Die Cape Times het sy optrede in 1897 as ’n skandvlek op die reputasie van die kwansuis beskaafde Spaanse volk beskryf. Gedurende die Anglo-Boereoorlog het die bekende Kaapse politikus John Xavier Merriman verontwaardig in ’n brief aan sy ma geskryf: “What can an Englishman say of our doings in the Free State, burning, plundering and turning helpless women and children adrift in this weather. Doing as Weyler did when he made the reconcentrados in Cuba.”[2] Die invloedryke David Lloyd George het in Julie 1900 in die Britse Laerhuis ook gesê dat dit lyk asof die leierskap van die Britse leër in Weyler se voetspore gevolg het.
Benewens die gebeure in Kuba, is soortgelyke tendense in oorlogvoering ook te bespeur in die oorlog wat Amerika in 1899 tot 1902 teen die Filippyne gevoer het, waar dele van die burgerlike bevolking ook aan die kortste ent getrek het.
Die kampe in die Transvaal en die Vrystaat was dus onder meer deel van ’n breër patroon wat te make het met die groter professionalisering van leërs en militêre sake. Die tendens sou hom ook in ander wêrelddele uitspeel en daar is wyd in die pers daaroor berig. Alhoewel die leierskap van die Britse leër hul beleid nie doelbewus op Weyler s’n geskoei het nie, was daar tog ’n algemene bewussyn van die rigting waarin oorlogvoering aan die einde van die 19de eeu begin ontwikkel het.
|
Die eerste voorsmaak van verowering, ofskoon dit nie bestem was om ’n soete oorwinning te wees nie: ’n parade op Hoffman-plein in Bloemfontein nadat die Britse magte die Vrystaatse hoofstad in Maart 1900 ingeneem het. |
|
|
Heel links: Veldmaarskalk lord “Bobs” Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika vanaf Januarie 1900, was nie om dowe neute ’n veteraan van Brittanje se vroeëre koloniale oorloë nie. Sy vorige ervaring met die onderdrukking van aanslae teen die Britse Ryk in Indië, Afganistan en Abessinië het hom goed te staan gekom. Links: Die bittereinder-generaal Christiaan de Wet, ’n gedugte teëstander wat die Britse magte hoofbrekens besorg het. |
Wapenneerlêers en die ontstaan van die konsentrasiekampe
Nadat die republikeinse hoofstede (Bloemfontein in die Vrystaat op 13 Maart 1900 en Pretoria in die Transvaal op 5 Junie 1900) ingeneem is, het die Britse opperbevel geglo die formele anneksasies van die Republieke wat daarop sou volg, sou die einde van oorlog beteken. Hulle was nie voorbereid op die bewegingsoorlog wat Boereleiers soos generaals Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha van stapel sou stuur en wat die Britse leër nog twee jaar lank sou frustreer nie. Dit was egter ’n uitgedunde Boeremag wat hulle in die guerrillafase tot mobiele oorlogvoering verbind het.
Bykans 26% van diegene wat krygspligtig was met die uitbreek van die oorlog en ongeveer 40% van diegene wat aanvanklik gemobiliseer is, het die wapen vrywillig neergelê. Dit was in reaksie op lord Roberts, die Britse bevelvoerder, se proklamasie dat diegene wat die eed van neutraliteit aflê, toegelaat sou word om na hul plase terug te keer en nie verder aan die oorlog hoef deel te neem nie. Een van die meer onmiddellike oorsake van die konsentrasiekampe hou verband met hierdie poging deur die Britse leër om die Boeremagte onderling te verdeel.
In die praktyk het dinge egter nie so vlot verloop nie en diegene wat die wapen neergelê het, het onder aansienlike druk van sowel die Boere- as die Britse magte gekom. Die Boere-magte het nie die eed van neutraliteit erken nie en het die wapenneerlêers (“hendsoppers” in die volksmond) gedwing om weer by die kommando’s aan te sluit. Die Britte, weer, het – omdat hulle in talle distrikte nie volkome militêre beheer kon uitoefen nie – dikwels in gebreke gebly om wapenneerlêers te beskerm. Tog het hulle steeds daarop aangedring dat die eed van neutraliteit eerbiedig moes word. Dit het die wapenneerlêers in ’n netelige posisie geplaas. Sommiges het hulle weer by die Boeremagte aangesluit, terwyl ander onder moeilike omstandighede probeer het om nie opnuut by die stryd betrokke te raak nie. Hul geledere het gegroei namate burgers oorlogsmoeg geraak het.
Om die nodige erkenning aan die wapenneerlêers te gee, moes die Britse owerheid daadwerklike beskermingsmaatreëls vir hulle instel. Generaal EY Brabant (bevelvoerder van Brabant’s Horse, ’n Kaapse koloniale regiment) het dit reeds op 13 Mei 1900 ingesien toe hy voorgestel het dat die Vrystaatse wapenneerlêers ter beskerming na ’n plek naby die Vrystaatse grens gestuur moes word. Brabant het geglo dat Aliwal-Noord, wat aan die Kaapse kant van die Oranjerivier geleë was, ’n geskikte plek sou wees.
|
Boerekrygsgevangenes by die Broadwood-kamp op die eiland St Helena. Talle bittereinders onder die krygsgevangenes het tot die einde bly weier om die eed van getrouheid te onderteken. |
|
Hierdie mans in die Irene-kamp in Pretoria was waarskynlik wapenneerlêers wat Britse gesag aanvaar het. |
Sir Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, was in beginsel ten gunste van Brabant se voorstel, maar het getwyfel aan die praktiese uitvoerbaarheid daarvan. Roberts het dieselfde bekommernis gehad en ook gesê so ’n beleid kan moontlik die hand van die Boereleiers versterk omdat hulle die burgers dan kon wysmaak dat hulle as krygsgevangenes na die Kaapkolonie gestuur sou word as hulle die wapen neerlê. Tog het die Britse opperbevel besef dat Brabant se voorstel baie meriete gehad het en die enigste praktiese oplossing was om die wapenneerlêers van die gevegsterrein te verwyder. Milner het aangevoer dat as dit nie gedoen word nie, kon die oorlog onbepaald voortduur.
’n Ander hoë offisier, luitenant-generaal Redvers Buller, het Brabant se mening gedeel en voorgestel dat die wapenneerlêers tesame met hul vee na Natal gestuur word, waar hulle op die onbesette plase van Natalse rebelle gevestig kon word. Teen 25 Julie 1900 is een persoon op dié wyse hervestig, maar voordat die beleid verder uitgevoer kon word, het Buller eers die goedkeuring van die Natalse regering probeer kry. Dié het egter grondige besware daarteen geopper en ook bedenkinge gehad oor die militêre owerheid se vermoë om so ’n beleid korrek uit te voer.
Teen Augustus 1900 het die Britse militêre owerheid nog nie ’n doeltreffende manier gehad om die wapenneerlêers te beskerm nie. Die Britse optrede is inteendeel gekenmerk deur futiele vergeldingsmaatreëls teenoor diegene wat daarvan verdink is dat hulle die eed van neutraliteit verbreek het. By gebrek aan Britse beskerming het sommige wapenneerlêers toe na die dorpe en stede onder Britse beheer gevlug. Die distrikskommissarisse het dit aangemoedig, omdat dit die enigste manier was waarop wapenneerlêers beskerm kon word. In Pretoria is die wapenneerlêers in leë huise gehuisves en het hulle rantsoene ter waarde van 2 sjielings en ’n sikspens per dag ontvang. Die militêre owerheid het ook ’n skema beraam om hulle in munisipale diens te neem – enersyds om te vergoed vir die rantsoene wat aan hulle gegee is en andersyds sodat hulle geld kon verdien. Dié skema het egter min aftrek gekry en ten spyte daarvan dat 2 000 kennisgewings versprei is, het slegs twaalf individue hulle aangemeld (en van dié twaalf wou ses voormanne wees).
Die Britse owerheid kon egter op lang termyn onmoontlik al die wapenneerlêers in dorpe en stede akkommodeer. In die eerste plek was behuising ’n probleem en in die tweede plek kon hulle ook nie hul vee saambring nie. Gevolglik was daar toenemend steun vir die idee van beskermingskampe. As dít suksesvol uitgevoer kon word, sou dit in groot mate die Britse owerheid se probleem met die wapenneerlêers oplos. Op 23 Augustus 1900 het Milner vir Roberts verwittig: “I think, if once we can make up our minds to a camp or camps in South Africa, we shall find it an absolute advantage in this respect . . . My idea is that many of the more pacific of them [die burgers] would be protected against being again commandeered