Jy moet vir ons mure bou, sê sy.
Vir wat, met winter verkas ons weer.
Moet ons nou self met die skape trek? Kan ons nie net die skawagters stuur nie? Ons hier ordentlik sitmaak nie?
Sit jy hier. Ek kan nie jaar in jaar uit daardie klont koppies aanskou nie.
Ek druk haar vas en ons soen en ek los haar en krap aan die bysteke op my wang. Haar vel is weer styf om haar pens. Ek vryf oor die geoliede maag. Kyk hoe pers daardie voorarms die heuning uit in die kom. Kyk hoe steek die punt van haar tong uit terwyl sy die karriemos deur ’n gaasdoek in ’n fles gooi.
Wil jy gaan stap? My voete moet loop kry, sê sy.
Ek krap aan die blase:
Ek wag vir die karrie.
Die goed moet dae lank gis, Buys.
Ek wag.
Sy stap die veld in en verdwyn oor die rant, boude styf van opgeruktheid. Die kaal kind kom uit die hut gestap. My dogter is twee en het haar moeder se mond en haar moeder se moeder se rare slawenaam: Elizabeth. Sy huil nooit, het nog nie juis begin praat nie. Ek wil haar optel maar sy stoei haar los. Sy gaan sit in die stof en kyk na my. Later skuif sy nader tot in die skaduwee van die huis. Af en toe kyk sy om en glimlag; sodra ek opstaan en nader kom, hardloop sy binnetoe.
Toe die karrie einde van die week reg is, begin ek en Windvogel die oggend drink en teen die middag jaag ons op twee wilde volstruise rond tot Maria ons kom skel:
Maar my Gots, Buys! Klim af daar, jy lyk of jy op ’n hoender sit! Jy gaan die ding se rug breek!
Ek spring af en jaag haar ’n bietjie rond, dan loods ek ’n aanval op die kind. Ek val in die stof. Sy kom staan oor my en lag met ’n handjie voor haar bekkie. Ek tel haar op en sy spartel los. Dan is ek weer agter haar aan met ’n gebrul. Sy mik kekkelend na haar moeder. Ek gooi Maria oor my skouer en laat val haar op ons kooi van huide. Ná ’n wyle kom ons agter Elizabeth staan en beloer die twee stoeiende, kreunende lywe. Dan sien sy ’n geitjie by die deur.
Teen skemer kom ek tot bedaring op die bankie voor die deur. Teen die golwe goue vuur wat oor die kim spoel, verskyn die silhoeët van ’n kakebeenwa sonder seil. Vyf vermaerde brandsiek osse sukkel voort, die voorste een sonder juk, met rieme ingespan soos ’n trekperd. Twee Hottentotte, een voor die osse, die ander op die wakis. ’n Gehawende prediker in wat oor is van ’n kispak en keil staan agter op die wa en betreur luidkeels sy verdorwe siel. Hy ruk die laaste van sy knope af om sy rooigebraaide bors vir my te wys. Die verloopte sendeling klou aan die klappe van die verrinneweerde wa en skree waarskuwings in Duits en Hooghollands oor riviere wat in bloed sal verander en donker mans in donker nagte met lang messe en dit lyk of die spattende spoeg oombliklik verdor tot die rou blase om die Godbedonderde gek se mond. Die Hottentotte beduie verleë met halfmas arms in my rigting terwyl hulle die osse lusteloos slaan en pad-af aandryf. Die man krap aan sy bors en raak heel begeesterd toe Maria by die rietdeur uitkom. Die wa is nog ’n ent af in die pad toe die fielt oordadige buigings begin maak. Hy wens my ’n geseënde oes toe. Hy stel hom bekend met die een of ander Germaanse van. Hy vra na die pad Swellendam toe terwyl die osse aanstap Couga toe, al verder weg van Swellendam. Ek glimlag vir die man en skree dat hulle die smalle weg volg, dat dit lank en swaar en bedisteld is maar dat dit inderdaad die regte pad is. Die man, wat reeds van alle sinne beroof is en nou ook van bestemming, wuif my toe. Hy buig weer voor hy die Hottentotte begin vervloek oor hul laksheid en hulle waarsku dat die luiaard nooit Het Blijde Jerusalem sal beërwe nie. Die wa kom tot stilstand. Die uitgeteerde gesant van God spring af; sy knieë knak onder hom. Die vlieë wei ongestoord aan die babbelende bekeerder se blase, soos hulle ook nie verwilder word van die Hottentotte se wange nie. Hy tel ’n vuis vol sand op, soen dit en betuig sy liefde vir hierdie uitsig en die gehalte van die grond en vra op ’n seer omslagtige wyse of hy my kan help met die oes in ruil vir ’n kombers en ’n patat twee maal ’n dag.
Lyk dit vir jou of ek iets plant?
Hy kyk om hom rond en sien die dor bossies en die aalwyne en die lae koppies en die beeste daar doer en die paar Hottentothutte skaars te onderskei van die veld of my pondok. Ek proes vir sy verwardheid:
Jy kan oes wat jy wil, my lieve vent.
Die predikant begin oreer oor hoe die Here elkeen van sy skepsels voed en hoe hy al weke uit die tuin van God sy etes voorberei. Ek het ’n olifantgeweer in die hand en marsjeer op die man af. Hy gryp die sweep by ’n Hottentot en slaan lomp na die osse.
Ek gaan, Mijnheer! Ek is op weg, die smalle weg, soos u my aangedui het! roep hy my toe.
Ek lê aan en skiet die agterkant van die wa vol van die gruis waarmee ek die geweer gelaai het. Die osse stap aan. Terwyl ek besig is om te herlaai, bedink ek my, sit die geweer neer, hardloop die wa in en spring op. Ek begin met ’n grootse stem vir die verskrikte sendeling en sy Hottentotte preek. Ek haal lang stukke koorsdrome aan uit die Openbaring wat Geertruy my leer opsê het. Ek skree:
En toen Het het vierde zegel geopend had, hoorde ik een stem van het vierde dier! Die zeide: Kom en zie! En ik zag! En ziet! Een vaal paard! En die daarop zat, zijn naam was de dood! En de hel volgde hem na! En hun werd macht gegeven om te doden tot het vierde deel der aarde! Met zwaard! En met honger! En met den dood! En door de wilde beesten der aarde!
Ek hou aan bulder op die klein gemeente wat my verslae toehoor. Ek vermaan hulle oor die bospaadjies wat afdwaal van die smalle weg, die meide wat in hierdie land in poele wag om jou te bespring en die mensvreters en die verdelging van die Kristen deur die Heiden en die monsters en gediertes reguit uit die Hel se klowe. Ek berispe hulle by voorbaat vir die dagga en die drank wat hulle siele sal laat vrot en die boude van die vroue en die borste waaraan hulle sal ondergaan. Die touleier vergeet van die osse en die kasarm gaan staan bot op ’n plek in die wapad waar my stem begin galm tussen die koppies. Ek sprei my arms en stoot my bors uit en wend my weer tot Hooghollands:
En de koningen der aarde! En de groten! En de rijken! En de oversten over duizend! En de machtigen! En alle dienstknechten en alle vrijen! Verborgen zichzelven in de spelonken! En in de steenrotsen der bergen! En zeiden tot de bergen en tot de steenrotsen: Valt op ons! Verbergt ons van het aangezicht Desgenen, Die op den troon zit, en van den toorn des Lams!
Ek swyg. Net die sonbesies en die laaste sin antwoord in die koppies. Dan die laaste basuin:
Want de grote dag Zijns toorns is gekomen! En wie kan bestaan?
Die vier mans kyk vir mekaar. Die wa kom in beweging. Ek gaan sit plat op my gat in die wa en lag. Die Hottentotte kyk na my. Die kispak besef die redevoering is verby en begin binnensmonds pruttel oor laster en die verwording van die siel. Ek bly proestend sit, dronk van voor af, saam met hulle op pad in die verkeerde rigting dieper die wildernis in, tot hulle om die draai by die drif is. Dan spring ek af en gaan tel die geweer op en vuur ’n laaste skoot laag oor hulle koppe en draf huis toe. Geertruy was reg: Die juiste woorde en ’n luide stem is sterker as ’n hele span osse en tref harder as ’n olifantgeweer. Maria kom aangestap. Ek kan skaars hoor wat sy skreeu, maar ek kan raai sy is ontevrede met hoe ek predikante ontvang. Ek storm op haar af, druk my kop tussen haar bene in, lig haar agterstevoor op my skouers en hardloop reguit kooigoed toe.
As jou naam staan op die owerheid se lys vir kommandodiens, moet jy die jaarlikse krygsoefeninge bywoon by die naaste drostdy. Die affêre sloer ’n week lank aan. Vir ’n Lange Clower soos ek beteken dit dat jy meer as twee weke van die huis af weg is; Swellendam toe en terug is meer as ’n week te perd. Mits jy ’n ordentlike perd het. Jy moet jou eie perd moeg ry soontoe en jou eie geweer saamvat en jou eie lood