Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу
padgee en ons sal weer net wees waar ons was. As Powell bly, sal ons moontlik iets kan waarneem, ’n vae spoor of leidraad.” Daar is ’n geïrriteerde frons tussen sy wenkbroue. “Ons tas in die donker rond. Daar is geen vastigheid waarop ek kan werk nie, nie werklik nie. Eintlik sit ek nog tot dusver net met ’n spul hipoteses en veronderstellings en ’n klomp los drade wat moontlik niks met mekaar te doen kan hê nie, soos die Andrews-egpaar, byvoorbeeld.”

      “Die Andrews-egpaar!” Johnson lyk verbaas. “Wat bedoel jy?”

      “Net dit: albei is vir my . . . eienaardig, veral die vrou. Ek weet nie eintlik hoe om haar te beskryf nie.”

      Hy skets kortliks die vrou se eienaardige siektetoestand wat miskien ook nie eienaardig is as ’n mens presies kan weet wat sy makeer nie. “Ek sal wat wil gee dat jy haar ondersoek, maar dis natuurlik heeltemal buite die kwessie. Gister was sy swak, soos ’n mens ná ’n lang siekte, onvas op haar voete, en so meer. Vanmiddag het sy skielik wonderlik beter gelyk en skielik daarna het sy só verswak dat sy in ’n koma was toe ons daar weg is.”

      Johnson frons.

      “Dit klink eienaardig, maar tog moontlik. Dit kan wees dat die vrou ook neuroties is, afgesien van die feit dat sy kanker het, soos wat jy sê Basson vertel. ’n Ongeneeslike siektetoestand kan ’n geweldige invloed op die gees van die mens hê, en dit kan wees dat dit eerder geestesmarteling is wat haar toestand so laat verander as die kwaadaardigheid op sigself. Ek kan natuurlik geen diagnose waag sonder om haar deeglik te ondersoek nie. En soos jy gesê het, is dit buite die kwessie. Nina Andrews is ’n private pasiënt en as sy my nie self nader en vra nie, kan ek niks doen nie. Ek het haar seker maar nog net twee keer gesien. Ek was een keer daar, onthou ek, oor ’n huishulp van haar. Die tweede keer was ek op pad na Morgenster en het toe daar aangegaan om iets koels te drink. Albei kere het die vrou vir my nie gesond voorgekom nie.”

      “Van watter Morgenster praat jy?” wil Sandra weet.

      “Dis die sendingstasie ’n entjie anderkant die vakansieplaas.” Hy kyk Gustaf ernstig aan. “Maar dink jy daar is ’n verband tussen Nina Andrews se toestand en die ander gevalle? Op watter wyse?”

      Gustaf skud sy kop en sug.

      “Ek weet nie. Eintlik voel ek dat sy ’n heeltemal aparte en normale geval is wat niks te doen het met die ander ding nie. Maar tog is daar iets wat ek nie kan plaas nie, en ek sal baie graag haar dokter wil opspoor en ’n bietjie met hom gesels. Net om heeltemal seker te maak sy is wat hulle sê sy is: ’n kankergeval en klaar.”

      “Wel, ek neem aan dat as sy ’n dokter het, sal dit een van Masvingo wees. Ek kan navraag doen as jy wil.”

      “Asseblief. Ek sal bly wees. Laat ons eers gaan eet. Daar lui die klokkie.”

      Op pad na die eetkamer stap hulle verby ’n private kroeg en dis Sandra wat net terloops by die oop deur inkyk en dan byna gaan stilstaan van skok.

      “Gustaf! Het jy gesien wie is daar binne?” Toe hy ontkennend knik, laat sy ontstoke hoor: “Dis die heer Phil Andrews in intieme gesprek met Dianne Bougard by ’n tafeltjie in die een hoek.” Haar oë blits. “En dit terwyl sy vrou bewusteloos siek by die huis lê!”

      Gustaf neem haar kalmerend aan die arm en wink vir Johnson.

      “Dit sal te opsigtelik wees as ek nou daar instap. Ons gaan solank eetkamer toe. Stap jy daar in en bestel ’n drankie en kyk hulle goed deur net om seker te maak dit is hulle.”

      Enkele minute later sluit Johnson hom weer by die ander twee aan. Hy knik, sy gesig bekommerd.

      “Dit is hulle. Dit is in elk geval beslis Andrews. Die blonde meisie, neem ek aan, is Basson se sekretaresse. En albei, lyk dit my, het dit al taamlik hoog deur.”

      “Daar is die spyskaart,” laat Sandra hoor, maar haar gedagtes is besig met die twee in die private kroeg.

      Gustaf staan vinnig op terwyl hy die kelnerin met die spyskaart wegwys.

      “Kom.”

      “Waarheen?”

      “Terug. Ons kan nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie. Andrews is uit die pad en sal seker nie gou terugkeer nie. Dis nou jou kans om Nina Andrews te ondersoek.”

      “En as sy my nie wil toelaat nie?”

      Gustaf glimlag grimmig.

      “Jy vergeet, my vriend, sy is in ’n koma. ’n Mens in ’n koma het niks te sê nie. Kom. Gou.”

      5

      Op pad terug na die plaas toe, is dit die eerste ruk doodstil in die motor. Op al drie gesigte is ’n frons en dan laat Johnson eindelik hoor: “Ek hou nie van hierdie ding nie, kaptein. Ek kan in die moeilikheid beland!”

      “Nee, jy sal nie. Ek gee jou daardie waarborg. Ons stap net eenvoudig daar in en indien sy nog bewusteloos is, ondersoek jy haar. Niemand hoef ooit iets daarvan te weet nie. Is sy reeds by, sê ons net dat jy toevallig daar aangekom het en omdat ons weet dat sy siek is, het ons gewonder of jy haar nie miskien kan help nie, al is jy nie haar dokter nie. Weier sy dan summier dat jy aan haar raak, is dit tot daarnatoe.”

      Maar Johnson is nog glad nie gerus nie.

      “En wat as haar man miskien onverwags op die toneel verskyn?”

      “Dan hou ons ons die onskuld self, en vertel hom dieselfde storie. Ek kan nie dink hoe jy oor so iets in die moeilikheid kan kom nie. Jy doen mos maar net jou menslike plig, nie waar nie?”

      Daarna raak dit weer stil in die motor totdat hulle by die vakansieplaas se hekke inswaai en die ligbaan van die motor op die voordeur val. Hulle sien tegelykertyd die man wat op die stoeptreetjies staan. Toe die motor tot stilstand kom, is Basson dadelik by. Hy lyk ontsteld.

      “Waar, in hemelsnaam, was julle? Hier is geen mens nie. Ek het my al half mal gesoek!”

      “Hoekom? Het hier iets gebeur?”

      “Nie juis nie, behalwe dat hier ’n motor vol toeriste aangekom het wat hier wou oornag en ek is toe al lewende siel in hierdie grote plek. Almal het soos mis voor die son verdwyn. Ek kon toe niks anders doen as om die mense die pad na die naaste hotel te beduie nie. Ek kan hulle mos nie sommer slaapplek gee nie.”

      “Wat bedoel jy jy is al lewende siel hier? Wat van Powell en Dickens en al die ander?” vra Gustaf skerp, en Basson waai ergerlik met sy hand.

      “Ek praat nie van hulle nie. Maar die res is almal weg. My sekretaresse, julle, die baas en sy vrou . . .”

      “Nina? Maar dis onmoontlik!” protesteer Sandra. “Sy is dodelik siek in die bed. Het jy geklop, doktor?”

      “My malle verstand af. Toe sê ’n huishulp vir my sy is siek. Omdat ek toe nie antwoord kry nie, word ek bekommerd dat sy miskien iets oorgekom het. Ek gaan roep toe by die venster en ten einde raad skuif ek toe maar die gordyn weg, want die venster het gelukkig op ’n skrefie oopgestaan. Daar was niemand in die kamer nie. Die bed is deurmekaar, maar daar is geen spoor van mevrou Andrews nie.”

      Daar heers ’n oomblik stilte asof almal te verslae is om te praat.

      “Is julle baie seker mevrou Andrews was in ’n koma?” wil die distriksgeneesheer skepties weet en Sandra draai vinnig na hom.

      “Baie beslis. Ek weet hoe lyk ’n mens wat in ’n koma is. Ek het al hope gesien. Ek sê jou, daardie vrou was ernstig siek, baie ernstig siek en in ’n koma toe ons hier weg is.”

      “Sandra het gelyk. Ek het haar ook gesien en dit is so,” staaf Gustaf. Hy skud sy kop. “Maar omdat sy nie in haar kamer is nie, beteken dit nie dat sy skielik wonderbaarlik gesond geword en selfs verdwyn het nie. Sy kan . . . verwyder wees.”

      “Maar hoekom?” wil Basson vinnig weet. “Hoekom sal iemand so iets doen?”

      “Ja-nee, ek weet ook nie . . . Dan is sy in elk geval nie deur haar man verwyder nie, soos jy dit stel. Hy sit en drink saam met sy meisie