Sy besef vroeg dat haar man ’n baie gespanne lewe lei. Hy moes oor naweke aandele verkoop en kon geen tyd vir ontspanning afstaan nie. Sy gee gevolglik baie aandag aan die gesin se dieet.
Sy het self ’n groentetuin aangelê en sorg dat daar vir middagetes, die hoofmaaltyd van die dag, vars groente op die tafel is, droog gekook sodat die voedsaamheid inbly. Toe die kinders begin skoolgaan, het hulle gehou van koue slaaie vir middagete, dan het hulle gerasperde wortels en appels met lemoensap daaroor gekry, ook tamaties en pynappel.
Hulle eet nie ryk kos nie, en wanneer hulle oorsee moet wees, verlang hulle na “Annie se kos” – die geregte wat Annie Booysen, hul kok van langer as veertig jaar sedert sy in 1956 by die Ruperts begin werk het, gereeld berei.
Smôrens voordat Rupert kantoor toe gaan, drink hy ’n vrugtedrankie, dikwels vars geelperskes en appels wat versap is. Saans geniet hulle meermale soep, ’n potage uit ’n verskeidenheid van ses, sewe soorte dik soep met groentesoep as basis wat vooraf in blokke gevries en teen die aand se kant ontdooi en verhit is.
Huberte glo dat dit Rupert gesond hou en goed laat slaap. Hy het nooit ’n maagseer gehad nie.
Hul sosiale lewe word streng beperk. Eenkeer het hulle in ’n jaar se tyd slegs twee keer sosiaal uitgegaan, behalwe waar daar spesifieke uitnodigings was. Omdat Rupert laat op kantoor gewerk het, was hy onder druk as hy saans in aanddrag swartdasgeleenthede in Kaapstad moes bywoon, en dit is ook tot die minimum beperk. Huberte hou haar belangstelling in musiek en teater vol en woon met vriendinne uitvoerings en opvoerings by.
Die nuwe intrekkers op die dorp, toe nog oorwegend deur akademici oorheers, word aanvanklik meesal eerder soos buitestanders en laat aankomelinge behandel, behalwe deur ’n paar aandeelhouers wat goeie vriende word. ’n Latere baie goeie vriend, prof. James Yeats van die regsfakulteit van die Universiteit van Stellenbosch, wat ook ’n direkteur van die Rembrandt Groep geword het, neem hulle onder sy vlerk. Yeats, wat in Argentinië gebore is, was ’n briljante student aan wie ’n Rhodesbeurs toegeken is. Soos sy mede-Rhodesbeurshouer Schalk Pienaar, een van die voorste Afrikaanse koerantredakteurs, dink hy hy mors sy tyd op Oxford en keer terug na Stellenbosch, waar hy saam met prof. J.C. de Wet van die belangrikste Afrikaanse regsboeke skryf. Hy stel die Ruperts bekend aan akademici en ander inwoners en hulle word geleidelik in die gemeenskap ingetrek.
Heelparty akademici word stimulerende gespreksgenote van die Ruperts.
Onder die professore wat naby hulle in Mostertsdrift gewoon het, is C.G.W. Schumann, die ekonoom deur wie Rupert mettertyd as “’n praktiese dromer en ’n realistiese idealis” beskryf is; die landboukundige Len Verwoerd, die broer van Hendrik Verwoerd wat ideologies sterk met die latere premier verskil het; en die letterkundige F.E.J. (Fransie) Malherbe, wie se broer prof. F. du T. Malherbe in Pretoria vir Rupert in chemie klas gegee het; asook die komponis Arnold van Wyk. Die politikus Paul Sauer, latere minister, en sy eggenote, Deborah, het hoër op in die straat ’n huis gehad.
Dirk Hertzog en sy vrou het ook daar naby in Tuinstraat 2 ’n huis laat bou wat hy “Rus Roes” genoem het. Oorkant húlle het die digter Dirk Opperman en sy vrou, Marié, vriende van sowel die Hertzogs as die Ruperts, in Thibaultstraat 3 gewoon. Rupert se broers, Jan en Koos, hoewel meermale in die buiteland, het Stellenbosch ook hul basis gemaak en naby hom gewoon. Die wyk Mostertsdrift en spesifiek Thibaultstraat raak algaande moeilik bekostigbaar vir akademici, wie se salarisse mettertyd al hoe swakker aangepas is, en al hoe meer sakelui en medici trek teen die eeuwisseling in die buurt in.
Toe Rupert besluit om met sigarette te begin, val sy keuse vir ’n sigaretfabriek op die Paarl, geleë in die Bergriviervallei. Hy was oortuig dat die Paarl net die regte klimaat het vir die veroudering van tabak en die vervaardiging van sigarette.
Dit is na hierdie vallei dat Jan van Riebeeck, goewerneur van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, in Oktober 1657 ’n ekspedisie gestuur het. Tweehonderd-en-negentig jaar later kom Rupert as ’n nuwe pionier na die Paarl. Soos Van Riebeeck het hy ook ’n droom gehad, maar daarby die wilskrag en inisiatief om sy droom werklikheid te maak.
Rupert begin met sy sigaretfabriek in die Paarl ondanks min kapitaal. Rembrandt se aanvangskapitaal was net £125 000.
Daar was ook ander probleme. Ná Daan Hoogenhout se vertrek is Hennie van Zyl, verkoopbestuurder, gevra om as bestuurder van Voorbrand oor te neem. In 1946 besluit Van Zyl egter om saam met ’n vriend by SAPRO, ’n leerkofferbesigheid, in Port Elizabeth te gaan werk.
Die enigste geskikte persoon wat Rupert kon vind om die taak by Voorbrand te onderneem, is sy jonger broer Jan, wat in daardie stadium in ’n prokureurspraktyk in Port Elizabeth met sy vader, John Rupert, was nadat hy hom die vorige jaar as prokureur bekwaam het. Jan willig in om na Rembrandt te kom en reël die verskuiwing van die fabriek in Johannesburg na die ou meul in die Paarl waar Rupert van plan was om nuwe sigarette te loods. Voorbrand se produksiebates en handelsmerke word vir ’n bedrag van £70 000 aan Rembrandt oorgedra. Aandeelhouers in Voorbrand verkry vanweë die nuwe ontwikkelings ’n belang in Rembrandt, wat steeds ook pyptabak verwerk. Rupert self word gemagtig om aansoek om £70 000 se aandele in Rembrandt te doen.
Van Zyl se besigheid by SAPRO het spoedig ook misluk en hy kom in 1948 terug na die groep as sigaretverkoper. Hy en Hoogenhout was van die eerstes van ’n hele aantal werknemers van Rembrandt wat die groep verlaat en daarna teruggekeer het, sonder dat Rupert hulle dit ooit verkwalik het.
Die groep se ander medestigter, Hertzog, was in die vroeë stadium steeds ’n vennoot van die prokureursfirma Couzyn, Hertzog & Horak in Pretoria. Weens ’n terugslag as gevolg van diefstal deur iemand in sy afdeling besluit Hertzog om hom eerder op Stellenbosch by die groep aan te sluit.
Sy skerp regsbrein was ’n bate vir die nuwe groep, maar ná ’n jaar sê hy hy wil teruggaan Pretoria toe. As kranige tennisspeler glo hy dat hy om gesondheidsredes minstens weekliks moes speel en die Kaapse winterweer maak dit nie altyd moontlik nie. Sy vrou, Lorraine (gebore De la Harpe), ’n Pretorianer, pas haar ook moeilik in die nuwe omgewing aan ná die verlies van ’n doodgebore baba en mis aanvanklik haar noordelike vriendekring.
Nadat Hertzog eers in Arcadia in Pretoria gewoon het, koop hy by sy terugkeer na die Noorde ’n huis in Waterkloof en praktiseer daar as regsgeleerde. Die aanpassing is egter moeilik en hy vra mettertyd om na Stellenbosch terug te keer. In die proses besluit hy om ’n klein besigheid wat hy met sy broer se geld bedryf het, te saneer of te verkoop. Die besigheid, wat haarkleurstof en toiletware gemaak het, is uiteindelik verkoop en die verlies afgeskryf. Hertzog beëindig sy verbintenis met Couzyn, Hertzog en Horak in 1953.
Rupert merk in sy stigtersnotas op dat Hertzog, wat intussen begin gholf speel het, ná sy terugkeer tevrede in die Kaap was. Hertzog, wat die res van sy loopbaan in die Rembrandt Groep was, kon self ’n jaar nadat hy terug op Stellenbosch was, in sy memoires daaroor opmerk: “Nou ja, dit is nou alles anders. Werk en speel is al byna net so volop as in Pretoria. My werk is veel meer bevredigend as daar. Kantoor is groter. Ek is beslis onderkant Anton. Hy het aangebied ’n mede-besturende direkteur, maar dit het ek afgewys en gesê ek wil onder hom werk vanweë die feit dat hy meer dan ek weet op die terrein. Hy is dus nou voorsitter van TIB en ek besturende direkteur – ons het omgeruil. By RBB is ek nou voorsitter en hy besturende direkteur.”
Die enigste probleem volgens Rupert in sy stigtersnotas was dat Hertzog, ’n ywerige polemikus wat talle briewe aan koerante geskryf het, op enige ander tyd as gedurende kantoorure moeilik beskikbaar was. Hertzog weer redeneer dat hy ’n volle dag se werk met volle konsentrasie insit en dus nie tuis of op die gholfbaan gepla wil wees nie. Hy glo boonop dat hy baie liggaamlike oefening moes kry omdat hy as kind sieklik was. Hy was ’n asmalyer wat op negejarige ouderdom ook rumatiekkoors gekry het wat hartklepletsels gelaat het. Toe hy twintig was, het drie versekeringsmaatskappye sy aansoeke om ’n lewenspolis afgewys; volgens hulle was sy lewensverwagting “nie eens vyf jaar teen ’n premie nie”. (Hy korswil dat die versekeraars nagelaat het om ’n nul by die vyf te voeg.) Hy moes sorgvuldig op sy dieet let, met spoorelementpille en aanvullende mikrovoedingstowwe.