Die oorlog kom huis toe. Helen Bradford. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helen Bradford
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624058984
Скачать книгу
Africa.”[3]

      Roberts het Milner se voorstelle gesteun en het dit oorweeg om soortgelyke kampe in die Transvaal op te rig. Die kamp by Bloemfontein het in September 1900 tot stand gekom en op 22 September is dit amptelik bekendgemaak dat kampe vir wapenneerlêers in Bloemfontein en Pretoria opgerig gaan word. In Pretoria is wapenneerlêers in ’n sogenaamde “Rest Camp” (ruskamp) gehuisves wat vantevore as ’n deurgangskamp vir Boerekrygsgevangenes gedien het. Die wapenneerlêers wat in die “Rest Camp” gehuisves is, is later na die Irene-konsentrasiekamp naby Pretoria oorgeplaas.

      Hierdie beskermingskampe het wel die wapenneerlêers se veiligheid verseker, maar dit was ook nodig dat daar vir hul vee voorsiening gemaak moes word. Roberts het bepaal dat waar wapenneerlêers se vee deur die militêre owerhede benodig word, ’n geldige bewys daarvoor uitgereik moes word. Waar die vee nie benodig is nie, sou een of twee lede van ’n familie of ’n aantal wapenneerlêers toegelaat word om op die plase agter te bly en die vee op te pas. Vir dié doel sou hulle ’n beskermingspas kry. Talle wapenneerlêers was egter huiwerig om op hul plase aan te bly, omdat hulle bang was dat hulle deur die Boeremagte opgekommandeer sou word of hul vee sonder vergoeding deur die Britse kolonnes weggevoer sou word. Van die wapenneerlêers het daarom ’n paar skape en beeste na die kampe saamgeneem en dit in die nabye omgewing opgepas.

      Amptelik is die kampe slegs vir wapenneerlêers – en by implikasie hul gesinne – opgerig. Terselfdertyd is vroue en kinders wat deur die verskroeide aarde-beleid dakloos gelaat is, ook daarheen gestuur of gedwing om daar ’n heenkome te vind. Daar was dus nie ’n wesenlike verskil tussen die beskermingskampe en konsentrasiekampe nie. Die Britte het dit ook as “refugee camps” (vlugtelingkampe) bestempel, maar dis ’n misleidende term omdat dit impliseer dat die vroue hulle vrywillig en as “vlugtelinge” daar aangemeld het, terwyl hulle in werklikheid van hul plase afgejaag en gedwing is om na die kampe te gaan.

Een van die honderde Boereopstalle wat in vlamme opgegaan het.

      Daar kan daarom aangevoer word dat die latere en meer uitgebreide konsentrasiekampbeleid teruggevoer kan word tot hierdie pogings om wapenneerlêers te beskerm. Anders gestel, die wapenneerlêers het tot die ontstaan van die konsentrasiekampstelsel bygedra, al was dit op ’n indirekte en onbewustelike wyse, omdat die Britse owerheid genoodsaak was om beskermingskampe vir hulle op te rig waarin daar terselfdertyd ook hawelose vroue en kinders van lojale republikeinse burgers geplaas is.

      Wapenneerlêers kan ook in ’n ander opsig met die kampe verbind word. Sogenaamde burgervredeskomitees, wat uit wapenneerlêers bestaan het, is in samewerking met die Britse owerhede gestig met die doel om die burgers te velde te probeer oortuig dat die stryd verlore was en hulle die wapen moes neerlê. Die vredeskomitees se pogings was grootliks tevergeefs. Etlike republikeinse leiers, asook latere geskiedskrywers, glo lede van die vredeskomitees het die idee van konsentrasiekampe by lord Kitchener, Roberts se opvolger, geplant. Meyer de Kock, ’n burger van Belfast wat as vredesgesant opgetree het en later met sy lewe daarvoor moes boet, word spesifiek daarvan verdink dat hy dié idee aan die Britte verkoop het. Daar is egter nie oortuigende bewyse hiervoor nie. Kitchener het reeds vóór sy ontmoeting met die vredeskomitees dit ernstig oorweeg om die kampe uit te brei. Wat wel waar is, is dat sommige wapenneerlêers hulle ten gunste van so ’n beleid uitgespreek het.

      Die verskroeide aarde-beleid en die kampe

      Benewens die situasie met die wapenneerlêers het die Britte ook al hoe drastieser oorlogsmaatreëls begin toepas namate Boereleiers hulle tot guerrillaoorlogvoering gewend het. As bevelvoerder van die Britse magte het Roberts reeds so vroeg as Maart 1900 beveel dat plaashuise as ’n strafmaatreël vir voortgesette weerstand afgebrand kon word. Dit was bedoel vir gevalle waar kommandolede plaashuise gebruik het as skuilings en om aanvalle op Britse kolonnes en verbindingslinies te loods.

      Onder Kitchener is plaashuise veral vanaf Januarie 1901 voor die voet verwoes en is daar geen poging aangewend om eers vas te stel of die huise wel vir militêre doeleindes gebruik is nie. Kitchener se ondergeskiktes het met sy goedkeuring eenvoudig na willekeur verwoesting gesaai. Nagenoeg 30 000 huise is afgebrand en tot 40 dorpe het deurgeloop. Daar moes geen heenkome vir die burgers te velde wees nie.

Heel links: Die kerk in die Vrystaatse dorp Lindley is deur die Britse magte verwoes. Links: Britse soldate verlaat ’n plaaswerf wat hulle aan die brand gesteek het.
Heel links: ’n gestroopte woonhuis. Links: graansakke wat uitgedra en verbrand word.

      Dié beleid is in die algemeen hardvogtig deurgevoer deur soldate wat dit as hul professionele plig beskou het en soms selfs sadistiese plesier daaruit geput het. In dié verband het ’n Britse soldaat geskryf: “You should have seen the Royal Irish on the loot. They helped the people out with their stuff by heaving heavy bureaus bodily through the windows, putting pickaxes through melodians and such like wantonness. I heard one yell: ‘Begory Jim, here is a nice carpet . . . Oi’ll take it home for the ould woman. Lend a hand here!’ R-r-r-rip! Up came a handsome pole carpet in strips. And so the work went on, the officers standing by laughing at the costly fun their men were having.”[4]

      Dié soort vernielsug het ’n diepe indruk gelaat op die Boerevroue wat dit moes gade-slaan. Só het een verklaar: “Daar staan ek toe, omring deur my kindertjies terwyl die wrede soldate my eiendom plunder. Huisraad, klere, kos, alles word op ’n hoop gegooi en aan die brand gesteek . . . Hoe ek hulle ook al smeek om ’n paar oudhede te behou, hulle weier aaneen”.[5] Sulke tonele het hulle gereeld in die twee Republieke afgespeel en die vernedering wat dit meegebring het, het in latere jare ’n vrugbare teelaarde vir Afrikaners se gemeenskaplike gewroeg en wrokkigheid jeens “die Engelse” geskep.

      Van Britse kant is aangevoer dat die militêre opperbevel gedwing is om die vroue weens humanitêre redes in hul sorg te neem nadat die Boere tot mobiele oorlogvoering oorgegaan het. Die argument dat hulle nie weerloos in die veld gelaat kon word nie, is egter misleidend. Die Britse magte het plase as ’n militêre maatreël afgebrand omdat hulle nie die kommando’s te velde kon oorwin nie. Die oprigting van konsentrasiekampe het die Britse owerhede in staat gestel om wit sowel as swart burgerlikes (hoofsaaklik vroue en kinders) om militêre redes van die plase te verwyder. Deur dít te doen, het die swaartepunt van die oorlog – wat voorheen suiwer op krygsvoering gerig was – verskuif om nou ook burgerlikes in te sluit.

Hierdie mans wat saam met hul gesinne in die Bloemfonteinse kamp afgeneem is, het hulle waarskynlik aan die Britse magte oorgegee. Die doel van die eerste konsentrasiekampe was om beskerming aan sulke wapenneerlêers te bied deur hulle in te perk.

      ’n Sekondêre faktor was gesetel in sekere Britse persepsies oor die Boere se verhoudings met hul vroue. Die Britse owerhede het naamlik gehoop dat die teenwoordigheid van die vroue in die kampe van die burgers sou oorreed om die kommando’s te verlaat om by hulle aan te sluit. Hierdie oortuiging het onder meer berus op die onderliggende siening van sekere Britte dat die Boere nie net baie huisvas was nie, maar ook aardse, sensuele wesens was wat hulle moeilik van seks weerhou het. Daar is gevolglik gereken dat die vroue in die kampe ’n sterk aantrekkingskrag vir hul mans sou inhou. Hoewel ’n verlangende Boer reeds vroeg in die oorlog beskryf het hoe sy vrou in haar afwesigheid elke dag vir hom mooier word, was die Boere se wellus toe nooit so groot soos die