Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу
as Gustaf Lenard die volgende is? Wat as dit hy is wat in sy gemaklike pas begin struikel, ’n swakheid skielik die sterk, jong liggaam aftakel . . . ’n geheimsinnige aandoening waarvoor daar geen genesing is nie behalwe om weg te vlug? En soos sy Gustaf Lenard hierdie afgelope paar uur leer ken het, sal hy nie wegvlug nie. Hy sal bly en . . . miskien sterf.

      Daar is skielik ’n koudheid in Sandra Steyn se hart. En ’n vrees . . . ’n vrees wat sy nie in woorde kan uitdruk nie. Meteens is dit vir haar asof sy met doktor Basson wil begin saamstem. Hulle het ’n stryd aangeknoop met iets groters en magtigers as waarvan hulle, sy en Gustaf, ooit kan droom. Dis of daar iets boos in die hele atmosfeer skuil, ’n mag waarteen selfs die knap speurder magteloos is.

      Met ’n ernstige gesig stap sy die sitkamer binne waar hulle die geklingel van teekoppies hoor. Weer is dit Dianne wat met die teepot besig is en die gasvrou staan eenkant en toekyk. Dickens en Powell is reeds daar en so ook Phil Andrews wat by die kombuisdeur inkom. Maar ’n vreemde stilte heers in die vertrek, asof niemand juis iets het om te sê nie.

      Gustaf buk skielik langs haar en hou iets na haar uit.

      “Dit het uit jou rompsak geval.”

      “O, dankie. Dis ’n serpie wat ek by die ruïnes opgetel het. Ek het gedink om dit maar vir jou te gee, mevrou. Jy kan dit dalk vir ’n huishulp gee of . . .”

      Sy breek haar sin kort af en kyk verbaas na Nina Andrews wat na die serpie in haar hand staar asof dit ’n slang is. Onwillekeurig dwaal haar blik na Phil Andrews en ook hy staar met belangstelling daarna. Sy kyk af na die serpie en wonder verward wat hulle so interessant vind. Só uitsonderlik is dit nie. Half onbeholpe eindig sy: “Ek weet nie eintlik wat om daarmee te maak nie. ’n Mens weet nie hoe lank gelede dit daar verloor is nie. Maar dit lyk nog skoon en taamlik nuut.”

      Nina Andrews glimlag, maar dis of dit stram en styf is, al haar inspanning kos. Sy hou haar hand uit.

      “Dankie. Ek sal dit vir die kok gee.”

      Sandra kan niks anders doen as om dit te oorhandig nie, en dadelik draai Nina om en verdwyn in die rigting van die kombuis. Sy maak nie weer haar verskyning nie en die tee word in stilte gedrink. Gustaf probeer darem dapper ’n soort gesprek aan die gang hou.

      “Hoe lank het jy al die vakansieplaas, meneer Andrews? Of is jy maar oorspronklik van hierdie wêreld?”

      Dis of Phil Andrews sy gedagtes van ’n nie te aangename onderwerp moet terugruk om op Gustaf se vraag te konsentreer.

      “Ekskuus? O! Nee, meneer Lenard, ons is nog nie ’n volle jaar hier nie. Ons was aan die rondreis toe ons op hierdie plek afgekom het. My vrou het dadelik van die plek gehou en toe het ons besluit om dit maar te koop. Gelukkig was dit in die mark!”

      “Ek verstaan.” Dit lyk asof Gustaf nog iets wil vra, maar Phil staan vinnig op nadat hy sy koppie tee met byna een teug gesluk het en verdwyn met ’n gemompelde verskoning in die rigting van die kombuis.

      Ook Dianne maak verskoning en stap uit. Hulle sien deur die oop venster hoe sy in die rondawel verdwyn wat as kantoor vir doktor Basson beskikbaar gestel is.

      Sandra staan op om nog ’n koppie tee vir haar te skink, maar sien dan dat die melkbekertjie leeg is. Met die bekertjie in haar hand stap sy na die kombuis. Sy het die deur halfpad oop toe sy in haar spore tot stilstand kom.

      “In vadersnaam, Nina, kan jy nie daar wegbly nie? Jy wás weer daar. Dis jou serp daardie. Moenie lieg nie!”

      “Eina, Phil! Jy maak my seer!”

      ’n Gedempte vloek klink op, gevolg deur ’n dowwe slag soos wanneer iemand teen ʼn kas stamp.

      “Eendag is eendag, Nina . . . jy gaan te ver! Ek waarsku jou!”

      Dan klap die agterdeur toe en Sandra hou asem op. Sy wag nog so ’n paar tellings. ’n Sagte snik klink op. Dan stap sy die kombuis binne en hoop maar net dat haar gesig nie haar ontsteltenis verraai nie.

      “Ek het net ’n bietjie melk kom haal . . .” Dan rek haar oë groot en sy stap vinnig na die hoek waar Nina soos ’n lappop oor die hoek van die kombuiskas hang. “Mevrou! Wat makeer? Het jy geval?”

      Nina se lippe bewe onbedaarlik, maar sy byt hard op haar onderlip en laat dapper hoor, haar blik afgewend.

      “Ek het gegly. Die hoek van die kas het my getref. Dis alles reg. Ek sal nou beter voel, dankie. Die melk is in die . . .”

      Sandra sit die melkbekertjie neer en slaan ’n arm om die skraal skouertjies en help haar teer orent, terwyl dit binne-in haar kook. So ’n bullebak! Om sy sieklike vrou teen die kas te gooi! En dan beskerm sy hom nog! Haar stem is vol deernis.

      “Kom, ek help jou kamer toe. Gaan lê so ’n bietjie totdat jy beter voel. Waar het die kas jou seergemaak?”

      Maar Nina skud net haar kop asof sy nie in staat is om te praat nie, die groot, blink trane ongestort in haar oë.

      Toe hulle deur die sitkamer stap, kyk die mans hulle verbaas aan en Sandra verduidelik vinnig: “Sy het gegly en teen die kombuiskas geval. Ek wil haar net kamer toe help.”

      Daar is iets in Sandra se oë, ’n boodskap wat Gustaf vinnig laat nader staan.

      “Kom, ek dra jou sommer.” Hy voeg ook sommer dadelik die daad by die woord en lê haar versigtig op die bed neer. Sy glimlag bewerig na hom op en fluister dankbaar: “Dankie. Dis gaaf van jou. Ek . . . ek sal nou regkom, dankie.”

      Sandra buk bekommerd oor haar.

      “Kan ek nie iets vir jou bring nie? ’n Pil of ’n bietjie water?”

      “Nee, dankie. Ek sal nou-nou reg wees. Ek wil net ’n paar minute rus. Gaan drink asseblief jul tee klaar. Jammer dat ek so lastig is.”

      Hulle kan niks anders doen as om die kamer te verlaat en die deur saggies agter hulle toe te trek nie. Die twee Engelse verneem beleef hoe dit nou met hul gasvrou gaan en lig haar dan in dat hulle weer teruggaan na die ruïnes. Toe hulle uit is, wink Sandra vir Gustaf na die verste hoek van die sitkamer en vertel hom op ontstoke fluistertoon wat werklik in die kombuis gebeur het. Gustaf lyk geskok.

      “Andrews het vir my nie na ’n man gelyk wat sy sieklike vrou sal aanrand nie.”

      “Wel, hy het, en daardie man moet van nou af uit my pad bly. Ek sal my beswaarlik beskaaf teenoor hom kan gedra as so iets weer moet gebeur.”

      Gustaf staar fronsend na die toe kamerdeur, sy stem gedemp.

      “Maar hoekom sou hy so kwaad geword het toe hy besef sy vrou was by die ruïnes?”

      “Ek verstaan dit ook nie . . .”

      Skielik klink daar ’n dringende stem in die voorportaal op en die volgende oomblik sien hulle Dickens se verskrikte gesig. “Kom gou! Kom help! Powell het flou geword . . . of lam . . . ek weet ook nie. Hy lê daar onder in die pad!”

      4

      Sandra en Gustaf verwissel ’n vinnige blik voordat hulle agter Dickens aanstorm. Toe hulle buite kom, sien hulle Powell ’n entjie verder in die voetpad lê. Gustaf is eerste daar en hurk langs hom.

      “Meneer Powell, hoe voel jy?”

      Die man kyk half verdwaas na Gustaf op asof hy self nog nie kan glo dat so iets met hom gebeur het nie. Sy stem klink egter sterk.

      “Ek voel heeltemal goed. Dis net dat . . . my bene skielik onder my ingegee het. Ek het sommer net . . . net swak gevoel. Ek kan dit nie begryp nie.”

      Sandra hurk aan die ander kant.

      “Het jy nie pyn iewers nie?” wil sy weet en bid in haar hart hy moet bevestigend antwoord. Maar weer skud hy sy kop.

      “Nee. Ek makeer niks nie. Ek voel soos altyd. Miskien is dit maar die son wat my so laat voel.”

      “Twak, John,” laat Dickens bekommerd hoor. “Jy is gewoond aan son en dis nog skaars halftwaalf.”