“Hy sê jy het belowe om saam met hom na Kleinbosdam toe te ry.”
“O? … Goed, sê vir hom ek kom.”
“Jy moenie draai nie. Ek weet g’n wat om met die man te praat nie.”
Ondanks oupa Janus se vermaning, vertoef sy tog langer as wat nodig is in die kamer. Daar is skielik ’n tinteling dwarsdeur haar lyf en ’n bloesende kleur op haar wange wat nie deur die slaap veroorsaak is nie.
Toe sy uiteindelik haar moed bymekaarskraap en in die deur van die sonkamer verskyn, staan Gustav galant van sy stoel af op. “Ek is jammer as ek jou gesteur het. Jou oupa het nou eers vir my vertel jy het gelê en slaap.”
“Ag, nee, dis darem nie so erg nie. Eintlik raak ’n mens net bederf deur so ’n middagslapie.”
“Sal jy saam met my dam toe ry?”
“Ja, dis alles reg. Ons kan net nie te laat terugkom nie. Ek moet nog kom inpak om voor donker terug te wees by die huis. Oupa wil nie hê ek moet in die donker ry nie.”
“Vat vir Eben saam,” sê oupa Janus. “Die buitelug sal die kind goed doen.”
Asof Eben nie die hele dag buite gespeel het nie, dink Esbeth sinies. Sy weet maar te goed wat die ware rede agter oupa Janus se versoek is. Maar sy gaan maak tog vir Eben wakker. Dit sál beter wees as hy saamgaan. Want hoe goed ken sy Gustav nou eintlik? Daar is nie mense of huise naby die dam nie. En daar is hierdie verlange in haar … Nee, knip sy haar gedagtes vinnig kort. Sy mag nie verlangens na ’n man koester nie. Moontlik is sy nog ’n getroude vrou.
Toe hulle wegtrek, beloer sy die man langs haar. Hy het ’n donkerblou langbroek en ’n grys windjekker aan. Hy lyk té goed daarin. En sy gesig lyk ontspanne. Toe hy na haar kant toe kyk en sy nie betyds haar kop kan wegdraai nie, sê sy vinnig: “Ons sal ’n hele ent moet stap. Ek weet nie of oupa Janus jou gesê het nie?”
“Ek het so verstaan, ja. Dié dat ek gemaklike skoene aangetrek het.”
Eben kom hang oor die rugleuning. “Ek het tekkies aan,” spog hy. “Oom het nie tekkies aan nie!”
“Nee, maar my skoene kan net so ver en vinnig soos joune loop.”
“Ek was al by die dam,” spog Eben verder.
Esbeth laat hom ’n rukkie lank begaan, maar sit dan sy geselsery stop. “As ek hom toelaat om aan te hou borduur, sal niemand anders ’n beurt kry om iets te sê nie,” sê sy vir Gustav.
“Is alle kinders nie maar dieselfde nie? My seuntjie … kon net so baie babbel.”
Sy hoor die swaarkry in sy stem en sê impulsief: “Vertel my van hom. As jy wil …?”
Hy is verbaas. Gewoonlik skram mense weg van die dood. Tog, vir die eerste keer sedert Norman se dood, koester hy nie ’n verlange om oor sy kind te praat nie. Dis of die lieflike sonskyndag en natuurskoon sy pyn ietwat temper. “Nie vandag nie,” sê hy sag. “Ek het ’n strawwe week agter die rug. Vandag wil ek ontspan.”
“Ek het jou nog nie bedank vir die ruiker nie,” sê Esbeth. “Dit is ’n pragtige bos blomme.”
Hy glimlag skeef. “Dankie dat jy my soenoffer aanvaar het.”
“Moenie jouself verwyt nie. Ek het ook skuld daaraan. Ek kom agter ek is erg oorgevoelig in die laaste tyd.”
“Is dit omdat ek jou aan Richard herinner? Verlang jy na hom?”
“Nee, ek verlang nie na hom nie. Eintlik is ek bang dat hy dalk kan terugkom.”
“Hoekom is jy bang?”
“Omdat ek nie weer kans sien vir ’n lewe saam met hom nie.”
Hy blik haar vinnig aan. “Is daar ’n ander man in jou lewe? De Wet dalk?”
“Nee, daar is nie iemand anders nie. Ek en De Wet is net vriende.”
Esbeth wonder of dit ’n verstandige ding was om in te stem om saam met hom dam toe te gaan. Dis ’n afgeslote gebied. En hy besit nou eenmaal daardie onweerstaanbare aantrekkingskrag wat haar denke laat swymel.
Hy wonder waarom sy hom vertel dat sy nie meer ’n gevoel vir haar man koester nie. Is dit dalk om hom te laat verstaan dat sy oop is vir flirtasie? As sy hom glad nie toegeneë was nie, sou sy nie ná die mislukte ete ingewillig het om saam met hom dam toe te ry nie. Miskien moet hy van sý bangheid ontslae raak en haar toets. Dit is in elk geval die enigste manier om sekerheid te kry oor hoe sy oor hom voel. Sy kan maar net een van twee dinge doen. Hom óf afjak, óf saamspeel.
6
Esbeth weet nie wat daar in Gustav se gedagtes omgaan toe hulle voor die hek waarvandaan hulle sal moet voetslaan, stilhou nie. Sy voel verlig om uit die motor te kan klim. Dit het erg beknop begin voel daar so naby hom.
Die pad kronkel tussen jong denneboompies deur en die son speel wegkruipertjie tussen die stamme. Esbeth en Eben se gesprek oor kabouters en feetjies wat saans tussen die bome kom dans en speel, laat Gustav ineens weer vuriglik verlang na sy eie klein Norman.
“Jy moenie hoë verwagtinge koester van die dam nie,” sê Esbeth toe hulle dit begin nader. “Dis eintlik maar ’n klein dammetjie in vergelyking met Wolwedansdam of die Moordenaarsrivier se dam.”
Hy skud sy somber gedagtes af. “Die natuurskoon maak die uitstappie die moeite werd.”
“Wag tot jy by die waterval agter die dam kom. Daar is dit éérs mooi. Jy moet die boomvarings sien!”
“Ek het nie geweet daar is ’n waterval ook nie.”
“Ag, dis nou nie ’n baie indrukwekkende waterval nie, maar dis nogtans mooi.”
“Ek hoor water loop,” sê hy ná ’n rukkie toe die pad vernou tot ’n voetpaadjie.
“Dis die dam se oorloop wat jy hoor. Ons is amper daar. Kom, Eben, gee jou hand. Hier is ’n gevaarlike afgrond en die paadjie is glibberig.” Maar toe sy haar hand uitsteek, ontwyk Eben dit om sy hand ewe vertroulik in dié van Gustav te gaan lê.
Terwyl sy met die steil voetpaadjie voor Gustav uitklim, kan hy nie anders as om die rondinge van haar sitvlak onder die styfspannende denim te bewonder nie. En asof sy bewus is van sy blik, klim sy oorhaastig voor hulle uit en gaan wag op hulle waar die dam se oorloop in sig kom.
Gustav kom staan langs haar. “Dis baie anders as wat ek my dit voorgestel het,” sê hy.
“Ek het jou mos gewaarsku. Dis net Oupa wat dink die dam is so besonders.”
“O, maar ek dink ook dis besonders. Ek het ’n prentjie van ’n saai plaasdam met ’n paar varings in my kop gehad. Hierdie dam herinner ’n mens aan die paradys.”
“Kom, sê Esbeth. “Ek wil hê jy moet sien hoe die dam self lyk. Bo-op die wal agter die traliewerk is ’n paadjie waarvandaan jy ’n pragtige uitsig op die rivier hier onder het. Ons moet net eers hier oor die klippe. Pas net op, hulle is glad, hoor.”
“Toe maar, ons sal regkom,” sê Gustav terwyl hy Eben op sy skouers tel. “Wees jy ook maar net versigtig.”
Toe hulle dan ook ’n rukkie later bo-op die damwal agter die traliewerk tot stilstand kom en Gustav na die donker water met die weerkaatsing van varings daarin kyk, voel hy hoe iets stadig in hom losknoop. Hy weet nie of dit die oefening of die verruklike natuurskoon is wat dit aan hom doen nie, maar hy haal skielik vryer asem. Dis die eerste keer vandat Norman dood is dat hy so ontspanne voel.
“Dit ís ’n mooi gesig, nè?” sê Esbeth sag.
“Dit is pragtig,” stem hy saam en tel Eben van sy skouers af. “As ek geweet het dit lyk só hier, het ek jou vanoggend vroeg al kom oplaai sodat ons die hele dag hier kon deurbring.”
“Vroeër het ons dikwels hier