“Sy gaan altyd so te kere,” sê hy suur. “Netnou het sy die hele skip op horings.”
Doktor Serfontein stap by die kajuit in.
Die vrou wat in die bed sit en skree en skel, swyg soos ’n kraan wat toegedraai word.
“Ek is tot jou diens as jy iets wil hê, mevrou,” sê ’n yskoue stem.
“O, nee dankie,” sê sy, skielik verbasend beskaafd. “Ek was net ’n bietjie kwaad vir my seun. Hy het ons harte moedswillig gebreek en ek begin dink hy kan nie gehelp word nie. As ek jou alles moet vertel …”
“Dankie. Ek het genoeg van die saak gehoor om self daaroor te oordeel. As jy dan geen versoeke het nie, sal ek ’n kelner stuur om jou man te roep.”
Die hoof stap haastig uit.
Karl staan nog daar. Doktor Serfontein het nog selde sulke radeloosheid in ’n kind se oë gesien.
“Kom,” sê hy saaklik.
Hy loop vooruit en Karl volg.
Karl bevind hom daarna in ’n kajuit wat heeltemal anders as sy ouers s’n is. Hy staan net binne die deur en kyk nog steeds met wydgerekte oë terwyl doktor Serfontein op en af stap asof dit die enigste manier is om af te koel. Toe hy ’n keer weer omdraai, sien hy in watter toestand die seun is.
In die jare toe Krynauw nog sy leerling was, moes hy alleen daarmee worstel, maar nou is daar hulp waarop hy kan reken.
Hy klop sag aan die deur tussen sy en sy vrou se kajuit.
Sy is klaar aangetrek en glimlag vriendelik vir hom.
“Wie het jou kwaad gemaak?” vra sy. “Was een van jou kinders stout?”
“Nee. Ek het mevrou Goosen leer ken.”
Hy vertel kortliks wat hy gehoor het.
Helen se glimlag verdwyn. Die besliste lyn van haar ken en lippe verklaar hoekom haar kinders ten spyte van haar gemaklike houding teenoor hulle meestal onberispelik optree.
Sy loop by haar man verby en gaan sit op ’n leunstoel. “Kom hier, Karl,” sê sy sag.
Sy neem albei sy hande in hare asof hy een van haar eie seuns is.
“Ek dink jy het in jou kort lewe al baie deurgemaak,” sê sy.
Hy sak inmekaar met sy kop op haar skoot en gee die lang stryd gewonne. Hulle kan nie veel uitmaak van wat hy sê, maar dis duidelik dat hy een ding gedurig herhaal: “Ek kan nie meer nie!”
Na wat soos ’n ewigheid voel, bevind Karl hom op ’n rusbank. Hy kry koud en sy tande klap op mekaar. Mevrou Serfontein sit langs hom en vryf sy hande. Iemand wat hy nie kan sien nie het ’n hand onder sy kop en hou ’n glasie medisyne teen sy lippe.
“Drink dit,” sê doktor Serfontein. “Jy het dit nodig.”
Hy doen dit dadelik, al wil die sterk reuk van die vloeistof hom laat verstik.
Dis ook doktor Serfontein wat ’n deken om hom vou en ’n klokkie lui om by die kelner ’n warmwatersak te bestel.
Toe Karl uiteindelik gemaklik en lomerig is, sê doktor Serfontein vir sy vrou: “Sal jy by hom bly terwyl ek dominee Goosen gaan opsoek?”
Die dreigende sagtheid in sy stem voorspel groot probleme vir die predikant.
“Nee, laat daardie takie aan my oor,” keer sy. “Speel jy verpleër. Jy kan selfs skryf. Hy sal nou slaap.”
“Waar is die kinders dan, as Fräulein ongesteld is?”
“O, sy’s vanoggend perdfris. Dit was net Tiesjie se stoutigheid wat haar omgekrap het, maar ek wou jou nie gisteraand daarmee pla nie.”
“Laetitia het my self kom pla. Maar dit kan wag tot later … Gaan jy. Jy sal baie fermer optree as wat ek myself sou toelaat.”
“Baie beslis!”
Op die dek loop mevrou Serfontein met afgemete treë na waar die dominee langs sy vrou sit. Ná die toneel tussen haar en Karl het mevrou Goosen skielik besluit om aan te trek en haar man se geselskap op te soek. Doktor Serfontein het vergeet om die predikant te laat roep. Hy weet dus nog niks van wat gebeur het nie en dink Karl is iewers by die ander seuns.
Helen tree nie vriendelik op nie. Sy kyk nie na die vrou nie. “Dominee Goosen,” sê sy. Sy praat sag, maar iets in haar stem maak hom effens bekommerd.
“Ja?”
“My man wil ’n voorstel maak in verband met Karl.”
“Wat het hy nou weer aangevang?” vra die predikantsvrou skril, gereed om weer van voor af beheer te verloor.
Helen ignoreer haar nog steeds. “My man sal hom by ons skool inneem en kosteloos daar hou tot hy matriek geslaag het. Dan kan hy ’n rigting inslaan waarvoor hy aangelê is.”
“Nooit!” sis mevrou Goosen. “Hy gaan nie van ons af weg om iewers anders lekker te lewe nie. Buitendien, hy sal julle rot en kaal besteel en …”
Dis asof Helen die vrou nie hoor nie. “Dit gaan gebeur soos ek gesê het,” sê sy met ’n beslistheid so ferm soos haar man s’n.
“Nee maar … as my vrou nie saamstem nie …”
Dit lyk of die predikant doodbang is om haar teë te gaan. Sy vrou kan maklik sommer hier voor almal histeries word.
“Van vandag af,” sê Helen rustig, “deel Karl my seuns se kajuit, en wanneer ons aan land gaan, kom hy saam met ons. As jy wil, kan hy glo jy het alles vir hom betaal en stuur hom na ons skool toe om hom ’n nuwe kans te gee. Hy sal in elk geval daar geleer word om dankbaar te wees vir enige goedheid wat hy in die verlede van julle ontvang het.”
“Wie dink jy is jy?” vra die vrou venynig.
Helen weier nog steeds om met haar te praat.
“As ons enige probleme het, sal ons die hele saak aan die welsyn rapporteer,” sê sy vir die predikant. “My man het ’n uitstekende geheue. As hy wil, kan hy woordeliks neerskryf presies wat jou vrou vanoggend vir die seun gesê het. Hy sal die welsyn dan aanraai om jou vrou onder observasie te plaas vir moontlike kranksinnigheid.”
Die vrou se vuur is geblus. “Ek is nie mal nie!” fluister sy.
“Ek weet,” kry sy die eerste keer ’n direkte antwoord. “Maar wie sal dit glo as hulle hoor wat die arme kind se stiefma hom alles toegesnou het?”
“Dis koelbloedige afpersing!” neul ’n flou stem.
“Presies.”
Dominee Goosen probeer iets sê, maar die woorde wil nie kom nie.
“Dit help nie om langer te praat nie,” is al troos wat hy kry. “My swaer, dokter Martin Serfontein, weier om ’n versteurde kind te sien voor hy die ouers ontmoet het.”
“Maar ek weet nie wat vanoggend gebeur het nie,” kla die predikant.
“Jy behoort te kan raai. Jy het seker al meer as een van daardie uitbarstings beleef. Sien jy regtig geen verband tussen jou vrou se toenemende gebrek aan selfbeheersing en die seun se kleptomanie nie?”
“Nee … Nee … Ek weet my vrou ly aan ’n senuweekwaal en raak soms oorstuur, maar hoekom sou Karl daaroor begin steel het?”
“Alle kinders is nie onbeheerbaar as gevolg van grootmense wat hulle sleg behandel nie, maar soms is dit wel die geval. Jy het Karl by jou huis ingebring. Jy het hom jou eie seun genoem en hom aanvanklik op die hande gedra … Toe word jou vrou neuroties. Aanvanklik was sy miskien net ongeduldig, en dit het Karl moontlik verbouereerd gemaak en haar geïrriteer. Irritasie is iets onredelik en byna onmoontlik om te beheer; ek weet dit self.”
Die predikant en sy vrou lyk albei so verskrik