Bennie.

      “Hy’t dit nie gebou nie,” brom Apie. “Dis al hier van die Engelse oorlog af. Hulle het die gevangenes hier opgesluit.”

      “Ja, en nou sit ons hier ook soos twee bandiete,” kerm Bennie.

      Die seuns wonder wat die meisies met hulle gaan doen en wanneer hulle gaan terugkom. Dit is vervelig om so hier te sit en niks doen nie.

      “Ek sê jou: hulle gaan ons ophang,” herhaal Apie vir die soveelste