“Bring die toue en die leer!” beveel Saartjie.
Die seuns slaak stilletjies ’n sug van verligting toe hulle sien die tou daar in die hoek word gehaal. Hulle voel nóg beter toe hulle sien daar word net een kissie vir elkeen van hulle reggesit.
“Blinddoek hulle!”
Gretige hande gryp na Apie en Bennie. Sakdoeke word styf oor hul oë gebind en agter hul koppe vasgemaak. Hulle kan nou absoluut niks sien nie.
“Ons sal julle ’n les leer!” sê Saartjie en sy draai die tou om Apie se lyf vas.
Anna en Lina is besig met Bennie wat nou begin spartel. Hy hou nie daarvan om nie te kan sien nie – en hy hou net niks van die tou om sy hele lyf nie. Dit voel skielik vir hom of die meisies hierdie ophangery ernstig bedoel. Sê nou maar net Apie het ’n fout gemaak en hulle swaai nou-nou van een van die balke?
“Apie,” sê hy bewerig, “wat as …”
“Bly stil, Bennie!” snou Apie hom toe. “Gaan jou dood soos ’n man tegemoet en onthou – hou die blink kant bo!”
Apie hoop Bennie snap sy boodskap. Dit lyk so, want Bennie is nou stil.
Die meisies kyk verbaas na mekaar. Hulle kan nie verstaan hoekom die twee nog nie soebat en smeek vir genade nie.
“Maak die toue om die balk vas, Anna!” beveel Saartjie.
Apie en Bennie hoor hoe Saartjie die leer skuif en Anna opklim. Apie voel skielik ook nie meer so seker van sy saak nie, maar hy kan nie sien hoe hy verkeerd kan wees nie. Die meisies sal hulle tog nie regtig ophang nie. Dis mos onmoontlik. Hy en Bennie moet net moedhou en spring wanneer hulle moet spring. Selfs al hang hulle ’n rukkie in die lug sal Saartjie hulle tog sekerlik weer laat sak.
“Apie moet eerste op sy kissie klim,” sê Anna en ’n klomp hande gryp hom sommer dadelik en tel hom daarop.
“So ja,” sê Anna en Apie voel hoe die tou styf om hom trek. “Die tou is goed vas.”
“Staan stil, Apie,” sê Saartjie in haar diepste, holste stem. “As jy roer, val jy van die kissie af en dan is jy so dood soos ’n mossie!”
Anna het die leer geskuif en die meisies gryp nou vir arme Bennie en plak hom bo-op sy kissie neer. Hy staan regop en voel hoe die tou styf om hom trek.
“Apie!” sê hy beangs.
“Hou die blink kant bo, Ben, ou pen. Hou die blink kant bo,“ sê Apie gerusstellend.
Saartjie kyk fronsend na die twee. Sy verstaan nie watse geblink-kant-bo-houery dit met hulle is nie. Sy het Apie nog nooit so koel en kalm gesien nie.
“Die tou is styf vas, Saartjie,” sê Anna hard sodat Apie en Bennie haar goed kan hoor. “As die ventjie nou spring, sal hy soos ’n riet in die wind hier rondswaai!”
Bennie is bitter benoud. Sy lyf bewe onder die toue.
“Nou goed,” sê Saartjie en kom staan reg voor die twee seuns, “ons gee julle ’n laaste kans. As julle nie belowe om al die goed wat ek opgenoem het te doen nie, word julle opgehang. Julle voel die tou mos al om julle lywe, nè?”
Albei seuns knik met hul kop. Hulle kan nie help om dit te voel nie.
Twee meisies staan agter elke outjie en hou hul hande styf vas sodat hulle nie kan loswikkel nie, anders sal dit van die balk afgly.
“Die toue is styf bo aan die balk vasgemaak. As julle spring of van die kissies afgestamp word, sal julle stadig rondswaai in die lug,” sê Saartjie in ’n doodse stem. “Julle sal bo in die lug swaai en later sal die tou deurskaaf. Natuurlik sal julle val. Baie ver val …”
Saartjie besluit as hierdie realistiese beskrywing hulle nie bang maak nie, sal niks anders dit kan doen nie. Om die pap nog dikker aan te maak sê sy: “Julle sal julle morsdood val!”
Die seuns antwoord nie.
Dan voeg Saartjie sag by: “Maar julle het ’n kans om so ’n marteling vry te spring. Belowe net om daardie goed wat ons vra te doen en ons haal die sakdoeke van julle oë en die toue om jul lyf af en laat julle gaan. Wat sê julle?”
Voor Bennie ingee en miskien iets belowe, sê Apie gou: “Ons belowe niks. Ons skrik nie vir julle nie!”
Die meisies kyk verslae na mekaar. Dit is asof hulle nou in ’n hoek gedryf word. Hulle het nooit verwag dinge gaan hierop uitloop nie.
“Wat sê jy, Bennie?” vra Saartjie.
Bennie sluk en sê dan huiwerig: “Ek sê soos Apie sê. Hang ons maar op as julle wil.”
“Mooi so, Ben, ou pen,” wens Apie hom geluk. “Ons skrik mos nie vir hulle nie, nè?”
“Nee, ons skrik nie vir hulle nie,” sê Bennie dapper, maar sy stemmetjie is maar pieperig en dit voel vir hom of die trane baie naby is.
Saartjie-hulle weet nou regtig nie wat om te doen nie. Hulle was nie sulke weerstand te wagte nie. Saartjie aarsel ’n oomblik en dan sê sy: “Nou ja, as hulle so koppig wil wees, moet ons hulle maar laat hang!”
Die meisies besef hul plan het lelik skeefgeloop omdat hulle dit nie kon regkry om die twee knapies te dwing om die beloftes te maak nie. Maar dit gaan nogtans groot pret wees om te kyk hoe die outjies die moed bymekaar moet skraap om te spring en hoe die paniekerige uitdrukkings op hul gesigte skielik in vreugde verander wanneer hulle van die grond af opstaan en besef hulle swaai nie in die lug rond nie.
“Ek gee julle nog een laaste kans,” kondig Saartjie aan. “Gaan julle belowe, of nie?”
“Jy mors jou asem,” sê Apie en hy voeg ook sommer by: “Sê groete vir Ma en Pa en Kris.”
Saartjie glimlag. Dié Apie darem! Hy is sowaar ’n dapper mannetjie!
Die meisies het natuurlik nie die vaagste benul dat Apie en Bennie weet die toue is nie aan die balk vasgemaak nie.
Maar al weet die twee dit, bly hulle darem nogtans skrikkerig. Dis ’n vreeslike gevoel om so op ’n kissie te staan met ’n tou om jou gebind, jou oë geblinddoek en jy weet jy moet nou enige oomblik spring. Onder die sakdoek is Bennie se oë styf toegeknyp. Apie se hart klop wild. Sê nou net iets gebeur met Bennie? Sê nou net …
“Gaan julle self spring, of moet ons julle stamp?” vra Saartjie.
“Ons sal self spring,” mompel Apie.
“Goed, ek tel tot by drie – dan spring julle.”
Die meisies staan weg. Net die paar agter die seuns hou hulle nog vas. Hulle sal los wanneer die twee spring.
“Een!” begin Saartjie tel.
Apie staan reg. Bennie sluk vir die soveelste keer en sy adamsappel wip vir die soveelste keer op en af.
“Twee!”
Dit flits deur Apie se gedagtes – sê nou net die toue is regtig aan die balk vas? Bennie is só bang dat hy probeer om nie te dink nie. Hy sluk en sluk tot dit vir hom voel hy kan nie meer nie.
“Drie! Spring!”
Apie spring die donkerte in en skree: “Kom, Bennie!”
Bennie spring ook.
Die twee kom soos blits regop. Hulle skud hulle koppe woes en gelukkig kom die sakdoeke van hul oë af. Blitsvinnig nael hulle na die deur toe. Dis mos hoe hulle afgespreek het.
Die meisies wat hulle klaar gemaak het om lekker te lag is nou so verbaas dat hulle die twee net oopmond staan en aangaap.
Saartjie kom eerste in beweging, maar dis reeds te laat. Die waenhuis se deur word hard in haar gesig toegeklap en die meisies hoor hoe die sleutel in die slot gedraai word. Hulle is nou hier toegesluit!