Agterna wonder hy, gedagtig aan die relatiewe posisie van sy klein Gideonsbende en die wêreldmagte in daardie stadium, of hy die moed sou gehad het om dit weer te doen. Mense sê “A little knowledge is a dangerous thing”, maar as hy geleerdes en homself betrag, dink hy “A great deal of knowledge is a dangerous thing” – want jy word bang. Dit word ook een van die redes waarom hy graag jong mense aanstel om ’n moeilike taak te verrig – want ouer mense met meer kennis is geneig om net die gevare en slaggate raak te sien. Jong mense bou brûe om probleme.
Sy groep het ten aanvang ’n bietjie kennis gehad, maar heelwat moed en basiese integriteit. “As ek mag praat as die enigste oorlewende van die oorspronklike pioniers, wil ek sê dat ek nie skaam is om te noem dat ons die sakelewe betree het om ’n eie staanplek te verwerf nie. Om saam te werk met ander, maar nie altoos vir ander nie.”
Hulle begin “met waagmoed” in die tabakbedryf, wat van lank tevore dateer. Die oorsprong van sigarette word teruggevoer na inboorlinge van Noord- en Suid-Amerika soos die Asteke en Majas wat opgekerfde tabak in buisvormige pype gerook het. In die sestiende eeu maak sir Walter Raleigh pyprook in die Engelse koningshuis gewild, en in Spanje word tabakplante as medisinale kruie gebruik. Teen die sewentiende eeu word die verbruik van tabak verbied in Oostenryk, China, Persië (waar ’n tabakhandelaar lewend verbrand word) en die tsaristiese Rusland (waar lyfstraf vir ’n eerste oortreding geld en ’n tweede die doodstraf beteken).
Die rookgewoonte neem daarna veral tydens oorloë toe. In die Krimoorlog van 1854-’56, waarheen Rupert se voorvader bestem was om te gaan, leer Engelse en Franse soldate om Turkse sigarette te rook. Teen 1880 ontwerp en patenteer James A. Bonsack en James Buchanan Duke in die VSA sigaretmasjiene. In die twee wêreldoorloë neem tabakverbruik drasties toe, en genl. John Pershing kom met ’n dikwels aangehaalde kwinkslag vorendag: “Julle vra my wat is nodig om die oorlog te wen? My antwoord is tabak net soveel soos koeëls.” Met die toetrede van die VSA tot die Tweede Wêreldoorlog verklaar pres. Franklin Delano Roosevelt tabak tot noodsaaklike oorlogsmateriaal en hy verleen vrystelling van militêre diensplig aan tabakkwekers. Daarteenoor is die tabakrantsoene van die Nazitroepe van Adolf Hitler, ’n nieroker wat ook die eerste moderne antirook-veldtog in die jare dertig begin het, streng beperk tot ses sigarette per dag.
Nog groot stukrag vir die sigaretbedryf is die koms van rolprente. Gewone mense kon nie die seiljagte, pelsjasse en luukses bekostig wat die akteurs en aktrises in rolprente vertoon nie, maar hulle kon wel die sigarette rook wat hul helde van die silwerdoek openlik gebruik. Sigaretverbruik styg ná die Tweede Wêreldoorlog en beleef in die jare vyftig ’n hoogty.9
Teenkanting teen die rookgewoonte begin geleidelik nadat die tydskrif Reader’s Digest in 1952 ’n artikel getitel “Cancer by the Carton” geplaas het, en die Amerikaanse geneesheer-generaal bring sy eerste verslag oor rook in 1964 uit. Verskeie regerings begin in die dekades daarna maatreëls teen rook en tabakadvertensies instel; Suid-Afrika volg eers in die jare negentig.
Die eerste sigaret in Rembrandt se fabriek in die Paarl word op 4 Junie 1948 deur dr. M.S. (Tienie) Louw van die produksieband afgehaal. Aanvanklik wou Louw dit nie doen nie, aangesien hy ’n goeie vriend van Johannes du P. Oosthuizen van United Tobacco, ’n swaer van Klaas Havenga, minister van finansies, was. Maar Rupert oorreed hom dat hy die taak in sy hoedanigheid as president van die Afrikaanse Handelsinstituut kon verrig.
“Die eerste Afrikaanse sigaret was op die mark,” kon Tegniek kort daarna vreugdevol berig. Die sigaret was ’n Rembrandt, ’n korte; met ’n lengte van 70 mm dus korter as byvoorbeeld die latere langer koningsformaat-sigarette van 85 mm.
Die eerste sigaret is gemaak deur A.P. (Pappa) Thierack, wat Rupert in 1945 ontmoet en in 1947 die eerste stoomketel en standaardpakmasjiene in die ou meul geïnstalleer het. Onder andere help twee bruin werkers, Moos du Preez en James Martin, wat dekades lank by die groep sou bly, hom om die eerste sigaretmasjiene te monteer. Swart werkers hanteer die bale tabak en vol kartonne sigarette en pyptabak. Volgens Thierack is aanvanklik 100 000 sigarette per dag vervaardig. Mev. H.J. Muller het die eerste pakkie se sellofaan met ’n strykyster vasgebrand en ook die eerste aksynseël met die hand op die pakkie geplak. Sy vertel dat daarna “met baie kopkrap, pas en meet, word daar ’n masjien gebou deur Bakoor Smit wat bestaan het uit ’n naaimasjienwiel en ’n fietsketting”.10
Die nuwe sigarette verskyn op die mark ’n week nadat die Nasionale Party van dr. Malan, wat ’n verkiesingspakt met Havenga se Afrikanerparty aangegaan het, in die verkiesing van 26 Mei 1948 die bewind by genl. Smuts se Verenigde Party oorgeneem het. Nasionalistiese gevoelens het hoogty onder Afrikaners gevier. Sommige politieke ontleders voer aan dat die NP se beleid van “apartheid” die deurslag in die nuwe Afrikanerregering se oorwinning by die stembus gegee het. Maar heelparty ander meen dat Smuts se besluit oor deelname aan die oorlog wat nie aan ’n volkstemming onderwerp is nie, die swaarkry in die oorlogsjare ná die Depressie, die diskriminasie teen Afrikaners in die staatsdiens en elders, asook die griewe van teruggekeerde soldate teenoor wie Smuts se beloftes nie nagekom is nie, ’n veel belangriker rol gespeel het. Malan verwoord die gevoelens van baie Afrikaners: “Ons voel weer tuis in ons eie land.”
Aanvanklik konsentreer Rembrandt net op die Wes-Kaap. Soos Rupert dit later sou motiveer: “Sir Francis de Guingand (stafhoof van die Britse veldmaarskalk Montgomery in die Tweede Wêreldoorlog) het gesê: ‘If you overextend you are a Napoleon or a Hitler.’ Dis nie iets wat ons gedoen het nie.”
Area vir area is letterlik oopgeveg, en so word belangstelling in en ’n vraag na die nuwe groep se produkte geskep. Die voorposte skuif uit, van die Boland na die Suidwestelike Distrikte, die Karoo, Namakwaland, die Oos-Kaap, Kimberley, die Vrystaat. Eers ná ’n jaar word die Vaalrivier oorgesteek en arriveer hulle in Johannesburg, 1 500 kilometer van Kaapstad, hoewel hulle geweet het in die Goudstad wag ’n wins.
Die vervaardiging van Rothmans-sigarette onder lisensie verloop ook volstoom van 1949 af en die tegniese vaardigheid wat daarmee gepaardgaan, gee aan Rembrandt ’n besonder mededingende voordeel. Rembrandt betaal aanvanklik tantième aan Rothmans vir die buitelandse kundigheid. Uiteindelik sou Rembrandt beheer oor Rothmans of Pall Mall in Engeland oorneem.
Daar was aanvanklik nie veel kontant nie, maar werknemers is besiel met die oortuiging: ’n Boer maak ’n plan. Teen die muur van die fabriek is ’n plakkaat met die naam Rembrandt en ’n tekening van die grootmeester aangebring. Onder die naam staan die credo wat die werknemers inspireer: “Elke sigaret móét ’n meesterstuk wees.”
Dit vertolk Rupert se klem op gehaltebeheer.
In die groep se kantore word ook ’n tekening aangebring wat die wedloop tussen die hasie en die skilpad uitbeeld. Die onderskrif lui: “Dit is die laaste tien tree wat tel.”
Die bedoeling daarvan is om werknemers daarvan “bewus te maak dat ’n mens nie op jou louere moet rus en gaan lê en slaap nie”.11
Dit is ’n tipiese karaktertrek van Rupert: Hy is nooit selftevrede nie. Hy was pal ongeduldig met die status quo. Hy daag dit selfs uit – voortdurend op soek na nuwe moontlikhede en geleenthede.
Die sakeman hier aan die woord is iemand van wie dit bekend is dat hy ’n harde werker is; dat hy tot twaalf uur per dag op kantoor deurbring. Almal wat hom ken, is dit eens dat hy ’n geweldige werkvermoë het. Hy is selfs by geleentheid beskryf as ’n “marathonatleet”. Hy kon uur na uur volhou sonder om gespanne of geïrriteerd te raak.
Dit het sy senior personeel onder druk geplaas, maar ook geïnspireer. Die gevolg was dat hulle baiekeer saans tot tienuur, soms selfs tot naby middernag, op kantoor gebly het. Verskeie mense in die groep beklemtoon dat Rupert laatmiddae op sy sprankelendste en aktiefste is.
Toe sy vrou hieroor uitgevra is, was Huberte se veelseggende antwoord: “Ander mans kom ook laat tuis, maar miskien van die gholfklub of die kroeg af. Nee, ek dink dit is sottigheid om te kla as jy weet jou man is besig om te werk.”12
Die