“Wat verwag jy? Jou ontrouheid kan ek straks nog vergewe, maar klein Norman se dood? Nooit!”
Sy kruis haar bene. “Het jy al ooit daaraan gedink dat jý ook skuld aan sy dood het?”
“Ja, ek het. Ek moes Dewald se nek gebreek het toe ek julle saam betrap het. Dán sou hy nie die kans gehad het om sy hande op my kind te lê nie.”
“Het jý dit van Dewald verwag, dat hy so wreed teenoor ’n kind sou kon raak? Hy was tog jare lank ’n baie goeie vriend van jou.”
“Selma, dit help nie om draaie te loop nie. Feit bly dat jy en hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Vir hoe lank, sal net julle twee weet. Net soos dit ’n voldonge feit is dat hy my kind vermoor het.”
“Ons kind.”
“Jy was nog nooit die naam moeder werd nie, en jy weet dit!”
Sy stof ’n denkbeeldige rafel van haar baadjiemou af. “Ten spyte van jou bitterheid, sal ons weer moet trou.”
“Trou! Moenie belaglik wees nie. Ons egskeiding is vier maande gelede afgehandel. Ek het geen begeerte om ooit in my lewe met jou te trou nie.”
“Jy sal nie ’n keuse hê nie.”
Dit word yskoud in hom. “Wat bedoel jy?” vra hy met ’n angs wat die sweet op sy lyf laat uitslaan.
“Daardie paar dae toe ons probeer het om ons huwelik te red, het sy tol geëis. Ek verwag weer ’n baba.”
Hy staar haar spraakloos aan. “Hoe weet ek dit is my kind?” vra hy uiteindelik verslae. Maar hy ken die antwoord. Die hoop dat dit nié sy kind sal wees nie, is skraal. Dewald was juis ’n geskeide man omdat hy nie vir sy gewese vrou ’n baba kon gee nie.
“Jy weet Dewald kan nie kinders verwek nie,” sê sy dan ook oorwinnend.
Die kamer voel ineens soos ’n diep, donker graf. Hy staan verslae van die bed af op om voor die venster te gaan staan. Baie dinge vliet deur sy gedagtes. Die seer van Selma se ontrouheid, sy sogenaamde vriend se verraad, sy kind se lewelose lyfie in die koue lykhuis … En Esbeth. Here, wat van Esbeth? Hoe gaan sy verstaan?
“Ek weet dit is vir jou ’n skok,” hoor hy Selma vaag sê. “Dit was vir my net so ’n skok. Maar dit het nou eenmaal gebeur en daar is niks wat dit kan verander nie. Ek was by die dokter. Ek is amper vyf maande swanger.”
Hy dink vlietend aan ’n aborsie, maar verwerp onmiddellik die gedagte. Hy wil nie bloed op sy gewete hê nie. Hy tuur oor die see, verby Hartenbos tot onder die berg met die inham waar die Kleinbosdam geleë is. Hy hoor hoe Selma van die stoel af opstaan en ’n mislike gevoel stoot in hom op toe sy langs hom kom staan.
“Ons hoef nie met swier te trou nie. Voor ’n landdros sal goed wees.”
Die kamer begin met hom draai. “Verskoon my.” Hy loop onvas op sy voete badkamer toe om van die walglike gevoel in sy binneste ontslae te raak. Nadat hy sy gesig met koue water afgespoel het, voel hy kalmer.
“Ek sien nie kans om weer met jou te trou nie,” sê hy toe hy terugkom in die kamer. “Ek sal my verpligting teenoor die kind nakom, maar dit sal die enigste verbintenis tussen ons wees. Eintlik sou ek verkies het om jou nooit weer te sien nie.”
“Natuurlik,” sê Selma spottend. “Ek het vergeet jy het mos ’n meisie. Ongelukkig sal jy van haar moet vergeet.” Die spot verdwyn uit haar stem. “En hoe gouer hoe beter. Ek is nie van plan om die kind alleen groot te maak nie, Gustav Opperman. Jy sál weer met my trou, of jy wil of nie!”
Hy kyk haar vas aan. “Vergeet maar daarvan. Ek kan nie met ’n vrou trou vir wie ek niks anders as veragting voel nie.”
“O, maar jy sal! Ek sal jou dwing.”
Hy gee ’n humorlose laggie. “Sowaar! En hoe gaan jy dit regkry?”
Haar mond glimlag, maar haar oë is ys. “Jy wil tog nie hê jou ou meisietjie moet seerkry nie, wil jy?”
“Wat beteken dit?” vra hy fronsend.
“Dit beteken jy moet solank dink aan ’n troudatum. Ek sal môreaand kom verneem wanneer jou die beste pas. Ek kon ongelukkig nie plek kry hier in die hotel nie – glo ’n toergroep wat hier tuisgaan – dus het ek by die Punt vir my ’n vakansiehuisie gehuur. Maar ek sien jou weer môreaand.”
Die geluid van haar hoëhakskoene het lankal in die gang verdoof, toe staan Gustav steeds bestorwe voor die venster, sy blik nikssiende op die dofwordende horison van die see. Toe klein Norman se gesiggie skielik voor sy geestesoog verrys, kners hy magteloos op sy tande. Dis onregverdig dat ’n gevoellose, gewetenlose vrou soos Selma die lewe moet skenk aan kinders. Sy ken nie die betekenis van moederliefde of berou of hartseer nie. En hy weet verseker dat die dreigement wat sy geopper het, nie leeg is nie. As sy moet weet van Esbeth, sal sy die lewe vir haar totaal ondraaglik maak.
7
Gustav stap af see toe, maar die rustige branders bring geen kalmte in sy gemoed nie. Hy voel soos ’n vasgekeerde dier in ’n hok. Hoekom het Selma hom nóú eers kom sê sy verwag ’n kind? Wat het hom besiel om met haar gemeenskap te hê terwyl hulle reeds maande lank vervreem was? Hy het haar tog geken, diep in sy wese geweet dat die poging om hul huwelik te red nie sou slaag nie.
Al verskoning wat hy het, is dat dit ter wille van Norman is dat hy saamgespeel het. Hulle het al langer as drie maande nie meer saamgewoon nie; hy het hier in Mosselbaai kom werk en sy het in Johannesburg agtergebly. Dit was juis om hul egskeiding te bespreek dat hy Johannesburg toe is …
Hy grinnik humorloos toe hy dink aan die kersligete wat sy berei het. Al die mooi beloftes wat sy gemaak het. Dat sy al haar sosiale bedrywighede sou opsê; dat sy vir Norman ’n beter ma sou wees; dat sy saam met hom Mosselbaai toe sou kom …
Drie dae en nagte het dit goed gegaan. Hy’t begin glo hulle kan nog van hul huwelik ’n sukses maak. Hy het besluit om ’n bietjie by tant Mietie te gaan kuier terwyl Selma haar sake afhandel om saam met hom Mosselbaai toe te kom. Maar tant Mietie was nie tuis nie en toe hy terugkom by Selma se woonstel …
Gustav verwonder hom daaroor dat die seer nie meer so intens is nie, wanneer hy terugdink aan sy vrou en sy sogenaamde vriend se ontrou daar in die woonstel. Die skok wat hom die nag laat invlug het …
Haar berou die volgende oggend toe hy terug is om sy tasse te gaan haal, het hom nie geflous nie. Hy sal nooit in sy lewe glo dat dit net dié een keer se swakheid was wat haar voor Dewald laat swig het nie. Dit het buitendien in die hofsaak oor Norman se dood aan die lig gekom dat sy en Dewald al geruime tyd ’n verhouding gehad het. Hoe kan sy verwag dat hy weer met haar moet trou?
Esbeth is al in die bed toe haar voordeurklokkie lui. Sy glip vinnig haar kamerjapon aan en drag ligvoets om die deur te gaan oopmaak. Sy wonder wie dit kan wees. Gustav? De Wet? Of dalk iemand wat wil hê sy moet vir haar ’n rok maak?
Sy snak liggies na haar asem toe sy deur die veiligheidsgaatjie loer en sien dis Gustav. Sy vou eers die japon stywer om haar lyf voordat sy die deur oopmaak.
“Mag ek binnekom?”
Sy hoor die gejaagdheid waarmee hy dit vra en verwonder haar daaroor. “Natuurlik. Kom in.” Toe sy die deur agter hom toemaak, sien sy dadelik die ontsteltenis op sy gesig. “Wat is fout?” en toe dit vir haar lyk of hy moeilik kry om te praat: “Kom ons stap kombuis toe, dan gaan maak ek vir ons koffie.”
Hy volg haar stilswyend en reageer nie op haar uitnodiging om te sit nie, maar bly in die deur staan. Sy skakel die ketel aan, loop dan terug tot voor hom. “Wat is fout, Gustav? Het jy slegte nuus gekry?”
“Sy is hier,” sê hy soos iemand wat bedwelm is.
Esbeth weet nie van wie hy praat nie. “Wie is hier?”
“Selma, my gewese vrou.”
Dis