Wanda die kliniese sielkundige.
Agterna het ek haar op die internet gaan soek, maar tevergeefs. Kan ’n mens iemand vertrou wat nie die moed het om haar dienste op die internet te adverteer nie? My toe bygeval die flerries adverteer ook daar.
Ek het haar kwasi-anonimiteit daaraan toegeskryf dat sy so goed in haar werk en dus so besig is dat sy nie hóéf te adverteer nie. ’n Shrink is ’n shrink, het ek desperaat besluit, ek kon nie langer uithou nie, ek het nou hulp nodig, of dan ten minste raad. Soggens kon ek nie opstaan nie en die res van die dag sleep ek myself voort van die een gesiggie na die ander, die een boek na die ander, sonder dat ek die naam onderwyseres werd is.
Agter my toe slaapkamerdeur (ek moes eers moed bymekaarskraap om vir my man, Fred, te sê) het ek haar nommer geskakel met die hoop om darem oor ’n week, miskien twee op die meeste, ’n uurtjie van haar besige tyd te bekom.
Sy het die foon self geantwoord en die wind was skoon uit my seile. Die skielike kontak, die aanhoor van die shrink se stem, was meteens oorweldigend. Ek het ’n bietjie gehoes en geproes, gewens daar was eerder die onpersoonlike, amper onbelangstellende stem van ’n ontvangsklerk.
“Ek wil net ’n bietjie gesels,” het ek verskonend gesê, seker ek klink soos ’n ellendeling wat mense moet betaal om met haar te praat. “Ek ly aan depressie, ek het berading nodig …” het ek onseker voortgeploeter, gevoel soos ’n opperste gek, en toe nogal met nadruk bygevoeg: “… ek dínk.”
“Ons noem dit terapie, nie berading nie,” het sy gesê, saaklik maar nie onvriendelik nie. “Sal vieruur jou pas?”
“Watter dag?” het ek verskrik gevra.
“Vandag. Wat is jou naam?”
Vandag? My naam? Die selfoon het in my hand gegly.
Al naam waaraan ek kon dink, was my van, Ziman. Voornaam en noemnaam vergete. Gelukkig het sy nie gevra nie en ons het mekaar beleefd gegroet, ’n wedersydse “totsiens, Mevrou”, maar nét toe ek die oproep wou beëindig, roep sy na my: “Mevrou Ziman! Glo jy in feetjies?”
“In feetjies?” Ek was heeltemal oorbluf.
“Ja. Glo jy in feetjies?”
“Uhm … nee.” Ek was effens onseker, nie geweet of die vraag ’n toets was met die bedoeling om die gewone siel van die aweregse te onderskei nie. Dis kleingeestig van haar, het ek gereken, selfs onsensitief.
Daar was ’n stilte tussen ons, ingehoue asems, toe sê sy: “Hmm … totsiens,” en lui af.
Ek het werklik ’n lang geskiedenis van slegte keuses, dit strek tot by … ek wil amper sê geboorte, en ek het gewonder of ek die regte persoon gekies het. Maar soos honderd maal tevore het ek nie in staat gevoel om om te draai nie. My keuse vasgeknoop.
Die eerste dag het sy my op die boonste treetjie ingewag, haar voete omtrent weggesak in die oorvloed van ’n skelpienk-en-pers mat van wol. Haar veelkleurige chiffon-uitrusting het tot op haar tone geswiep. Sy het in ’n ou houtstoel met wieletjies gaan sit by ’n tafel wat as lessenaar gedien het; ek oorkant haar op ’n houtbank. Sonder omhaal het sy my gevra waaroor ek haar kom sien, en ek het sommer prontuit vir haar gesê ek ly aan depressie, nie nodig om te wag dat sy dit vir my moet uitspel nie. Vat my geld en maak ’n einde aan my lyding, het ek gereken.
Ons lewe in ’n era waar alles kits is en ek wou ook kitsoplossings van haar hê. Agterna, by die huis, het ek eers besef daar is nie iets soos ’n quick fix nie, dat ek sal moet teruggaan vir verdere terapie om die sogenaamde sluimerende depressie onder die knie te probeer kry, in die hoop dat my probleem (probleme?) nie té ingewikkeld is nie. Wat sy my wel gegee het, was die emosionele ondersteuning om daardie dag aan te gaan tot hier waar ek vandag weer in haar spreekkamer is.
As ek net presies kan weet wat my probleem is. ’n Mens kan tog nie jou verlede ongedaan maak nie, kan jy? My lewe voel soms soos ’n tapisserie van verkeerde mense, verkeerde besluite, regte vrese. Daar is so baie dinge.
Luister na die tortelduiwe, Kleintjie, is dit nie pragtig nie? Net so pragtig soos jy, het jy gesê. My pastoor. Verkeerde mens, verkeerde besluit, regte vrees. Maar dis lankal oor en verby. Waarom bly spook dit? Soos ’n stem uit ’n slopemmer.
Haar kantoor lyk soos ’n toneeltjie uit ’n sprokiesboek en ek probeer my daarop instel dat ek op die mooi om my konsentreer. Soos op die donkerpers viooltjies in helderkleurige keramiekpotjies en feetjies wat tussen die blare pryk, die een se uitrusting meer uitspattig as die ander een. Links van my is ’n piepklein teekoppie en piering, en ek leun oor om te sien wat in die koppie is, lyk soos teeblare. En in die middel van die teeblare … nog ’n feetjie! Elke feetjie met ’n towerstaf in haar hand.
Ek dink verlede week het Wanda my net deurgekyk, want vandag is ek opgegradeer van die ontvangslokaal na wat sy haar sessiekamer noem. Van ’n houtbank na ’n gemakstoel. Maar hierdie sessiekamer is net so boheems en onkonvensioneel soos haar ontvangs, net so vol feetjies. Nie sprake van kliniese wit nie, of dalk dink ek aan hospitale of psigiatriese inrigtings. Wys jou.
Ek bekyk die vrou voor my skelmpies. Te oordeel na haar voorkoms kan sy netsowel saam met die feetjies in ’n koppie vol teeblare of ’n blompot vol viooltjies sit. ’n Pixie pleks van ’n sielkundige wat ongestoord en gemaklik weggesink sit in haar yslike stoel van dons en spons, op die gevaar af om heel ingesluk te word. Ek sit ver terug, probeer so ontspanne soos sy lyk, druk my lyf dieper in die milddadige sagtheid van die stoel in.
Toe sy my vierkant aankyk, merk ek ’n vonkel in haar oog, die pruilmondjie wat skrams in ’n halfmaantjie verander. Wag sy vir my om te praat?
My moed sak, ek is nie gereed nie.
Wat is ek vir haar? Gevallestudie nommer … duisend? Die arme vrou, sy het nog nie eens begin nie en ek kry haar reeds jammer.
“Ons het met jou eerste besoek gepraat oor die kwessie van die mikrofoon en jy het toestemming gegee, maar as dit jou enigsins ongemaklik laat voel …”
“Nee, dis reg so,” jok ek vinnig. Sy moenie dink ek steek iets weg nie. Ek wil ook nie kinderagtig voorkom deur bang te wees vir ’n mikrofoon nie; by die skool leer ’n mens gou genoeg om in die ding te praat. Ontspan, ontspan …
Dit val my by, sy hét verlede week gepraat van ’n mikrofoon, en ek hét ja gesê, maar ek was toe so swartgallig en só buite weste dat ek nie nou kan onthou presies wie wat gesê het nie. Vandag is Maandag, dit weet ek wel, dis vieruur, haar kantoor is nie groot nie en dis warm binne. ’n Venster is oop, maar daar trek nie ’n luggie nie, selfs die gordyne hang slap. Ek probeer ongesiens die sweet wat op my hande pêrel aan my langbroek afvee.
Het sy dan nie lugreëling nie?
Kry haar feetjies koud?
Kry sy koud? Is dit net ek?
Haar dekor is alles in skakerings van groen en wit, en ek sit en wonder of dit ’n dieper betekenis het, want sý is ook in groen geklee, met groot wit oorbelle. Blinkertjies en valletjies oor die lengte en breedte van haar bloes, soos ’n blommekind van vyftig jaar gelede. Al wat kort, is die bandana.
“Dit moes baie moed geverg het om hierheen te kom,” sê sy, “om met ’n vreemdeling te praat oor die gevoel wat dreig om jou ruimte van veiligheid op sy kop te keer. Amper soos ’n kind se bang gevoel.”
Sy onthou goed. Dit was wat ek laas vir haar gesê het, alhoewel nie heeltemal so beskrywend nie. Sy het ’n maniertjie om aan die punt van haar neus te vat, en ek wonder of daar enige betekenis aan te heg is.
Soos almal wat aan dié onnoembare, donker siekte ly, voel ek ook soos ’n uitgeworpene, belas met die alewige vraag: Waarom ék? Dalk sal sy vir my iets kan bied, iets soos ’n lewensfilosofie.
“Dis miskien makliker gesê as gedaan,” sê sy, “maar ek wil hê jy moet probeer ontspan.”
Haar stem ruk