Voorloper
1“Die één wat vandag moeilikheid maak (cause trouble), kry pouse met my te doen! Ek’t nie lus om die hele periode om die veld te draf nie,” waarsku Ruan stomend. Hy haat dit om, soos hy dit stel, “soos ’n gek” om die atletiekbaan te hardloop. Die graad 7C’s sukkel voort.
2“Ek help jou!” roep Dewald hortend.
3“Wat laat jou dink ek’t jóú hulp nodig?” kap hy. “Dit lyk in elk geval nie asof jy dit gaan oorleef nie, jou gesig is so rooi soos ’n tamatie.”
4Die ander lag. Slegs op een gesig is daar tekens van lekkerkry.
5“As julle manne wil gesels, kan ons nog ’n paar rondtes byvoeg?” skreeu die onderwyser, Meneer Retief, van die kantlyn af.
6“Ek vat sommer vir ou Dik Daan ook pouse vas,” mompel Ruan en gedempte snorke en loerende oë ontsnap uit die groep.
7Daan Retief steur hom vandag nie aan hulle nie. Sy oë is op die nuwe outjie wat ’n ent voor die groep hardloop. Hy blaas vinnig en hard op sy fluitjie. Die seuns storm soos besetenes.
8“Prrrrt,” blaas hy weer en hulle draf weer.
9Hy herhaal die oefening ’n paar maal. Dit lyk nie asof die nuwe seun dit eers voel nie.
10Hy hardloop steeds met gemaklike pas en bene van staal.
11“Tweet!”
12Al klaend nael hulle en kyk vraend om toe hy oudergewoonte nie dadelik weer blaas nie. Slegs enkeles neem die uitdaging aan, met die nuwe seun ver vooruit.
13“Wat is jou naam nou weer?” vra hy toe hulle van die veld af kom.
14“Matthews, Meneer.”
15“Is jy familie van Matthews Batswadi?”
16“Meneer?” die oë is poele vol vraagtekens.
17“Ek sal later verduidelik. Kom sien my na skool, ek wil jou inskryf vir die SA-skole se landloopkampioenskappe in Maart in Durban.”
18Die vraagtekens blom stralend.
(Jax Pretorius. 2012. Ongepubliseer)
Die volgende woordverklarings kan jou help om die storie beter te verstaan.
besetenes – kranksinnige/mal mense
enkeles – net ’n paar
gedempte – sagte
gemaklike pas – hardloop sonder om te sukkel
hortend – met rukke, ongelyk, stamp-stamp
klaend – kla die hele tyd
loerende oë – oë wat loer
nael – hardloop vinnig
oudergewoonte – soos jou gewoonte altyd was
poel – vlak plas water
snorke – wanneer die asem skielik deur die neus geforseer word, en veroorsaak gewoonlik ’n geluid – wys dat ’n mens vies/kwaad is
stomend – warm en hy hyg na sy asem
stralend – straal soos ’n lig/is baie vriendelik
strompel – hardloop op bene wat bewe en moeg is
uitdaging (challenge) – ’n toets om te sien wat jy kan doen
5. Kies die korrekte antwoord.
Die woord “hortend” in paragraaf 2 beteken dat die seuns . . .
a. nie ’n stem het nie.
b. baie honger is.
c. uitasem is van die baie oefening.
6. Die onderwyser se bynaam is Dik Daan. Wat kan ons daaruit aflei?
7. Wat word met die vergelyking in paragraaf 7 bedoel?
8. Voltooi die volgende sin. Die metafoor in paragraaf 10, “. . . bene van staal”, beteken . . .
9. Skryf beskrywende woorde uit die verhaal vir die volgende neer.
Matthews het nie ’n idee waarvan die onderwyser praat nie. (paragraaf 16)
Gebruik die volgende wenke oor soeklees om vrae 10-15 te beantwoord.
Hoe om te soeklees
As jy soeklees, beweeg jou oë vinnig oor ’n bladsy of lys op soek na spesifieke inligting.
Soeklees help jou om feite, datums, name of woorde in ’n teks vinnig op te spoor sonder om die teks te probeer lees of die res van die teks te verstaan.
10. In watter graad 7-klas is Ruan?
11. Skryf die vergelyking neer wat die seun se gesig in paragraaf 3 beskryf.
12. Wat is die onderwyser se van?
13.“Klanknabootsing” is wanneer ’n geluid deur woorde nagemaak word, byvoorbeeld: ’n Kat miaau . Skryf die twee woorde neer wat die fluitjie se geluid beskryf.
14. Wanneer is die SA-skole se landloopkampioenskappe?
15. In watter stad vind hierdie kampioenskappe plaas?
Lees saam met ’n maat.
Lees die verhaal hardop saam met jou maat deur. As julle die eerste keer sukkel om dit vlot te lees, probeer weer totdat julle dit foutloos en vloeiend kan lees.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die kenmerke van ’n kortverhaal ondersoek
vrae oor ’n kortverhaal beantwoord.
Jy het nou al die verhaal “Voorloper” gelees. Lees eers In ’n neutedop om meer uit te vind van karakters.
Karakters
Karakters is die persone in ’n verhaal. Party is belangriker as ander. Die hoofkarakters is die belangrikste mense in die storie.
Karakterisering
Wanneer jy iemand leer ken, besluit jy of jy van die persoon hou of nie. Dit werk dieselfde in ’n storie. Hoe leer jy ’n karakter ken in ’n storie? Deur wat hy sê, wat hy doen, wat ander van hom sê en hoe die verteller hom beskryf. Ons noem dit karakterisering.
Lees die storie weer aandagtig op jou eie deur.
Beantwoord die volgende vrae.
1.Karakters is die mense wat in ’n verhaal optree.
a.Skryf die name neer van die belangrikste karakters (most important characters ) in “Voorloper”.
b. Watter karakter is die hoofkarakter (die belangrikste)? Hoekom sê jy so?
c. Die titel “Voorloper” beskryf eintlik een van die karakters. Watter karakter is dit?
2.Karakterisering is die maniere (the ways ) wat ’n skrywer gebruik sodat die leser die karakters in ’n storie kan leer ken. Teken die volgende tabel in jou boek oor en gee voorbeelde uit die storie van hoe jy die karakters leer ken het. Sekere antwoorde is