Ek sit lekker op De Brakkerivier. Niemand pla my nie, ek pla niemand nie en alles vergaan en vergroei rondom my. Dae draal soos seisoene. Ek loop nie ver van die huis nie. Iedere doringboom lyk soos die vorige een. By ’n miershoop kan ek wel nie verbyhou sonder om ’n stok daarin te druk en te karring nie.
Ek is nie lus om Swellendam toe te ry om te gaan kyk wie se peester die grootste is of wie die reguitste kan skiet nie. Brandewyn is skaars en ek drink myne verkieslik alleen. Ek is nie lus om ou Perd, sonder hoefysters of humeur, Swellendam toe te karwats nie. Maria het skaars die bloed van die nuwe baba afgewas en ek moet al weer weg. Die geweer los ek by Maria; as hulle wil hê ek moet skiet, kan hulle vir my ’n Kompanje-geweer leen en die kandelare op hulle oorlaaide drostdytafels smelt om vir my kogels te maak. Ek druk ’n dolk in my gordel ingeval iemand my in die nag wil bekruip. Perd is oud en beneuk maar kan vir enige skepsel, Bossiesman of leeu, weghol. Die Buyse daag gereeld op vir hierdie oefeninge, miskien loop ek van my broers daar raak. Maar ek sal hulle nie loop soek nie.
Toe ek inry tussen die bondel geboue wat hulle Swellendam noem, is daar ’n bakleiery voor die taphuis. Die twee boere is beide ewe sat geveg, albei sit op hul knieë in die pad. Hulle slaan met lang en swaar arms na mekaar. Nie een hou mis nie, albei is te moeg om te koes. ’n Paar knewels van die burgermilitie staan rond en wag tot die twee albei lê en sleep hulle dan weg selle toe. Ek gaan meld my aan vir die krygsoefening. Die klerk wat die vorms invul, besef ek het geen wapens by my behalwe die geroeste dolk nie. Ek word beboet met twaalf riksdaalders en tot hiertoe sal hulle my tart en nie verder nie. Ek klim op my bejaarde perd en ry die witgekalkte gehug uit. Ek sal eers ná my stoflike afsterwe en my wedergeboorte as Alom-Buys in die motgevrete notules lees wat ek alles gemis het. Soos dat Petrus Ferreira van De Lange Cloof daardie jaar by die krygsoefening ’n splinternuwe tabakdoos wen as tweede prys vir teikenskiet. Mag hij de rode tyfus krijgen!
Terug tussen die grys bossies op De Brakkerivier sê ek vir Maria om ons huisraad weer toe te bondel en vas te bind. Ek gaan haal vir Windvogel onder ’n hupse meid uit en sê hom aan om die osse in te span. Die Hottentotte sien ek maak aanstaltes. Hulle begin ook hulle dinge bymekaarmaak. Die meeste sal verder dool na buurplase vir werk, maar ’n paar jonges sonder bande van vrou of kind besluit om saam met ons te verkas. Ek gooi ’n fakkel op die dak en kyk hoe die riethuis afbrand. Elizabeth dans om die huis en word ’n dynserigheid in die vlamme. Maria maak die baba stewig lê in die wa. Sy gaan sit op die voorkis en klap die sweep. In die jaar 1785 laat ek alles wat ek ken agter en trek oosgrens toe.
2
Ons trek deur die binneland, volg die uitgetrapte roetes van vroeëre beweging na die limiete van die Kolonie. Soms is die groewe van waspore duidelik sigbaar, soms verdwyn dit vir dae en beweeg ons bloot van die een fontein, spruit of watergat na die volgende. Ons hou so min moontlik stil, net as die wa breek, of ek ’n eland gewaar en die newels in jaag op Perd en nie terugkom sonder ’n karkas nie. Meeste dae volg ’n eentonige sleur, ander begin met ’n oor-en-weer-geskree en eindig in ’n baaierd. Die baba, steeds sonder naam, dobber deur die reis, toegedraai in ’n karos, gesus deur die wa se gekraak en gekerm sonder om later enigiets hiervan te onthou, en lag en slaap en huil en lê verder en kyk vir die watent daar bo waar haar wêreld eindig.
Maria sit op die wakis, klap die sweep oor die sat diere en vloek hulle op die naam sodra hulle laks raak. Die Hottentotte jaag die troppie vee aan, Windvogel meeste van die tyd bo-op die bees wat hy die vorige jaar by my as betaling gekry het. Ek sit met Elizabeth voor my op die perd. Sy sit nie in die saal nie, dit is vir haar te naby aan ’n ander menselyf. Haar kaal lyfie krul om Perd se nek. As ek aan haar vat om seker te maak sy sit stewig, dat die son haar nie seer brand nie, skree of grom sy. Dit is net sy en die perd, maar as ek in die ry vir haar vertel van die name van diere en plante en klippe, sê sy die name fluisterend na vanuit die ruigtes van die maanhare. Dit is net wanneer sy seer slaperig is dat sy by my sit en aan my baard trek, die rooi boskaas ’n woud vir haar vingers om in te verdwaal. Haar gelaat is nie so lig soos haar vader s’n nie, maar ligter as Maria s’n. Die blas vel en rooi hare maak van haar iets waarna die paar verbygangers staar. Sodra hulle haar grys oë gadeslaan, staak hulle hul gegroet en geklets en kyk hulle weg en lig dan die hoed vir my en mý grys kykers. Snags slaap ons in die wa. Op koue aande lê die baba opgekrul teen die moederbuik asof sy daarna terugverlang. As die jakkalse roep in die rante en die wolwe langs die wa lag, sit die rooikopkind regop, arms om haar knieë, en waak sy oor ons.
Uit die saal bekyk ek die bossies en grasse en doringbome en die miershope soos torings van Babel. Soms halt ek by ’n rotsformasie of ’n plant wat my aandag trek, maar terwyl daar son is, stop die wa vir niks en niemand. Ek ry agter die wa aan, my gedagtes reeds weer by ander klippe of blare of dwalend oor die verte. Ek is nie hier om te verken nie. Ek is op pad grens toe. Die paar mense wat hierdie streek hul eie maak, soek my nie hier nie: die Kristene jag diesulkes en hulle besteel en vermoor die Kristene in daardie ou siklus van vernietiging sonder begin of einde. Hier hou jy jou klein en sit jy nie te lank stil nie. Die Bossiesmans moenie dink jy wil jou tuismaak nie.
Soms kom ons ander waens teë, soms voetgangers of ruiters, maar niemand laat ’n blywende indruk op die ander nie. Ons span nie uit by ander boerewonings soos die gewoonte is nie. Die gesprekke en gebruike daarbinne is waarvan ek wegtrek. Wanneer die voorrade min word, bly ons soms oor by ’n kraal. Die Hottentotte ruil graag skaap en uintjies en heuning en behandel Maria goed, hierdie klein koningin met haar reuse- wit man en Hottentotknegte.
By een kraal is die Hottentotte die aand aan die dans. Toe Elizabeth by my kom sit naby die vuur, is ’n paar verwonderde figure dadelik hurkend om haar. Hulle sien sy is sku vir al wat mens is. Hulle kom stadig nader, versigtig om haar nie te verskrik nie. Die een druk sagkens ’n vinger teen haar skouer. Sy kyk vir die vinger. Hy druk ’n vingerpunt oker op haar neus. Sy giggel, druk haar eie vingertjie teen die Hottentot se neus. Ná ’n wyle laat sy die bekoorde Hottentot toe om haar hare te streel. Sy klim op my skoot, maar laat hulle toe om haar lyfie vol oker hande te stempel soos die hande wat hulle teen grotwande druk. Uiteindelik wen die spul haar vertroue; sy klouter van my skoot af. Hulle tel haar op hul skouers en dans om die vuur. Sy lyk soos die nagedagtenis van ’n vlam, rooi en blink maar minder so, asof die vuur ’n skaduwee het wat saam met mense kan dans sonder om hulle te verteer.
Soms doen ek aan by opstalle om nuus te aas. Soos die trek ooswaarts voortstu, moet jy al fyner kyk om ’n hut te eien as Kristenwerf. Heidene bly in ronde hutte; Kristene se hartbeeshutte is haaks. Die nuus is nooit goed nie. Die Kristene waarmee ek praat, is meestal vlugtelinge wat hul plase op die oosgrens laat staan het en teruggekruip het diep in die arms van die Kolonie, net om ook hier beroof en vermoor te word. Die mededelinge van hierdie bevreesde godvresendes is net so niksseggend soos die klipstapels op grafte.
So ’n verloopte Kristen kruip een middag uit sy modderhut om my te groet. ’n Breërandhoed op sy kop en die flenters van wat eens soldateskoene was, is die som van sy klerasie. Sy ganske lyf dop af van die sonbrand. Hy babbel oor Kaffers en sprinkane en sy misoes en dit is wat hy weet en dit is sy lewe. Hoe sou hy kon weet wat Alom-Buys weet en wat sou dit hom skeel dat Lodewyk die Sestiende in hierdie jaar van onse Heer 1785 ’n wet onderteken wat bepaal dat sakdoeke voortaan vierkantig moet wees?
As die wind deur die gras waai of die skaduwees van wolke oor die hange en koppies storm, lyk dit of die hele dooie landskap lewe kry en onder jou voete verbysnel. Die oog speel speletjies in hierdie eindelose plek waar dáe se trek soos stilstaan voel, en ’n uur of wat se skuiling soek teen ’n donderstorm voel soos oud word. Deur die dag is die veld gevrek. Ons trek verby leeus wat onder doringbome lê, wat nie opstaan vir ’n ganske trop beeste nie. Met die oorgangstye van nag na dag en dag na nag is die veld ’n oorverdowende onwelluidendheid van lewe wat skree en krys en ritsel en jaag asof daar bestemmings is buiten die talle kringlope wat hier in die soetlig-oopheid op mekaar insny.
Deur die dag is ek nooit alleen saam met Maria nie. Ons gesprekke is wedersydse opdragte, planne om die wa aan die beweeg en die kinders gesond te hou. Snags