Die oorlog kom huis toe. Helen Bradford. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helen Bradford
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624058984
Скачать книгу
was, nie moontlik wraak neem op swart mense omdat die Britte hulle teen die republikeinse magte gebruik het nie? Kon ’n mens steeds die etiek van ’n oorlog bevraagteken as die strydende partye nie meer die enigste rolspelers was nie? Was dit ooit ’n opsie om die idee van ’n regverdige of onregverdige oorlog te oorweeg? Van hierdie oomblik af sou die gebruik van konsentrasiekampe immers deel vorm van die masjinerie van oorlogvoering. Die kampe van die Balkan-oorloë en die Eerste Wêreldoorlog sou op dié van Kuba en Suid-Afrika volg.

      Die internering van “verdagte” burgerlikes en hul hantering as krygsgevangenes (al was dit strydig met die internasionale reg) was daarom algemeen onder al die strydende magte in die Eerste Wêreldoorlog. In besette lande was verdagte burgerlikes ook die slagoffers van weerwraak en is hulle soms gedeporteer en/of na werkkampe gestuur. Die internering van nie-vegtendes as ’n manier om die vyand te verswak was nog altyd ’n strategiese metode van oorlogvoering. Die gevangeneming van soldate was ook nie ’n nuwigheid nie. Daarteenoor het die konsentrasiekampstelsel wat op die konflikte in Kuba en Suid-Afrika gevolg het ’n innovasie in oorlogvoering verteenwoordig: Gewone burgerlikes het nou ook die slagoffers van ’n volskaalse oorlog geword. Hul kampe het ’n integrale deel van die kultuur van gewapende konflik geraak.

      Tussen 1896 (die Kubaanse Oorlog) en 1918 (die einde van die Eerste Wêreldoorlog) het die Anglo-Boereoorlog ook in vele opsigte bygedra tot veranderinge in die wyse waarop oorlog gevoer is. In Suid-Afrika het die deportasie en internering van burgerlikes nie tot massa-uitwissing gelei nie. Die toestande het egter wel uitgeloop op ’n oorlog teen die burgerlike bevolking wat deur uiterste geweld gekenmerk is. Terselfdertyd was hierdie kampe nog nie sinoniem met die latere georganiseerde stelsels van konsentrasiekampe nie. In die Anglo-Boereoorlog was die bestuur van die kampe lukraak en ongekoördineer, soos duidelik uit hierdie boek blyk. Nietemin was dit steeds ’n volskaalse of totale oorlog…en dít vereis dat die vyand geïnterneer word, ongeag of dit soldate is wat in gevegte gevange geneem word of burgerlikes wat as die vyand beskou en behandel word – ongewapende soldate wat haat, verset en stilswye as wapens ingespan het om terug te veg en hul veerkragtigheid te bewys.

      Die Boeregemeenskap in die Suid-Afrikaanse republieke is nie aan ’n volksmoord blootgestel, soos wat die Armeniërs van Turkye byvoorbeeld in die Eerste Wêreldoorlog beleef het nie. Hul ervaring was een van vernedering. Die oorsake daarvan was nie onbeplande of doelbewuste wreedheid nie, maar eerder die wese van oorlogbeleid in besette gebiede, naamlik inperking en afsondering. Dit is op hierdie pad wat die tragedies en verskrikking van die geviktimiseerde vroue en gesinne in die Anglo-Boereoorlog gevind sal word.

      ANNETTE BECKER is ’n professor in moderne geskiedenis aan die Paris West University Nanterre La Défense en ’n senior lid van die l’Institut Universitaire de France. As ’n sosiale en kultuurhistorikus wat fokus op volskaalse oorloë in die twintigste eeu, is sy ’n kenner op die gebied van die invloed van geweld op burgerlikes onder militêre besetting. Becker is een van die stigters van die Museum of the Great War in noordelike Frankryk, die Historial de la Grande Guerre, in Peronne, Somme. Van haar onlangse publikasies sluit in ’n studie van die Franse digter Guillaume Apollinaire se ervarings in die Eerste Wêreldoorlog, naamlik Apollinaire: Une Biographie de Guerre 1914–1918 (2009).

Die Vrouemonument troon uit oor die plat Vrystaatse landskap kort ná sy oprigting in 1913.

      Inleiding

      DIE TRAUMATIESE UITWERKING WAT DIE ANGLO-BOEREOORLOG van 1899 tot 1902 op die meeste gewone Afrikaners gehad het, is al dikwels as die uitstaande kenmerk van hierdie bittere konflik bestempel. Herinneringe aan die oorlog het onafhanklik van formele herdenkings in die algemene geheue bly voortleef. Tog beskik herdenkings, en veral eeufeesvierings, oor die potensiaal om meer as blote rituele te wees. Dit kan lei tot ’n vars blik op die geskiedenis wat ons in staat stel om bestaande persepsies oor gebeure en mense uit die verlede te heroorweeg. Hiermee in gedagte, kan genoem word dat die publikasie van Die oorlog kom huis toe saamval met die 100-jarige herdenking van die oprigting van die Vrouemonument in Bloemfontein in 1913.

      Soos ander onlangse geskiedkundige werke, is hierdie boek ’n produk van ons tyd – ’n era waarin talle eeufeesvierings van belangrike momente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis reeds plaasgevind het. Aan die begin van die 21ste eeu was daar herdenkings van die Anglo-Boereoorlog (sommiges noem dit ook die Suid-Afrikaanse Oorlog), die Bhambatha-rebellie in Natal in 1906, die stigting van die African National Congress in 1912 en die promulgering van die Wet op Naturellegrondgebied in 1913. In die nabye toekoms wag nóg herdenkings, byvoorbeeld van die Afrikanerrebellie van 1914 – aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog – en die stigting van die eertydse Nasionale Party, ook in 1914. In die lig van die meer onlangse geskiedenis sal laasgenoemde herdenking waarskynlik ’n relatief afgeskaalde geleentheid wees.

      As ’n mens die omvang en belang van herdenkings moet vergelyk, word die onthulling van die Vrouemonument en ander geleenthede deur die Groot Trek-herdenking van 1938 oorskadu. Aan die hart van die simboliese ossewatrek het die ontwaking van ’n sluimerende Afrikanernasionalisme gelê. Dit het op ’n grootse gebeurtenis uit die verlede gesteun om ’n volk in beweging te bring. So ’n oormatige vertoon van oordrewe nasionalisme sou onvanpas voorkom in ons huidige, meer skeptiese tydsgewrig. Nietemin bly dit ’n voorbeeld van hoe geskiedkundige herdenkings altyd deur die bril van die hede bekyk word.

      Waarom moet die oprigting van die Vrouemonument herdenk word in ’n Suid-Afrika wat sedert 1913 soveel verander het? Is die nalatenskap van die monument nog relevant, en indien wel, watter betekenis het dit 100 jaar later vir gewone Suid-Afrikaners?

      Om hierdie vrae te beantwoord, delf die bydraers tot hierdie boek in die waaisand van die geheue om vas te stel hoe die Vrouemonument gedurende bepalende geskiedkundige fases sedert 1913 beleef is. Daar word gekyk na op wie die monument aanvanklik gerig was, wat die monument deur die loop van die 20ste eeu versinnebeeld het en wat dit vandag vir ons sê. Die oorlog kom huis toe bied ’n perspektief op hierdie spesifieke nalatenskap van die konflik, maar ondersoek ook die kompleksiteite en teenstrydighede van die oorlogservaring waaruit blywende gedenkrituele ontstaan het.

      Die boek poog om lesers meer as die blote verhaal agter hierdie ikoniese oorlogsmonument te vertel. Dit spreek vanself dat die Vrouemonument – met die emosionele, politieke, kulturele en ander herinneringe wat daaraan gekoppel is – ’n eie openbare geskiedenis sal beliggaam. Dit bied egter ook ’n blik op die uiterste omstandighede waaraan ’n kwesbare burgerlike samelewing, getref deur die skok van ’n volskaalse moderne oorlog, blootgestel is. Die oorlog van 1899 tot 1902 was meer as net ’n enkele stryd of ’n geveg tussen twee leërs aan die front. In hierdie geval het ook gewone mense – wit en swart, vroue en kinders, families en individue – die sterftes en lyding ervaar wat veroorsaak is deur vyandelikhede wat veel wyer as die slagveld gestrek het.

      Die wêrelde wat in hierdie boek ontsluit word, is hoofsaaklik dié van vroue en gesinnewat geweldige ontwrigting beleef het. Hoewel die lot van weerlose slagoffers beskryf word, ontleed Die oorlog kom huis toe ook die onvoorspelbare aard van die spanning wat ’n oorlogservaring meebring. Met ander woorde, in plaas daarvan om oorbekende geskiedkundige interpretasies te versterk wat vroue en kinders se lewens tot passiewe lyding en opoffering verskraal, ondersoek ons ook op watter maniere hulle volhard en oorleef het – aspekte wat maar te dikwels verontagsaam of vergeet word.

      Wanneer hulle die tragedie van die oorlog onder die loep neem, kyk die bydraers na die pogings van diegene wat hulle probeer berus het by die onsekerheid wat met inname en besetting gepaardgaan. Húl oorlog was die stryd om ’n draaglike en menswaardige bestaan te voer in ’n omgedolwe landskap gekenmerk deur botsende belange – verset en aanvaarding, weerstand en samewerking, interaksie en onttrekking, brose sekerhede en groot vertwyfeling, hoop en wanhoop. As ons lesers enigiets van hierdie volskaalse of totale oorlog in Suid-Afrika wil onthou of herdenk, hoop ons hulle sal hulle genoop voel om