Kroes. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703263
Скачать книгу
Ons dadda moes gaan kyk het, maar hy het nie. Die volgende oggend is Mamma dood.

      Die antie van langsaan troos en sê: “As die funeral eers verby is, sal dinge weer olraait kom. Die liewe gat aan, let the funeral pass. Life goes on, dearie, life goes on.”

      Wat verder by die huis gebeur het, weet ek nie, want die dag na my mamma se begrafnis het my dadda my weggegee.

      Hoofstuk 2

      “Jy moet vir Kay gaan help met die pakwerk, Pettie. Jy gaan na Kitty en Maggie toe. Net vir ’n visit, nè? Jy sal weer hys toe kom, ek promise.”

      Dis net ’n visit, sê Dadda.

      Ek knik my kop, dis goed so. Dis altyd lekker by Kitty en Maggie. Hulle is my mamma se niggies, maar “ ’n bietjie ouderder as Nel, and more set in their ways,” sê Dadda altyd.

      Waarom weet ek nie, maar ons is geleer om die twee ou anties op hul name te noem. Niks van die ge-antie vir hulle nie. Die susters bly al jare lank in die Strand. Hulle is erg oor my en ek oor hulle. Die Kleurlinge en wittes bly naby mekaar in die Strand, albei binne spoegafstand van die beach; ek sal baie kan gaan swem. Kitty en Maggie het vir die begrafnis gekom en oorgebly. Mamma is Woensdag dood, Saterdag begrawe en Sondag was my lot bepaal.

      Kay slaan haar arms om my en druk my vas. “Jy sal elke holiday hys toe kom, my sussie. Kitty en Maggie sal goed sorre vir jou. Jy moet soet wees.”

      Dit klink skielik vir my na ’n baie lang visit. Ek wil huil, maar ek sluk die trane weg. Dis asof Kay nou ook koebaai sê. Kay was nog altyd baie gaaf. Selfs toe ek destyds haar sywurm van die cardboard wat bo-op die glas was laat afval het, was sy nie kwaad nie. Sy werk al en soms bring sy vir ons lekkers en Pepsi-Cola saam.

      Sy druk my weer styf vas. Uit haar mou haal sy ’n sakdoek en snuit hard. Ons loop slaapkamer toe en begin my goedjies inpak.

      Iemand kom by die voordeur in. Ek ken die antie en sy probeer om saggies met my dadda te praat, maar ons kan haar in die kamer hoor.

      “Gaan die kind al vandag weg?” wil sy weet.

      “Ja, vandag. Dis bieter so. ’n Kind het ’n ma nodig en sy is nog klein. Kitty en Maggie is good old girls. Hulle sal sorre virrie kind, daaroor hoef ek my nie te worrie nie.”

      “Ag shame, nè,” sê die buurvrou en stem dan haastig saam: “Dja, wat anners kan djulle doen?”

      “Niks, niks anners nie. Sy moet van die hartseer af wegkom.”

      Hulle praat nog, meestal oor my. Wat Dadda sê van die hartseer klink vir my snaaks. Die hartseer is mos in jou. Die memories van my mamma is in my brein, ek sal hulle saamvat, nie agterlaat nie. Maar ek sê niks. Grootmense weet van beter. So sê Dadda altyd.

      Ek het my klaargemaak vir ’n visit soos Dadda gesê het, maar daarna besluit Dadda-hulle ek moet liewer by die anties bly. Ek is nie gevra nie.

      Dadda dink dis die beste en ek neem hom nie kwalik nie, maar ek kan net nie verstaan nie. Kay werk al, maar Dorie en Stewie is nog albei op skool, ons kan mos saam-saam skool toe loop en terug, ons kan mekaar vertroos. Maar my dadda het anders besluit.

      Oompie Spykers vat ons Strand toe, vir Kitty, Maggie en vir my. Hy is ’n oujongkêrel soos Kitty en Maggie oujongnooiens is, maar oompie Spykers is anders. Dadda sê oompie Spykers is queer oorlat hy nooit getrou het nie. Maar die anties is hom goedgesind en sê oom Spykers is a good old soul, altyd daar as ’n mens hom nodig het.

      Kitty sit voor, ek en Maggie agter, die ingepakte cardboard suitcase in die boot. Eers toe oompie Spykers die kar start, sien ek hom.

      Hy sit by die groot hek en sy ogies knip-knip. My hart krimp tot die grootte van ’n peanut en ek wil huil. Hy is net ’n basterbrak, maar ek is mal oor hom. Dadda was lief om vir mense te vertel van die garedraad wat Mamma om Prinsie se nek moes vasmaak, dan loop ek en Prinsie loop agter my aan, die garedraad styf in my handjie.

      My mense sal my nie vergeet nie, maar hy? Hy draai sy kop eenkant toe, so asof hy wil sê: Dis nou koebaai, kry nou jou ry.

      Nog ’n maal kyk ek om, nog ’n maal waai ek my hand heen en weer, heen en weer. My familie staan op die sypaadjie en waai terug. My brak lig sy neus so effens asof hy nog ’n laaste reukie van sy kleinmies wil kry.

      Stil-stil is ons Strand toe, dis nou ek en die anties. Oompie Spykers is vrolik soos altyd, so ken ons hom.

      Die oom gee vet op die grootpad en hoe nader die huis, hoe vroliker word die oom. Ek kan die drank op sy asem ruik, my anties seker ook, maar wat kan ons sê? Hy begin sing en klap dan so in die ry hande. Ons hou asem op en bid dat die karretjie koers hou.

      “O Sanatjie, my Sanatjie, waar is djy . . .” sing die oom. Oor en oor dieselfde klaagliedjie, maar die oom het nie ’n Sanatjie nie. Oompie Spykers, soos my dadda gesê het, is queer. Hy is lief vir die jongetjies, nie vir die girls nie.

      Kitty en Maggie bly in ’n klein huisie in iemand se jaart. Die mense in die huis is Slams en vra min huur vir die pondok. Daar is amper niks grond in die jaart nie. By Mamma en Dadda se huis is daar baie grond om te speel, maar hier, waar kan ek speel? Alles voel so vreemd.

      Die anties werk albei in Somerset-Wes. Kitty by die CNA en Maggie by die poskantoor. Hulle besluit dis beter as ek ook in Somerset skoolgaan. Ek kan die bus saam met hulle haal Somerset toe.

      Ek word geleer die wit mense sit op die voorste banke in die bus en die bruin mense sit heel agter. Maar party ooms en anties is opstandig en skuif dan parmantig voorlangs in. As dit ’n doubledekkerbus is, moet die bruin mense bo gaan sit.

      Lateraan plak hulle bordjies op wat sê Europeans Only en toe hou die ooms, anties en bus drivers op om te baklei oor wie sit waar. Maar ek weet nie wat die groot woord beteken nie en die aand vra ek Kitty daaroor. Sy lees koerant, kyk vinnig na my en sê: “Dis ’n hoge woord virrie donnerse wit mense,” en toe lees sy verder. Toe weet ek.

      Maandag gaan ek saam om my skooluniform te koop. Die volgende dag is ons na my nuwe skool. In die hoof se kantoor staan ek langs die desk terwyl hy my inskryf, daarna vat die antie en meneer my na my klaskamer toe. Ek voel so skaam tussen die vreemde kinders. Amper soos ’n indringer, iemand wat anderplek hoort. Die kinders staar my aan, probeer my opsom.

      Ek wens ek is terug in my mamma se huis. Hoekom het jy doodgegaan, Mamma? Ek voel so eensaam.

      Dae word weke. My anties is goed vir my en probeer altyd net die beste vir my koop, al moet hulle dit vir lang tye lay-by. Soms wens ek hulle wil nie altyd die beste koop nie. Soos die swart reënjas. Ek haat die ding. Hy is van warm materiaal en as hy nat word, ruik dit effens. Dis te groot om maklik op te vou. Ek beny die ander kinders hul ligte plastiekreënjasse.

      Op ’n dag dra ek die jas en met die loop tussen die banke slaan ek ’n paar kinders se boeke van hul tafels af. Die rye is nou en die jas wyd; ek kan dit nie in my tas druk soos die ander kinders met hul plastiekjasse maak nie. Ek voel sleg oor die boeke op die vloer. Juffrou is kwaad.

      “Trek uit die jas!” sê sy hard.

      Dis ’n ongeluk, wil ek sê, ek is jammer, wil ek sê, maar die woorde bly in my keel vassit. Ek is bang vir die juffrou en die trane brand agter my ooglede.

      Ek voel kwaad en opstandig. As jy nie doodgegaan het nie, Mamma, dan was ek nie nou hier in die skool met die groot jas nie. Dan het die kinders nie nou vir my gelag nie.

      My verwyte is verniet. Daar is geen terugdraai nie. Ek weet dit nou. My dadda het my vir altyd weggegee. Ek word inkennig en begin later hakkel.

      Daardie dae het die skole nog twee sessies. Vir die uur se lunchtime gaan ek na Kitty by die winkel. Die bestuurder gee nie om nie. Hy hou van Kitty en is simpatiek oor die kind wat hulle nou moet grootmaak. Sy en Maggie is nie meer jonk nie, dit moet moeilik wees.

      Die maande word jare, maar die visit gaan aan. Soos ek groter word, word die verlange na my mamma al hoe sterker, maar ek sê niks vir die anties nie. Die anties praat baie, maar altyd oor die werk. Mamma se naam word nooit genoem nie. Hulle vra nie: “Hoe