In die skip se grootste en beste kajuit staan Riekie ’n rukkie stil tussen sy pa se persoonlike besittings. Hier is sy tikmasjien met die stapels papier langsaan; links die bladsye wat vol getik is en regs die skoon velle. Die kajuit is pynlik netjies soos enige plek waar doktor Serfontein bly. Hier aan boord is dit ook sy slaapkamer.
By die huis word die kinders selde in sy kamer toegelaat. Buite sy slaapkamer is daar ’n slaapstoep, byna in die takke van ’n groot ou boom. Daar is net ’n smal divan. Die hoof het ook sy eie badkamer.
Riekie se tannie Coralie – die vrou van sy oom Adolf, sy pa se broer en ’n senior onderwyser by Keurboslaan Seunskool – het eendag vir hom ’n skuins, half spottende vraag gevra oor waarom hy verkies om alleen te slaap. Hy het dit nie heeltemal verstaan nie en ongemaklik gevoel, maar dis nou eenmaal hoe tannie Coralie is. Daarna wonder hy soms oor die vreemde bestaan wat sy ouers saam voer.
Hy trek sy skouers nou op, skud die gedagtes af en stap vinnig terug met die pyp en ander rookgoed.
“Baie dankie,” sê sy pa.
Riekie wil die pyp graag vir hom stop, maar hy waag nie om dit aan te bied nie. Hy staan nog vir ’n oomblik, dan stap hy weg na waar Josef en ’n paar ander seuns gesels.
Een van hulle, ’n seun met wakker bruin oë en ’n glimlag wat byna nooit verdwyn nie, roep na hom.
“Haai, Riekie! Gaan vra jou pa om saam met ons te kom dektennis speel.”
Doktor Serfontein speel soms teen twee seuns tegelyk en hulle geniet dit terdeë. Hulle voel nie net geëerd nie, maar sy ratsheid en berekende houe maak die spel opwindend.
“Nee,” sê Riekie.
“Gaan jy dan, Josef.”
“Aikôna! Hy lees en hy het nou net sy pyp opgesteek. Ek gaan hom nie pla nie.”
“Wag, Berrie is nie bang nie. Berrie!” roep die seun.
Berrie kom aangehardloop. “Wat makeerg?” vra hy.
“Gaan vra jou pa om te kom tennis speel.”
Berrie se kort bene hardloop na sy ouers se stoele. “Pa!” roep hy van ver af. “Die kêrgels sê Pa moet kom tennis speel!”
Dis gewoonlik maklik om met doktor Serfontein oor die weg te kom as ’n mens natuurlik en beslis optree. Hy sug effens terwyl hy die boek toemaak, maar staan op, trek sy baadjie uit, en gaan na waar die groepie seuns hom bewonderend staan en aankyk.
Die een met die glimlag kom hom tegemoet. “Baie dankie, doktor!”
“Wie’s eerste aan die beurt?”
Niemand antwoord nie en die hoof kies self twee uit, speel hulle gedaan, en kies dan nog twee.
Die seun met die bruin oë verdedig die beste. Hy is lank en rats en entoesiasties. Terwyl hulle speel, kyk doktor Serfontein hom ondersoekend aan. Net iemand met sy soort ervaring kan agterkom die seun steek iets agter sy glimlag weg en sy oë knip te ongereeld.
Hy bêre sy eie twee seuns vir heel laaste en speel hulle sonder genade ook kapot.
Toe almal genoeg het en uitmekaar gaan, vra hy vir Josef: “Wie is daardie seun?”
Josef volg die rigting waarin sy pa kyk. “Dis Karl Goosen.”
“En sy ouers?”
“Sy pa is glo ’n dominee. Dis daardie oom daar met die wit hare. Ek dink sy ma is sieklik. Sy kom byna nooit op die dek nie.”
“Ek sien.”
Doktor Serfontein lees eers weer ’n rukkie, dan praat hy met sy vrou as hy sien Dian slaap met haar kop op haar ma se skoot. “Het jy daardie seun al goed bekyk?”
Hy maak ’n kopbeweging, en sy kyk op na Josef waar hy en Karl teen die relings leun en gesels.
“Ja, natuurlik,” sê Helen. “Josef en Riekie is heeldag in sy geselskap, en ek hou hulle vriende altyd dop, sonder om hulle dit te laat agterkom.”
“Hoe som jy hom op?”
“Daar is iets verkeerd. Ek dink hy is ongelukkig agter daardie glimlag van hom. Baie ongelukkig.”
“Ken jy sy ouers?”
“Die ma glad nie. Ek het al ’n paar woorde met die pa gesels. Hy is ’n predikant iewers in Natal.”
“Praat hy van die seun?”
“Nee. Wil jy hê ek moet hom bietjie pols?”
“As jy nie omgee nie.”
“Goed.”
Dian word nou wakker en sy en haar ma stap weg om swemklere te gaan aantrek. Doktor Serfontein bly nog ’n rukkie sit om verder te lees, maar word byna dadelik deur Berrie onderbreek.
Hy kom sit op sy ma se stoel en spreek sy pa versigtig aan. “Hallo, Pa!”
“Hallo, Bernard.”
“Wat lees Pa daarg?”
“Op die oomblik niks nie. Wou jy iets gehad het?”
“Ek wou net bietjie gesels.”
Doktor Serfontein sit sy boek neer en suig aan sy pyp.
“Gesels dan maar.”
Berrie krul sy lyf soos ’n akkedis.
“Dis net … iets wat ek gedink het … Ek wou vrga … Is Pa lief vir ons?”
“Is ek lief vir wie?”
“Ons almal … Al Pa se kindergs … en Mamma.
“Jou ma het nog nie gekla nie. En wat jou en jou broers en susters betref … Elke pa moet ’n sekere gevoel vir sy kinders koester. Die wet vereis dit.”
Berrie krul anderkant om.
“Nee, maarg … Pa is lief vir oom Gene, ek weet dit!”
Hierdie man wat so geweldig privaat is, is gelukkig al gewoond aan sy derde seun se vrae.
“As jy dit weet,” sê hy, “is dit minstens een ding waaroor jy nie vrae sal vra nie.”
Die hoof dink aan die kinders se geliefde oom Gene, die jong dokter Krynauw wat in sy kinderdae op hierdie gebied ook meer as ander gewaag het, en sy lippe verraai ’n effense glimlag.
“Daarg is dit!” sê Berrie.
“Waar is wat?”
“Pa lyk altyd só as oom Gene kom kuierg, of as iemand van hom prgaat! Dis hoe ek weet Pa is lief vir hom, en ek wil nou weet of Pa net so lief is virg ons!”
“Die omstandighede is anders. ’n Man se kinders is sy kinders. Maar ’n mens soek ’n vriend tussen ’n menigte uit, omdat hy vir jou iemand besonders is.”
Berrie se groen oë rek van verontwaardiging. “So Pa is liewerg virg oom Gene as virg ons!”
“Vra hom hoe hy daaroor voel. Hy het as kind nes jy van sulke filosofiese gesprekke gehou.”
Doktor Serfontein staan op en gaan na sy kajuit om sy swembroek aan te trek. Berrie volg hom diep ingedagte.
Baie later, net voor die formele aandete, praat mevrou Serfontein weer met haar man oor Karl Goosen.
Sy is deftig aangetrek en hy dra ook sy aandpak toe sy by sy kajuit inkom. Hy sit voor die tikmasjien, maar staan dadelik op om haar te groet.
“Steur ek?” vra sy.
“Nee. Dis tog byna tyd om na die eetsaal te gaan.”
“Ek het met dominee Goosen gepraat, soos jy gevra het. Ek gaan eerder niks sê tot jy hom ontmoet het nie. Ek’t hom genooi om ná ete saam met ons koffie te drink.”
“En sy vrou?”