Die hoeksteen van die Paarlse gebou word op 22 September 1951 deur mev. Annie Stals, weduwee van dr. A. J. Stals, eerste voorsitter van Rembrandt, gelê. Mettertyd brei die groep so uit dat van die oorspronklike gebou van 1948 naderhand net ’n muur en twee palmbome oorgebly het.
Een van die ernstigste probleemsituasies waarvoor Rembrandt vroeg te staan kom, is die kwotastelsel wat die nuwe regering opnuut ná die oorlogstydse rantsoenering van goedere heringestel het.
Die kwotastelsel berus op die status quo – die owerheid het eenvoudig ’n basiese tydperk uitgesoek waarin ’n besondere onderneming se verbruik vasgestel is en dan is die toevoer van voorraad aan so ’n vervaardiger op daardie hoeveelhede vasgepen.
Die gevestigde fabrikante word klaarblyklik uitermate bevoordeel en hulle maak sakkevol geld, maar die gevolge vir nuwe toetreders is dodelik. Sulke beperkings strem hulle onhoudbaar. Dit was ook in die oorlogsjare die geval met die tabakkwotas en beperkings op die invoer van sigaretmasjiene en -papier.
Rupert se besware teen die kwotastelsel word belig in die tweede uitgawe van Tegniek, die Afrikaanse nywerheidsblad wat hy in Augustus 1948 in samewerking met ander Afrikaanse ondernemings lanseer.
Hy skryf self in die eerste uitgawe van Tegniek hy glo dat die nywerheid die gebied is waarop die Afrikaner die meeste sal presteer. “Ons het die meganiese aanleg en kan arbeid hanteer. Is elke grootboer dan nie ’n kleinskaalse nyweraar van sy eie nie? Elke werkplek met 3 of meer is trouens ’n fabriek.” Hy wys daarop dat die private fabrieksnywerheidswese verreweg die grootste bydrae tot die volksinkome lewer, naamlik £175,1 miljoen of 21,6%. “Omdat ons nog maar 1% van hierdie nywerhede beheer, lê ons toekoms voor,” sluit hy af.
Op bladsy drie van hierdie eerste uitgawe van Tegniek verskyn ’n fotoartikel onder die banieropskrif: “Fenomenale sukses van die Eerste Afrikaanse Sigaret.” Daarin word berig dat die blad Central News die geheim van Rembrandt se sukses, behaal binne een jaar nadat die eerste sigaret van die masjiene in die Paarl gekom het, soos volg verklaar: “Die uitbreiding en gewildheid van Rembrandt-sigarette is ’n vrug van die maatskappy se vaste beleid om aan die Suid-Afrikaanse publiek die beste rookkwaliteit teen die billikste prys te verskaf, en aan die maatskappy se ondernemingsgees om die beste gebruik te maak van nuwe ontwikkelings wat hierdie doel mag bevorder.”
In die tweede uitgawe van Tegniek word egter tot die aanval oorgegaan. Nuut ingestelde kwotas het so ’n bedreiging vir die welslae van die pas gestigte tabakmaatskappy ingehou dat dit die aanleiding is tot striemende kritiek op die kwotastelsel wat in hierdie uitgawe van Desember 1949 uitgespreek word. Die betrokke artikel deur ’n regsgeleerde (vermoedelik James Yeats) basuin in groot letters uit: “KWOTAS MAAK ONS DOOD! Die Afrikaner vra net die reg om te kompeteer.”
Die tydskrif beland op die lessenaar van die minister van ekonomiese ontwikkeling en mynwese, Eric H. Louw, wie se foto groot op die voorblad pryk, ironies met sy eie gelukwensing daarby: “Ek wens Tegniek alle sukses toe.” Hy is woedend oor die artikel, waarin betoog word: “Dit word tyd dat ons as volk besef dat rantsoenering op die status quo-basis ’n kniehalter om die been van Afrikanersake is wat so gou as moontlik losgemaak moet word!”
’n Paar harde waarhede word kwytgeraak: “Die feit dat langdurige rantsoenering op ’n vaspenbasis monopolieë in die hand werk, aanleiding gee tot ’n swartmark in kwotas en dergelike algemeen bekende nadele word egter in Suid-Afrika oortref deur ’n ander ernstiger gevaar van nasionale aard: In byna alle gevalle is die gevestigde belange in die hande van uitlanders terwyl die opkomende sake in die hande van Afrikaners is. Nie alleen is dit die posisie van die Afrikaanssprekendes nie; maar dit geld ook vir Engelssprekende Afrikaners teenoor uitlanders . . .”
Die staat word daarvan beskuldig dat hy uitlanders beskerm ten koste van die ontwikkeling van landsburgers se ondernemings en Afrikaners van staatsweë belet om hul bedrywe ten volle te ontplooi.13
Hoe woedend Louw ook al was, die logika is onweerlegbaar – des te meer omdat die artikel beklemtoon dat die Afrikaner “hier geen beskerming of bevoorregting vra nie, hy vra slegs die reg om te kompeteer”.
Rupert, vasbeslote dat die kwotastelsel ingrypend gewysig en rantsoenering afgeskaf moes word, was bereid om tot aktivistiese optrede oor te gaan. Hy dreig teenoor die sekretaris van handel en nywerheid, Frans du Toit – wie se assistent Dawid de Waal Meyer was, die halfbroer van Dirk Hertzog – dat hy die fabriek in die Paarl gaan sluit as hy nie sy regmatige kwota kry nie. Hy was ook van plan om meisies met spesiale Voortrekkerrokke na die opening van die parlement te stuur om op die trappe te gaan sit en tot ’n jaar lank daar te betoog met plakkate waarop staan: “Kwotas maak ons dood!”
Rupert vertel self dat sy dreigemente ’n “gefladder in die duiwehok” veroorsaak het. Die regering, gewaand goedgesind teenoor Afrikaanse ondernemings, swig eerder “onder druk en dwang”. Uiteindelik word van regeringskant om voorstelle oor die kwotastelsel gevra. As gevolg van die bedryfsvertoë word ’n soepeler stelsel ingestel voordat die kwotastelsel finaal afgeskaf is. Daarvolgens kon vervaardigers self hul behoeftes bepaal en dit kon dan sesmaandeliks opwaarts of afwaarts aangepas word op grond van die betrokke tydperk se produksie. Die groter vermoë tot mededingendheid dien as ’n verdere hupstoot vir Rembrandt.
Nie ’n mens wat wag vir dinge om te gebeur nie, maar iemand wat self dinge laat gebeur, registreer Rupert baie gou Rembrandt se handelsmerk in sewentig lande. Dit is in daardie stadium iets seldsaams, want van Afrikaanse kant is slegs die KWV se handelsmerk in die buiteland geregistreer. Rupert se vroeë besef van die belang van handelsmerke, iets wat mettertyd byna ’n obsessie by hom word, sou ’n deurslaggewende faktor wees in die welslae wat sy groep wêreldwyd behaal.
Die naam Rembrandt vind spoedig so wyd ingang dat die groep in die middel van die jare vyftig in advertensies in die pers moes waarsku dat misbruik van die naam aanleiding tot vervolging kon gee.
Verkoopverteenwoordigers van Rembrandt ry nogtans in die beginjare nie met spoggerige motors nie. Meermale kom hulle met kartonne sigarette op hul skouers by handelaars aan.
Die eerste sigarette word ook aan aandeelhouers verkoop, nie gratis aan hulle gegee nie. Dit geld onder andere vir tabakboere wat aandele begin koop het, bemoedig daardeur dat ’n jong Afrikaner opgang maak in ’n bedryf wat voorheen deur andertaliges oorheers is. Verteenwoordigers kry opdrag om minstens een karton sigarette aan aandeelhouers te verkoop. Want, sê Rupert, “jy gee nooit vir iemand iets vir niks nie, omdat hy jou nie daarvoor respekteer nie en in elk geval geen waardering het vir wat hy kry nie”.
Mededingers spot aanvanklik met die bedrywighede langs die Bergrivier. Daar was nie baie geld vir reklame nie; in die eerste ses maande net £300 per maand. Rupert-hulle was egter vindingryk met hul skrapse bemarkingsmetodes. Voertuie is in twee kleure geverf, die een helfte groen en die ander helfte rooi, iets heeltemal nuuts in Suid-Afrika, en as bewegende reklameborde gebruik. En kleiner reklameborde van metaal is op strategiese punte geplaas.
Bemarking sou ’n vername kragbron vir die Rembrandt Groep word. Rupert se tydgenote het die klem nog op vervaardiging geplaas; hy gee aan bemarking ’n nuwe gewig wat goud werd word. Hy bou spoedig ’n goeie biblioteek oor bemarking en reklame op, en vereis dat sy medestanders dit lees. Hy teken in op tydskrifte soos Fortune en koerante soos The New York Times en The Wall Street Journal.
Rupert het benewens sy aanvoeling vir die mark en kopers se voorkeure ’n groot waarheid omtrent reklame gereeld by sy bemarkers ingeskerp: “Advertensies kan nooit eenvoudig, opreg en herhalend genoeg wees nie.”
Daarby is Rembrandt se fabrieke spoedig meer gemeganiseer en sy werksaamhede meer kapitaalintensief as dié van mededingers, terwyl hy terselfdertyd groot klem op produktiwiteit plaas.
In die beginjare is daar meer as een voorval wat