Karl voel verlate. Hy is alleen in die koshuismoeder se kantoor en weet nie waar Josef en Riekie is nie.
Maar dan kom daar ’n bietjie troos. Mevrou Mostert vertel hy is genooi om tot môre in die hoof se huis te bly, selfs om daar te slaap.
Josef kom om hom te haal.
Met groot geesdrif neem hy Karl na die huis waar hy en die ander kinders almal gebore is, en waar sy pa eers lank alleen gebly het voor hy getroud is. Toe was dit ’n klein plekkie. Daarna is ekstra vleuels en verdiepings oral aangebou sodat dit nou, volgens die arme bouer wat maar gemaak het soos doktor Serfontein wou hê, ’n argitek se nagmerrie is. Die studeerkamer is egter vandag nog net soos dit oorspronklik was.
Karl kan nie glo die kinders besef nie hoe gelukkig hulle is nie. Vir hulle is dit net hulle huis en hulle word nie bederf nie.
“’n Mens moet oppas vir my ma,” waarsku Josef. “Sy slaan eers en vra dán ’n verduideliking. En bewaar jou siel as jy nie luister selfs voor sy klaar gepraat het nie!”
Karl dink aan die vriendelike mevrou Serfontein en haar sagte stem wat so vertroostend is. Hy kom eers agter sy is streng toe hy sien hoe net een flikkering van haar oë haar kinders laat spaander. Nogtans is sy sag en lief teenoor hulle, solank die spulletjie hulle gedra.
“Wat van jou pa?” vra Karl vir Josef. “Is hy ook kwaai?”
“By die huis glad nie. Hy straf ons nooit nie. Nou dat ek nie meer ’n junior is nie, het ek al ’n paar keer by hom pak gekry, saam met die ander ouens. Maar dis amptelik; ons praat nie later daaroor nie.”
“Dit moet snaaks wees om ‘amptelik’ slae te kry,” sê Karl. “Hoe praat jy daarna met jou pa asof niks gebeur het nie?”
“Wel, dis maar net hoe dit is.”
Oor middagete ontmoet Karl die kinders se niggie Tessa, nou mevrou Krynauw, en haar vrolike driejarige seuntjie Felix.
Karl dink sy is baie mooi met haar swart lokke en groot, grys oë.
Tessa lyk vandag selfs mooier as gewoonlik. Sy is bly haar geliefde tannie Helen en die kinders is weer tuis. Haar man is ook opgewek; hulle voel albei effens verlore wanneer doktor en mevrou Serfontein oorsee is.
Almal aan tafel is tevrede met die lewe. Selfs Berrie en Tiesjie gee Fräulein nie rede om met hulle te raas nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.