In die waenhuis staan die meisies met verbaasde uitdrukkings op hul gesigte na mekaar en kyk. Dit het alles so vinnig gebeur! Toe hulle nog dink hulle gaan lekker lag, is die twee knapies soos vetgesmeerde varke by die deur uit.
“En nou?” vra Saartjie verslae.
Almal praat nou tegelyk. Dis baie duidelik dat Apie en Bennie moes geweet het die toue was nie aan die balk vas nie. Dis natuurlik hoekom hulle nie bang was nie.
“Hulle moes dit hier in die waenhuis uitgevind het,” sê Saartjie.
“Een van hulle moes die idee gekry het om die toue te meet,” sê Anna. “En toe sien hulle dis te kort om aan die balk vas te maak.”
“Dís hoekom hulle so dapper was,” sê Lina.
En toe begin Saartjie lag. Sy sien skielik die humor van die hele situasie in.
“Daai twee karnallies was te slim vir ons,” sê sy. “Hulle het sowaar meer met ons die gek geskeer as ons met hulle.”
Anna, Lina en die ander meisies begin ook nou lag. Die outjies het hulle slim uitoorlê, dis nie altemit nie!
“Maar wat gaan hulle nou met ons doen?” vra Anna bekommerd. Dit word al laat en hulle moet huis toe gaan.
Die meisies staan by die deur en hoor hoe Apie en Bennie daarbuite te kere gaan en mekaar luidkeels gelukwens.
“Apie!” skree Saartjie.
Dit is stil.
“Apie!” skree Saartjie weer.
Die seuns kom druk hul koppe styf teen die deur.
“Ja?” sê Apie. “Wat wil julle hê?”
“Die grap is nou verby. Sluit oop die deur dat ons kan uitkom.”
Die seuns lag weer uitbundig. Hulle slaan eers gou weer ’n paar keer bollemakiesie en dan skree Apie: “Dink julle ons is mal om julle te laat uitkom? Julle wou ons dan ophang!”
“Ons het mos maar net gespeel,” sê Saartjie met ’n vriendelike stemmetjie. “Ons het sommer net ’n grappie gemaak!”
Apie en Bennie lag weer luidrugtig.
Die meisies kyk moedeloos na mekaar. ’n Paar van hulle begin nou paniekerig word. Hul ouers wag seker vir hulle en daar gaan groot moeilikheid wees as hulle laat is vir aandete.
“Apie!” skree Saartjie. “Is jy en Bennie nog daar?”
“Natuurlik is ons. Waar dink jy sal ons wees?”
Saartjie sluk eers ’n paar keer swaar. Sy haat dit om te doen wat sy nou verplig is om te doen. “Wat moet ons julle gee sodat julle die deur sal oopsluit en ons laat uitkom?”
“Geld!”
Ja-nee, die seuns is baie beslis. Hulle het hierdie saak vroeër vanmiddag al in die waenhuis bespreek terwyl hulle planne beraam het.
“Hoeveel?” vra Saartjie.
“Tien rand van elkeen van julle!”
Hulle het ook vanmiddag reeds oor die bedrag besluit. Dit beteken hulle sal elkeen vyftig rand kry. Apie wou eers meer vra, maar Bennie het hom daaraan herinner dat die meisies ook maar platsak is en miskien net sal weier en probeer om die waenhuis se deur op die een of ander manier oop te breek.
Die meisies bespreek die aanbod fluisterend. Hulle is almal meer as gewillig om die geld te betaal, solank hulle net hier kan uitkom.
“Goed,” sê Saartjie uiteindelik teen die deur, “sluit oop, dan sal ons vir julle die geld gee …”
“Wanneer?”
“Wel, ons het nie nou geld by ons nie. Ons sal julle môre betaal.”
“Op jul ere woord?”
Almal belowe hardop saam. Apie en Bennie wens mekaar geluk. Hulle weet die meisies sal woord hou.
“Julle moet nóg ’n belofte maak,” sê Apie.
“En wat’s dit?” vra Saartjie agterdogtig.
“Julle moet belowe julle sal ons nie weer probeer vang om ons kastig ’n les te leer nie. Julle moet vergeet van al daai goete waaroor julle vies was – die gepootjie, die gestamp, die gras wat vasgebind was, Mathilda se pap fietswiele. Julle moet dit alles vergeet – en ook dat ons julle hier in die waenhuis toegesluit het. Ons is nou kiets, orraait?”
Daar is ’n oomblik stilte.
“En julle moet ons môre betaal,” kom Bennie se piepstemmetjie.
Die meisies is maar te bly om alles te vergeet, want hulle het nie eintlik vanmiddag met eer uit die stryd getree nie. Hoe gouer hulle dit kan vergeet, hoe beter.
“Goed,” sê Saartjie.
“Goed, wat?” wil Apie weet.
“Goed, ons belowe dit!”
“Orraait!” sê Apie tevrede en herinner hulle dan net weer vinnig: “Maar moenie die geld vergeet nie!”
Bennie sluit die deur oop en die meisies borrel uit. ’n Paar kyk kwaai na die outjies wat so breed staan en glimlag en stap dan vinnig weg. Dit is al laat en hulle moet opskud.
Die Drie Muskiete kan nie help om saam met die seuns te lag nie. Saartjie is nogal trots op haar boetie wat so uitgeslape is.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.