Dink jouself gelukkig. Pieter van Jaarsveld. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pieter van Jaarsveld
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318060
Скачать книгу
dat ’n mens se geluk tog baie met jou finansiële status te doen het nie, hoewel daar nie so ’n sterk verband is as wat ’n mens miskien sou vermoed nie. Geld maak die lewe makliker, maar dit het nie noodwendig ’n invloed op ons gevoelens nie. Meer nog: Dit is nie duidelik of geld ons gelukkig maak en of dit nie eerder is dat gelukkige mense meer geld maak nie.10 Iets om oor te dink, nè? Navorsing is egter duideliker daaroor dat geld ’n arm mens gelukkiger maak as iemand in die middel- of hoërinkomstegroep.11

      Die belangrikste gevolgtrekking uit die navorsing is dat ’n mens werklik gelukkig met minder geld kan wees en net moet leer om dit reg te spandeer. Dit blyk dus ook ’n mite te wees dat geld ’n mens gelukkig maak. Hou daarom op om te wens om soos die Ruperts, die Oppenheimers, Guptas of Motsepes te wees. Jy is klaar ryk genoeg om ’n gelukkige lewe te lei.

      Mite 9: Ek kan nie gelukkig wees as die toetsuitslae positiefis nie: ’n Vriendin van ons het so pas gehoor dat sy borskanker het. Wanneer ’n mens hierdie “vonnis” kry, is jy natuurlik so gefokus op daardie inligting dat al die mooi dinge maklik by jou kan verbygaan. Dit is egter ook waar dat ’n mens baie meer beheer oor die realiteite van daardie oomblik het as wat ons dikwels besef.

      Ons vriendin was baie bewus daarvan dat die uiteinde die dood is. Sy het ook geweet dat sy geen beheer het oor wanneer dit sou gebeur nie, maar sy het wel beheer in dié opsig dat sy kan besluit hoe sy elke dag gaan hanteer. Sy het gesê: “Ek gaan nie toelaat dat die vrees vir môre my geluk en gehalte van vandag wegneem nie.” Wyse woorde.

      Iemand wat ’n konsentrasiekamp oorleef het, het gesê dat hy in die kamp twee werklikhede beleef het. Die een was die vreeslik aaklige omstandighede van honger, vernedering, beledigings en mishandeling. Die ander was om doodgewoon voort te gaan met sy lewe waar hy gelukkig en tevrede is sonder om die swaar raak te sien. Hy het uit sy pad gegaan om die mooi te soek ten spyte van die haglike omstandighede. Miskien moet ’n mens dit ook doen wanneer jy die slegte nuus hoor. Jy ontken dit nie, maar leef meer en meer in ’n ruimte waarin jy goed voel. Dit is ’n moeilike opdrag, maar tog moontlik soos hierdie man in die konsentrasiekamp bewys het.

      Daar is bewys dat as ’n mens in die tyd van swaarkry fokus op die goeie en veral die natuur (kyk na die sonsondergang, sit onder die mooi ou eikeboom, kyk na mooi natuurfoto’s), dit ’n groot rustigheid in stormagtige tye bring.12 As jy weet wat jou gelukkig maak, beleef soveel daarvan as moontlik. Daar is bewyse dat gereelde oefening en die bywoon van godsdiensbyeenkomste in moeilike tye (ten minste een keer per week) baie kan bydra tot die geluk in hierdie traumatiese omstandighede.13

      ’n Pragtige storie waaraan ons vriendin ná haar mastektomie vasgehou het, is die storie van die skilder wat eintlik ’n houtwerker wou wees. Eendag het sy vrou hom gevra om ’n tafel te maak en hierdie tafel het werklik die fokuspunt in hul lewe geword. Rondom die tafel is heerlik geëet, bordspeletjies gespeel en lekker gelag.

      Eendag, terwyl hulle weg was, het ’n dief ingekom en die een poot van die tafel gesteel. Die skilder het alles probeer doen om die tafel te balanseer soos om boeke onder die tafel te sit, en nog meer, maar die tafel was nooit weer dieselfde nie. Eendag het hy besluit dat dit nou genoeg is. Hy het die tafel gevat en weer in die werkswinkel gaan werskaf. Die eindproduk was ’n kleiner tafel met net drie pote. Hoewel dit tyd geneem het hom dit te balanseer, was dit nou selfs beter as die oorspronklike een.

      Ná ’n mastektomie, longsiekte of ’n hartaanval kan dit lank duur om jou lewe weer te balanseer. Dit is waar dat jy nie weer dieselfde sal wees soos die vierpoottafel nie, maar jy kan ’n “nuwe jy” ontwikkel wat net so sterk soos die “ou jy” gaan wees, maar net anders.

      Terwyl jy die trauma verwerk, dink aan die sin en die betekenis van jou lewe, hoe jy graag onthou sal wil word en bou aan jou vriendekring. Daar is bewys dat vroue met ’n goeie vriendekring 2,8 jaar en mans 2,3 jaar by hul lewe kan voeg!

      Mite 10: Ek kan nie gelukkig wees nie, want my beste jare is reeds verby: Hoeveel van ons, aan die beter kant van 50, het nie dikwels hierdie gedagte in ons agterkop nie. Ek kan nie gelukkig wees as die jare vorentoe minder is as die jare wat verby is nie. Ek kan nie gelukkig wees as my vervaldatum verby is nie!

      Hiermee maak ons twee groot blapse. Eerstens, niemand kan regtig bepaal wat die beste tyd in jou lewe gaan wees nie. Tweedens, dit is ’n mite dat hoe jonger jy is, hoe gelukkiger is jy. Jy moet dikwels net jou ingesteldheid teenoor ouderdom verander.

      Interessante navorsing is in 1989 gedoen oor hoe die verandering van ’n mens se ingesteldheid (mindset) tot wonderlike veranderings in jou lewe kan lei. Dr Ellen Langer en ander wetenskaplikes van die Harvard-Universiteit het ’n aantal mans bo die ouderdom van 70 vir tien dae na ’n vakansieoord geneem.14 Hul opdrag was om op te tree asof hulle in die jaar 1959 leef. Hulle moes dus gesels oor die werk wat hulle toe gedoen het, die president van daardie tyd, en so meer. Die musiek wat gespeel is, was die musiek van daardie tyd, tydskrifte was ook van daardie tydvak en hulle moes foto’s bring van voor 1959. Hulle is dus tien dae lank geïndoktrineer: “Julle leef nou in die jaar 1959.” Voordat hulle die navorsing begin het, is hulle blootgestel aan ’n klomp fisiologiese toetse soos hul lengte, die lengte van hul vingers, sterkte, geheue en hul sig. Ná die tien dae is die metings weer gedoen. Hulle het gevind dat die mense fisiek langer geword het, hul vingers gegroei het, en hul sig en geheue verbeter het. Inteendeel, die meeste het verskeie jare jonger begin optree as wat hulle werklik was. Sommige het fisiologies en kognitief selfs 25 jaar jonger gereageer. Dít ná net tien dae! As jy dink jy is oud, dan tree jy so op. Dit is hoe maklik dit is. Jy kan dit egter verander.

      Terwyl ek nou met ons ouer mense besig is, sommer nog raad: As jy bang is vir alzeimersiekte, luister hierna. Neurowetenskaplikes het in navorsing gevind dat die aanleer van ’n nuwe taal alzeimersiekte kan voorkom of ten minste lank uitstel. Jy hoef nie eens die taal goed te bemeester nie. Inteendeel, daardie studie het bewys dat, as jy jou kop gereeld besig hou met kognitiewe aktiwiteite, jou kanse 47% minder is om alzeimersiekte te kry as mense wat nie hul brein kognitief stimuleer nie.15 Dit hoef egter nie net die aanleer van ’n taal te wees nie, maar enigiets waarin jy jou brein gebruik om aktief te wees. Leer dans, doen blokkiesraaisels, sudoku of wat ook al. Kry net iets om jou brein mee besig te hou.

      Moet dus nie dink dat hierdie boek net vir die jongmense is nie. Kan jy nou verstaan waarom die Here so ’n groot klem plaas op die verandering van ons gedagtes? Ja, dit kan jou hele lewe verander!

      Die beste is om op die toekoms te fokus en nie te tob oor die idilliese verlede nie. Stel dus betekenisvolle doelwitte vir die toekoms. Onthou: “There is no happiness without action”.16 Die doelwitte vir hierdie tyd in jou lewe moet eerstens innerlike doelwitte wees wat jy wil bereik soos om betekenisvol te voel en dit wat jy wil te geniet en nie wat die samelewing van jou vereis nie. Dit moet ’n basiese behoefte van die mens vervul soos byvoorbeeld om ’n ekspert in iets te wees: ’n goeie rolbalspeler; die beste bedsokkie-breier; goeie vriende te maak; ’n betekenisvolle bydrae tot die gemeenskap lewer. Ek sal later in die boek meer oor doelwitte gesels.

      Nou wat leer die slim navorsers ons? Ouer mense is eintlik gelukkiger en meer tevrede met hul lewe as die jonges; hulle ervaar meer positiewe emosies en minder negatiewes; hul emosionele ervarings is stabieler en hulle is, les bes, minder ontvanklik vir die daaglikse negatiwiteit en stres.17 Inteendeel, daar is drie onlangse studies wat bewys dat die toppunt van die mens se positiewe emosionele ervaring tussen 64 en 79 lê!18 As hulle diegene ouer as 79 sou insluit, is ek seker dit word dalk net beter en beter hoe nader ons aan 100 kom. Wat van 120?

      Laura Carstensen van die Stanford-Universiteit, het meer as twee dekades daaraan gewy om vas te stel waarom ouer mense gelukkiger is. Sy beweer dat, as mense besef hul jare word minder, hulle hul perspektief oor die lewe verander. Hulle begin meer tyd bestee aan dinge wat regtig saak maak soos goeie opbouende verhoudings in plaas daarvan om al meer mense te ontmoet om ’n groot aantal kennisse te hê; hulle ignoreer daardie verhoudings wat nie ondersteunend van aard is nie en loop minder risiko’s. Die gevolg is dat hulle dan meer vrede, geluk en ’n rustigheid ervaar, asook ’n positiewer lewe lei.19 Ja, jy skakel sommer makliker die TV-nuus af as dit te veel moord en doodslag bevat of as 7de Laan se storie nou te negatief raak en Gita te aaklig! Hulle kyk ook sommer meer met ’n blinde oog na kritiek. En hoe ouer ons word, hoe meer behandel almal ons met respek –