Het ek reg gehoor?
Ek is verwerp, mishandel, ly aan depressie, toon selfmoordneigings, en dié vrou praat oor ’n goeie feetjie, nogal bo-op ’n Kersboom, haar eie pen niks minder as ’n towerstaf nie.
Ons staar mekaar aan oor die ontsaglik groot eikehoutblad, wat byna heeltemal bedek is met plantjies, plastiekdiertjies, feetjies, kerse en parafernalia. Daar is ’n waterfles bedek met ’n outydse gehekelde doilie met ’n soom van ’n verskeidenheid van geborduurde feetjies. Oulik as jy van oulik hou.
Dalk laat sy haar pasiënte rustig agteroor op ’n sagte bank lê terwyl sy ’n pendulum (dalk ’n slapende feetjie?) voor jou oë swaai totdat jy liggies indommel. Dit spaar jou die verleentheid om jou siel te ontbloot terwyl jy haar in die oë kyk.
Jy het nooit die lig aangeskakel nie. Daar is te veel vensters, het jy gesê. Iemand sal lont ruik, kom ondersoek instel. Haai kyk, die kleuterskool se lig brand, ek wonder wie is daar? Pastoor? Kleintjie? Dit sou nie deug nie. Die straatlig, buitelig, oorgenoeg lig, baie dankie. Dit het my die verleentheid gespaar om jou in die oë te kyk. Om jou aan te kyk.
“Moet dit nie ’n engeltjie wees nie … ek bedoel, bo-op die Kersboom?” vra ek, my stem temerig.
“Kom ons speel dis ’n feetjie,” sê sy sag maar beslis. “Met vlerkies, natuurlik.” Sy hou ’n oop hand langs elke skouer, palms na my toe en maak heen-en-weer-bewegings. Vlerke.
’n Oomblik sit ek oorbluf, toe lag ek. Dalk is sy ’n sielkundige vir versteurdes, of ek het die verkeerde nommer geskakel. Maar hier sit ek! En bid ek is nie ’n versteurde nie.
“Mevrou …” begin ek huiwerig, maar sy val my in die rede.
“Noem my Wanda. Wanda met die magic wand.”
Ek wou sê: Mevrou, ek voel senuagtig, bang, onnosel, wat ook al; eintlik wil ek glad nie hier wees nie, die hele ding van ’n sielkundige wat my wil analiseer, is vir my traumaties, ek dink die woorde is: dit freak my uit. En nou nog ’n feetjie in plaas van ’n engeltjie, ek bedoel sielkundige.
Maar humor is goed, dis trouens al wat my die afgelope klompie jare aan die lewe gehou het.
’n Bewoënheid druk eensklaps op my hart en ek sluk en pik trane weg. Die volgende oomblik leun Wanda vorentoe, vou haar arms voor haar op die blad, haar borste beurend teen die materiaal van haar rok; die blik onder haar lang wimpers sagter as ’n oomblik gelede. Ek skuif ietwat senuagtig op my stoel rond, weet nie of dit as gevolg van haar sagte blik of die boheemse milieu is waarin ek my bevind nie.
“Ek probeer nie ligsinnig wees nie, ek wil net hê jy moet gemaklik voel,” sê sy – ’n duidelike poging om my gerus te stel, en ek wonder weer of ek so verskrik lyk soos ek voel.
“Gedurende ons sessies sal jy dalk diep moet skep. Ek probeer net om ’n aangename atmosfeer te bewerkstellig waarby ons albei aanklank kan vind.”
Haar kort, blonde hare met ’n paar pienk-perserige strepe lê effens gekrul oor haar kop, haar oë groen en groot, en om haar nek stringe krale van verskillende kleure en soorte. Silwer armbande aan albei arms blink in die repie son wat deur die gordyne en oor haar lessenaar val.
Ek knik, want die woorde sit dik in my keel. Sy kyk my vraend, of is dit uitdagend aan, ek kan nie besluit nie, en dan voel die hele omgewing vir my ’n bietjie oorweldigend: die mooi kantoor, die mooi vrou, haar mooi woorde, en ek sien nou die eerste maal die wit blommetjies (freesias?) in ’n deurskynende groen botteltjie gerangskik. ’n Mooi feetjie in blaarkleertjies is aan die botteltjie vasgemaak, ’n toorstokkie in die hand. Fyn en mooi.
Alles mooi, mooi, mooi.
Ek soek met bewerige hande in my handsak rond na ’n snesie; al wat ek nou nodig het om my selfvertroue nog ’n verdere knou te gee, is ’n rooi neus en maskara-strepe oor my wange.
Sy stoot amper ongemerk die pak Kleenex effens nader aan my en dit is asof sy elke beweging van my dophou. Dan die besef: lyftaal spreek harder as woorde, snot en trane harder as belydenis. Ek snuit saggies en voel soos ’n idioot, kyk haar vlugtig aan en gee ’n verleë laggie.
“Jy lyk hartseer, mevrou Ziman. Ontsteld …”
Dis dan soos ek gedink het dit gaan wees. Warm patat en koue pampoen. Sy sê ’n woord, ek reageer. Ek sê ’n woord, sy reageer. Jy’s koud, jy’s warm, jy’s warmer, jy brand …
Kleintjie!
Pastoor.
Dankie, Kleintjie.
Plesier, Pastoor.
“Mevrou Ziman, ek kan sien dit is vir jou moeilik om oor jouself te praat. Wees net rustig, daar is niks wat ons jaag nie. As jy my nie as die goeie feetjie wil aanvaar nie, beskou my dan as ’n biegmoeder. Net vir die duur van ons sessies.”
Die moederstorie is seker na aanleiding van wat ek haar laas vertel het, naamlik dat ek aangeneem is. Ek het dit net terloops genoem, maar sy het dit onthou, sonder ’n bandopname en sonder dat sy notas geneem het. ’n Biegmoeder tien jaar ouer as ek? Waarom nie? Met my eerste besoek het ek haar geboortedatum op een van die dokumente op haar lessenaar gesien – ek het vinnig en skelm gekyk. Sy is sewe-en-vyftig.
“Wat wil jy hê moet ek sê?” vra ek in ’n flou stemmetjie wat ek skaars as my eie herken.
“Dalk kan jy begin waar dit vir jou veilig voel. Sê wie jy is.”
Sonder om oogkontak te verloor, of ’n groot vertoon, skuif sy die mooi houer met snesies tussen my en die mikrofoon in. Met die ding buite sig voel ek meer ontspanne, maar toe ek steeds huiwer, moedig sy my aan met: “Jy het die vorige keer gesê jy is aangeneem, jou name verander. Wat was jou oorspronklike naam?”
“Ek is Kleintjie Ziman.”
“Is Kleintjie jou oorspronklike naam, of is dit jou noemnaam?”
“Hulle noem my Kleintjie.”
Wat wil die vrou van my hê? “My doopnaam is Susanna.”
“En jou nooiensvan?”
“Merwe. Maar my noemnaam is Kleintjie.” Ek voel soos ’n sot, die vrou gaan dink ek is onnosel. Story of my life. “My getroude van is Ziman.”
“Mevrou Ziman, is Susanna Merwe die naam wat jou aanneemma jou gegee het, of jou biologiese ma?”
“My aanneemma,” sê ek, onkant gevang deur hierdie uitleg van die familiegeskiedenis. “Ek was by die Agnes-tehuis vir Ongehude Moeders geregistreer as Juliet Jacobs. Jacobs is my biologiese ma se nooiensvan.”
“Dus is jy Susanna …”
“Ek word Kleintjie genoem,” val ek haar in die rede. “Nooit Susanna nie. Niemand weet van die naam nie, en ek is net, wás net, op rekord Juliet Jacobs.” Herhalings, herhalings …
Die feetjie van die Kersboom kyk my nogmaals stip aan, haar kop skuins gedraai, en toe sy praat, is haar stem soos ’n sagte brandertjie wat sê: Ek kan met jou speel, maar ook oor jou rol.
“Dus, by die tehuis vir ongehude moeders is jy, op rekord, Juliet Jacobs, en op jou aannemingspapiere by die welsyn is jy ook Juliet Jacobs. Maar met jou aanneming het dié name weggeval en is jy wettig as Susanna Merwe geregistreer. Is dit reg so?”
“Ja, dis seker so.” Ek het nog nooit so helder daaroor gedink nie.
“Ek kan hoor dat jy baie geheg is aan jou noemnaam. Sal dit reg wees as ek jou vir die doeleindes van die terapiesessies dan Kleintjie noem? Sal jy gemaklik voel daarmee?”
Dankie, tog. My biologiese ma het vir Juliet Jacobs afgeteken; sy bestaan nie meer nie en niemand ken my as Susanna nie. “Ja, dankie, dis reg so,” sê ek verlig.
“Dankie, Kleintjie. As jy gereed