Biegbrief en ander verhale
Esta Steyn
Tafelberg
Vir Elna: Jou sagte vlerkies rondom my was ’n hupstoot uit die hemel. Dankie, Sussie!
Ant Liefie se spook
Die sonlig skyn helder by die groot kamervenster in, maar vir ant Liefie voel dit asof daar ’n swart gordyn voor haar hang. Dis soos donker newels. Sy werk noukeurig die laaste paar stukkies wol aan die lappop se kop vas. Gewoonlik is die werk aan die poppe net ’n plesier. Maar nou is sy nie eens lus om te werk nie. Sy is altyd die een wat almal opbeur, nooit kla nie, altyd net blymoedig vorentoe kyk. Wat gaan nou van haar word? Die onsekerheid knaag aan haar. Die ding van die kamer spook in haar kop.
Die naarste van alles is dat sy van g’n sout of water sou wis as dit nie vir Susannatjie was wat haar laas week kom waarsku het nie. Susannatjie is een van die skoonmakers hier in Huis Viljoenshof. Susannatjie het haar kop by die kamer ingesteek. “Ouma Liefie?” Toe maak sy die deur plegtig agter haar toe. Ant Liefie kon sommer die moeilikheid in Susannatjie se twee oë, wat hemelwaarts gestaar het, sien.
“Ek is nou so afgesit, ouma Liefie. Ek dog ek moet vir Ouma kom sê dat Ouma eerder self weet hoe die saak staan.”
Toe vertel Susannatjie haar dat Mildred van der Merwe agter haar kamer aan is.
“Hierdie kamer? Hoekom?” wou sy verbaas wees. “Mildred het mos haar eie kamer op die boonste vloer.”
“Ja, ouma Liefie, maar die saak staan so: Mildred se vriendin, Dolores Fourie, het ook aansoek gedoen om ’n plek en hulle twee wil nou kwansuis saam in een kamer wees. Nie enige kamer nie, Ouma. Hierdie kamer. Dis nou die ding. Hulle soek ’n dubbele kamer met die groot vensters wat noord kyk. Hulle is klaar besig om met Matrone te praat.”
’n Lig het vir ant Liefie opgegaan. “Dis hoekom ou Mildred deesdae so oorloop van vriendelikheid?”
“Dis nooit anders nie, Ouma. En dis hoekom sy en Dolores laas Dinsdag wat Ouma skuinsgelê het, hier in die gange gedwaal het. En wat ek weer sien, toe maak hulle Ouma se deur oop en hulle loer in die kamer rond soos twee spioene wat die plek bespied.”
“Was hulle hier in my kamer, Susannatjie?”
“Ek sweer met my hand op my hart, ouma Liefie. En die een sê toe nog watse gordyne hulle gaan ophang en waar hulle die ekstra bed gaan inskuif. Dis toe wat ek inkom en vir hulle sê dis nie nou kuiertyd nie, ouma Liefie slaap. Toe loop hulle maar, hand om die nek, soos twee verliefdes. En dit giggel en dit gesels. Rosie in die kombuis kan dit beaam, Ouma. Rosie sê sy het gehoor die twee ken mekaar al van kindertuin af op Baanbrekersfontein.”
“Ek weet nie wat om te dink nie, Susannatjie. Toe ek aansoek gedoen het, het ek uitdruklik vir Matrone gesê ek moet ’n dubbelkamer hê vir my werkstafel en my naaimasjien.”
“Ek weet ook nie wat om te dink nie, Ouma.”
“Ek het twee jaar gewag om die kamer te kry.”
“Ja, ek weet. Ouma het nog daai tyd gewag vir miss Petronella van Niekerk om afgesterwe te kom.”
“Ek onthou, ja,” het ant Liefie diep gesug. “Dankie dat jy kom sê het, Susannatjie.”
Dat dié twee oujongnooiens darem sulke rugstekers is. Hulle sal seker nie skroom om nog geld ook onder die tafel deur te stoot om die kamer te kry nie. Albei skatryk. Vir wat kry hulle nie vir hulle ’n ander plek nie? Daar is juis so ’n groot nuwe oord wat onder by die dam gebou word. Luuks, sê die mense. Net vir die elite wat geld het. Dis nou net van suinigheid dat hulle hier in Viljoenshof wil wees. Dié plek is vir pensioentrekkers, nie vir grand ou ladies soos hulle wat elke dag net wil aantrek nie.
Ant Liefie is nie een wat maklik huil nie. Nou voel sy hoe trane oor haar wange loop. Hierdie kamer is haar hawe. Dis die enigste hoekkamer op die grondvlak wat twee groot vensters het. Sy kyk na die lang tafel met al haar poppe. Baie poppe, wat deur haar eie twee hande gemaak is. Elkeen verskillend. Elkeen met sy eie ou storietjie. Dis hier by dié tafel waar sy haar dae deurbring. Die groot vensters gee genoeg lig sodat sy al die fynste afronding aan die poppe kan doen. Partykeer word haar rug moeg van so sit, maar dan weet sy weer dat sy moet aanhou, want iewers in ’n kinderhuis is ’n ou kleintjie wat haar lappop sal vashou en troos sal kry uit die sagte lyfie. Ja, die poppe is deel van haar lewe. Dis haar manier om ietsie van haarself te gee. Partykeer kom help Susannatjie haar om die lyfies te stop. Dis ’n groot werk. En so met die werkery het sy en Susannatjie al bondgenote geword. Dis net ’n genade dat Susannatjie haar kom waarsku het. Nou weet sy ten minste wat om te wagte te wees. Sy sal hier moet uittrek na een van die klein kamertjies. Net die gedagte daaraan maak die swart gordyn voor haar al hoe digter. Dis nou al dae lank dat sy nie eers behoorlik kan eet nie. Sy wurg maar net iets in om die bloeddrukpil gedrink te kry. Hoe gaan sy haar poppe opgeruim kry? Al die klomp oorskietlappies, die boksies met die glasogies, die flessies vol knope, die sakke vol wol. Dis ’n hele kas vol goed.
Sy vryf haar gladde grys hare agtertoe en dan sit sy weer roerloos, die helder blou oë wat so ondeund kan lag, starend. Daar is nog vyf poppe wat moet klaarkom, voordat sy die besending vir Klein Faan moet gee om afgelewer te word, maar sy is te beswaard om verder te werk. Sy staan op en haal oorle’ Abraham se portret van die rak af. Sy kyk diep in sy bruin oë. Hy het altyd die snaaksste sêgoed gehad: As jy die vyand wil wen, moet jy hom leer ken.
Sy haal die wit teekoppie met die pienk rosies uit die kassie en skakel die ketel aan. Die ketel het deesdae die manier om halfpad op te hou kook en dan ná ’n rukkie weer aan te gaan. Sy sal vir Klein Faan moet vra om daarna te kom kyk. Want dis nie net die ketel nie, dis ook die bedlampie wat tydig en ontydig flikker.
Sy staan meteens doodstil. Sy is nie een vir die bonatuurlike dinge nie, want dis uit die bose. Maar sê nou dis Abraham wat iets vir haar wil sê? Geeste het mos die manier om deur krag en ligte te werk.
“Wat is dit, Abraham?” fluister sy dringend.
Daar’s net ’n doodse stilte uit die portret. Maar ant Liefie bly so staan. Sy roer nie. Sy dink. En sy voel hoedat die swart gordyn effentjies oplig.
As jy die vyand wil wen, moet jy hom leer ken.
Baanbrekersfontein? Dis wat Susannatjie gesê het. En dis mos waar haar ou neef, Michiel du Preez, destyds die posmeester was. Daar moet darem seker een of ander geraamte wees wat uit ou Mildred of ou Dolores se kaste kan tuimel.
Dis ’n gesukkel om by Michiel uit te kom. Hy’s lank nie meer op Baanbrekersfontein nie. Hy sit op Hermanus in ’n aftreeoord en hy is so bly om van haar te hoor dat hy glad nie wil ophou praat nie. Dit raak later ’n kwartier en Michiel praat net oor al sy ellendes. Hy begin met sy knievervanging en hy gaan breedvoerig met haar deur al die dokters en die ondersoeke, tot by die uitgroeisels op die dikderm. Toe hy klaar is met die derm, vat hy haar verder tot by die prostaat.
Uiteindelik vra sy: “Michiel, onthou jy nog vir Mildred van der Merwe?” Toe Michiel met allerhande stories van Baanbrekersfontein vorendag kom, weet sy skielik voor haar siel wat om te doen. Teen die tyd dat sy die foon neersit, is haar kop vol vreeslike planne. En sy sal moet gou speel, want sy weet nie hoeveel tyd sy het voordat Mildred en Dolores toeslaan nie. Dis haar kamer hierdie en dis nou ’n kwessie van oorlewing. Susannatjie sal haar moet help. Dis nou of nooit.
Susannatjie slaan haar oë hemelwaarts. “Heiden help, ouma Liefie, ek weet darem nie. Maar as Ouma dink dit sal werk, dan is ek in.”
“Dankie, Susannatjie. Ons sal maar net moet oefen en beplan.”
“Soos ’n full dress rehearsal, Ouma?”
“Net so. Jy moet binne twee minute deur die badkamervenster kan klim.”
“Die venstertjie is klein, ouma Liefie.”
“Jy’s mos ook klein. As jou kop kan deur, dan kan jou lyf ook deur.”
“Ek sal try, ouma Liefie.”
“En niemand moet jou sien nie. En jy sê vir niemand nie. Ook nie vir Rosie nie. Verstaan jy?”
Susannatjie druk