Wanneer die doel en aard van die konsentrasiekampe, sowel as die redes vir die oprigting daarvan, bespreek word, volg ons ’n breë benadering. Ons bevraagteken ook die aanname dat die kampstelsel nie voor die vredesverklaring in Mei 1902 beeïndig kon word nie. Dié aanname is gebaseer op die argument dat die oorlog geen ander koers sou kon inslaan gedurende die noodlottige koue winter van 1901 nie. Die ontwikkeling en spesifieke dinamika van die swart kampe word op dieselfde wyse benader. Anders as wat algemeen geglo word, het geskiedkundige werke al etlike dekades lank dié kampe se bestaan gedokumenteer. Hierdie boek wys dat die wit en swart kampe meer verweef was en dat daar groter interaksie tussen hul onderskeie inwoners was as wat dikwels aangeneem word.
Ons neem ook bestek op van die gesinslewe in die konsentrasiekampe. Hoewel daar in die verlede al baie oor die kampe geskryf is, is weinig bekend oor die sogenaamde kampkinders. Om te vergoed vir hierdie geskiedkundige versuim, bied dié boek insig in kinders se ervaring van die konsentrasiekampe – hoe hulle hulself in daardie omstandighede gehandhaaf het en oorleef het. Dit het tyd geword om aan te beweeg van die beperkte perspektief waarvolgens hul teenwoordigheid bloot in terme van uitgeteerde, dooie liggaampies gereken word.
Die soeklig val verder op die komplekse binnewerkinge van die kampe. Die alledaagse lewe van die inwoners word ondersoek, asook hoe die verskillende mediese kulture van die Boerevroue en die Britse kampadministrasie die houdings ten opsigte van heling en die herstelproses beïnvloed het. Ten slotte wys ons op die verband tussen die verskrikking van die oorlog en die gebruik van galgehumor om die uiterste omstandighede te probeer troef. Ons oorweeg die rol wat die komiese verbeelding gespeel het toe die Boerebevolking ná vredesluiting die onmiddellike gevolge van die oorlog moes hanteer.
Soos Die oorlog kom huis toe aantoon, is daar tussen 1899 en 1902 op verskeie fronte geveg. Aangesien die gevegsfront en die tuisfront dikwels nie van mekaar losgemaak kon word nie, was die Anglo-Boereoorlog dus ’n heftige stryd met talle fasette en verskillende gesigte, waarvan sommige hier uitgebeeld word. Ons nooi lesers uit om, weer eens, Suid-Afrika se volskaalse oorlog te herbesoek.
ALBERT GRUNDLINGH EN BILL NASSON
|
Boerefamilies klou vas aan ’n paar besittings terwyl hulle na die Pietermaritzburg-kamp stap. |
TOE DIE EERSTE SKOTE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG op 12 Oktober 1899 by Kraaipan suid van Mafeking geklap het, kon nie Boer of Brit voorsien watter skade dié oorlog sou aanrig nie. Teen die einde van die stryd sou duisende hektare grond braak lê, duisende wit en swart mense ontheem wees en nog duisende gesterf het. Benewens die slagting in die vlaktes en op die koppies, sou die verskroeide aarde-beleid en die konsentrasiekampe ’n diep merk op Suid-Afrika se fisieke en geestelike landskap laat.
Die meeste van die kampe was binne die grense van die twee Boererepublieke van die Transvaal en die Vrystaat geleë, maar daar was ook groot kampe in Natal en die Oos-Kaap. Teen die einde van die oorlog was daar 50 kampe vir wit burgerlikes en 64 vir swart burgerlikes. Meer as 4 000 Boerevroue en bykans 22 000 kinders sou in die kampe sterf. Hoewel daar nie presiese syfers is nie, word gereken dat tussen 15 000 en 20 000 swart mense, van wie die meeste ook kinders was, in die swart kampe gesterf het – in totaal dus waarskynlik oor die 40 000 mense.
Wat was die onmiddellike, maar ook die meer verwyderde, oorsake van die konsentrasiekampe wat sedert die tweede helfte van 1900 deur die Britte opgerig is? Was die kampstelsel ’n noodwendige uitvloeisel van die oorlog of was daar ’n geleentheid om dit te voorkom? In watter mate het die beleid voldoen aan die reëls van beskaafde oorlogvoering wat daardie tyd geheers het? Hierdie hoofstuk gaan ondersoek instel na al dié vrae.
Wanneer professionele soldate begin oorlog maak
|
Die Boeremagte in ’n aanvalsposisie by Mafeking, wat ’n tyd lank deur hulle beleër is. |
Die Britse leër en ander weermagte op die Europese vasteland het gedurende die laat 19de eeu toenemend ’n professionele inslag gekry. Oorlog was nou al hoe minder ’n lukrake aangeleentheid waartydens die vyand eenvoudig al stormlopend oorrompel moes word. Hierin kan een van die meer verwyderde oorsake van die konsentrasiekampe gevind word.
In die lig van die groot aantal militêre ekspedisies waarby die Britse Ryk betrokke was, het dit noodsaaklik geword om oorlogvoering op ’n stewiger, meer omvattende en gevarieerde grondslag te plaas. Verskillende ekspedisies het verskillende benaderings geverg en militêre beplanning is dienooreenkomstig aangepas. Bevelstrukture, logistiek en strategieë is op ’n burokratiese wyse bepaal, met sekere uitkomste in gedagte.
Militêre professionaliteit het ’n bepaalde kultuur geskep wat sterk klem geplaas het op instrumentele rasionaliteit – die oortuiging dat die doel die middele heilig. Dit het tot so ’n mate posgevat dat ander oorwegings algaande eenkant toe geskuif is. Dit het onder meer veroorsaak dat militêre personeel die verantwoordelikheid oorgeneem het om die burgerlike bevolking te organiseer in gevalle waar die vyandelikhede van die gevegsfront na die samelewing oorgespoel het – wat toenemend die geval was.
|
’n Brug oor die Vaalrivier wat deur die republikeinse magte opgeblaas is. |
As professionele soldate het die leër se leierskap gereken hulle is bevoeg om ook burgerlike aangeleenthede te hanteer. Daar is min oor die potensiële kompleksiteit van sulke ondernemings besin. Dié ingesteldheid het dit relatief maklik gemaak om ekstreme maatreëls toe te pas en het dit as ’t ware geregverdig. ’n Akademiese uiteensetting van dié ingesteldheid voer aan dat “militaries, because violence is their business, do not need external ideologies or motivations to encourage excess; and their basic assumptions (the military culture) that develop to handle it may be sufficient in themselves”.[1]
Dit was ’n voorafskaduwing van wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika sou gebeur toe die burgerlike bevolking van die twee Boererepublieke onder militêre heerskappy gekom het. Dit was ook nie ’n uitsonderlike geval nie, want voorlopers hiervan kon elders gevind word.
Die professionalisering van leërs het byvoorbeeld ’n rol gespeel in die reconcentrados of konsentrasiekampe wat Spanje gedurende ’n veldtog in 1896 tot 1897 in Kuba opgerig het. Die Spaanse magte was onder leiding van generaal Valeriano Weyler, wat in Februarie 1896 na Kuba gestuur is om die rebellie te onderdruk wat die vorige jaar daar uitgebreek het. Die Kubaanse rebelle het gebuit, huise afgebrand, tabakplantasies en suikermeule vernietig, treine verwoes en brûe opgeblaas. Weyler het probeer om die opstand onder beheer te kry deur die aantal gebiede te beperk waar konflik plaasgevind het. Hy het die eiland gevolglik in verskillende sektore verdeel en daardie dele gefortifiseer. Die rebelle se vernietigingswerk is met nog hewiger verwoesting begroet.
|
’n Kommando slaan kamp op by een van hul laers waar hulle tussendeur afgesaal en gerus het. |
Weyler se mees omstrede stap was om alle nie-vegtendes in konsentrasiekampe te plaas wat uit klein hutte in