“Dis ’n geestelike siekte,” kom dit moedeloos. “Hy steel!”
Die skoolhoof steek vir die soveelste keer ’n sigaret aan en lyk glad nie geskok nie.
“Hoekom moet dit ’n siekte wees?” vra hy.
“Watter ander rede kan daar wees as ’n kind nie kan of wil ophou steel nie?”
“Miskien wil hy doodeenvoudig geld hê. Of steel hy ander dinge as geld?”
“Nee, net geld. Hy kry net soveel sakgeld as enige ander kind van sy ouderdom, maar hy gee dit nie uit nie. Hy steek dit alles weg. En hy doen presies dieselfde met die geld wat hy steel.”
“Hoe lank gaan dit nou al so aan?”
“Vandat … Voor ek verder gaan – hy is nie ons eie kind nie.”
Mevrou Serfontein lyk verras. Dit het hy haar nie vertel nie.
“Nie?” vra haar man.
“Nee. Ons het hom grootgemaak asof hy ons eie is. Hy was so ’n wonderlike baba, en so pragtig. Julle kan sien, hy is nou nog ’n vriendelike en aantreklike seun.”
“Ja, hy’t ’n sonnige geaardheid.”
“Ons het gewag tot hy nege jaar oud was voor ons hom wettig aangeneem het. Tot op daardie stadium was hy altyd net ’n plesier in die huis en baie slim op skool.”
“Hoe oud was hy met die eerste diefstal?”
“Elf. Van die kerkgeld wat ek in die huis gehou het, was skielik weg. Ons het agtergekom Karl was die dief, maar hy kon nie verduidelik hoekom hy dit gedoen het nie. Daardie keer het hy allerhande lekkers en speelgoed gaan koop, al het hy oorgenoeg in sy kamer gehad. Ek het hom nie gestraf nie, net mooi gepraat. Hy het belowe om dit nooit weer te doen nie.”
“Maar hy het?”
“Keer op keer! Later het hy die geld nie meer uitgegee nie; hy het dit weggesteek en sommer dadelik erken hy is die skuldige.”
“Hoe het jy die saak gehanteer?”
“Op alle moontlik maniere … Straf, mooipraat … Alles tevergeefs.”
“Is hy opstandig? Ek bedoel, die kere met die diefstal?”
“Nee. Dis eerder asof hy dan in ’n beswyming is.”
Die predikant se stem breek en hy kan nie verder praat nie.
“Jy is deur diep waters, dominee … Het jy al oor die seun se toekoms besluit?”
“Hierdie reis oorsee was juis om Karl te probeer help. Ek het gedink die verandering sal hom goed doen. En ons het hom in Holland laat ondersoek. Dit het ’n fortuin gekos. Ek moes geld by die bank leen.”
“Wat was die uitslag van die ondersoek?”
“Hulle kry niks verkeerd met hom nie. Hulle sê ook hy steel seker maar net omdat hy die geld wil hê.”
“’n Ondersoek of twee is natuurlik nie altyd voldoende in so ’n geval nie.”
Doktor Serfontein staan op. Dis sy koninklike gewoonte wanneer ’n gesprek na sy mening verby is, en sy vriende en onderdane ken dit goed, al is hy onbewus daarvan.
“Die reis duur nog vyf dae,” sê hy. “Ek sal Karl ’n bietjie dophou. Ek belowe nie om sukses te behaal waar jy gefaal het nie, maar soms sien ’n vreemdeling meer as iemand wat te na aan ’n saak staan.”
“Ek is jou ewig dankbaar, al is dit net vir die bereidwilligheid om te help,” sê die predikant.
“Jou vrou verskyn nie dikwels op die dek nie.”
“Nee. Sy is nie gesond nie … Dis haar senuwees. Jy kan jou indink; Karl se gedrag is nie bevorderlik vir haar gesondheid nie.”
“Natuurlik.”
2
WAT TE ERG IS
Vroeg die volgende oggend toe Karl uit sy kajuit kom, stap doktor Serfontein alreeds om en om die dek soos hy altyd soggens en saans doen.
Karl leun teen die relings met sy rug na die see om die hoof te kan groet wanneer hy verbyloop.
“Môre, doktor,” sê hy skaam, maar vriendelik.
“Goeiemôre. Jy is vroeg buite. Wag jy vir my lui seuns?”
“Nee, ek weet hulle staan nie so vroeg op nie. Ek kan nie laat slaap nie.”
“Kom hou my dan geselskap.”
Doktor Serfontein moet effens stadiger stap, maar Karl hou goed by.
“Waar gaan jy skool?” kom die vraag skielik.
“Ek leer deesdae by die huis, doktor.”
“Is daar nie ’n skool by julle op die dorp nie?”
“Ja, daar is, maar …”
Die skoolhoof besef die seun is seker as gevolg van diefstal geskors, of die dominee het besluit dis beter om hom tuis te hou sodat hy nie op skool kan steel nie.
Hy vra nie verder uit nie.
Na nog ’n paar draaie sluit dominee Goosen by hulle aan. Die seun kry ’n nors uitdrukking, heeltemal anders as sy gewone glimlag, en hy groet sy pa nie.
“Ek hoop nie hy val jou lastig nie, doktor,” sê die predikant.
“Ek het hom gevra om my geselskap te hou. Wil jy ook saamstap?”
“Nee, ek sal julle ophou. Ek kan onmoontlik so vinnig loop.”
’n Kelner verskyn met ’n boodskap. Mevrou Goosen wil haar seun onmiddellik in haar kajuit sien.
Karl se uitdrukking van vrees laat doktor Serfontein wonder. Die dominee lyk ook onrustig.
Karl versuim egter nie. Hy gaan dadelik met ’n trappie af na onder.
Doktor Serfontein maak haastig verskoning en gaan ook af, maar met ’n ander trap sodat die dominee nie moet sien hy volg die seun nie. Toe hy in die onderste kajuitgang kom, sien hy Karl en stap ongemerk agter hom aan.
Mevrou Goosen se deur staan oop en daar kom ’n hoë, histeriese stem uit toe Karl ingaan.
“Jy kom my nie eers môre sê nie. Jy het die maniere van ’n …”
Doktor Serfontein kan skaars glo ’n predikantsvrou het die laaste woord gesê.
“Moenie vergeet waar ons jou uitgehaal het nie! Wie weet waar het die welsyn jou uitgekrap? Jy’s gemors! ’n Optelding van een of ander stink vullishoop!”
Doktor Serfontein staan stil en luister terwyl die vernietigende woorde genadeloos voortvloei.
’n Kelner wat verbykom, kyk veelseggend na die skip se belangrikste passasier. Hy verstaan nie Afrikaans nie, maar kan die rou haat in die stem aanvoel.
“Die galg is te goed vir daardie vrou, doktor,” sê hy in Engels. “Daai kind gaan eendag selfmoord pleeg. Ek weet nie hoekom hy nie lankal oorboord gespring het nie. Kan doktor nie miskien …”
“Ja,” sê doktor Serfontein. “Ek kan.”
Die kelner stap verby. Hy weet hierdie man se maatskappy het aandele in die skeepsredery en wens hy wil sy invloed gebruik om die vrou vir die haaie te laat gooi.
Doktor Serfontein is bleker as gewoonlik toe Karl uitgestorm kom met sy hande oor sy ore gedruk.
Karl sien hom daar staan terwyl die bitter woorde nog uit die kajuit stroom. Hierdie man wat hy so bewonder, het alles gehoor!
Karl moet teen die afskorting leun om regop te bly staan. Sy oë is wydgerek. Hy sien in doktor Serfontein se swart kykers die onmenslike stil, koue woede