Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу
Basson knik.

      “Dis waar, ja. Toe ek hierheen moes kom vir argeologiese navorsing, was ek baie bly toe ek van die vakansieplaas verneem het.”

      “Maar is dit nie ’n bietjie ver van jou werk af nie?” wil Gustaf van die argeoloog weet, ’n man van seker so vroeg in die vyftig. “Ek neem aan jou navorsing is in verband met die ruïnes, nie waar nie?”

      “Ja. Die ewige soektog na die geheim van Zimbabwe,” erken hy met ’n glimlaggie. “Padlangs is dit ver, maar ons gebruik die voetpaadjie. Dis sommer hier by ons as jy kortpad kies. As jy deur daardie venster kyk, kyk jy reg op die ruïnes af.”

      Gustaf draai na sy gasheer.

      “Jy het ’n oulike plek uitgesoek vir jou vakansieplaas, meneer Andrews. Doen die groot hotelle nie baie afbreuk aan besigheid vir jou nie?”

      “Nie eintlik nie. Ek en my vrou verkies net ’n paar mense op ’n keer, want haar gesondheid is nie so goed nie. Ons kry in elk geval genoeg besoekers om die koste daaraan verbonde te regverdig.”

      Dis of hy nog iets wil sê, maar dan is daar ’n beweging by die deur en ’n vrou maak haar verskyning met die teewaentjie.

      Die eerste indruk wat die nuwe aankomelinge van hul gasvrou kry, is dié van ’n delikate, fyn mensie. Sy is ook blond, maar waar Dianne Bougard, doktor Basson se sekretaresse, ’n lang, slanke meisie is, is Nina Andrews kort en baie fyn gebou. Sy wek amper die indruk van breekbaarheid. Toe sy die vertrek dieper inkom en die elektriese lig helder op haar gesig skyn, sien Sandra onmiddellik die spoorlyntjies van rimpels oor die hele gesig raak, en sy kom tot die slotsom dat Nina heelwat ouer as haar man moet wees.

      Sy groet die nuwe gaste vriendelik en draai dan na Dianne. “Sal jy die tee skink, asseblief, Dianne? Die ou teepot is so swaar vir my. Nie vir my nie, dankie.”

      Dianne Bougard staan geredelik op, maar tog is daar iets in haar houding, of iets in haar geslote gesig, wat Sandra se aandag trek. Sy het nog die hele tyd nie ’n woord gesê nie, en verrig ook die takie wat so vriendelik van haar versoek is in doodse swye. Sou sy kwaad wees vir iemand? wonder Sandra. Dit wil so voorkom. Sandra loer tersluiks na Gustaf langs haar en sien dat ook hy die blondekop met aandag beskou. Sou dit wees omdat Dianne so aantreklik is, of het hy ook iets vreemds in haar optrede opgemerk?

      Haar blik keer terug na die sekretaresse en op daardie oomblik oorhandig sy Phil Andrews se koppie tee aan hom. Net vlugtig kyk hulle op . . . maar dis ’n intieme blik tussen twee mense wat ’n geheim deel. Langs haar roer Gustaf effens en toe sy opkyk na hom, is sy wenkbroue net so effens gelig. Dan het sy haar dit nie verbeel nie. Hy het daardie blik tussen hul gasheer en die sekretaresse ook gesien.

      Vlugtig dwaal Sandra se blik na die res, en bly dan rus op die blonde vroutjie. Haar ooglede is neergeslaan, maar daar is ’n trek om haar mond, iets soos hartseer en intense weemoed. Skielik kyk die vrou op, reg in Sandra se oë en iets in die blou oë vertel haar dat die vrou wel daardie blik tussen haar man en Dianne Bougard gesien . . . en verstaan het. Asof sy op iets ongeoorloofs betrap is, keer Sandra haar blik vinnig af, maar in haar hart lê daar ’n skielike jammerte vir die vroutjie.

      Dis of die geselskap skielik net nie meer wil vlot nie. Dis of daar skielik iets onverklaarbaars in die atmosfeer ingesluip het. Doktor Basson sit met sy oë stip op sy koppie tee gerig, ’n fyn fronsie op sy goedige gesig. Dianne Bougard het met haar koppie tee gaan sit, haar gesig onpeilbaar. Die here Powell en Dickens lyk ongemaklik, asof hulle ook iets agtergekom het, maar nie presies weet wat aangaan nie. Die gasheer wat ’n rukkie gelede heel gesellig was, sit swyend, sy gesig somber. Nina Andrews sit roerloos, haar hande stil in haar skoot gevou, haar ooglede neergeslaan.

      Sandra draai haar kop liggies fronsend in Gustaf se rigting. Ook hy lyk skielik glad nie soos die gawe, jong man wat haar vroeër in die aand te hulp gesnel het nie. Sy gesig is ook ernstig, sy oë stip – kompleet asof hy elkeen in die vertrek noukeurig opsom en oor elkeen notatjies in sy kop maak. Wat gaan nou met almal aan?

      Die stilte is skielik so onuithoudbaar vir haar dat sy opspring en gemaak vrolik sê: “Jy moet my verskoon, mevrou Andrews, maar ek is versot op tee. Mag ek nog ’n koppie kry, asseblief?”

      “Maar natuurlik. Kry gerus.”

      “Gaan jy nie saam met my ’n koppie drink nie?”

      “Nee, dankie. Regtig nie vir my nie.”

      Dis doktor Basson wat skielik in ’n poging om die geselskap weer aan die gang te kry, opmerk: “Jy het nog nooit saans saam met ons ’n koppie tee gedrink nie, mevrou!”

      Die blonde kop ruk op. Dis amper asof sy skrik. Dan kom haar antwoord bedaard: “Ek hou nie van tee nie, doktor. Dis maar al.”

      Doktor Basson raak effens rooi en trek sy skouers op. Dis Gustaf wat skielik vooroor leun en laat hoor, sy blik op sy gasheer en gasvrou.

      “Ek sien in die koerant julle het onlangs ’n bloedlose lyk hier gehad. Wat kan jy my daarvan vertel, meneer Andrews?”

      Dis ’n geskokte stilte wat volg. Dis of ’n sweep die man tref en langs hom het sy vrou doodsbleek geword. Sandra, en so ook die res, kyk Gustaf verbaas en verwytend aan. Dianne Bougard staan vinnig op en stap uit sonder om om verskoning te vra. Maar Sandra – én Gustaf Lenard – het die vrees in haar oë gesien.

      2

      ’n Oomblik duur die geskokte stilte voort. Dan ruk Phil Andrews hom merkbaar reg. “Niks meer as wat in die koerant gestaan het nie, meneer Lenard. Die oubaas is onverwags oorlede. Dis al.”

      Gustaf klink openlik teleurgesteld. “Ek het gedink jy sal meer weet. Ek is mos gek na moordstories. Dis al wat ek lees.”

      “Maar wat laat jou dink dit was moord, meneer Lenard?” vra doktor Basson fronsend. “Die koerant sê dit nie. Die afleiding wat ek gemaak het, was dat die oubaas hom op die een of ander manier doodgebloei het.”

      Gustaf trek sy skouers op.

      “O, wel, moord of nie moord nie, maar daar is beslis iets eienaardigs aan sy dood.” Hy draai weer direk na die Andrews-egpaar. “Het julle die oubaas geken?”

      “Ja. Nie intiem nie. Hy was eintlik ’n ou kluisenaar. Maar hy het tog soms hier gekom.”

      Sy vrou staan skielik op en dis of sy effens dronk in die kop word van die vinnige beweging, want haar man moet haar ondersteun. Sy glimlag verskonend na haar gaste.

      “Julle moet my verskoon. Ek gaan saans vroeg inkruip,” verduidelik sy teenoor die nuwe aankomelinge. “My gesondheid is maar nie wat dit moet wees nie.”

      Sandra glimlag simpatiek en knik begrypend. Hul gasvrou lyk nog bleek, en in haar hart neem Sandra vir Gustaf kwalik dat hy so ’n onsmaaklike gebeurtenis so blatant opgehaal het. Dit was uiters swak smaak. Die vrou se gesondheid is beslis nie wat dit moet wees nie, en veral omdat hulle die oubaas geken het, moet Gustaf se verwysing daarna haar ontstel het.

      “Sekerlik, mevrou. Ek hoop julle het ’n rustige nag,” sê sy nou en gaan uit haar pad om vriendelik te wees.

      ’n Sagte glimlag verlig ’n oomblik die skraal gesiggie waarop rimpels diep insny.

      “Dieselfde aan julle almal. Dankie, Phil, ek sal regkom,” sê sy in dieselfde asem aan haar man, en stap uit.

      ’n Oomblik ná haar verdwyning is dit weer stil in die vertrek. Dis Phil Andrews wat die stilte eerste verbreek.

      “Wat het jy gesê is jou beroep, meneer Lenard?”

      “Ek het nie gesê nie, maar ek is ’n onderwyser.”

      “Maar hoe is dit moontlik dat jy nou al hier rondrits? Die skole het mos nog nie gesluit nie, of hoe?” vra Sandra voordat sy verder dink.

      Hy kyk haar kalm aan. “Maar ek is met langverlof. Ek begin eers volgende kwartaal.” Sy oë terg skielik. “En wat doen jy, juffertjie, dat jy so alleen die wêreld vol rondrits met ’n gebreekte domkrag?”

      “Ek,