Wat Rupert-hulle aan voldoende voorraad en geboue ontbeer het, word vergoed deur gehaltebeheer wat die produksieproses betref. Dit is dwarsdeur Rupert se lewe een van sy sterk punte. Hy het byna ’n obsessie oor gehalte. Distillers lê hom dus van die begin af toe op die vervaardiging van gehaltebrandewyn soos Oude Meester en vele ander.
Huberte Rupert besoek dikwels die kelder en wys besoekers rond. Sy toon deurentyd ’n lewendige belangstelling in haar man se sakeaktiwiteite. Haar besoeke sorg soms vir drama: Die nuwe onderneming moes destyds ou bottels gebruik, want daar was nie ’n glasfabriek in die Kaap wat bottels gemaak het nie. Die skoonmaak van die bottels word ’n hele proses, en dit speel voor die laboratorium af; nie juis ’n aanskoulike gesig vir besoekers nie. Daarom het ene Milton, die hekwagter, ’n paar harde blase op ’n fluitjie gegee wanneer Huberte op besoek kom. Dit is die teken vir die bottelwassers om in die kelder te verdwyn. Huberte en haar besoekers het dan ’n minder belemmerde toegang tot die laboratorium gehad.
In die naoorlogse jare tree ook een van die tipies menslike fasette van Rupert en sy vrou na vore, twee mense wat intens met die wel en wee van hul werknemers saamgeleef het.
Die moontlikheid ontstaan dat een van sy kundigste werknemers, Alfred Baumgartner, ’n Duitser wat uit Swakopmund in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) afkomstig was en in 1946 as wyntegnoloog vir Distillers begin werk het, ná die oorlog as ’n vyandige vreemdeling met sy gesin uit Suid-Afrika na Duitsland gedeporteer sou word. Die Baumgartners het trouens al die meeste van hul huisraad verkoop en het met net hul beddens en vyf kleretasse op die gevreesde deportasiebevel gewag.
Op ’n dag stel Huberte voor dat sy vir die drie Baumgartner-kinders sal sorg en na hul ouers in die verwoeste Duitsland sal terugneem wanneer hulle in staat is om hulle te ontvang.
Baumgartner, vader van die Stellenbosse kunstenares Regine Kröger, is oplaas nie gedeporteer nie, maar hy was baie aangedaan. “Ek was so stomgeslaan deur hierdie groothartigheid, so oorval deur diepe waardering en dankbaarheid, dat ek my gevoelens skaars kon uitdruk. Al die onaangename voorvalle gedurende die oorlog, internering en die bedreiging van deportasie het voor Anton en Huberte Rupert se groot vriendskapsgebaar verdwerg. Nadat die nuwe regering (in 1948) permanente verblyf in Suid-Afrika aan my toegestaan het, het ek gedink daar is net een wyse waarop ek my dankbaarheid kon betoon, en dit was om vir die res van my beroepslewe in Anton Rupert se nywerheidsonderneming te dien,” skryf hy.6
Die episode kenskets iets omtrent Rupert en sy vrou wat nie algemeen bekend is nie: Hulle maak meer dan eens die lotgevalle van hul werknemers hul eie. Waar hulle kon, help hulle.
Een so ’n geval is Annies Breytenbach se vrou, Loretta, wat weens mislukte kornea-oorplantings oogprobleme gehad het. Rupert stuur haar oorsee vir behandeling, waarna Breytenbach sê hy sal nooit weer vir ’n ander firma werk nie.
Huberte was ook baiekeer die hart en ore van werknemers. By een geleentheid word diefstal in ’n afdeling deur middel van ’n naamlose briefie onder haar aandag gebring, en sy lig die afdelingshoof daaroor in. Toe die misdryf stopgesit is, ontvang sy weer so ’n briefie wat net lui: “Dankie, mevrou.”
Toe sy eenkeer in teetyd in die Paarl gaan vra of daar probleme is, sê een vrou: “Ja, ons voel seer dat getroude dames nie pensioenregte het nie.” Huberte gaan daarop reguit na die rekenmeester en vra dat dit reggestel word, want die betrokke groep was boonop die getrouste werkers. Van toe af is hulle op die pensioenfonds. Jare later kry Huberte ’n brief gerig aan “Ons moeder” – om haar te bedank dat die betrokke werknemer ’n kommerlose oudag kan geniet. “Dit is die soort waardering wat die lewe die moeite werd maak,” merk sy op.
Sy en ander eggenotes van senior werknemers reël Kersmaaltye en Kersgeskenke vir die personeel. Sy wens ook Rembrandt-werknemers wat in sport uitblink, persoonlik geluk wanneer hulle presteer deur byvoorbeeld provinsiale kleure te verwerf.
Haar beskouing is kortom dat sy as meelewende eggenote van die uitvoerende hoof baie meer vir die personeel kon beteken as wat sy as ’n beroepsvrou met ’n loopbaan van haar eie sou kon vermag.
Die egpaar se meelewing met die personeel verklaar ten dele die lojaliteit van Rupert se werknemers teenoor sy organisasie en homself.
Huberte druk haar beskouing van haar man se verhouding met sy personeel só uit: “Die een ding van my kant gesien wat ek moet noem, is dit: Dit is nie die sigbare goed wat Anton gedoen het wat hom vir my ’n groot mens maak nie. Dit is eerder die vermoë wat hy het om mense te besiel om buite hulleself te presteer. Hy het die vermoë gehad om sy gedagtes oor te dra aan mense wat hulle tot nuwe hoogtes binne hul eie ontwikkeling gebring het.
“Dit behels doelgerigtheid, eerbaarheid en eerlikheid – dié dinge wat wesenlik in die wêreld saak maak. Dit is nie gelukkies wat langs jou pad val nie. Dit is hierdie doelgerigte eerbaarheid wat op die ou einde vir jou blywende sukses bring, want dan kan jy ook met leerstellings klaarkom. Ek praat nie in godsdienstige sin nie; ek praat uit die sin van eerbaarheid, en dit is wat Anton se krag nog altyd vir my was.
“Die mense wat met hom saamgewerk het, het almal anderkant uitgekom as begeesterde, beter mense met ’n intense lojaliteit.
“Dit is iets wat ’n leier maak; ’n mens wat dít kan doen. Dit help nie om entrepreneurs met kapitaal in die bank te wees nie; dis slegs meevallers. Sonder Anton se mensemateriaal om hom, mense wat hy kon besiel, sou hy niks kon vermag nie.”7
Lojaliteit word een van die vernaamste sentrale begrippe van die Rembrandt Groep. Rupert gee inderdaad aan die woord “nuwe betekenis”, soos die ervare sakejoernalis David Meades by geleentheid van Rupert se tagtigste verjaardag in 1996 skryf. Hy voeg by: “Dis seker die enkele sterkste bousteen van sy sakeryk. Sy mense is bereid om alles vir die groep op te offer.”8
Rupert wei self uit oor karakter as die belangrikste bestanddeel van leierskap in ’n lesing wat hy reeds in 1965 hou en wat in 1967 in sy boek Leiers oor leierskap opgeneem word. Die goeie bestuurder “het ’n kode van waardes wat uit sy etiese en geestelike lewe voortspruit”. Dit sluit die volgende eienskappe in: eerlikheid, integriteit, betroubaarheid, lojaliteit, nederigheid, opregtheid en standvastigheid.
“In enige sakeonderneming wat lank wil voortbestaan, is eerlikheid inderdaad die beste beleid. En ons moet onthou dat dit lank duur om ’n goeie naam op te bou, maar dat daardie goeie naam binne ’n oomblik kan verdwyn as gevolg van een wandaad. Betroubaarheid word slegs deur die tyd bewys,” gaan hy voort.
“Lojaliteit is een van die mooiste bates in die lewe – die één eienskap wat nie met geld gekoop kan word nie en verdien moet word. Dit is ’n karaktereienskap wat ek bo alle ander stel.”
’n Barometer van die werknemers se lojaliteit is die lae personeelomset. In 1997 getuig Johann Rupert, naas sy vader die enigste ander hoof uitvoerende amptenaar in die bestaan van die Rembrandt Groep, voor die Waarheid-en-versoeningskommissie dat die personeelomset in die groep oor al die jare slegs 2% beloop.9
Rupert vereis inderdaad onverdeelde lojaliteit. Vir hom begin dit in die gesinskring. Hy glo dat ’n ontroue eggenoot wat nie meer lojaal teenoor ’n lewensmaat is nie, ook teenoor die groep dislojaal kan word, en hoe kan so iemand in sy of haar werk vertrou word? Kantoorverhoudings tussen getroudes en ongetroudes was vir hom ’n doodsonde. Almal in die Rembrandt Groep het dit geweet, en enkeles wat oor die tou getrap het, is verplaas of het elders gaan werk in die dae voordat die samelewingsnorme toeskietliker geword het.
Amptenare van Rembrandt wat gereeld oorsee moes reis, kon by geleentheid hul vroue saamneem. Dit geskied ook op aandrang van Huberte. Sy het Rupert oortuig dat vroue behoort te deel in die ervarings wat hul mans in die buiteland beleef en dat daardeur ook suksesvolle huwelike in stand gehou word wat ’n bate vir die groep sou wees. Die gebruik is deur hul seun Johann voortgesit toe hy die uitvoerende hoof van die groep geword het.
Rupert beskou lojaliteit sodanig as een van die opperste deugde dat hy graag ’n staaltjie omtrent homself vertel. By geleentheid