Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу
nie. Die argeologiese oog kyk ver terug die verlede in en sien die kinders onder die wilde lukwartbome speel – die m’hoba-hoba soos hulle in hierdie geweste bekend staan. Hy sien hulle onder die denne- en bloekombome opgroei. Hy sien die priesters met hul vleklose gewaad en somber, gerimpelde gesigte met donker, stip starende oë al langs die geheime wandelgang beweeg na die offersaal waar wierookbakke en fakkels groteske skaduwees op die ruwe klipmure gooi, terwyl die lykwit hande van die hoëpriesters omhoog gerig word in aanbidding tot die gode van hul voorvaders, die groot en magtige Baäl – Astarte.

      Op die agtergrond klink die temerige gesang van die tempeldienaars op teen die sterwende dag en die moeë delwer na die goud in die boesem van die aarde keer met langsame tred terug na die veiligheid en rus binne die ommuurde stad en vesting. Daar sal hy veilig wees tot môreoggend, wanneer die jubelsang van die priesters met wierookdampe meng terwyl ’n nuwe dag van arbeid en aanbidding aangekondig word en Baäl op sy vurige koets die donker horison breek om sy kinders met nuwe warmte en bloed te besiel.

      Maar wat het van hulle geword – van die kinders onder die m’hoba-hoba, die delwer wat saans huis toe kom, die priester met die wierook en die brandende fakkel? Watter tragedie het hom eeue gelede hier afgespeel sodat geen oorblyfsel van sy bewoners gevind kan word nie? Geen beendere, geen grafte is nog gevind om die mantel oor die swyende misterie te lig nie. Wat het geword van hulle wat hier gesterf het? Waar is hul beendere gebêre en wat het van die laaste lewendes geword?

      Hoe kon die eeue oue geskiedenis hulle so ingesluk het dat daar selfs geen oorlewering, geen legende, geen enkele storietjie van hierdie sonaanbidders en ambagsmanne vertel kan word nie of opgeteken staan êrens op ’n ou perkamentrol of ingebeitel is in die seepsteen wat hierdie mense vir hul beeldhoukuns gebruik het nie? Hoe is dit moontlik dat ’n hele ras van ontwikkelde intellek van die aardbodem kon verdwyn sonder dat iemand weet wat gebeur het?

      En ’n entjie van die diep ingedagte Jan Basson af staan die speurder. Ook Gustaf Lenard se blik rus peinsend op die bewakers van ’n eeue oue geheim. Maar sy gedagtes vaar in ander kanale as dié van die argeoloog hier digby hom. Sy geestesoog sien nie spelende kinders onder die bome, die gouddelwer van eeue gelede terugkeer na die vesting, die lang, wit kleed van die hoëpriester of die wierookdampe van aanbidding opstyg nie.

      Hy sien maar net murasies voor hom, byna onooglik in die gloed van ’n helder son. Tog, soos die jong meisie aan sy regterkant, waar sy ook die ruïnes intens staan en beskou, voel hy dit ook aan . . . ’n gevoel asof die ruïnes nie werklik so verlate en onbewoon is as wat dit in die helder sonlig daar uitsien nie, nie werklik so leeg en sonder lewe is as wat dit wil voorkom nie. Ook hy, nes Sandra langs hom, ervaar daardie eienaardige, onverklaarbare gevoel . . . Êrens, diep in die aarde se ingewande, op ’n geheime, verskuilde plek waar geen menslike hand nog gedelf en geen menslike blik nog gerus het sedert sy bewoners eeue gelede in die niet verdwyn het nie, klink ’n hartklop moeisaam, swaar . . . en vol boosheid.

      Skielik is dit nie meer vir hom so onaanneemlik dat ’n bloedlose lyk in die omgewing van die ruïnes gevind is nie. Op ’n onverklaarbare wyse voel dit vir hom op hierdie oomblik asof dit so hoort. Dit maak sin.

      Dis Sandra wat eerste die stilte verbreek.

      “Doktor Basson, weet jy wat Nina Andrews makeer?”

      Ook Gustaf kyk belangstellend op toe Basson sy kop skud.

      “Nie juis nie. Ek kan nie onthou of Andrews my dit self vertel het en of ek dit by iemand anders gehoor het nie, maar sy het glo die een of ander soort kanker. Hoekom?”

      Sandra frons.

      “Ek weet nie. Ek het sommer netnou aan tafel skielik ’n gedagte gekry.” Sy kyk op. “Julle het seker gisteraand gemerk toe sy opgestaan het om kamer toe te gaan. Dit was asof sy ’n oomblik duiselig was. Haar man moes haar ondersteun. Vanoggend, terwyl ek aan die ontbyttafel gesit het, het ek gesien dat sy weer na die deur­kosyn moes gryp. Ek het gewonder of hierdie vrou nie miskien ook dieselfde aandoening onder lede het as die ander nie. Maar as jy seker is sy het kanker . . .”

      Basson frons.

      “Wel, as sy miskien ook die vreemde aandoening onder lede het, reageer sy beslis nie soos die ander nie. Dan hou sy al drie maande uit, want dis so lank as wat ek al hier is.”

      Sy frons verdiep nog meer. “Julle weet, daar is vir my ook iets eienaardigs aan hierdie vrou se toestand. In die drie maande dat ek hier is, was daar tye dat sy werklik baie goed gelyk het. Amper gesond, sal ek sê. En dan, skielik, versleg haar toestand weer dat ’n mens haar selfs dae lank nie sien nie, wanneer sy pal in die bed lê.”

      Daar is ook ’n skerp frons tussen Gustaf se wenkbroue.

      “Dit kan ook wees dat sy die een is wat die ander aansteek, onbewustelik natuurlik. Dit sal ’n verklaring wees vir my interessante ontdekking gisternag.”

      “Gisternag?” Doktor Basson kyk fronsend op.

      “Ja. Ek het al die name van die toeriste wat al gepla was met hierdie vreemde aandoening in Ruined Paradise se besoekersboek gekry. Ek kon nie een van die name in die besoekersboek van enige hotel of vakansieplek in die omtrek kry nie. Dis hoekom ek op Ruined Paradise beland het. As hierdie vrou dus moontlik die draer van ’n geheimsinnige, sê, tot dusver onbekende kiem is, is dit heel eenvoudig hoekom die toeriste wat van die vakansieplaas gebruik maak, ook aangetas word.”

      Sandra kyk hom fronsend aan.

      “Tot daar hou jou hipotese steek, maar nie verder nie. As hierdie vrou dan die een of ander geheimsinnige aansteeklike siekte het wat deur ’n kiem op haar gaste oorgedra word, wat dan van die feit dat die mense net nadat hulle Zimbabwe verlaat weer net so wonderbaarlik herstel? Sal daardie geheimsinnige kiem dan juis net op Ruined Paradise floreer en ’n skielike dood sterf sodra die lyer die vakansieplaas verlaat?”

      Gustaf glimlag en knik goedkeurend sy kop.

      “Fyn beredeneer, my klein verslaggeefster! Jy het heeltemal gelyk. ’n Kiem kan dit nie wees nie. Sonder ’n kiem kan die siekte nie aansteek nie. Buitendien, daar is nog ’n eienaardigheid wat hierdie hipotese die nekslag toedien. Daar word nooit meer as een mens op ’n slag swak nie. As dit dus iets aansteekliks is, sal meer as een mens tog gelyk aangesteek word, nie waar nie? Dus, die hipotese dat mevrou Andrews ’n geheimsinnige, aansteeklike siekte onder lede kan hê wat die oorsaak van hierdie misterieuse aandoening onder toeriste is, hou nie steek nie. Ek dink ons kan met veiligheid aanvaar dat sy het wat daar beweer word: kanker.”

      “Wat van Sandra se hipotese dat Nina Andrews ook die geheimsinnige aandoening onder lede kan hê?” wil Basson weet, maar Gustaf skud weer sy kop.

      “Nee, ek twyfel. Onmoontlik is dit natuurlik nie, en ek dink dit sal die moeite loon om te probeer vasstel wie haar dokter is en die diagnose van kanker deur hom te laat bevestig, maar ek twyfel sterk of haar swakheidsimptome iets met die vreemde aandoening te doen het. As sy wel kanker het, soos wat ek glo, kan ’n mens haar swakheid heeltemal begryp. Afgesien van die invloed wat die kanker self op haar sisteem sal hê, moet ook die geestelike uitwerking van so ’n ongeneeslike siekte op die mens in ag geneem word. So ’n mens gaan onder geweldige spanning gebuk, om nie te praat van vrees vir moontlike dood nie, asook slapeloosheid en dies meer. Al daardie dinge sal meehelp om so iemand se weerstand nog verder af te takel. En dan het mevrou Andrews nog ’n ander groot probleem wat haar seker baie slapelose nagte besorg.”

      Sy oë is op Sandra gerig en laasgenoemde knik bekommerd.

      “Wat bedoel jy, Gustaf?” wil Basson weet.

      “Laat Sandra jou vertel wat sý gisternag vasgestel het. Maar op een voorwaarde, doktor. Jy gaan niks probeer doen daaromtrent nie. Laat dinge hul gang gaan.”

      Basson frons verward, maar knik geredelik en Sandra vertel hulle breedvoerig van wat in die kamer langs hare gebeur het. Doktor Basson lyk bekommerd en ontsteld toe sy eindelik stilbly.

      “Ek weet van niks af nie. Ek sou nooit kon droom nie . . . Hemel, ek wonder hoe lank gaan dit al aan?”

      “Dit weet ons nie, maar dat hierdie verhouding nou vinnig na ’n klimaks vorder, is seker.