Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ebbe Dommisse
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624063834
Скачать книгу
broekieskant asook platdak-Karoohuise. In die twin­tigste eeu word Graaff-Reinet die dorp met die meeste historiese gedenk­waar­dig­hede in die land – 220.

      Die afstammelinge van die rebelle van 1795 ontwikkel algaande al hoe meer griewe teen die Britse koloniale owerheid, en teen 1838 is die Groot Trek in volle gang. Verskeie voorste Trekkerleiers het noue bande met Graaff-Reinet gehad. Gerrit Maritz was ’n welgestelde wamaker op die dorp (sy plaas Welgevonden buite die dorp is ’n eeu en ’n half daarna deur Anton Rupert se seun Anthonij aan­gekoop). Die latere Voortrekkerkommandant Andries Pretorius van Bloedrivier­faam het in die distrik geboer. Die huwelike van die Trekkerleiers Piet Retief en Louis Trichardt is in die plaaslike kerk voltrek. Sarel Cilliers is op die nabygeleë Nieu-Bethesda gebore, en ’n ander Trekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, is op Graaff-Reinet gedoop.

      Twee Republikeinse presidente, Jacobus Nicolaas Boshof van die Oranje-Vrystaat en Thomas Francois Burgers van Transvaal, het uit Graaff-Reinet gekom.

      Later het ’n toekomstige eerste minister van Suid-Afrika, dr. D.F. Malan, as pre­dikant die kansel van die NG kerk op Graaff-Reinet verlaat om in 1915 die eerste redakteur van Die Burger, die oudste Afrikaanse dagblad, te word.

      Nog ’n bekende wat op Graaff-Reinet skoolgegaan het en daar begrawe is, was die Pan-Africanist Congress se stigter-leier, Robert Mangaliso Sobukwe, wat deur ’n latere premier, John Vorster, as ’n “man met ’n magnetiese persoonlikheid” be­skryf is.

      Vele ander kultuurleiers, sakelui, opvoedkundiges, medici en landbouers het hul stempel op Graaff-Reinet afgedruk. Die dorp was behoorlik kosmopolities, met naas die sterk Afrikaanse teenwoordigheid Engelssprekendes soos die Murrays en Haywards, Jode soos die Mosenthals en Herbsteins, aanvanklik ’n kleiner groep swart en heelwat meer bruin mense.

      In die stadium dat die eerste Rupert hier arriveer, heers daar ’n wêreldwye de­pressie ná afloop van die Krimoorlog en die Amerikaanse Burgeroorlog. Die vraag na wol neem af en witroes tref die florerende wingerdbedryf van Graaff-Reinet. Die siekte word in 1868 deur die toediening van swael in bedwang gebring, en die dorp verwerf ’n reputasie as bron van brandewyn en veral Withond, witblits wat op groot skaal gestook is.

      Voorspoed begin terugkeer ná die ontdekking van diamante in 1867 by Kim­berley, en ’n paar jaar daarna die ontdekking van goud in 1874 by Pelgrimsrus. Fortuinsoekers stroom via Port Elizabeth en die strategies geleë Graaff-Reinet na Kimberley. In een stadium is daar meer as sestig uitspanplekke op die dorp, wat die Poort na die Noorde geword het. ’n Verdere bloeitydperk volg toe die spoor­lyn van Port Elizabeth in 1879 met swierige feestelikheid voltooi is met Graaff-Reinet as eindpunt, waarvandaan met ossewaens verder na die ontlui­kende binneland gereis kon word. Die firma Cleghorn & Harris open byvoorbeeld sy eerste tak in Suid-Afrika op die dorp. Die dorp kon ’n ruk lank met vier koe­rante spog.

      Die pionier Johann Peter Ruppert, in een stadium voorman op die plaas Bloem­hof, werk op Graaff-Reinet as ’n wamaker voordat hy in 1882 oorlede is, volgens familie-oorlewering in ’n skietongeluk op ’n jagtog. Dit is nie onwaarskynlik nie, want wild was volop op die Karoovlaktes, waar die grootste wildsboktroppe in menseheugenis waargeneem is.3

      Die pionier-egpaar Ruppert behoort tot die Anglikaanse gemeente St. James op die dorp. Enkele jare ná hul aankoms op Graaff-Reinet besluit die koloniale re­gering in 1865 dat onderrig in alle staatskole in die Kaapkolonie in Engels moet geskied. Engelse koerante aan die Kaap, oortuig dat die Engelse die “dominante ras” is, verkondig ’n militante vorm van kulturele imperialisme, en die Cape Argus maak Afrikaans af as ’n “bastard jargon”, onwaardig om hoegenaamd ’n “taal” ge­noem te word. Desondanks verafrikaans die Ruperts (soos talle ander immigrantgesinne) geleidelik. Ná die huwelik van die pionieregpaar se oorlewende seun met ’n Afrikaanse meisie word die familie mettertyd lidmate van die NG Kerk.

      Drie kinders uit die stamvader se huwelik met Emma Susanna, wat tot 1919 sou bly leef, is vroeg oorlede, twee tien dae ná mekaar in 1869 in die witseerkeel-epidemie. Die oudste seun, Anthony Edward Rupert, die oupa van Anton Rupert, is soos s´y vader op 44-jarige ouderdom oorlede. Reeds hieruit kan afgelei word dat die Ruperts nie ’n baie groot familie in Suid-Afrika is nie.

      Oupa Anthony Edward Rupert verwerf as ’n bouer bekendheid in die omge­wing. In ’n geskrif in die familie se besit wat hy voor sy dood in 1906 op sy siek­bed in Afrikaans geskryf het, vertel hy hoe hy behoeftig op die dorpie Peters­burg begin en van plaas tot plaas vir boere gewerk het “daar ek in die bouwmeesters­lyn geleerd was”. Hy ry soms te perd, maar “andere malen werd ek verbannen ‘voet te slaan’ om leven te behouden”.

      Voor sy troue huur hy ’n huis teen £2 per jaar van die gekleurde gemeente van die Londense Sending. Hy moes ’n wabokseil oor die strooidak span om “het koude en regen uit te sluiten”.

      Hy is in 1885 met Maria Elizabeth Dippenaar getroud, en agt kinders is uit hul huwelik gebore. Daarna bou hy ’n skoolgebou op Graaff-Reinet en nog een op Letskraal buite die dorp, die plaas waar Andries Pretorius voor die Groot Trek geboer het. Op die nabygeleë Petersburg, wat op die ossewaroete na Kimberley gelê het, bou hy ’n kerk waar sy naam op die hoeksteen staan. Sy reputasie groei, ook namate hy op Graaff-Reinet, waar hy en sy gesin hulle in 1899 kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog vestig, huise restoureer en verbeter. Hoewel hy alle boumateriaal met ossewaens moes vervoer, kon hy die bouwerk van ’n huis op ’n plaaswerf in ses weke voltooi – ’n prestasie wat aansienlike organi­sa­sievermoë geverg het.4

      By geleentheid toe Anton Rupert die vooraanstaande Afrikaanse sakeman dr. C.R. Louw by Dennegeur, sy huis op Somerset-Wes, besoek, sê dié se broer ds. Rooi Abraham Louw, wat die bouer Rupert op Graaff-Reinet geken het, aan sy kleinseun Anton: “Jou oupa was die hardwerkendste man wat ek ooit ontmoet het.”

      Die oudste van hierdie vaardige bouer se agt kinders, John Peter Rupert, ge­bore in 1888, was jare lank prokureur op Graaff-Reinet, waar die familie bykans ’n eeu sou woon. Op hierdie dorp met sy veelbewoë verlede is s´y seun Anton 28 jaar later gebore.

      Hoofstuk 3

      Op skool in die Karoo

      Anton Rupert is die oudste van drie seuns. Hy heet na sy oupa aan vaders­kant, Anthony Edward, maar is op universiteit tot Anton vernoem nadat hy in sy jeugjare Boetie genoem is. Hy is op 4 Oktober 1916 gebore en sy twee broers is heelwat jonger as hy. Jan (gedoop John Peter) en Koos (gedoop Jacobus Albertus) is in onderskeidelik 1922 en 1929 gebore. Albei sou hom mettertyd na die Rembrandt Groep volg; albei op 24-jarige leeftyd. Die drie broers in die tabakhandel word vergelyk met die drie broers Reemtsma in Duitsland en die drie broers Reynolds in Amerika, wat in daardie lande onderskeidelik die grootste sigaretfabrieke opgebou het. Die broers Rupert het nog iets gemeen: Hulle het aanvanklik in hul vader se voet­spore gevolg deur almal in die regte te studeer, maar nie in die praktyk ge­tree nie.

      Hul vader, alombekend as Oom John, was ’n gesiene gemeenskapsleier op Graaff-Reinet. Hy moes in die moeilike jare tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), toe krygswet in die Kaapkolonie gegeld het en baie Afrikaners, hoewel Britse onderdane, so erg soos hul noordelike taalgenote en bloedverwante in die republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat verarm is, uitspring en gaan werk. Hy is daarna terug skool toe en het in 1909 aan die Graaff-Reinet Kollege klaar­gemaak.

      Nadat hy op dié dorp sy ingeskrewe klerkskap by C.H. Maasdorp voltooi het, gaan hy aanvanklik elders werk, onder meer op Kimberley, Mosselbaai en Prins Albert, waar in die bloeitydperk van die volstruisveerbedryf altesame sewentien prokureurs was. Die firma Theunissen & Louw op Prins Albert bied hom ’n vennootskap aan, maar hy kry snuf in die neus dat alles nie pluis is nie en wys die aanbod van die hand. ’n Hofsaak daarna teen twee vennote bewys hom reg. Hy bly daarna altyd wantrouig oor ’n vennootskap – in teenstelling met sy suksesvolle seun se vertroue in en welslae met die filosofie van deelgenootskap – en begin sy eie prokureurspraktyk op Graaff-Reinet.

      John Rupert stel aktief belang in die onderwys van die jeug en kinderwelsyn. In sy tyd as voorsitter van die Kinderwelsynvereniging is die sekretaresse die dorp se maatskaplike werker, Tini Malan, wat met John Vorster getrou het voordat hy in die oorlogsjare geïnterneer is en in 1966 eerste minister van Suid-Afrika geword het.