“Ja. Wanneer dit jou verjaardag is, bak ons ’n feetjiekoek. Het jy geweet die verjaardagfeetjie, regte naam Natalicia felicitata, is die besigste feetjie van almal?”
“Nee, ek het nie geweet nie,” sê ek voordat ek myself kan keer.
“Dis die reine waarheid. Nou, sê iets oor jouself.”
’n Oomblik kyk ek die vrou stil en grootoog aan. Die een malle is die dirigent en die ander die orkes. Ek moes liewer my kalmeerpilletjie vanoggend geneem het.
“My naam is Kleintjie Ziman,” sê ek dan, “en ek is sewe-en-veertig jaar oud, verjaar op 10 September en is gebore in die Agnes-tehuis vir Ongehude Moeders. My aanneemma het my oorspronklike naam, Juliet Jacobs, laat verander na haar eie naam, Susanna Merwe. Maar my noemnaam is Kleintjie.” Ek sluk, dit was nogal ’n mondvol.
Wanda Magic knik tevrede, verseker my nogmaals dat ek gerus kan ontspan; sy wil werklik hê ek moet gemaklik voel gedurende ons sessies. Haar optrede vind ek opreg en innig.
Ek laat my opgetrekte skouers sak, haal diep asem, blaas stadig uit en voel hoe my binneste wil-wil ontknoop, soos een wat uiteindelik genoeg moed bymekaarskraap vir … ek wonder wat. Ontboeseming?
“Wil jy my iets oor jouself vertel?” por sy my aan, voel seker desperaat oor my stilswye. “Laas keer het jy gepraat van ’n seer wat jy al jare lank met jou saamdra. Wil jy my meer vertel?”
Steeds huiwer ek. Laas was ek so depressief dat ek dinge kwytgeraak het in ’n desperate poging om … wat hét ek als kwytgeraak? Nou sit ek met ’n mond vol tande, nie meer vir my maklik om oop te maak nie, sy is immers ’n vreemde vrou.
“Ek verstaan jou huiwering, Kleintjie. Ek is ’n vreemde vrou en soms …”
Kan die vrou gedagtes lees?
Wanda van Vollenhoven se stem dreun voort. Diep, mooi en duidelik, asof sy heeldag tyd het, en ek skuif effens vorentoe op my stoel, bang ek mis een frase, een wyse woord.
Agter haar teen die muur hang haar geraamde meestersgraad, ook ander sertifikate, en ek probeer so onopsigtelik moontlik uitmaak wat hulle sê. Hoe gekwalifiseerd is die vrou? Goue rame om papier met vergulde letters.
Hoe gekwalifiseerd is die mán? So baie diplomas teen sy muur. Hy kan preek. Hy kan liefhê en hy kan moor. Dit gee hom die reg.
Watse reg het sy? Ek moet kyk. En voorbereid wees.
Heel ingedagte rek ek my nek om beter te sien, en dan sê sy: “Ek sien jy kyk na my kwalifikasies.” Sy wys met haar hand oor haar regterskouer na die muur agter haar.
“Ekskuus, dis nie wat ek bedoel het nie, ek bedoel gedink het nie …”
Wanda skud haar kop, toemaar, dis niks, beduie sy. “Dit is net natuurlik om te wonder of die persoon voor jou bekwaam is of nie.”
Het ek aanstoot gegee? Wens ek het geweet of daar reëls in ’n shrink se kamer is, ’n protokol van dinge doen en sê. Ek lees die geraamde woorde wat eenkant hang: Be kind, for everyone you meet is fighting a great battle. – Plato.
Amen, dink ek, dis diep. Toe gewaar ek die feetjie wat op die raam sit, silwer beentjies wat speels oor die glas hang.
Wanda se monoloog het oënskynlik opgedroog, en die stilte is nou ongemaklik, maar ek voel heeltemal onbevoeg om enige kommentaar te lewer. Dis soos met ’n doodstyding, my verstand slaan eenvoudig toe. Gewoonlik praat ek maklik oor myself; nou sit en wonder ek oor die vrou voor my. Ek wil ontspan, maar daar is die stramheid van ’n spanning in my.
Ek het die behoefte om haar iewers anders as in hierdie kantoor te plaas. Miskien in ’n kombuis of in ’n tuin voor haar huis. As ’n mens aan iemand dink wat nie by jou bly nie, dink jy tog aan hulle in ’n spesifieke omgewing, maar liefs nie in ’n shrink se kantoor nie, al is sy die shrink. Dus, op die gevaar af dat ek aanstoot kan gee, vra ek haar waar sy woon.
Wanda se lippies gaan oop en toe sonder dat sy ’n woord uitkry, en getrou aan my impulsiewe geaardheid, is ek onmiddellik spyt en vra ek om verskoning, besef ek het heel waarskynlik ’n grens oorskry. Dis nou eenmaal ek, altyd te veel, te gou. “Jy is te familiêr,” sê Fred altyd as ek, volgens hom, te eie word met sogenaamde vreemdelinge.
“Dis nie nodig om verskoning te vra nie,” sê Wanda dan, “mens wil maar iets van jou gespreksgenoot af weet. Ek bly in ’n klein meenthuis in die noorde, met ’n kat en ’n lappie grond vir tuinmaak.”
Sy bly in die noorde en haar kantoor is in die weste? Dis vir my vreemd, maar ek vra nie verder uit nie. “Ek wou nog altyd ’n kat gehad het,” sê ek, “maar met twee vierpotige kathaters op die erf is dit nie moontlik nie.”
Haar glimlag is skrams en vlietend. Die spanning is gebreek, maar ek weet steeds nie waar sy bly nie.
Jou glimlag was nooit gejaagd nie, Pastoor, nooit skrams nie maar vol, breed en warm ook, met goddelike beloftes. Tussen kerkgangers het ek jou oë gesoek, die verruklike plooie om jou mondhoeke, die skulp van jou ore. En as ek dit gevind het, het dit in my oë getalm en het ek die prentjie diep binne my gebêre. Jy is soos ’n pa, het ek gedink. Béter as my pa. Ek beter as jou dogter. Weg is die drank, weg is die stank.
“As jy gereed is, gaan gerus voort,” sê Wanda.
Ek moet onthou: Geen ditjies en datjies nie, dis shrink en pasiënt. In teenstelling met Pastoor en lidmaat. Nou ja, dan is dit nou my beurt, ek sal moet praat.
“Op die oomblik is ek sekretaresse en PRO by ’n skooltjie op ’n plekkie êrens tussen niewers en nêrens.” Ek gee ’n sagte laggie, dis immers ’n grappie. Soort van. “Soms staan ek ook in vir ’n onderwyser wat met verlof of siek is en dit gebeur nogal dikwels.”
Ek aarsel, nie seker watter invalshoek ek moet gebruik nie.
Wanda kom tot my redding. “Is jy getroud?” vra sy. “Miskien kinders?”
“Ja, my man se naam is Fred en ek het twee dogters. Fred het voorheen op die myn gewerk, maar werk tans by ’n invoer-en-uitvoer-maatskappy wat verbintenisse met die myn het. Fred is ’n goeie man vir my en weet alles omtrent my, ons het nie geheime vir mekaar nie. Jy weet wat ek bedoel.”
Sy knik.
Die stukkie oor die geheime klink seker verspot, maar ek wil hê sy moet weet dat Fred weet ek sien ’n sielkundige, dis al. Dis in elk geval genoeg vir eers. Netnou sê ek weer te veel, is ek weer te familiêr.
“Wat doen jy in jou vrye tyd?”
“Ek lees graag poësie en sielkunde. Ek het kindersielkunde geswot.”
“Dis baie interessant. Waar het jy studeer?”
“By Potch, vir my onderwysdiploma.”
“En jou gesondheid, oor die algemeen? Enige probleme?”
Behalwe my depressie is ek gesond, verseker ek haar. Neem net die gewone vitamiene, ’n halwe antidepressant-pilletjie daagliks, voorbehoedpille, oor-die-toonbank-pille vir pyn en Saint John’s wort. Ek gaan nie my gewigsprobleem noem nie, dis tog ooglopend. Die feit dat sy, hoewel tien jaar ouer as ek, baie mooi is, modern aantrek en pragtig gebou is, met al die rondings op die regte plekke, maak dit nie vir my makliker nie.
Ek hou haar dop; haar blik het nog nie een keer oor my lyf gegaan nie. Maar sy kan maar kyk as sy wil, ek het ’n pers pakkie aan, lyk goed versorg en steek nie af nie.
“Waarom neem jy vitamiene?”
“Ek bly moeg, sukkel om te konsentreer, kan nie die kinders se name onthou nie. Maar of die vitamiene werklik help, weet ek ook nie.”
Sy kyk my aan.
Moet ek bylas dis vir woema, seksdrang, werklus, inspirasie? My fut is uit, Wanda. Punt.
“Kleintjie, waarmee kan ek help, waar kry ek jou vandag?”
Ek