“Ek het hulle my vuiste laat proe!” sê hy opgewonde en dan vir Saartjie: “Die een ou wat jy daar gesien het, het seker sy vier pêlle gaan roep.”
“Ja, seker,” sê Saartjie net droogweg.
Die seuns voel hul reputasie is nou gered. Soos Apie sê: “ ’n Mens moet onthou – Saartjie het een spook raakgeloop, maar Galpil het vyf met die vuis bygekom! Wat sou gebeur het as my suster vyf spoke daar op die trap moes gesien het, hè?”
Saartjie is heeltemal tevrede. Dis miskien beter dat dinge só moes eindig. Sy neem Galpil nie eintlik kwalik dat hy nou so oordryf nie. En wie weet, dalk het hy só groot geskrik toe hy oom Tom daar in die wit laken sien dat hy regtig gedink het dis vyf spoke!
Die volgende oggend gaan maak Saartjie eers by die garage seker die oom en tannie se bakkie is weg, dan loop sy saam met Anna en Lina na die spookhuis om haar sakdoek te gaan haal.
Net toe hulle by die verlate ou huis aankom, daag Galpil, Gert en Piet ook daar op. Hulle sê hulle kom die mes haal, maar sy weet Galpil wil kom uitvind of die mes regtig daar in die kamer op die vloer is. Hy moes seker laas nag baie lank wakker gelê en gedink het hoe Saartjie so maklik verby die spook kon kom.
Die Drie Muskiete en die drie seuns gaan saam by die kamer in en Saartjie slaak ’n sug van verligting. Daar is geen teken van oom Tom en tannie Lottie nie en in die middel van die kamervloer lê die sakdoek met die mes daarin toegeknoop.
Galpil kyk na Saartjie. Die bewondering is duidelik in sy oë te lees.
“Heng, ou perd!” sê hy.
Saartjie kyk vinnig anderpad en staar kastig by die venster uit. Sy is dik van die lag.
4
Saartjie word kwaad
In Lynnekom word daar vir ’n geruime tyd oor niks anders as die spookvoorval gepraat nie. Die meisies spog met Saartjie se dapperheid en die seuns vertel weer trots hoe Galpil sommer vyf spoke disnis geslaan het. Later het Galpil beskeie bygevoeg dat hy nie mooi kon sien nie; daar kon miskien sewe of selfs agt spoke gewees het!
Maar die spoke en die spookhuis raak geleidelik vergete, want Lynnekom se jongklomp het soveel ander dinge om gedurende die lang somerdae te doen – skoolgaan, so ’n bietjie huiswerk doen, en baie swem en tennis speel.
Een middag laat kom Saartjie moeg van die tennisbaan af. Sy is tevrede oor hoe goed sy gespeel het. Sy het selfs een van die seuns wat kastig ’n kampioen is, geklop. Saartjie stap met die sypaadjie langs huis toe. Haar raket swaai teen haar bruingebrande bene. Haar bofbalpet sit agter op haar donker hare. Sy loop en droom en bou heerlik lugkastele …
Saartjie is nou ’n wêreldberoemde tennisspeler. Sy sien hoe sy al die belangrikste kampioenskappe op al die wêreld se beroemdste tennisbane wen. Sy het die hele wêreld aan haar voete en haar geboorteland, Suid-Afrika, is baie trots op haar!
Sy sien al hoe sy van haar roemryke oorsese toer af terugkom. Mense staan in hul duisende langs die strate om haar te sien en toe te juig. Sy waai met haar hande en knik met haar kop soos ’n koningin – ’n koningin van die tennisbaan.
Daar speel ’n soet glimlaggie om Saartjie se mond en hier waar sy op die sypaadjie loop, maak sy ook sulke elegante buiginkies met haar kop en waai eers na die een en dan na die ander kant toe. Sy loop só droomverlore dat sy nie eers vir Apie en Bennie skuins agter haar gewaar nie. Die twee negejarige knapies kyk fronsend na die fratse wat sy uithaal.
“Is sy mal?” fluister Bennie vir Apie.
Apie trek sy skouers op. Hy weet nie, maar te oordeel aan die uitdrukking op sy gesig vrees hy ook die ergste. Hoe kan ’n normale mens so in die straat loop en buig en waai as daar niemand is om dit voor te doen nie?
In haar verbeelding sien Saartjie nou hoe sy aan die president voorgestel word. Hy wil ook hulde bring aan hierdie dogter van ons land en hy wil die beroemde tennisster bedank vir die roem wat sy vir Suid-Afrika inpalm.
Saartjie begin stadiger stap. Sy is nou in ’n groot saal. Al die deftige mense, die land se hoëlui, staan eerbiedig langs die mure. Sy stap met die lang saal af na die verhoog waar die president haar inwag.
Hier op die sypaadjie loop Saartjie nou net so grasieus en trots. Sy kom tot voor die staatshoof te staan. Apie en Bennie kom ook tot stilstand en kyk met groot oë na haar.
Saartjie sit haar tennisraket neer. Haar wit tennisrokkie het nou in die ongelooflikste aandrok verander. Sy neem ’n punt van die rok in elke hand, sit haar regterbeen effens agter die linker een en maak ’n lae buiging. Dis mos hoe ’n mens die president groet.
Hierdie buiging is te veel vir haar boetie en sy maat.
“Haai!” skree Apie, en Saartjie verloor amper haar balans. Sy kom regop en kyk na die twee verbaasde gesigte. Saartjie grinnik verleë en tel haar raket op. Sy het só geloop en droom dat sy skoon vergeet het sy is hier in ’n straat in Lynnekom.
“Haai wat?” vra sy en probeer rustig klink.
“Wat doen jy?” vra Apie. Sy tongpunt speel deur die opening tussen sy voortande.
“Niks besonders nie!” sê Saartjie kil.
“Niks besonders nie!” Apie kyk verbaas na Bennie. Bennie skud sy kop. Daar is ’n mistroostige uitdrukking op sy sproetgesig. Ja-nee, dis nes hy gevrees het: Apie se suster het ’n skroef los – ’n grote.
“Jy sê jy doen niks besonders nie,” sê Apie, “maar jy loop hier in die straat soos ’n siek hoender en glimlag en goete, en buig en waai vir mense waar daar niemand is wat jou kan sien nie!”
Saartjie glimlag. Sy moes nogal snaaks gelyk het.
“Ek sal julle sê wat ek gedoen het,” sê sy. “Ek het geloop en droom ek is ’n beroemde tennisspeler wat die een kampioenskap na die ander wen – oorsee natuurlik. En toe ek terug Suid-Afrika toe kom, staan daar duisende mense langs die strate en klap vir my hande. Toe knik ek so met my kop en waai vir hulle. Hierdie laaste lae buiging was toe ek aan die president voorgestel is.”
Saartjie se oë vonkel. Apie en Bennie kyk haar verstom aan. Hulle dink nou nog meer sy is effens getik.
“Jy moet na ’n kopdokter toe gaan,” sê haar boetie, en sy maat knik met sy kop om te wys hy stem volkome saam.
“Hoekom?” vra Saartjie.
“Sodat hy jou kop kan dokter.”
“Moenie simpel wees nie,” sê Saartjie en stap aan. Sy het nie tyd om met sulke swape te staan en ginnegaap nie.
Hulle stap saam met haar.
“Dis nie ons wat simpel is nie,” sê Apie. “Dis jý. Dís hoekom jy na ’n kopdokter toe moet gaan.”
Saartjie antwoord nie. Sy stap net aan.
Die seuns loop saam en gesels laggend oor haar wat dink sy is ’n tennisster.
“Ek’t nog nooit in my lewe gehoor van iemand wat soveel nonsens kan praat nie,” sê Apie. Bennie knik sy kop en sê: “Ja-nee, ek ook nie.”
“Wie het julle twee genooi om saam met my te loop?” vra Saartjie vies.
“Ons kan stap waar ons wil!” Apie maak sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het. “Dis ’n vry land, is dit nie?”
Saartjie is tog nie lus om met hierdie twee te stry nie. Sy ignoreer hulle eerder heeltemal en stap net aan.
Die seuns word later moeg om so aanhoudend te praat en raak vies omdat Saartjie hulle nie antwoord nie.
Dan doen hulle iets wat hulle liewer nie moes gedoen het nie!
Apie